You are browsing the archive for 2012 December.

The Little Mermaid

December 24, 2012 in Geen Kategorie

 

Dis vakansie vir sommige en beslis vir skoolkinders. Maar net omdat hulle nie in die skool of kleuterskool is nie, beteken dit nie die kleinspan hoef niks te leer nie. Daar’s ‘n geleentheid in die Kaap om hulle in die tradisie van Oscar Wilde op te voed. Of dalk net deur middel van Hans Christian Andersen.

Die toneelstuk The Little Mermaid is op die oomblik in die Baxterteater aan die gang. Mariana Malan skryf ‘n baie goeie resensie hieroor in Die Burger.

Die lekkerte van die toneelstuk begin reeds as mens die teater binnestap. Die mense by die Baxter het moeite gedoen om die kleingoed onmiddellik in ‘n ander wêreld in te neem. ‘n Mens stap deur ‘n onderwatertoneel om die teater binne te gaan. Die skatkis se skatte en die blink liggies glinster tussen die visnette.

Laat ek my daarvan weerhou om te veel te wil analiseer. Ons almal weet mos wat water voorstel. Die ander domein. Die toetree van primordiale dieptes. Maar dit het regtig gebeur, daardie soort towerding. Ons almal het by die ingang van die teater Kaapstad verlaat en ‘n ander ruimte betree.

Die verhoog is slim beplan. Hoe maak mens nou om ‘n meermin met haar stert te laat rondbeweeg, sonder om haar heeltyd staties op die verhoog te laat sit? Mens bou ‘n see, dis wat Fred Abrahamse en Marcel Meyer se span gedoen het. Die branders is blou seile en daaronder is die akteurs se bene versteek. Wat die gehoor sien, is alles wat bo die oppervlak uitsteek. Visse en krappe en meerminne word op die oog af moeiteloos so uitgebeeld.

Die toneelstuk neem die verloop van die Walt Disney-weergawe van die verhaal en kies ook om die gelukkige Walt Disney-einde aan te wend, eerder as die Hans Christian Andersen-weergawe met sy komplekse einde.

Die foreshadowing vind van die begin af plaas: die meermin stel so intens belang in die wêreld bo die water, dat die gehoor kan voorspel sy gaan ondersoek instel na die lewe van die mensekinders. En, op sy skip, sug die prins omdat hy gedwonge gaan moet vrou vat – al wil hy nie. Die meermin en haar toekomstige prins is albei vasgevang in hul omstandighede. As daar net één aspek van hulle albei se lewens verander, kan hulle wel mekaar se ewige geluk verseker. As haar wens maar net bewaarheid word en sy ‘n mensekind met bene raak, en as die prins maar net sy ware liefde in haar vind, kan hulle albei gelukkig wees in hulle omstandighede.

Wat as … wat as …

En dan, vanselfsprekend, iemand om albei se planne en ewige geluk in die wiele te ry. Die opwindende seeheks en haar trawante.

Maar die seeheks se versugting na mag veroorsaak natuurlik haar eie ondergang, soos ons weet. En die geluk van die twee hoofkarakters seëvier uiteindelik.

Die teks en die liedjies van hierdie weergawe van The Little Mermaid is oorspronklik. ‘n Groot pluimpie vir die span dat hierdie produksie regtig wérk vir jong kinders. Dis nie Walt Disney-stroperig nie, maar dis nie vreesaanjaend nie. Die noodsaaklike gedeeltes van die verhaal word vertel, maar alles wat onnodig is, word uitgesny. Die lengte van die stuk is net reg. Dis ‘n uur lank en dis al.

‘n Vinnige meningspeiling onder sewe van die kinders wat hierdie toneelstuk bygewoon het, toon die gewildheid van die seeheks en haar palings (ja, die palings word spesifiek uitgesonder; vir my is hulle die ekwivalent van Knersus se tande-makkers in sy grot). Hierdie karakters is duidelik nie “goed” nie, soos die kinders vir my vertel. Maar die kinders vind hulle opwindend. Twee van die dogtertjies hou sonder twyfel die meeste van die meermin. Een van die mede-ma’s sonder die meermin se kostuum uit. Hier is moeite gedoen.

Uit volwasse oogpunt is die twee hoofkarakters nie die mees opwindende karakters nie. Daar is dalk nie heeltemal genoeg humor om ‘n volwassene te bekoor soos wat Walt Disney se uitstekende animasieflieks kan doen nie – dink maar aan nog ‘n onderseeverhaal, Finding Nemo, en met hoeveel genot ‘n grootmens dit saam met ‘n kind kan kyk. En wat is fout daarmee om Hans Christian Anders se “donkerder” (en oorspronklike) verhaal aan te pas vir die teater en dit eerder vir die kinders te voer, eerder as ‘n maklike gelukkige einde? (Maar laasgenoemde is onnodige kritiek. Net so goed om agterna vir jou kind die Hans Christian Andersen-storie te lees soos hy is en daaroor te gesels. Hierdie weergawe sal waarskynlik nie so goed werk op die verhoog nie.)

Maar dit ontneem glad nie hierdie produksie van sy belang of sy vreugde nie. Hierdie teaterstuk is iets gans anders as ‘n fliek. Dis lewendige teater en dis noodsaaklik. Kinders kry op ‘n wonderlike manier deur middel hiervan toegang tot die vreugde van teater. Hulle kan later leer van al die subtekste en self ontleed wat hulle op die verhoog gesien het. Vat hulle sommer nou al, dan raak die teater deel van hulle verwysingsraamwerk.

Duik in by die Baxter, meerminne en meermanne!

Jy het nog kans tot die 5de Januarie om jou kroos Baxter toe te neem om The Little Mermaid te gaan kyk. Sterk aanbeveel!

 

2012: Om te soek en om te praat

December 18, 2012 in Geen Kategorie

Die jaar 2012 het nou waarlik ryp geword en sowaar: die wingerd verbruin (in die blakerende son).

LitNet se span het mense gevra om Top 12′s saam te stel van wat hulle van vanjaar sal bybly: Hier is ‘n paar van die lyste wat reeds gelaai is.

Google het ‘n skyfievertoning getoonset en vir ons op YouTube gewys wat mense vanjaar op die web gesoek het.

 

Ek het ook self verlede week ‘n belangrike saak probeer afhandel voor die jaar verby is en vir Hartie’s Haven gebel toe hul nie op hul e-pos reageer het nie. Ek kan berig dat die boekpakkie na hul gepos is en dat hulle baie dankie sê dat LitNet se bloggers boeke vir die kinders daar geskenk het. Ek vra toe nog so ewe of die kinders daar Afrikaans kan praat en die vrou antwoord ewe: “Die meeste van hulle is Afrikaans.”

Was ek dus baie naïef oor die omgewings waaruit Afrikaanse kinders kom? Die kinders wat by Hartie’s Haven bly, het nodig om beskerm te word. En weggeneem te word van die mense wat veronderstel is om na hulle om te sien: hulle ouers. Om een of ander rede het dit my die hele naweek laat dink.

En daar maak my interaksie met Hartie’s Haven skielik my oë oop vir ‘n spul ander dinge van 2012.

Ek lees vanoggend ‘n kennisgewing oor die ATKV-Jeugleiersberaad: Hier is dit. En ek sien waaroor hierdie laerskoolkinders gesels. Hul verwysingsraamwerk bestaan uit bendes en tik en pa’s wat ma’s slaan. Vandat hulle hul oë oopgemaak het.

‘n Gesprek op Facebook vestig my aandag op ‘n allervreeslike ding, wat vir my hierby aansluit (of dalk nog erger is, ek weet nie eens nie). Melt Myburgh het ‘n ruk gelede ‘n onderhoud gevoer oor die ware verhaal van iemand wie se kind vermoor is. Die gesprek hieroor vlam van voor af op. 2012 was ‘n jaar waartydens mense nog steeds gesit het met bagasie van die verlede.

En, om weg te beweeg van die tragiese dinge wat met kinders kan gebeur, maar wat ook handel oor bagasie van die verlede: Hier skryf ‘n blogger oor wat hom moedeloos maak in hierdie land.

Wat is dié? ‘n Lys van dinge om mense teneergedruk te laat voel? Nee. ‘n Vertoonvenster.

Te midde van die onvolmaaktheid van hierdie jaar, en juis as gevolg daarvan: daar is gepraat.

Blog voort in 2013. Laat die narratief voortduur. Want iemand wat iewers lees, gaan jou storie hoor.

