#24(p) Is die hand van Suid-Afrikaanse kritici te sag? (Francois Verster)

Desember 8, 2010 in Sonder kategorie

Die debat op LitNet oor Suid-Afrika se resensente (“Is die hand van Suid-Afrikaanse kritici te sag?”) is nogal interessant, al dien dit grootliks as versterking van mens se vermoedens. Sommige mense het nogal goeie kommentare te lewer – ook Crito se stelling dat resensente meer skeppend kan skryf. Uiteraard is dit meer toepaslik op LitNet, waar daar ruimte is om dit te doen – en hier is dit iets wat nogal soms misgekyk word: jy kan nie ‘n 500-woord-, in-‘n-resep-vasgekettingde kommentaar vergelyk met amper die teenoorgestelde, naamlik ‘n koerant se resensies teenoor LitNet se resensies, nie. Wanneer mens te veel ruimte het, is dit ook nie altyd goed nie, het ek self agtergekom, maar dis tog goed om die hele spektrum te beleef.

Wat my die meeste interesseer, is die resensente wat ook skrywers is – hulle het meesal empatie met ander se werk; maar dan is daar ook diegene wat professionele jaloesie koester en loslaat op ander. Ek onthou hoe my joernalistiek-dosent by CPUT sy hande gevryf het met die woorde dat hy al lank wag op hierdie geleentheid – om ‘n vyand se werk oop te ruk van die lies tot die strot. Dit het my met afgryse gevul – soos toe ek op universiteit kom en ontdek dat ek al ou in die span is wat dink mens speel die bal en nie die opponent nie. Eish … wrong century? Kannie wees ‘ie!

Die sogenaamde bloedskandelike verhouding binne ons literêre én geografiese grense mag waar wees, maar dan is dit sekerlik nie slegs hier die geval nie: mense vergeet gereeld – oor politieke, kultuur- en ander sake ook – dat mense is mense is mense en dit sal altyd, oral, so wees. Elke leser, elke skrywer en elke resensent (Crito ook?) het sy/haar voorkeure en vooroordele. Ongelukkig.

Mens moet net jou bes probeer en nie onnodig nydig raak oor die ander outjies en vroutjies wat son soek nie.

 

 

 

 

To comment, sign up here!

 

Click here to read more.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.