Skip to content

Wat *ouers* moet weet

Dis daardie tyd van die jaar. Orals duik foto’s van potlode en skryfboeke op, ge-Photoshop sodat dit lyk of hul ‘n elegante skadu gooi teen die wit skilderdoek wat die agtergrond is. By hierdie prente is daar dalk pryse as onderskrifte (advertensies vir kruideniers- of skryfbehoeftewinkels). Of dit dien as versierings op webblaaie (gewoonlik dus ook ‘n verskuilde advertensie). Potlode en penne is dié tyd van die jaar nuuswaardig, en nie net effens argaïese objekte nie.

Die nuus berig ook graag oor kinders wat vir die eerste keer op die skoolbanke sit. Daar is betraande gesiggies wat veronderstel is om die ouers se hartsnare te roer. Daar is ook die soort nuusitems wat verpak word as “ware lewensverhale”: die nuuskantoor fokus op ‘n skool in die Oos-Kaap, byvoorbeeld, en wys beelde van die idilliese groen velde en die kontrasterende armoede van die skoolgebou.

Onderwys is nuus. Want kinders is nuus. Mense wat kinders het, stel belang in stories oor kinders.

Hier’s nog iets wat onlangs in die nuus was. Seks tussen 12- tot 16-jariges. Weet enigiemand régtig wat hieroor besluit is? Het alles Amsterdam geraak hier? Dink mense nou oor mense iets doen, moet hulle iets wettig? Of wat gaan aan? Ek het Pierre de Vos se blog, Constitutionally Speaking, raakgegoogle toe ek inligting hieroor gesoek het: Why the criminisation of consensual sexual exploration between teenagers is unconstitutional. Sy opskrif is bedoel om mense die bloginskrywing te laat lees omdat hy reaksie uitlok, maar dalk kan dit mense ook laat dink. Ek dink dit handel hier in wese oor wie ‘n kriminele rekord kry. En moontlike dubbele standaarde deur ‘n vyftienjarige en ‘n sestien- of sewentienjarige nie oor dieselfde kam te skeer nie.

Ek dink wel hierdie wetgewing lewer sosiale kommentaar, sonder dat dit dalk bedoel. Die samelewing het verander. Elke individu se waardes hoef nie te verander nie. Dis nie wat die wet probeer afdwing nie. Dink ek in elk geval. Wil die ouers onder julle nie bietjie laat weet wat julle dink nie? Onthou dat ek self die ma is van jong kinders, so moenie glo ek is so objektief soos dit mag klink nie.

Dis eintlik maar waarna my opskrif verwys. Die woordspel met daardie boektitels van jare gelede: Wat meisies moet weet en Wat seuns moet weet weet.

Daar’s op die ou end net een ding wat ouers (moet) weet. Ek dink ek weet dit klaar.

Ouerskap is ‘n emosionele besigheid.

Groete, Naomi M

21 thoughts on “Wat *ouers* moet weet

  1. Profile photo of exionperfexi
    exionperfexi says:

    Wat ouers moet weet is dat hulle verantwoordelik is om hul eie kinders met goeie voorbeeld en met volgehoue oop kommunikasie te rig en te lei. Hulle moet hul kinders van kleins af leer om verantwoordelikheid vir hul eie gedrag en die gevolge daarvan te aanvaar en om respek vir hul eie en ander se liggame te koester.
    Groepsdruk sal altyd ‘n baie groot potensiele afkrakende faktor bly en die postmoderne rypdruk van nuuskierige kinders via die IT is bekend om die hele proses erg te kompliseer. Kinders behoort ook met liefde so ondersteun te word dat hulle nie oor alles wrewelrige skuldgevoelens ontwikkel nie .

    ReplyReport user
  2. Profile photo of maryna
    maryna says:

    Stof tot nadenke, dankie Naomi. Oor Pierre de Vos se skrywe: “Why the criminisation of consensual sexual exploration between teenagers is unconstitutional.” –
    Tog jammer dat hy geen vermelding maak van
    – die kommerwekkende tiener-swangerskapstatistiek in SA (In Soweto skole is tot 80% van die tienerdogters in die vermelde ouderdomsgroep swanger volgens VN statistiek)
    – die staatsgesupsidieerde toelae wat aan hierdie tieners uitbetaal word per kind nie
    – die prevalensie van MIV-infeksie onder die seksueel aktiewe tieners nie.

    Statistieke is tog vrylik beskikbaar. Dit strek ongelukkig baie dieper as die weerhouding van kinders se reg op “die gesonde eksplorasie van hul eie seksualiteit” en daar is geen sprake van enige objektiwiteit as die bogenoemde kwelpunte nie ook in aanmerking geneem word nie.

    ReplyReport user
    • Profile photo of LitNet-blogadministrateur
      LitNet-blogadministrateur says:

      Dis ‘n komplekse besigheid, @maryna. Ek dink glad nie tieners is gereed om ouers te wees nie en die MIV-statistieke in hierdie land is iets vreesliks.

