You are browsing the archive for 2013 January.

Hartie’s Haven sê dankie …

January 30, 2013 in Geen Kategorie

Anderdag kry ek ‘n e-pos van Hartie’s Haven in verband met die boeke wat julle aan die kinders daar geskenk het. Die e-pos was in woorde en daar was geen prentjies by nie, maar die atmosfeer van wat daar gestaan het, was iets soos hierdie kaartjie s’n:

Dankie vir die boeke. Julle het dit geskenk aan ‘n plek waar kinders beskerm word. Sommige van hulle teen hulle ouers.

Groete, Naomi M

Die dood van die CAPTCHA (TOOTROM)

January 30, 2013 in Geen Kategorie

Die massa het gepraat en LitNet het geluister. Gistermiddag is die CAPTCHA-kode amptelik vermoor. Net om almal gerus te stel: dit was ‘n bloedlose dood en baie vinnig ook. Ek dink nie eens CAPTCHA het besef wat aangaan nie.

Ook maar goed so. As hy uitgevind het hoe ongewild hy hier op die LitNet-blogruimte begin raak het, het hy dalk sy eie lewe geneem.

Ek sien Wikipedia sit die akroniem van die CAPTCHA-kode so mooi uiteen dat mens sommer dadelik verstaan waarom dit daar is. Ekskuus, was.

Completely Automated Public Turing test to tell Computers and Humans Apart”

Gister lees ek ‘n webseminaarbydrae op LitNet en al die Afrikaanse rekenaarterme (hutsetiket! hetiket!) gee my toe hond se gedagtes.

By die dood van die CAPTCHA, laat ons hulde bring aan die TOOTROM: “Totaal Outomatiese Openbare Turingtoets om Rekenaars te Onderskei van Mense”.

Totsiens, TOOTROM. Rus in vrede.

Naomi M

Naskrif:

Wie het lus om die kode te tik? Toemaar, net ‘n grappie.

Wat *ouers* moet weet

January 18, 2013 in Geen Kategorie

Dis daardie tyd van die jaar. Orals duik foto’s van potlode en skryfboeke op, ge-Photoshop sodat dit lyk of hul ‘n elegante skadu gooi teen die wit skilderdoek wat die agtergrond is. By hierdie prente is daar dalk pryse as onderskrifte (advertensies vir kruideniers- of skryfbehoeftewinkels). Of dit dien as versierings op webblaaie (gewoonlik dus ook ‘n verskuilde advertensie). Potlode en penne is dié tyd van die jaar nuuswaardig, en nie net effens argaïese objekte nie.

Die nuus berig ook graag oor kinders wat vir die eerste keer op die skoolbanke sit. Daar is betraande gesiggies wat veronderstel is om die ouers se hartsnare te roer. Daar is ook die soort nuusitems wat verpak word as “ware lewensverhale”: die nuuskantoor fokus op ‘n skool in die Oos-Kaap, byvoorbeeld, en wys beelde van die idilliese groen velde en die kontrasterende armoede van die skoolgebou.

Onderwys is nuus. Want kinders is nuus. Mense wat kinders het, stel belang in stories oor kinders.

Hier’s nog iets wat onlangs in die nuus was. Seks tussen 12- tot 16-jariges. Weet enigiemand régtig wat hieroor besluit is? Het alles Amsterdam geraak hier? Dink mense nou oor mense iets doen, moet hulle iets wettig? Of wat gaan aan? Ek het Pierre de Vos se blog, Constitutionally Speaking, raakgegoogle toe ek inligting hieroor gesoek het: Why the criminisation of consensual sexual exploration between teenagers is unconstitutional. Sy opskrif is bedoel om mense die bloginskrywing te laat lees omdat hy reaksie uitlok, maar dalk kan dit mense ook laat dink. Ek dink dit handel hier in wese oor wie ‘n kriminele rekord kry. En moontlike dubbele standaarde deur ‘n vyftienjarige en ‘n sestien- of sewentienjarige nie oor dieselfde kam te skeer nie.

Ek dink wel hierdie wetgewing lewer sosiale kommentaar, sonder dat dit dalk bedoel. Die samelewing het verander. Elke individu se waardes hoef nie te verander nie. Dis nie wat die wet probeer afdwing nie. Dink ek in elk geval. Wil die ouers onder julle nie bietjie laat weet wat julle dink nie? Onthou dat ek self die ma is van jong kinders, so moenie glo ek is so objektief soos dit mag klink nie.

