You are browsing the archive for 2012 November.

‘n Protea om dankie te sê

November 20, 2012 in Geen Kategorie

Wat kan alles in ‘n maand gebeur? Mens kan ‘n roman skryf, as mens NaNoWriMo glo.

(Maar is dit wáár? Komaan, was julle vuil wasgoed en hang dit hier aan die draad op vir almal om te sien. Het julle dit probeer? En is dit regtig moontlik om te gaan sit en ‘n roman te begin skryf op ‘n dag as mens jou oë oopmaak sonder dat jy vooraf ‘n idee gehad wat gebroei het? En dan, binne ‘n maand, is jy klaar? Wie het dit al probeer?)

‘n Land kan ‘n mens moedeloos maak. Mense kan so gefrustreerd en kwaad raak oor niks deur die loop van generasies verander het nie, dat hulle groot ekonomiese skade aanrig. Wag ‘n bietjie, dit kan binne ‘n kwessie van ‘n week gebeur …

Wat kan binne ‘n maand gebeur? Kersversierings kan in die winkels verskyn. Sneeuvlokkies in die dak met die somerson daarbuite. Verhoudings kan sneuwel. Of opvlam!

LitNet se blogs word nou al ‘n maand lank op WordPress gehuisves. Die afgelope maand het ek klomp stories hier gelees en betrokke geraak by die gemeenskap.

Daar is baie dinge om nog uit te sorteer. Dit lyk my daar is ‘n beperking op spasie (100 megabytes per blog), maar geen beperking op die hoeveelheid blogs per blogger nie. As jou blog ooit vol raak, open net ‘n nuwe een. Ons probeer nog vasstel wat dit ons sal kos om die spasie te vergroot.

Laat my weet wat julle die meeste pla; ek antwoord die navrae so gou ek kan.

Baie dankie aan almal wat raad gegee en almal gehelp touwys maak het. In die besonder wil ek vir Zeppie uitsonder. Agter die skerms het baie mense na hom verwys as ‘n blogger wat groot moeite doen om handige wenke beskikbaar te stel. Ek het al (darem met sy toestemming) van sy blogs gesteel en met almal gedeel.

Toe ek Vrydag ‘n stapel kinderboeke van Protea ontvang om op die blogruimte weg te gee, het ek sommer impulsief gesê kom ons gee dit vir hom om dankie te sê. Dalk is daar kinders in sy lewe.

Hierdie is die boeke (elkeen van die boekomslae skakel deur na Kalahari.com vir nog besonderhede oor die boeke) en ‘n groot dankie aan Protea wat dit aan ons geskenk het om vir ons lesers weg te gee:

En toe laat weet Zeppie my eintlik sal hy dit eerder wil skenk aan ‘n plek wat dit regtig nodig het: hartieshaven.org

Zeppie het ‘n bloggroep vir hulle gestig.

Vriende van Harties Haven.

Kan julle demokraties laat weet of LitNet maar hierdie lekker boeke vir hulle kan skenk?

Ek stem daarvoor dat Harties Haven die boeke moet kry (ek beklemtoon dat ek nie namens LitNet praat nie, sommer in persoonlike hoedanigheid).

Dalk is ek ook beïnvloed deur ‘n YouTube-video wat ek vanoggend gesien het. Miskien het die stakings van die plaaswerkers dit alles gesneller. Om die onderwys te takel, kan ‘n goeie plek wees.

Miskien het ons nie eens ‘n maand nodig om ‘n verskil te maak nie. Al is dit net ‘n klein verskil, hoe klink ‘n oogwenk? Groete, Naomi

Wil jy deurlopend sien waar ander bloggers kommentaar gelewer het?

November 15, 2012 in Geen Kategorie

@zephur kry nie ‘n salaris by LitNet nie, maar dalk verdien hy ‘n toekenning van ‘n aard.

Hieronder het ek sy blog heeltemal openlik gesteel. Hy het uiteengesit hoe om ‘n aktiwiteitskakel bo in jou persoonlike nutsbalk in te voeg. Noem dit wat jy wil, dis ‘n ding wat jou neem na ‘n ruimte waar jy al die bloggers se aktiwiteite kan sien ontvou soos wat dit gebeur.

Moenie moed verloor as jy die instruksies lees nie. As ek dit kon doen, kan julle dit almal doen. Maak ‘n volgende oortjie oop en plak LitNet se blogadres daar. Nou kan jy inspring en Zeppie se instruksies stap vir stap volg met hierdie blog langs jou oop.

Siedaar! Jou aktiwiteitsblog is geskep. Nou kan jy sien wie lewer waar kommentaar.

Laat weet of julle regkom.

Baie dankie, Zeppie.

Groete, Naomi M

Hier is Zeppie se blog:

Reg om ontslae te raak van die blog-in-a-bubble effek en om navigasie op die blogs soveel beter te maak, kort ons ‘n Aktiwiteitsblad…

Nou die aktiwiteit funksie is op elkeen se lede-blad op die oomblik. Daar kan jy sien wat die blogger se aktiwiteite was, waar het hy/sy kommentaar gelewer of wat is nuuts gepost. Tog bly dit moeilik om tussen blogs nog te navigeer, en dis sal lank neem om so by elke persoon in te loer.

Reg ons gaan twee goed vandag doen. Eers die aktiwiteitsblad en dan navigasie tabs (links).  As julle gaan loer hier op my blog, sal julle die tabs sien wat ek opgestel het…
Blogs Hoofblad / My Lede Blad / My Blog / Aktiewe Lede / Aktiwiteitsblad

……..

Ek vermoed dat die bloggers wat ander temas gebruik as die default ‘BuddyPress Litnet Blog’ miskien anders verstellings gaan kry as wat ek hier onder gaan verduidelik. Wat julle kan doen is gaan eers terug na die default tema, doen die verstellings en kies dan weer die tema wat jy nou op het…


Ok eerste stap…die aktiwiteitsblad
Gaan na jou paneelbord (vir die wat nog nie weet om daarby uit te kom
nie…kliek op ‘My Webwerwe’ bo in die nutsbar (swart bar), dan op jou
blognaam, en paneelbord is daar
ok in die paneelbord, kliek op ‘Blaaie’
kies Skep nuwe
gee hom ‘n titel soos – Aktiwiteitsblad
dan aan regterkant onder ‘Page Attributes’ staan daar ‘Templaat’ (template)
kliek op die dropdown list en kies ‘ BuddyPress – Activity Directory’
dan volgende stap onder ‘Publiseer’ kliek ‘Publiseer’
ok die Aktiwiteitsblad is geskep

Tweede stap…navigasie tabs
in jou paneelbord kliek op ‘Appearance’
dan kies jy ‘Kieslys’
by ‘Menu Name’ tik in ‘n naam – noem dit ‘Blog Menu’
kliek dan ‘Create Menu’
nou is die menu gemaak en items moet bygevoeg word van opsies in
linkerkant…’custom links en blad’
gaan na ‘Blad’
daar sal jou ‘Atiwiteitsblad’ wees
kliek die regmerkie blokkie links van hom en kliek dan ‘Add to Menu’
hy sal dan verskyn onder die menu as ‘n tab

Nou om die ander tabs by te voeg
gaan na ‘Custom Links’
by ‘Label’ gee jy die item ‘n naam…noem dit ‘Blogshoofblad’
by ‘URL’  tik in daar  – http://blogs.litnet.co.za
kliek dan ‘Add to Menu’
hy sal dan ook regs onder die Blog Menu verskyn as ‘n tab

Gaan weer na ‘Custom links’
by ‘Label’ gee jy item ‘n naam – noem dit ‘My Ledeblad’
by ‘URL’  tik in daar  – http://blogs.litnet.co.za/members/naam  naam
= jou gebruikersnaam
kliek dan ‘Add to Menu’
hy sal dan ook regs onder die Blog Menu verskyn as ‘n tab

Gaan weer na ‘Custom links’
by ‘Label’ gee jy item ‘n naam – noem dit ‘My Blog’ .Bloggers hier met
meer as een blog kan dan ook ektra tabs genereer, en ook ander name
gee vir die tab.
by ‘URL’  tik in daar  – http://blogs.litnet.co.za/naam  naam = jou
gebruikersnaam
kliek dan ‘Add to Menu’
hy sal dan ook regs onder die Blog Menu verskyn as ‘n tab

Gaan weer na ‘Custom links’
by ‘Label’ gee jy item ‘n naam – noem dit ‘Aktiewe Lede’
by ‘URL’  tik in daar  – http://blogs.litnet.co.za/members
kliek dan ‘Add to Menu’
hy sal dan ook regs onder die Blog Menu verskyn as ‘n tab

Na al die stappe kan jy op die tabs binne in die menu setup kliek en
rondbeweeg om volgorde te bepaal soos jy dit verkies…ok as jy
tevrede is kliek dan op ‘Save Menu’

gaan na ‘Theme Locations’
by ‘Primêre Navigasie’ kliek op die drop down list en kies die menu
nou net geskep ‘Blog Menu’
kliek op ‘Stoor’

Daarshy ons is klaar met die les

Gaan nou na jou blog en kyk of die tabs werk.

Laat weet as julle vashak…

 

:- )Zeppie(-:

Weet jy hoe om as LitNet-blogger te registreer? En hoe om ‘n nuwe blog te skep?

November 13, 2012 in Geen Kategorie

Hulle sê mos skryf waarvan jy weet en skryf outentiek wat jy voel, dit mag maar ‘n emosionele outobiografie wees. Maar moenie te naby aan jou teks staan nie.

Ek en baie ander LitNet-bloggers blog nou al ‘n geruime tyd lustig voort en hier ontvang ek vandag uit die bloute ‘n e-pos: hoe registreer ek as nuwe LitNet-blogger?

Gaan na hierdie blad en klik op die blokkie wat ek (slordig) in geel omkring het.

Wanneer jy wil wegval en ‘n blog skryf, klik op die woord “inskrywing”, wat ek op op hierdie bladsy omkring het.

Groete, Naomi M

Rodin, die Denker

November 12, 2012 in Geen Kategorie

Google doen dit weer vandag: ons algemene kennis word uitgebrei as ons die soekenjin se tuisblad oopmaak. Geluk met jou verjaardag, Rodin, rus jou siel.

Rodin is vir my ‘n winterherinnering van tien jaar gelede. My geheue vertel my ek het die Rodinmuseum besoek juis rondom hierdie tyd, toe ek die nuus van Kerkorrel se dood ontvang het. Maar dit was dalk eerder ‘n maand later wat ons in Parys was. Die Moulin Rouge se windmeul het uitbundig in die rondte gedraai naby ons hotel, plakkate van die kabaret Le Chat Noir is onder ons kamervenster verkoop. Eksoties? Onophoudelik raserig eerder. Mens kon nie langer as ‘n week daar bly nie, want slaap het nie juis gebeur nie. Daar was ‘n probleem met die hotel se algemene elektriese toevoer. Of iets. Die hyser het nie gewerk nie (ons kamer was op die twaalfde verdieping). Die binneshuise verhitting het nooit ophou werk nie. Daar was ys teen die vensters, maar ons moes amper dwarsdeur die nag die venster oophou om nie van die hitte te versmoor nie.

Een oggend met die bleekwit lug was daar ‘n Franse slagter wat my skel omdat ek ‘n bestelling foutiewelik in vrot Frans geplaas het vir ons piekniek. En toe: Rodin.

Speel ek viool terwyl Rome brand? Ek hoor julle blogklagtes. @rewaco was moeg vir sukkel met die plaas van foto’s en video’s (dis darem ondertussen uitgesorteer as mens Firefox gebruik, laat sy weet). Ek hoor julle frustrasie oor dit nog nie moontlik is om die skriftipes te verander nie. Oor alles anders lyk. Oor die eienaardige Afrikaans van hierdie ruimte. Omdat julle nie ingelig word as iemand kommentaar lewer op jou bloginskrywing, behalwe as jy daarop inteken nie.  Oor dinge so anders werk en anders is. Ek gee aandag hieraan – ek dra dit oor aan die mense wat ons by 24.com se kantoor in Kaapstad so geweldig help met al die tegniese aspekte van hierdie blogruimte.