      Reply
        • Profile photo of maryna
          maryna says:

          Dit is Naomi. Die besigheid en die tag! Kinders wat deur tieners vir die verkryging van staatstoelae verwek word, word sosiale weeskinders, of VIGS weeskinders.
          In Suid Afrika sal “child support grants” van R146.9 miljard (2013) tot R171 miljard in 2014 toeneem. (SAnews.gov.za) Suid Afrika se swart bevolkingsgroei sal ook teen 2020 negatief vertoon as gevolg van VIGS. Ek begryp dus die regering se dilemma en dink daarom dat dit oor baie meer as die erkenning van tieners se “reg as sosiale wesens” is om vrylik met “seks te eksperimenteer”.

          ReplyReport user
  3. Profile photo of
    formerly twaksak says:

    Dis ‘n moeilike een. In “Romeo and Juliet” was Juliet 13? Tye verander en norme ook…

    Reply
    • Profile photo of LitNet-blogadministrateur
      LitNet-blogadministrateur says:

      @formerly twaksak (oulike manier om die sisteem te fnuik, terloops, jou naam :)), ek begin al hoe meer wonder wat die rol van die regsisteem is – hoeveel hou dit verband met samelewingsnorme en hoeveel hou dit eerder verband met die regverdige beskerming van gelyke individue voor die reg?

      Reply
      • Profile photo of monicahaddad
        monicahaddad says:

        Jy moet dit juis nou doen want 0-6 na-aap hulle elke ding wat jy doen en dis daar for life. Kyk wat doen ‘n babahondjie met sy ma……

        ReplyReport user
  4. Louise Davis says:

    Altwee is belangrik. Op die stadium is dit nog die reaksie…dis heerlik om so liefgehe te wees. :D

    Reply
  5. Profile photo of madhatter
    madhatter says:

    Ouerskap is nie vir sissies nie! Praat, praat , praat met jou kinders sodat hulle met jou kan praat wanneer hulle raad nodig het.

    ReplyReport user
  6. Profile photo of PIXIE
    PIXIE says:

    My motto? “Om kinders groot te maak is nie kinderspeletjies nie”! My dogtertjie is nou in graad 2. Verlede jaar het ‘n sielkundige met ons junior primere ouers kom praat oor die “bytjies en blommetjies” met voorstelle oor hoe om die feite van die lewe aan jou kind oor te dra. Ek kon nie eers begin om te dink dat ek nou al vir my 7-jarige moet vertel van “hoe word baba’s gemaak, waar kom hulle uit, wat is ‘n tampon”, nie. Maar twee dinge het vir my uitgestaan. As jou kind ‘n vraag vra, gee ‘n “waarheid” antwoord, sonder om te veel detail te gee. Die geleentheid is geskep, gebruik dit. Want sou jy jok, en jou kind vind eventueel uit dat hy nie afgelewer is deur die ooievaar nie, gaan hy jou in die toekoms nie in sy vertroue neem nie. Tweedens het sy gese dis die ouers se voorreg om hulle kinders te vertel van die feite van die lewe. Dis nie vir maatjies of juffrouens om vir hulle te vertel nie.

    ReplyReport user
  7. Profile photo of Patches
    Patches says:

    Met my tweeling dogters nou twintig het ek die kommunikasie lyn oopgehou, hulle insette in ag geneem, ‘n ballans probeer handhaaf van goed en sleg, hulle keer op keer verseker van my liefde en dat daar nie ‘n ding op aarde is wat so erg kan wees dat hulle nie met my kan praat daaroor nie, vandag kyk ek terug en is so geseend met twee dogters wat saam met my ‘n soms baie moeilike pad moes stap, en een ding is verseker as die Liewe Vader in hulle lewens regeer maak dit die proses net soveel meer ongelooflik, hulle waarde sisteem is reg en hul steun stelsel is altyd daar as hulle wankel, kinders is vir ons geleen, en dit is ons plig om corageous te wees……

    ReplyReport user
  8. Profile photo of Patches
    Patches says:

    Met my tweeling dogters nou twintig het ek die kommunikasie lyn oopgehou, hulle insette in ag geneem, ‘n ballans probeer handhaaf van goed en sleg, hulle keer op keer verseker van my liefde en dat daar nie ‘n ding op aarde is wat so erg kan wees dat hulle nie met my kan praat daaroor nie, vandag kyk ek terug en is so geseend met twee dogters wat saam met my ‘n soms baie moeilike pad moes stap, en een ding is verseker as die Liewe Vader in hulle lewens regeer maak dit die proses net soveel meer ongelooflik, hulle waarde sisteem is reg en hul steun stelsel is altyd daar as hulle wankel, kinders is vir ons geleen, en dit is ons plig om corageous te wees……

    ReplyReport user

Leave a Reply

%d bloggers like this: