Hoekom blog jy? En hoekom blog jy by LitNet?

October 24, 2012 in Geen Kategorie

LitNet-bloggers

Die internet is ‘n raserige plek. Dis erger as Birdstraat se Pick & Pay in Stellenbosch half elf op ‘n Saterdagoggend, as die kleintjies sit en nies op die trollies se handvatsels met die slagspreuk: “Pick up something new today.”

Ons blogruimte hier by LitNet gons. Julle het seker gesien? Ons getal bloggers raak amper aan 500. En dis net dié wat die wegraping oorleef het. Daar was ander wat in die slag gebly het. Maar hulle het nou die geleentheid om weer te registreer, aan boord te klim en vars en nuut te begin.

Maar hoekom? In die besige ruimte, tussen die skare? Hoekom met jou klein-klein megafoontjie staan en skree? Hoekom sit en wag dat iemand anders vinnig onderaan reageer?

Ek gaan klop aan by die internet self vir ‘n antwoord. Hoekom blog? En toe kry ek iets soos ‘n antwoord, al is dit eintlik nie regtig een nie. Die antwoord is: moenie blog slegs as jy iets het om te sê nie. So sê skrywers mos ook: moenie sit en wag vir inspirasie nie. Gaan sit. Boude op die stoel. En skryf. Dis beter as enige skryfkursus, of droom van al die kere wat jy droom van jou groot roman.

So hoekom blog? Ek weet nie, elkeen wat hier blog moet self besluit. Op LitNet, weet ek, is daar skrywers of mense wat hou van skryf en lees. En as mens die twee idees met mekaar versoen – die skrywer wat aanbeveel om te gaan sit en te skryf en die blogger wat staan en kopkrap oor hoekom hy blog – dan spreek dit vir my vanself. Jy is by LitNet. Jy skryf. Hier, by die blogruimte, is jy welkom.

Geniet dit.

Groete,

Naomi Meyer, LitNet: inhoudsbestuurder

20 responses to Hoekom blog jy? En hoekom blog jy by LitNet?

  1. Weet nie of ek nog kan blog nie, want ek kan nie geskryf kry nie, kan wel op my blog inkom? Gelukkig is Zeppie besig om my saak te ondersoek. Wonder hoekom het my naam daar beland, nie dat dit saak maak nie? Dalk het iets deurmekaar geraak met al die verskillende name? Het oorspronklik vir landbou.com geblog en aangesien hulle toe nog op letterdash was, het my blogs hier beland. Geniet dit maar net om iets te skryf van ons lewe hier en veral die mense van die omgewing.

  2. om nat verse te verf , of resitasies uit derms te ryg , of rympies te sit en vleg ~ word nie regtig as skryfkuns ervaar en beoordeel nie.

    nogtans sal ek hoofsaaklik daarmee ‘n oorlas van myself hier maak , plus : ek sal meelees en meepraat oor al die kwessies wat die ander hier ophaal ~ oor al die dinge wat hulle so diep raak …

  3. Dis ‘n kuierplek, ‘n geselsplek en ‘n plek om soms die skryfkuns ‘n bietjie te slyp. Hier het ons bloggers van die ou Litnet al gawe vriende gemaak, mense raakgeloop wat ons waardes deel en wat interessante dinge het om te vertel. En interessante maniere om dit te vertel.

    En hier het party van ons ook mense raakgeloop wat anders dink as ons, maar wat ons aan die dink sit. Dis stimulerend, dit maak mens wakker en jy kyk weer met nuwe oe na die wereld en sy oneindige verskeidenheid van mense.

    En die wat glad vir ons iets bied nie, wat ons teen die bors stuit – wel – ons hoef hulle mos nie twee keer op te soek nie! Hulle kan gelukkig voortblog en diegene bevriend wat hulle manier van praat en doen waardeer.

  4. Dis nou ‘n goeie vraag. Ek blog want ek het nog altyd gehou van skryf oor dinge wat saak maak vir my en soms net vir die lekkerte. Ek geniet dit om ander se menings te hoor. Almal hoef nie noodwendig saam te stem nie maar almal moet groot genoeg wees om nie gemeen en persoonlik te raak in hul kommentaar nie. Ek geniet die klomp op Litnet. Ek dink die taal bind ons aanmekaar vas.

  5. Hi Naomi, hoe kan ek weer toegang tot my albums kry? Daar is ‘n paar fotos in wat hopelik nie verlore gegaan het nie.

  6. Goeiemôre. Ek blog om my Afrikaans te oefen, om stories en idees uit te ruil, om nuwe vriende te maak. Dis waar wat jy sê. Soms begin ‘n mens skryf met ‘n tema, soms moet jy net gaan sit en begin skryf voordat jy weet waar die storie gaan uitdraai.

  7. Ek is jammer dat ek hier vra, maar ek weet nie waar ek jou anders in die hande kan kry nie. Kan jy nie asb. die ander tema kies sodat jy in die sykolom vir die bloggers beskikbaar kan wees? Ek weet nog van bloggers wat nog nie toegang het tot hulle blogs nie en dit sou jammer wees om hulle dan te verloor. Dit sal ook lekker wees as iemand van die ander WP funksies kan byvoeg, want op die oomblik gaan dinge baie stram. Baie dankie en skuus vir die aanhoudende kla.

  8. Een van die vele redes waarom ek blog is vir die interaksie.
    Tans is dit nogal ‘n teer punt, ek weet daar is nog na-geboortepyne en kommentaar is een van hulle.
    Asseblief asseblief GROOT asseblief, kan julle uitvind HOE ons weet as iemand op ons kommentaar gereageer het.
    Byvoorbeeld, ek gaan nou elke drie minute moet terugkom hierheen en HOOP dat daar ‘n antwoord op hierdie kommentaar is, terwyl die vorige platform vir my ‘n epos gestuur het ELKE keer as iemand op my kommentaar reageer.
    Verder laat weet die stelsel mens ook net as daar ‘n kommentaar op jou blog is wat gemodereer moet word, dus kan mens nie die opsie gebruik wat toelaat dat iemand wie se komentaar reeds gemodereer is weer kan kommentaar sonder moderasie nie.

    Die interaksie tussen bloggers is een van die dinge wat Litnet blogs suksesvol gemaak het, elke ander blog platform het dit, insluitend WordPress. Dit kan nie so moeilik wees nie.

    Asseblief en dankie.

    • Ek stem…daai funksie sal dinge amper weer normaal laat voel

      • Dit is seker ook een van die mees basiese funksies???

        Op die “normale wp is hierdie opsies in jou INSTRUMENTPANEEL (vs paneelbord) beskikbaar.

        E-mail me whenever E-mail me whenever Anyone posts a comment
        ‘n Mening word gehou vir oorweging
        Someone likes one of my posts
        Someone reblogs one of my posts
        Someone follows my blog

        Asook hierdie aan die onderkant van die kommentaar knoppie:
        Notify me of follow-up comments via email

    • Ek dink dis ‘n WPress funksie wat nie geaktiveer is nie?
      Op WP proper het jy mos ‘n pull-down menu sodat jy ook kan sien wie geantwoord het op jou kommentaar, baie nuttig.Miskien moet die tech ouens bietjie uitvind by WP – hulle is self seker nie bloggers nie anders sou hulle nie so ‘n belangrike funksie nagelaat het nie.

  9. Naomi as ek weer mag vra…kan jy hoor by tech support om ‘n litnet blog hoofblad knoppie te sit op die menu bar bo-aan

    Soos hulle het by Blogs 24

    Dan kan ‘n blogger op enige bladsy, of by enige blog daai knoppie druk en dit neem hom direk na die hoofbladsy van …blogs.litnet.co.za

  10. Ek blog want ek het verslaaf geraak aan die gewoonte om te skree as ek frustreerd is, en te fluister as ek happy is, en so my kop skoon te kry sodat die emosies en die frustrasies en die celebrations nie ophoop en ongedefinieerd raak nie…
    En ek blog by Litnet want die meerderheid mense is opreg en die res is interessant…en omdat ek die tipe mens is wat in my huis sal bly tot hulle my met geweld kom wegry ouetehuis toe…

  11. ek blog om nie te vergeet nie. en vir later se onthou.

  12. Ek hou van blog, so ek het sommer ‘n lang relaas daar op my stukkie seepkis gaan los 🙂

  13. ek blog om skrywery te oefen, en geniet ander se blogs met ondervings en beskrywings van hul ondervindinge en omgewings.
    kan glad nie by my ou blogskrywes uitkom nie!

Leave a Reply