Dis eintlik maar waarna my opskrif verwys. Die woordspel met daardie boektitels van jare gelede: Wat meisies moet weet en Wat seuns moet weet weet.

Daar’s op die ou end net een ding wat ouers (moet) weet. Ek dink ek weet dit klaar.

Ouerskap is ‘n emosionele besigheid.

Groete, Naomi M

Al die blikkitare in die K(r)amer

January 11, 2013 in Geen Kategorie

“Dis koel hier in die kamer,
my naam is David Kramer …”

Só open hy die vertoning op ‘n koelerige Januarie-aand voor ‘n stampvol saal.

Ek’s by die vertoning Kalahari Karoo Blues van David Kramer. David Kramer kom met sy rooi skoene op die verhoog gedans. Reeds op die verhoog, staan ‘n onbekende klompie. ‘n Orkes en dan ‘n paar mense: ‘n vrou met ‘n geboë hoof en ‘n verslete Voortrekkerkappie daarop en ‘n man met ‘n doktersjas, onder andere. Agter hulle almal op ‘n doek is groot, bont skilderye wat deur ‘n projektor mekaar afwissel. (Gedurende die pouse vertel iemand my David het self die kunswerke geskep.)

Die agtergrond van die vertoning is dat David Kramer gehoor het van musikante in stofdorpies en dat hy hulle gaan opsoek het. Mense wat kitare met teelepels bespeel. Mense wat viole bou van blik. Mense wat rieldans. Mense wat sing dat jou hart daarvan breek. Hy het hulle gaan vind en hy het sommige van hulle saam op die verhoog by hom gehad gisteraand: vir Hannes Coetzee en vir Mary Kriel (kyk na Mary Kriel se foto heel bo – sy was ook verlede jaar by die ATKV se Rieldanskompetisie) en vir Oteng Piet.

David gee vir ons almal agtergrond van hoe hy die aand se kunstenaars opgespoor het en van dan weg met “My naam is Pepsi-Cola”. Dié lied is geskryf deur Dawid van Rooi van die Koue-Bokkeveld. Dit was een van waarskynlik twee of drie liedjies wat David self gesing het. Die res van die tyd het die ander mense op die verhoog gesing, hul musiekinstrumente gespeel of hul danse gedans. Kortom, hulle het die stories vertel.

David Kramer was die narrator. Hy het tussendeur vertel wie is volgende aan die beurt. Bietjie agtergrond gegee van elkeen. Dalk was hy net die gom wat die boek se papiere aan die omslag vasgeplak gehou het. Want die groot storie is vertel deur al die ander kunstenaars. Ja, ek noem die mense met hul gehawende klere inderdaad “kunstenaars”.

In ‘n ander bloginskrywing, het ek verwys na die olifante in die kamer.

Ons almal ken olifante in kamers, vandat ons baie klein is, nog voordat ons woorde het om daaroor te kán praat. Ons ken die skuif van atmosfeer, die rimpelings wat ‘n slegte atmosfeer deur ‘n vertrek kan stuur, hoe toksies dit mens se binnekant laat voel. Of wat ‘n lekker atmosfeer kan veroorsaak. Dit kan jou wêreld verander. En niemand hoef ‘n woord daaroor te praat nie.

Die olifant in die kamer is dieselfde. Maar hy is ‘n moeilike kalant. Almal sien hom, almal wéét hy is daar, maar niemand praat oor hom nie.

Dis wat ek hulle noem: kunstenaars. Ten spyte van die groot olifant in die kamer (elkeen van ons se vooropgestelde idees en stereotipiese idees van mekaar), het die mense op die verhoog – wat nie oor universiteitsgrade of dalk eers lopende water in hul huise beskik nie – kunstenaars in eie reg geword vir die gehoor, wat weer op hul beurt bestaan het uit uitgelese joernaliste en mede-kunstenaars van alle kultuurgroepe.

Die twee kragtigste komponente van die vertoning was vir my toe Mary Kriel met haar uitgewaste, pienk Voortrekkerkappie opstaan en begin sing.

Hier is Mary Kriel (foto: Naomi Bruwer).

Hier is die lied wat sy gesing het:

“Daar het ‘n doringboompie
vlak by die pad gestaan,
waar lange ossespanne
met sware vragte gaan.

En eendag kom daarlanges
‘n ossewa verby,
wat met sy sware wiele
dwars-oor die boompie ry …”

Praat van om stereotipes op die kop te keer …

Die ander mees kragtige komponent van die vertoning was vir my die lied wat ene Ruth Hector, lid van die Sonskynsusters, gesing het. Die lied is geskryf na die dood van Helena Nuwegeld en is getiteld: Calvinia.

