You are browsing the archive for 2012 October.

Vriendskapsversoeke en om te registreer

October 22, 2012 in Geen Kategorie

Bloggers

Om nuwe vriende te maak, moet jy doodeenvoudig na die blogger se profiel gaan met wie jy bevriend wil wees en ‘n vriendskapsversoek daar stuur. Jy sal sien hoe dit lyk as jy by jou potensiële vriend se werf aankom 🙂 Kyk net rond tot jy die vriendskapsversoekblokkie sien en klik daarop.

En daar is definitief nog ‘n probleem met die registrasieproses – ons is bewus hiervan. Ek hoop die probleem word nog vanmiddag opgelos.

Maar hierts, ek voel skoon vrolik oor sake darem al staan waar dit staan. Mens is net die eerste dag vreemd en van dan af kan dit net beter gaan.

Liewe aarde, maar party van hierdie Afrikaanse terme val vreemd op die oor en die oog. Of hoe? Julle moet vir my sê wat is vir julle oulik en wat skree ten hemele.

Groete,

Naomi M

 

Registrasieproses en -probleme

October 22, 2012 in Geen Kategorie

Bloggers, daar is nog ‘n klippie in die skoen ten opsigte van die registrasieproses. Ek het self probeer om ‘n splinternuwe blog te skep (van voor af te registreer) en daar is ‘n fout iewers. Die tegniese mense gee aandag aan die probleem.

Ons is amper daar!

Groete, lekker dat hier so baie lewe is.

Naomi M

Skrywers, bloggers, neem op die PEN

October 22, 2012 in Geen Kategorie

Hallo (blog-)skrywers

Saterdagoggend was daar ‘n geskiedkundige vergadering in die Letteregebou van die US: die hergekonstitueerde PEN Afrikaans het vir die eerste keer saamgekom.

Ken julle die agtergrondgeskiedenis hiervan? http://www.argief.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_custom&cause_id=1270&page=pretoria_pen

Die PEN-organisasie se naam staan oorspronklik vir Poets, Essayist and Novelists. Die vraag by Saterdag se vergadering was wat presies is ‘n skrywer? Moet jou eie selfstandige papierboek uitgegee word om jou te mag inreken by hierdie organisasie? Wat van joernaliste en dramaturge en enige ander woordkunstenaar?

Wat van ‘n reeks bloginskrywings?

Wie is ‘n skrywer vandag? Is JY, LitNet-blogger, ‘n skrywer? En hoekom?

Groete, Naomi M

Nou kan enigiemand blog en enigiemand kan van voor af registreer

October 22, 2012 in Geen Kategorie

Hallo bloggers

Die fout is uitgestryk! Verfris (sou julle refresh so vertaal?) jou blogwerf en siedaar: nou staan daar bo Gebruikernaam en wagwoord “skep asseblief ‘n nuwe rekening om te begin”.

As jy nie die trek oorleef het nie, registreer gewoon van voor af. Jammer oor die bagasie wat langs die pad verloor het, maar klim op – jy is baie welkom.

Ek het stapels navrae gekry van mense wat wil hê ek moet help met hul registrasieproses. Omdat elkeen dit nou self kan doen, versoek ek of almal gou kan kyk of hulle self regkom. As iemand sukkel, laat weet gerus en ek sal raad gee en help waar ek kan.

Groete,

Naomi M

Hoe om as nuwe blogger te registreer

October 22, 2012 in Geen Kategorie

Hallo bloggers

Ons het navrae ontvang en self rondgekyk en in die proses vasgestel hier’s fout: op die oomblik kan niemand van buite registreer as nuwe blogger nie. Wees gerus. Die tegniese mense is op die oomblik besig om die kwessie aan te spreek. Oor ‘n paar uur sal dit moontlik wees vir die hele wêreld om aan boord te spring van LitNet se blogruimte … In die tussentyd, het julle dit al reggekry om julle vriende hier op te spoor?

Ek het ‘n paar navrae hieroor gekry. Laat weet wie nog sukkel, asseblief.

Groete, Naomi M

Welkom

October 19, 2012 in Geen Kategorie

Hallo bloggers

Ek heet almal nog ‘n keer welkom by LitNet se nuwe blog-platform. Maar duidelik het ons pas getrek en die bokse moet nog uitgepak word. Dit voel soos ‘n nuwe baba wat arriveer het en mens is die eerste aand almal tuis. Opgewonde, maar ook moeg en dinge aan die uitkyk. Ek het vanmiddag geskryf om almal welkom te heet, maar al wat op die oomblik verskyn, is ‘n toetsboodskap – en nie die boodskap soos ek dit geplaas het nie.

Laat weet my asseblief watter probleme julle ervaar en dan sorteer ons dit volgende week op die ry af uit. Laat weet ook wat vir julle lekker is hierso, asseblief.

Ons gesels later, groete uit ‘n yskoue Stellenbosch.

Naomi Meyer, LitNet: inhoudsbestuurder

Welkom!

October 19, 2012 in Geen Kategorie

Welkom by LitNet se blinknuwe blog-platform. Kyk gerus ‘n bietjie rond en word deel van ‘n lewendige gemeenskap bloggers wat nie bang is om hul sê te sê nie.