#24(o) Is die hand van Suid-Afrikaanse kritici te sag? Oor resensies (JB Roux)

Desember 7, 2010 in Sonder kategorie

In ’n onlangse resensie verwys ek ’n skrywer terug skryfskool toe. Sy krabbel ’n boodskappie op my Facebook-muur en maak my af as “venynig”.
         
Ek skrik my koud vir dié graffiti: sê nou my slotsom wás te kras? Net daar stuur ek vir haar ’n e-pos en oortree so die eerste reël vir resensieskrywers: moet nooit ’n oordeelsfout erken nie, nie eens teenoor God nie. En die tweede wat hiermee gelyk staan: ’n resensent vra nooit om verskoning nie. Om te oortree is om jouself van gesag te stroop en dalk nie weer ernstig opgeneem te word nie.

Afrikaanse resensente is oor die algemeen sag van hart en hulle voete kleierig. Ek verstom my oor hoe ver sommige kritici agteroor buig om ’n boek wat ’n vuishou verdien, oor die kneukels te streel.

Die hoofrede vir sulke lamsakkigheid is dat die bedryf betreklik klein is. Almal ken min of meer vir almal. Hoe kan ’n resensent professor X se poësiebundeltjie in die pers afskiet as hy en professor X nou die dag gesellig soutigheidjies uitgeruil het tydens ’n ánder skrywer se boekvrystelling? En jy weet nooit of die skrywer wat jy so “venynig” bygekom het, later persoonlik aan jou voorgestel gaan word nie: die verleentheid!

Ander resensente het eenvoudig nie die moed om ’n bekroonde skrywer hier van onder af met ’n gifpyl by te kom nie. En ’n boek wat deur ’n resensent uitmekaargepluk word, is dalk uitgegee deur die resensent (wat óók skryf) se eie uitgewer. Of sê nou ’n “slagoffer” word gevra om op haar beurt jóú jongste vrystelling te beoordeel.

Al hou ek soms my lyf gifappeltjie, is my resensies gewoonlik mak. Nie weens ’n gebrek aan moed of vurigheid nie, maar as gevolg van ’n Calvinistiese ingesteldheid, daardie sin vir ordentlikheid wat by ons ingeteel is.

Maar kort ná my verskonende e-pos aan die skrywer neem ek my ’n nuwe blaadjie voor: van nou af lê die karwats neffens die kardoesie suigstokkies. Boekebladredakteurs verkies rooskleurige resensies, maar dalk werf brutale eerlikheid nuwe aanhangers.

Resensente skryf vir lesers. Uitgewers vat soms kanse en resensente moet verbruikers help om ingeligte keuses te maak. Soms is bitsigheid nodig. As ek my resensie oor die boek met ’n “sagter” slotreël afgesluit het, sou heelwat meer mense die boek gaan koop het. En is daar ’n groter teleurstelling as om ’n boek – pragtige omslag, prikkelende flapteks en prominent uitgestal – kasregister toe te dra, by die huis te kom en weldra te besef jy het jou geld gemors? Daardie “high” wat ’n mens beleef deur fisiek ’n boek te gaan koop, val soms baie gou plat.

Boodskappers word dikwels gekruisig, maar ek sien kans om gehaat te word – deur uitgewers, skrywers, aanhangers wat nie kan aanvaar dat hulle skrywershelde soms ’n geseling verdien nie. My enigste vrees is voortaan dat ’n leser my sal voorkeer en sê: “Hoekom het jy my nie gewáársku nie?”

To comment, sign up here!

Click here to read more.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.