Hier is Facebook-reaksie, vanaf David Kramer se blad, op Ruth Hector se vertolking:

Op pad terug huistoe, na die vertoning, het ek gedink aan nog ‘n olifant in ‘n baie groter kamer, wat die hele land Suid-Afrika is. ‘n Kollega, wat die vertoning saam met my bygewoon het, vertel my sy het gehoor sommige van die mense wat gisteraand by Kramer se show opgetree het, is plaaswerkers en dis eers na aanleiding van hierdie vertoning dat hul werkgewers van hul notisie geneem en hul menswaardig begin behandel het.

Ek het gehoop die (middelklas-)gehoor gaan die (werkersklas-)kunstenaars ‘n gelyke kans gee om te wees wie hulle werklik is, soos wat David Kramer reggekry het met die vertoning gisteraand. En omgekeerd: die (werkersklas-)kunstenaars op die verhoog – kan hulle ook die (middelklas-)gehoor ‘n gelyke kans gee?

Nee, nee … daar hoef nie ‘n olifant in die kamer te wees nie. Ons hoef niemand se talente meer mis te kyk nie. Vergeet die olifante. Laat daar eerder ‘n blikkitaar wees. En ‘n saalvol musiek.

Groete, Naomi M

Naskrif: hier is ‘n YouTube-video waar David Kramer by ‘n ander geleentheid nog agtergrond gee van die Kalahari Karoo Blues-storie.

Kalahari Karoo Blues is nog by die Baxterteater tot 19 Januarie. Bespreek by Computicket.

Die olifant in die blogruimte?

January 11, 2013 in Geen Kategorie

Ek wonder of daar ‘n Afrikaanse manier is om te vra: “Is daar ‘n olifant in die kamer?”

Sedert LitNet se blogs na WordPress geskuif het, lyk dit vir my of dit meestal goed gaan. Maar sal julle vir my en die res van die LitNet-redaksie in kennis stel as daar groot olifante in die kamer is, of as klein jakkalsies die wingerd verniel? Vra gerus as daar iets is wat pla, maar probeer onthou om my aandag op navraag te vestig deur my by die gesprek te betrek (my te “tag”) met die volgende frase “@litnet-editor”.

‘n Ander ruimte waar julle enige navrae kan rig, is hier: LitNet se blogforum. Hier kan almal saamgesels oor kwessies wat nog op die blogruimte pla. As die navraag spesifiek vir my bedoel is, “tag” my maar weer met die frase “@litnet-editor”, asseblief.

As dit nodig is om ‘n formele klag te lê, stuur asseblief ‘n e-pos na die volgende redaksionele adres: neenee@litnet.co.za

Gaaf, daar is een van die olifante aangespreek, hoop ek. Is hy al weg?

Groete, Naomi M

In die land van Kammalielie

January 7, 2013 in Geen Kategorie

Al ooit langpad gery saam met ‘n tweejarige én ‘n vyfjarige in die motor? En al ooit langpad gery saam met ‘n tweejarige en vyfjarige en nie jou verstand verloor nie?

Kersfees is verby, maar daar is beslis nog mense wat langpad moet ry van die vakansie af huistoe. Mense wat nie noodwendig gelukkig is oor die langpad nie en, mag ek my verstout om te sê, die geselskap in die motor nie.

Anna Davel het verse van Jaco Jacobs getoonset, LAPA het ‘n CD hiervan gemaak – en ek het haar genadiglik hierdie vakansie saam met met my en die kinders in die motor gelaai. Dalk is dit nodig om vooraf te noem dat ek bevooroordeeld is omdat ek van haar stem hou. Maar ek wil so ver gaan om te sê dat ek nie weet wie nie van haar stem sal hou nie. Dis ‘n gemaklike stem om na te luister, ook al wil jou kinders die hele CD ses keer na mekaar (geen oordrywing nie) luister.

Hoogtepunte sluit in die eerste liedjie, die titel van die CD, waarvan die volgende YouTube-video gemaak is.

Ander liedjies wat goed afgegaan het in die motor, was “Bambino, die reus van Bitterbos”, “Dinosauruspret”, en die een waar die beer teen die pophuisdeur klop en vir allerhande huishoudelike items vra. My kinders het luidkeels saamgesing: die vyfjarige woord vir woord en die tweejarige so min of meer ‘n woord per sin. Hierdie is ‘n CD wat ‘n volwassene wat die vorige dag heeldag daarna geluister het, nie sal omgee om in haar kop te hoor draai na die langpad nie.