Maar tog kan ek nie help om tussendeur ook betrokke te raak en saam webdagboek te hou nie. Rodin is nogal bekend daarvoor dat hy realisties met klip gewerk het (en hoe lewendig kon hy nie ‘n stuk klip toor nie … Geppetto van Pinocchio kon maar by hom gaan kers opsteek het :)). Maar terselfdertyd weer daardie realistiese beelde van hom groter en grootser gemaak het. Om te wys daar’s méér aan die beeldhouwerk as wat mens sien. Die Denker het gelyk soos ‘n man, maar sy buitengewoon groot karaktertrekke het aan hom ‘n ander kwaliteit gegee. Hy was Dante by die poorte van die hel. En so doen ons dit almal hier. Die narratief gaan voort, ons beitel en timmer op die internet, saam met al die ander miljoene bloggers in die wêreld. Dit lyk maar net soos gewone woorde, maar dit vorm deel van ‘n nimmereindigende gesprek.

So wat hoor ek by julle Denkendes? Ek lees hier van Prince Albert se Leesfees in hierdie blog. En hierdie blogger skryf heerlike inskrywings oor perde en perdry.

Nou eers ‘n praktiese vraag beantwoord: Ouboet se stoep soek statistieke en wil weet hoeveel bladlese daar op julle blogs is.

Julle sal moet inteken op Google Analytics en die kode van GA gebruik om in daardie blokkie in te voeg. Laat weet of julle regkom, asseblief.

Ten slotte, ‘n paar foto’s van die man wie se beeldhouwerk my bybly.

Die Van Aardes van Grootoor

November 9, 2012 in Geen Kategorie

Dis ‘n tema in Woody Allen se flieks. Anderdag by haar onlangse boekbekendstelling bepeins Ingrid Winterbach die kwessie: as ‘n ding albei gelyk is, wat is dit nou eintlik: snááks – of hartseer?

Ek het gisteraand Pieter-Dirk Uys se tragiese komedie, Die Van Aardes van Grootoor, in Durbanville Hoërskool se skoolsaal-ouditorium gaan kyk.

(Die stuk is voorafgegaan deur ‘n produksie van die skool se leerders self. Lees ‘n onderhoud met Jan Burger, wat kultuurhoof is by HS Durbanville, oor die skoleproduksies. Tot my spyt het ek nie die skoleproduksie gesien nie, weens werk- en gesinsverpligtinge. Maar ek kan maar net my hoed afhaal vir ‘n skool wat duidelik sy leerders slyp vir die teater en hulle ook blootstel hieraan.)

Die Van Aardes van Grootoor was vanjaar die Innibosfees se opdragproduksie. Dus het ek al met Anna-Mart van der Merwe, wat ‘n prominente rol in die stuk vertolk, asook met Albert Maritz, regisseur van Die Van Aardes, hieroor gesels. Ek hét reeds die teks onder oë gehad voor ek die onderhoude gevoer het. Maar ek was verstom oor hoe verskillend die ervaring was om oor iets te praat en om dit eerstehands te beleef.

Waaroor gaan Die Van Aardes van Grootoor?

In ‘n sin: Dis ‘n epiese sepie wat die geskiedenis van die Afrikaner saamvat.

Terwyl ek dit gekyk het, was dit snaaks. Kompleet met advertensies van die borg, Kux-seep, tussendeur. Die aanvanklike toon van die stuk is erg humoristies, soms slapstick. Daar is toilethumor betrokke. Die gehoor lag vir die uitspraak van Kux-seep (dit rym met Lux-seep, natuurlik). Nog meer skater hulle dit uit vir De Klerk Oelofse se stywe safaribroekie en die manier hoe hy daarmee paradeer, sit of staan.

Kortom, dis ‘n stuk wat sy gehoor sal laat skaterlag vir die platvloerse dinge waarvoor Afrikaanse mense dikwels lag.

Maar …

Dis ook snaaks op ‘n baie meer gesofistikeerde manier. Die toneelspel is voortreflik. Ek wil-wil vir Marion Holm uitsonder (sy vertolk haar karakter wonderlik!), maar dan is daar werklik oomblikke van grootsheid vir elkeen van die ander akteurs.

Die Van Aardes van Grootoor word aangebied in verskillende episodes, asof dit werklik ‘n sepie op die televisie is. Die Van Aardes woon op die plaas Grootoor. Twee susters en een van die susters se man woon saam. Dis in ‘n tragiese tydperk, die tyd van die verskroeide aarde. ‘n Engelsman lê besoek af. Onderdrukte luste kom na die oppervlak. En in die volgende episode sien ons wie is gebore uit hierdie samekomste in die vorige episode. Dieselfde akteurs kan hulle kinders vertolk – hulle lyk selfs eenders.

In elke volgende episode word ‘n ander era van die geskiedenis hanteer. Die verbintenisse raak meer en meer bloedskandig en eienaardig. ‘n Groot pluimpie vir Pierre van Heerden wat triomfantelik in sy wit bruidskleed aan die einde van een toneel die plaas vaarwel toeroep. Die gehoor klap hierop spontaan hande.

Die seepadvertensies is van besondere belang tussendeur. Seep is iets wat alle mense gebruik, so dis ‘n baie sterk beeld. Al die temas van manlikheid,  vroulikheid en  rasse-verhoudinge word aangeroer.

Van rasseverhoudinge gepraat: mens kan nie glo hierdie stuk is nie verlede jaar geskryf nie, om vir Anna-Mart van der Merwe aan te haal. Noxolo Bodlani word rondgeboender as “Aia” en speel later passief-aggressief met ‘n rewolwer – totdat sy sulke profetiese dinge aanvang in die laaste episode. (Kan dit wees dat Pieter-Dirk Uys die teks in 1978 geskryf het?)

Pieter-Dirk Uys is baie slim. Die teks is oorspronklik en vlymskerp. En meervlakkig. ‘n Mens voel warmte vir die karakters, al lag jy vir hulle. Hulle omstandighede en gedrag word bespot, hulle is soms grotesk en absurd. Maar mens vóél iets vir hulle. Hulle hou trouens ‘n spieël voor jou gesig (weer eens: verskoning dat ek eggo wat Anna-Mart van der Merwe gesê het).

En die keuse van die akteurs werk perfek saam met die dialoog. Die koddige klein mannetjie wat De Klerk Oelofse vertolk is ‘n karikatuur, maar jy kry vir hom empatie net soveel soos jy vir hom lag (en ineenkrimp: want hulle almal verpersoonlik ons almal in die saal).

Wie was daar?

Baie skoolleerders. En natuurlik volwassenes. Hoewel almal vasgenael was en baie hard gelag het, wonder ek hoeveel skoolleerders hiervan sou verstaan, uit ‘n geskiedkundige oogpunt. Dit sal my fassineer om met mense te gesels wat duidelik na die eerste demokratiese verkiesing gebore is en gisteraand die stuk bygewoon het. Ek moet byvoeg dat ek reken hierdie is die soort stuk waar mens ouerleiding nodig het. Ek sou dink dis ‘n goeie idee as ouers hierdie saam met hul kinders kon gaan kyk (die hoërskoolleerders sal my stenig vir hierdie opmerking). Veral: dat ouers agterna met hulle kinders hieroor gesels.

Terwyl ek al daar weggery het, het die stuk opgehou om vir my snaaks te wees.

Die Van Aardes van Grootoor is aktueel en nodig vir gehore om vandag te sien, al gaan nie almal hiervan hou nie.

Ja, dis skreeusnaaks. Maar veral is dit hartverskeurend.

Hier is foto’s van die stuk wat reeds op LitNet verskyn het.

Barack Obama: kleur kom nooit alleen nie

November 8, 2012 in Geen Kategorie

Die mense dans in Kenia se strate. Google antisipeer ek soek inligting oor “Barack Obama’s Kenyan birth certificate” as ek net sy naam alleen intik. Maar tog sê Robert Schrire gisteraand op die SABC se nuus Obama het so baie probleme om in sy eie land op te ruim dat as hy vyftig sake op sy prioriteitslys het, Afrika (en Suid-Afrika) waarskynlik sewe-en-veertigste op die agenda is.

Eintlik verwys hierdie bloginskrywing nie na Obama se kleur nie. Dit verwys na die feit dat Obama nie in isolasie staan nie. Die Keniaanse verbintenis is een voorbeeld. ‘n Ander ding waarvan Obama hom nie kan losmaak nie, is die wêreld se persepsie van Amerika. Mense uit verskillende lande sal hom haat of hom as rolmodel sien op grond van die vlag met sterre en strepe daarop. As mens jou in Istanbul se strate begewe, begin die kelners vanuit die restaurante in Engels vir jou skree dat hulle alkohol bedien en Amerikaanse dollar aanvaar. Aannames word gemaak. Obama dra ‘n hele wêreld se stereotipes op sy skouers.

Vanoggend gesels ons oor Obama by ons kantoorvergadering. Party van die redaksielede voel die Amerikaanse verkiesing raak hulle nie. Ander het dit gevolg. Ons is amper in twee kampe verdeel, nes die twee-party-stelsel wat in Amerika heers. Maar ek het ‘n gevoel ook ons kan ons nie heeltemal losmaak van wat in Amerika gebeur nie. Of wat in Ierland gebeur nie of Tibet of Lapland of waar ook al. Als het mos maar rimpeleffekte op die menslike poeletjie.

Maar vir my is die aspek binne sy politieke konteks waarvan hy hom die minste kan losmaak, Obama se vaswees aan sy voorgangers. Ek het my geheue gekry van Ronald Reagan se dae af. (En hoe vás was hy nie, uit ‘n Suid-Afrikaanse politieke konteks gesien, ook aan Margaret Thatcher aan die ander kant van die aardbol nie.) Toe was daar Bush – en ná hom Clinton. Vir baie mense was Clinton ‘n vars bries en ‘n Amerikaanse vriendin van my meen hy is die wonderlikste man op aarde. Haar naam is, terloops, nie Monica Lewinsky nie. George W Bush is egter die man van wie Obama hom die minste kan losmaak, nes Mbeki hom ook nie van Mandela kon distansieer nie. Hoe op aarde kry mens dit reg om ‘n nasie te lei as jou voorganger ‘n ikoon was? Vir Obama was die teenoorgestelde natuurlik waar. Hy wat Obama is, het geklink soos die orator waarvoor die wêreld gewag het vier jaar gelede.

“If there is anyone out there who still doubts that America is a place where all things are possible; who still wonders if the dream of our founders is alive in our time; who still questions the power of our democracy, tonight is your answer.” (4 November 2008)

Maar mens voel onafwendbaar nou sinies as jy hierdie woorde lees. Want ons almal se geheue is nou beïnvloed deur alles wat sedert hierdie toespraak gebeur het – dis vir ons onmoontlik om op dieselfde manier na gebeure van die verlede te kyk.

Die wêreld het verander. Ons ook. Dalk gaan hierdie inskrywing oor ouerskap, oor almal wat voor ons was van wie ons nooit kan losraak nie, al skop en skree en baklei ons. Dis nou ons wat toe nooit prinsesse geword het nie, al het ons as klein dogtertjies daarvan gedroom.

En ook die ware royalties.

Vir altyd vas

aan wat was.

Groete, Naomi M

 

Riaan Cruywagen (Geskiedenis 101)

November 6, 2012 in Geen Kategorie

Jare gelede het ek, altyd die tweede viool, tweede viool in ‘n kleingroepie (hoe sal jy gig vertaal?) gespeel. Hoewel die sin selfbejammerend klink, was die teendeel eerder waar. Ek het werklik viool gespeel en dit geniet om nie die wysie te speel nie. ‘n Viool is mos ‘n lekker ding waaragter mens kan wegkruip, amper soos ‘n blog. Of wat praat ek alles?