Geseënde Kersfees. Naomi M

Die koning het donkie-ore

December 4, 2012 in Geen Kategorie

Daar is iemand wat ek baie goed ken. Ek weet hoe lyk haar oë as sy die vorige aand te veel gedrink het. Ek weet daar is ‘n man wat partykeer vir haar klein, grys teddiebeertjies wat in hartjievormige blomme sit, gee. Maar hy kan haar ook so kwaad maak dat as hulle in die kombuis rusie maak, sy goeters teen die muur stukkend gooi. Sy en die man se verhouding breek nogal gereeld op, maar na ‘n paar dae is hulle weer saam. Een slag was hulle ‘n maand lank uit en toe kom sy agter sy is swanger. Hulle baba is nou al amper twee jaar oud en hulle verhouding ry nog net so wipplank soos voor die baba gebore is. Sy tel dikwels die slapies. Dis onduidelik waarvoor sy die slapies tel, maar sy tel hulle. Haar vriende kan nie juis spel nie. Sy hou van rugby. Van wie praat ek? Van ‘n Facebook-vriendin.

Ek gaan nie hier vertel dat ek vanoggend Weet-Bix geëet het nie (oeps). Of dat daar ‘n restaurant langs ons kantoor oopgemaak het wat gereeld Enya se musiek speel nie. Of ‘n vlaggie iewers op ‘n Google-kaart plant om te sien waar in die wêreld ek al gereis het nie. Maar dalk moet ek tog vertel waarom ek lanklaas geblog het. Waarmee het ek my die afgelope tyd opgehou?

Ek het Hartie’s Haven gekontak. Hier is hulle webwerf. Hulle het nog nie reageer op my e-posse nie. Ek sal hulle bel en die regte adres kry waarheen ek die pakkie met Zeppie se boeke kan pos.

Hier is LitNet-materiaal waarmee ek onder andere die afgelope paar dae besig was.

Hierdie materiaal het deel gevorm het van my werk die afgelope paar dae. En dit was vir my lekker om daarmee te doen te gehad het, hoewel nie altyd gemaklik nie. Sommige van hierdie stukke het my nogal diep laat dink.

Anderdag moes ek ‘n boek by die Afrikaans Departement van die US gaan afgee dat iemand ‘n resensie kan skryf. Die gange was leeg. Die plek het daardie gevoel van verlatenheid gehad wat gebeur as die vakansie aanbreek. Is enigiemand nog besig met enigiets? Is almal klaar by die see?

Maar wag, voor ek vra …

Ek gaan gou ‘n persoonlike obsessie hier moet deel, wat niks met my werk te doen het nie (wel, nog nie, maar ek wil graag iets hieroor doen: met die skrywer gesels, of wat ook al). Wie op die ganse aarde het al die volgende woord gehoor: “Forbrydelsen”?

Skryf ek Grieks? Dis eintlik Deens. En op BBC Four staan dié TV-reeks bekend as “The Killing”. Die letterlike vertaling is “the crime”. Enige expats wat dalk hier lees en die reeks dalk daar in Londen te siene kry? Vertel bietjie wat julle dink. (Ja, ek weet vandag praat almal net oor die koninklike swangerskap. En ek weet “The Killing” se derde seisoen het al daar afgeskop, ek is jaloers!)

Hier is ‘n onderhoud met die hoofkarakter van “The Killing” in ‘n verstaanbare taal (maar ek moet erken: die Deens is vir my deel van die reeks se sjarme.).

Wie ken die storie van die koning met donkie-ore? Van die man wat eenvoudig nie langer sy geheim kon hou nie en dit toe in ‘n gat in ‘n grond gefluister het tot die riete opgekom en die waarheid in die wind rondgewaai het?

Kom fluister jou geheim hier. Ag wat, basuin dit sommer uit. Hier kan jy selfs nog langer skryf as op Facebook. Waarmee was jy die afgelope tyd besig? Wat  het elkeen van LitNet se bloggers die afgelope tyd gedoen – waarmee was almal régtig besig, wat het sáákgemaak vir julle – die afgelope paar dae?

Groete, Naomi M

Naskrif. Hier is ‘n skildery van Hendrik de Clerck wat in die Rijksmuseum hang. Iewers tussen die figure, skuil Midas ook daar. Het hy regtig nodig om weg te kruip?