Die Van Aardes van Grootoor

November 9, 2012 in Geen Kategorie

Dis ‘n tema in Woody Allen se flieks. Anderdag by haar onlangse boekbekendstelling bepeins Ingrid Winterbach die kwessie: as ‘n ding albei gelyk is, wat is dit nou eintlik: snááks – of hartseer?

Ek het gisteraand Pieter-Dirk Uys se tragiese komedie, Die Van Aardes van Grootoor, in Durbanville Hoërskool se skoolsaal-ouditorium gaan kyk.

(Die stuk is voorafgegaan deur ‘n produksie van die skool se leerders self. Lees ‘n onderhoud met Jan Burger, wat kultuurhoof is by HS Durbanville, oor die skoleproduksies. Tot my spyt het ek nie die skoleproduksie gesien nie, weens werk- en gesinsverpligtinge. Maar ek kan maar net my hoed afhaal vir ‘n skool wat duidelik sy leerders slyp vir die teater en hulle ook blootstel hieraan.)

Die Van Aardes van Grootoor was vanjaar die Innibosfees se opdragproduksie. Dus het ek al met Anna-Mart van der Merwe, wat ‘n prominente rol in die stuk vertolk, asook met Albert Maritz, regisseur van Die Van Aardes, hieroor gesels. Ek hét reeds die teks onder oë gehad voor ek die onderhoude gevoer het. Maar ek was verstom oor hoe verskillend die ervaring was om oor iets te praat en om dit eerstehands te beleef.

Waaroor gaan Die Van Aardes van Grootoor?

In ‘n sin: Dis ‘n epiese sepie wat die geskiedenis van die Afrikaner saamvat.

Terwyl ek dit gekyk het, was dit snaaks. Kompleet met advertensies van die borg, Kux-seep, tussendeur. Die aanvanklike toon van die stuk is erg humoristies, soms slapstick. Daar is toilethumor betrokke. Die gehoor lag vir die uitspraak van Kux-seep (dit rym met Lux-seep, natuurlik). Nog meer skater hulle dit uit vir De Klerk Oelofse se stywe safaribroekie en die manier hoe hy daarmee paradeer, sit of staan.

Kortom, dis ‘n stuk wat sy gehoor sal laat skaterlag vir die platvloerse dinge waarvoor Afrikaanse mense dikwels lag.

Maar …

Dis ook snaaks op ‘n baie meer gesofistikeerde manier. Die toneelspel is voortreflik. Ek wil-wil vir Marion Holm uitsonder (sy vertolk haar karakter wonderlik!), maar dan is daar werklik oomblikke van grootsheid vir elkeen van die ander akteurs.

Die Van Aardes van Grootoor word aangebied in verskillende episodes, asof dit werklik ‘n sepie op die televisie is. Die Van Aardes woon op die plaas Grootoor. Twee susters en een van die susters se man woon saam. Dis in ‘n tragiese tydperk, die tyd van die verskroeide aarde. ‘n Engelsman lê besoek af. Onderdrukte luste kom na die oppervlak. En in die volgende episode sien ons wie is gebore uit hierdie samekomste in die vorige episode. Dieselfde akteurs kan hulle kinders vertolk – hulle lyk selfs eenders.

In elke volgende episode word ‘n ander era van die geskiedenis hanteer. Die verbintenisse raak meer en meer bloedskandig en eienaardig. ‘n Groot pluimpie vir Pierre van Heerden wat triomfantelik in sy wit bruidskleed aan die einde van een toneel die plaas vaarwel toeroep. Die gehoor klap hierop spontaan hande.

Die seepadvertensies is van besondere belang tussendeur. Seep is iets wat alle mense gebruik, so dis ‘n baie sterk beeld. Al die temas van manlikheid,  vroulikheid en  rasse-verhoudinge word aangeroer.

Van rasseverhoudinge gepraat: mens kan nie glo hierdie stuk is nie verlede jaar geskryf nie, om vir Anna-Mart van der Merwe aan te haal. Noxolo Bodlani word rondgeboender as “Aia” en speel later passief-aggressief met ‘n rewolwer – totdat sy sulke profetiese dinge aanvang in die laaste episode. (Kan dit wees dat Pieter-Dirk Uys die teks in 1978 geskryf het?)

Pieter-Dirk Uys is baie slim. Die teks is oorspronklik en vlymskerp. En meervlakkig. ‘n Mens voel warmte vir die karakters, al lag jy vir hulle. Hulle omstandighede en gedrag word bespot, hulle is soms grotesk en absurd. Maar mens vóél iets vir hulle. Hulle hou trouens ‘n spieël voor jou gesig (weer eens: verskoning dat ek eggo wat Anna-Mart van der Merwe gesê het).

En die keuse van die akteurs werk perfek saam met die dialoog. Die koddige klein mannetjie wat De Klerk Oelofse vertolk is ‘n karikatuur, maar jy kry vir hom empatie net soveel soos jy vir hom lag (en ineenkrimp: want hulle almal verpersoonlik ons almal in die saal).

Wie was daar?

Baie skoolleerders. En natuurlik volwassenes. Hoewel almal vasgenael was en baie hard gelag het, wonder ek hoeveel skoolleerders hiervan sou verstaan, uit ‘n geskiedkundige oogpunt. Dit sal my fassineer om met mense te gesels wat duidelik na die eerste demokratiese verkiesing gebore is en gisteraand die stuk bygewoon het. Ek moet byvoeg dat ek reken hierdie is die soort stuk waar mens ouerleiding nodig het. Ek sou dink dis ‘n goeie idee as ouers hierdie saam met hul kinders kon gaan kyk (die hoërskoolleerders sal my stenig vir hierdie opmerking). Veral: dat ouers agterna met hulle kinders hieroor gesels.

Terwyl ek al daar weggery het, het die stuk opgehou om vir my snaaks te wees.

Die Van Aardes van Grootoor is aktueel en nodig vir gehore om vandag te sien, al gaan nie almal hiervan hou nie.

Ja, dis skreeusnaaks. Maar veral is dit hartverskeurend.

Hier is foto’s van die stuk wat reeds op LitNet verskyn het.

4 responses to Die Van Aardes van Grootoor

  1. Ek glo hulle sal met die stuk die hele landvol trek ? Sal ‘n punt maak om dit te gaan koekeloer, ter gelegener tyd . Dankie ! Die lag met ‘n traan beginsel werk nog altyd goed met meeste gehore.

  2. Ek is jammer dat ek die hier by jou blog kom plak, maar ek weet nie waar anders om te vra nie.
    Kan ons asb. nie nou maar wegdoen met die CAPTCHA Code nie? ‘n Mens kan skaars so ‘n sinvolle gesprek aan die gang sit. Ook die feit dat mens elke kommentaar moet modereer – as jy nie die persoons se verbruikersnaam ken, kan mens nie terugping nie? Al hierdie goed werk in die gewone WP goed en daarom behoort dit hier ook te kan werk.
    Dankie by voorbaat

    • @ts, dis als reg, jy kan enige tyd vra, dis een van die redes hoekom ek hier is (dis my werk :) … Ons bou nie self die tegniese aspekte van die blogwerf nie, maar ek sal hoor oor die CAPTCHA-kode. Die feit dat mens elke kommentaar moet modereer, dink ek, sal ons egter nie noodwendig verander nie. Ek dink dit gee elke blogger heelwat meer sekuriteit en die vermoë om te beheer wie wat sê. Ek weet nie hoe ervaar jy dit nie, maar hier is baie minder moeilikheid op hierdie werf met moeilikheidmakers – want as iemand droogmaak, word hulle self deur elke blogger waar hulle moeilikheid maak, afgekeer. Maar laat ek môre op die Maandag hierdie vrae vir almal hierso vra. Dit wil sê: die LitNet-bestuur en ook die bloggers. Ons gesels gou weer, groete, Naomi M

  3. Ek was die vrydagaand daar en dit was fantasties. Interessant dat ‘n 32 jaar oue stuk, so absoluut relevant vir die Afrikaner kan wees in vandag se tyd.

Leave a Reply