Profile photo of Tarina

by

‘n Anker in die vreemde

March 6, 2017 in Uncategorized

Om ‘n buitelander in ‘n land te wees – al was dit een waarheen jy al voorheen was – is swaar. Die taal is anders. Die gewoontes is vreemd. Selfs liggaamstaal, daardie wonderlike wyse om te lees wat iemand anders regtig dink, is gereeld onverstaanbaar.

As ‘n buitelander staan jy soos ‘n blinde en dowe, tastend in ‘n besige straat na iets wat rigtinggewend is. Na iets bekend waaraan jy jou kan koppel en die res van jou lewe vooruit kan stuur.

Ek vind dat daar niks buite myself is wat ek as anker kan gebruik nie, eenvoudig omdat hierdie nie my land is nie. Die val van die landskap is anders: meer gelyk en saggolwend. Die klimaat verskil. Helder – en soms harde – sonlig en stowwerigheid is vervang met ‘n klamheid wat kleef soos die klei in die dreineringskanale langs posseël-grootte landerye en antieke plantasies. Hier hoor mens duiwe, soos in Suid-Afrika, maar die getjirrr van mossies, die melodieuse piet-my-vrou en die krapperige nasalering van die kwêvoël is vervang met ander voëlgesang waaraan ek nog geen naam kan koppel nie.

Hierdie ankerloosheid laat my soms tuimel in ‘n vraag so oud soos die mensdom: wie is ek? Dit laat my twyfel in my handelinge en in my woorde, maak my skrikkerig vir die samelewing en alles wat rondom my gebeur. Ek wonder oor die motiverings van mense waarmee ek interaksie het, bevraagteken elke gesprek en my keuse van doen en late.

Tot ek my vrese sluk en ‘n paar keer diep asem haal. Die waarheid is dat mense bly mense. Almal het onsekerhede. Almal vrees iets. Almal het lief. Daar is niemand (soos die Franse-wetenskaplike-wat-Buddisties-monnik-geword-het, Matthieu Ricard, gesê het) wat wakker word en besluit om misrabel te wees nie. Almal wil gelukkig wees. Wanneer mens uit vrees uit reageer, is die kans klein dat jy iets positiefs uitgerig gaan kry.

So ek haal diep asem en sluk my hart terug uit my keel. Ek pink ‘n traantjie weg en trek my splinternuwe, rooi, Italiaanse reënskoene aan en glimlag vir diegene wat my groet op straat.

Niemand wil misrabel wees nie. Daaraan anker ek myself – die feit dat elkeen binne-in tog maar mens is. En ek kan kies of ek iemand misrabel maak of nie. Die lewe is swaar genoeg en elke oomblik wat ek misrabel of negatief is, steel ‘n oomblik waarin ek kon gelukkig gewees het. Elke handeling wat ek doen of woord wat ek spreek wat iemand anders se geluk aftakel – maak nie saak watter nasionaliteit daardie mens is nie – maak ‘n mindere mens van my.

Ek kies om geluk te saai en te oes.

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *