In die land van Kammalielie

January 7, 2013 in Geen Kategorie

Al ooit langpad gery saam met ‘n tweejarige én ‘n vyfjarige in die motor? En al ooit langpad gery saam met ‘n tweejarige en vyfjarige en nie jou verstand verloor nie?

Kersfees is verby, maar daar is beslis nog mense wat langpad moet ry van die vakansie af huistoe. Mense wat nie noodwendig gelukkig is oor die langpad nie en, mag ek my verstout om te sê, die geselskap in die motor nie.

Anna Davel het verse van Jaco Jacobs getoonset, LAPA het ‘n CD hiervan gemaak – en ek het haar genadiglik hierdie vakansie saam met met my en die kinders in die motor gelaai. Dalk is dit nodig om vooraf te noem dat ek bevooroordeeld is omdat ek van haar stem hou. Maar ek wil so ver gaan om te sê dat ek nie weet wie nie van haar stem sal hou nie. Dis ‘n gemaklike stem om na te luister, ook al wil jou kinders die hele CD ses keer na mekaar (geen oordrywing nie) luister.

Hoogtepunte sluit in die eerste liedjie, die titel van die CD, waarvan die volgende YouTube-video gemaak is.

Ander liedjies wat goed afgegaan het in die motor, was “Bambino, die reus van Bitterbos”, “Dinosauruspret”, en die een waar die beer teen die pophuisdeur klop en vir allerhande huishoudelike items vra. My kinders het luidkeels saamgesing: die vyfjarige woord vir woord en die tweejarige so min of meer ‘n woord per sin. Hierdie is ‘n CD wat ‘n volwassene wat die vorige dag heeldag daarna geluister het, nie sal omgee om in haar kop te hoor draai na die langpad nie.

Wat kies jy? Die diepte van Anna Davel se stem, die uitbundigheid van kinders wat sing – of dalk die teenoorgestelde hiervan (en dit terwyl jy weet jy sit die volgende dag reeds weer by die werk)?

As jy gelukkig genoeg is om op vakansie te wees saam met jou kroos, skaf gou die CD aan. As jy reeds terug by die huis is, koop dit vir die volgende vakansie. Of sommer net vir by die huis :)

Koop In die land van Kammalielie by kalahari.com.

10 responses to In die land van Kammalielie

  1. ons speel kammalielies – ons is eskimo’s…dit sing nog steeds in my kop.
    Vir ‘n ou wat met vakansie kan gaan klink jy maar bra ondankbaar….grappie

    • @endlich: Watter liedjie is daardie een? Dit klink soos ‘n neapolitana-weergawe (‘n mengsel) van “Kan jy dit glo, daar woon die Eskimo”. Nie ondankbaar nie, ek belowe jou. En as ek by die werk is, mis ek dit om saam met my kroos in ‘n motor vasgekeer te wees: mens verlang mos maar altyd na hulle!

      • presies net so, maar ke sien dit is “kom speel kammalielies” ek het altyd so lekker saamgesing…e-e-e-eks ‘n mier en ek is besig ek is baie baie besig….vrot pampoen….en so. ek se mos ek grap oor die ondankbaarheid. Gelukkig ry ons nie te ver nie, maar selfs die 150 km was al ‘n straf. So ons ry in twee karre met ‘n kind in elke kar….geen bakleiery dan nie…

        • @endlich: Goeie voorstel! Maar swaar op brandstof?

          • Pappa is lief vir rondry, so vir koerant en vis en so. Ek haat dit om gestrand te wees, so, ek vat my eie kar saam – vir die lang vakansie. as ons net vir ‘n naweek wegbreek, dan een voertuig. R150,00 km is mos nie ver nie, jy ry waarskynlik baie meer – dis nou vir jou swaar op brandstof. :-)
            ek voel ‘n bietjie verslae…doen jy dit nog altyd? ek het gedog…

  2. hoekom kom jy deur as litnet blogadministrateur? wat doen ek dan verkeerd?

  3. Litnet administrateur: Jammer dat ek die boodskap hier plaas, maar ek kon nie daarin slaag om ‘n privaat boodskap te doen nie.
    Kyk asb na die blogspasies van litnet0811 en / of joyce robots.
    My raai is, as julle nie ‘n plan maak om dit te blok nie, daardie gebruiker baie spasie gaan opneem met wat voorkom sinnelose kommentare te wees bloot om ‘n verwysing na websites in te kry. Die feit dat van die plasings in Frans is, is dalk ook ‘n aanduiding dat dit nie bona fide gemik is op die Afrikaanse litnet gebruiker nie……

Leave a Reply