Wag, ek bedoel eintlik om van die vioolspel te vorder tot by Riaan Cruywagen.

Ek sit daar en vioolspeel op die verhoog van een of ander privaatskool in Kaapstad. Die papiere fladder gevaarlik op die stander en die spanning bou op: gaan die musiek wegwaai? Nee, gevaar afgeweer. Ek speel verder. Die volgende oomblik gewaar ek ‘n ou bekende in die gehoor, skuins by die stander verby. ‘n Mooi blonde vrou, van waar ken ek haar? Ek wil amper waai, maar nee, dit sal onvanpas wees hier van die verhoog af. Terwyl ek die volgende paar note speel, besef ek skielik wie hierdie persoon is wat ek herken. Dis Anneline Kriel. En nee, ek ken haar nie persoonlik nie. Ook al was sy al vantevore in my sitkamer – op die televisie. Toevallig, vind ek toe uit, het haar kind net die skool bygewoon waar ek viool gespeel het.

Ek wil my verstout om te sê dat Riaan Cruywagen vandag meer herkenbaar is as Anneline Kriel. Ek dink nie mense sal in die straat by hom verbystap en eens wonder of hulle hom ken nie. Hulle sal hom plaas en weet wie hy is en glo hulle ken hom persoonlik. Hy lees dan al die jare lank byna elke aand die nuus en maak ‘n Afrikaanse grappie agterna. Hy is inderdaad volksbesit.

Ek glo Riaan Cruywagen se uittrede die einde van November strek egter dieper as net mense wat ‘n bekende gesig groet. Hy lees nuus. En hy lees die nuus in Afrikaans, ‘n taal met ‘n klomp politieke bagasie. Die nuusberigte wat hy lees het gestrek van Breytenbach wat tronk toe is tot vandag se berigte oor verkiesings in Amerika en Nkandla.

As Riaan vertrek, groet baie Afrikaanse mense iemand of iets waaraan hulle kon vashou. Riaan was ‘n konstante deur die jare wat mense bang was vir die Rooi Gevaar, die Swart Gevaar en al die ander gevare wat al die kleure van die reënboog kan aanneem. Daar is sentiment betrokke. Grootmense voel soos kinders wie se troetelkombers wegraak.

Na al die jare verpersoonlik Riaan Cruywagen die nuus; meer as dit, hy beliggaam die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Riaan Cruywagen slaan die kitaar in hierdie land. Of, om by die idee van die viool te bly: ons groet die land se fiddler on the roof, terwyl die klanke van die liedjie “tradition” in ons ore weerklink.

 

Groete, Naomi M

 

 

Akismet: wat op aarde …? (Hoe om pespos stop te sit.)

November 5, 2012 in Geen Kategorie

Hallo bloggers

Zeppie het vandag agter die skerms ‘n blogles aangebied en ek het besluit om sy e-pos te steel en aan die groot klok te hang. Hy gee raad aan alle bloggers oor hoe om pespos (spam) stop te sit. Lees bietjie wat hy skryf (ek het sommer gespoeg en -plak):

“Ok klas vandag se les is bietjie meer gevorderd…let mooi op en vra as julle nie verstaan nie…

Van julle het seker al gesien in jou paneelbord heelbo staan daar die volgende boodskap…

‘Akismet is amper gereed. Jy moet jou Akismet API-sleutel intik sodat dit kan werk.

Nou Akismet is ‘n widget wat help om enige spam wat jy mag kry te help verhoed…ons almal is al seker al moeg vir $20 se skoene en $30 se handsakke

Die link onder jou paneelbord wat sê dat Akismet widget is amper reg, jy moet net ‘n key intik…as jy daarop kliek neem dit jou na Akismet om te registreer…

http://akismet.com/

Daar kliek jy op signup…

https://akismet.com/signup/

In signup bladsy kliek jy op 3de opsie ‘ Personal’

Wat jou na die bladsy neem

https://akismet.com/signup/#pwyw

nou daar is ‘n Slider bar…’WHAT IS AKISMET WORTH TO YOU?’

Slide hom na links tot $0 (for Free)

Tik in jou email adres en naam

en kliek ‘Continue’

Dan is jy geregistreer en hul mail vir jou die Akismet key

Wanner jy die mail kry…copy die key en gaan na jou paneelbord weer na die link wat sê Akismet is amper gereed…tik in die key daar kliek bywerkings opsie

….

Dan gaan jy na jou paneelbord se hulptuie

http://blogs.litnet.co.za/naam/wp-admin/widgets.php    naam = jou blognaam

Daar is die Akismet hulptuig heelbo…click en drag hom na die sidebar Sidebar is heel regs Daar drag jy hom sê maar tot onder ‘Meta’…en ‘n blokkie met stippellyne sal verskyn…drop hom in die stippellyne…en kliek stoor

Daarshy

Done and Dusted, Zeppie”

Dankie, Zeppie! Groete, Naomi M

Sing ‘it uit volle bors die naweek (of maak maar net seker jy skryf)!

November 2, 2012 in Geen Kategorie

LitNet se liriekkompetisie, geborg deur Sanlam, staan kortweg bekend as Sing ‘it.

Die idee is dat jy lirieke skryf (in Afrikaans of in Engels) en dat ‘n gevestigde Suid-Afrikaanse kunstenaar of groep van jou liriek ‘n liedjie maak.

Lees nog oor dié kompetisie en stuur vir ons jou lirieke …

Klink dit nie soos lekker huiswerk oor die naweek nie?

Die ander moontlikheid is om hierdie naweek weg te spring met jou roman. Jy het reg gehoor.

Dis November en dit beteken dis National Novel Writing Month.

So, wat sal dit wees: ‘n liedjie of ‘n boek? En as jy dit nie nou doen nie, wanneer gaan jy dan?

Lekker naweek :)

Naomi M

Wil jy in kennis gestel word as iemand kommentaar lewer? En hoe voeg mens ‘n intekenblokkie op jou blog by?

November 1, 2012 in Geen Kategorie

1. Ek het ‘n spul navrae ontvang van mense wat kennisgewings wil ontvang as iemand kommentaar lewer op ‘n blog of dan weer reageer op ‘n kommentaar.

Volg hierdie roete en laat weet of dit help.

Gaan na jou persoonlike webwerwe se paneelbord. Klik op Instellings. Gaan na “Discussion”.

Kyk onder “Email me whenever …”

Die opsies bestaan uit die feit dat jy ‘n e-pos kan ontvang as iemand kommentaar lewer of as iemand se kommentaar wag om deur jou gemodereer te word.

Help dit al?

2. Om ‘n inteken- (subscriber) blokkie by te voeg, gaan na blaaie in jou paneelbord. Klik op Skep nuwe.

Maak die opskrif “inteken”.

Klik op die geel S2-blokkie.

Gaan na die heel onderste Subscribe2-blokkie

Klik op Settings

Jy verlaat die bladsy waarop jy is en rol op die bladsy waarheen jy geneem is, af tot by Enable Subscribe2 Widget. Merk Enable Subscribe2 Widget.

Klik op submit.

Gaan nou terug na jou paneelbord: na Appearance

Die subscribe2 Widget sal daar wees

Skuif (“drag”) daardie blokkie na die regterkant toe waar die ander hulptuigblokkies is (hulle name is: Soek, onlangse inskrywings, onlangse kommentare …).

Plak jou subscribe2 Widget-blokkie daar en vul die kategorieë in.

Noem hom sommer “inteken”

Stoor daardie nuwe widget-blokkie

Teken uit. Teken weer in.

Siedaar!

Kyk gou na my blog om te sien: ek het pas self vir my ‘n intekenblokkie gekies.

Laat weet of julle regkom!

Groete, Naomi M