Wat kies jy? Die diepte van Anna Davel se stem, die uitbundigheid van kinders wat sing – of dalk die teenoorgestelde hiervan (en dit terwyl jy weet jy sit die volgende dag reeds weer by die werk)?

As jy gelukkig genoeg is om op vakansie te wees saam met jou kroos, skaf gou die CD aan. As jy reeds terug by die huis is, koop dit vir die volgende vakansie. Of sommer net vir by die huis :)

Koop In die land van Kammalielie by kalahari.com.

Voorspoedige Tweede Nuwejaar

January 2, 2013 in Geen Kategorie

Oujaarsaand 2012 was merkwaardig stil in ons woonbuurt. Die oorwegende geluid was die wind wat takke op die dak skraap. Die gebruiklike partytjiemusiek was gedemp. Tot ‘n halfminuut voor middernag. Onverwags was daar ‘n geskreeu en die klanke van klappers, vuurwerke en iets wat sekerlik donderbuise moes wees.

Daar was nie plek in die naglug vir enigiets anders nie. Alles is deur die geluide opgesuig: kinders se slaap, troeteldiere se rus, ‘n individu se gedagtes. Die massa het gepraat – en oorverdowend hard daarby.

Ek het na die geluide geluister en gedink aan ‘n woord wat ek onlangs nie kon vind om die vakansieblokraaisel te voltooi nie. “So ‘n persoon gee uiting aan onbeteuelde, onbeheersde emosie”, was die leidraad. (Ek het later iemand gebel hieroor. Die antwoord was “histeriese”.)

Ek wil niemand se vreugde demp met hierdie inleiding nie. Ek is dankbaar vir nog ‘n dag en jaar en daar is rede om fees te vier omdat geliefdes nog tyd het om saam deur te bring. Maar toe wonder ek net so terloops of al die skares wat juig oor die nuwe jaar elke jaar so uitbundig opgewonde is as hulle elk ‘n nuwe lewensjaar betree. Maak dit mense naastenby so opgewonde? Hiervoor het ek nie nodig om iemand te bel nie. Ek raai sommer die antwoord. Mense is nie altyd so opgewonde as hulle ouer word nie. Dit beteken mos die dood kom nader. Waarom dan die massa-histerie oor die Nuwejaar?

Vir my het die Oujaarsaand nogal gepaard gegaan met melancholie. Ek het in 2012 ‘n vriendin uit my kinderdae aan die dood afgestaan, ek het op Oujaardag ‘n ander oud-vriendin met haar pasgebore baba gesien. Auld Lang Syne het iewers treurig in my gedagtes aanhou teem.

En toe kyk ons ook nog op DVD 2011 se The Tree of Life.

Wie van julle het dit gesien? Ek het vooraf so baie teenstrydige resensies hieroor gelees dat ek amper nooit kans gesien het om dit te kyk nie. Dalk was dit al die baie resensies se skuld dat ek toe ook so ambivalent hieroor voel.

Enersyds vir my amper pretensieus. Ek het gewonder of die skepper van die film te véél probeer doen. Dit dalk eenvoudiger moes hou.

Tog, tog … ek het verstaan wat hy wou doen.

Die boom van die lewe. Ons elkeen s’n en die een in die middel van die eerste tuin. The Tree of life. Waar ons ingewortel is. Wie is ons. Die plek binne ons gesin en die plek binne ons kosmos: hoe dit ons vorm. Die gesprekke wat ons met God voer oor alles wat ons nie verstaan nie terwyl die lewe van die kosmos net meedoënloos sy loop neem.

En toe: nog ‘n aanbreek van ‘n nuwe jaar.

Vandag reeds ‘n dag later. Op die Nuus gisteraand praat hulle toe van die Kaapse Klopse en hier lees ek toe bietjie agtergrond oor Tweede Nuwejaar.

Ook nie ‘n feesviering wat net uitbundig is nie, of hoe? Of dalk tog: ‘n dag wat die slawe van ‘n vorige eeu gebruik het om bont aan te trek en partytjie te hou omdat hulle ‘n dag vakansie het, juis omdat en ten spyte van.

Vreugde toegewens, dus – aan almal in 2013: slaaf en vry, arm en ryk, jonk en oud, klein en groot, mense in die binnekring en buitstanders.

Groete, Naomi M