Profile photo of Tarina

by Tarina

As ek moeg word vir die lewe in die stad

February 19, 2017 in Uncategorized

In Engels kry mens so ‘n lekker beskrywende woord: soundscape, die klanke wat met ‘n spesifieke landkap geassosieer word. In Afrikaans sal mens dit seker direk kan vertaal as klankskap, alhoewel ek myself nou diep in die land van neologismes laat vaar met hierdie direkte vertaling.

Wanneer ek myself in ‘n plek bevind, is die eerste dinge wat my opval die klanke en reuke wat daar voorkom. Dan raak my oë gewoond aan die liginval en sal ek my omgewing in detail bestudeer, terwyl ek – altyd met my linkerhand – liggies aan oppervlaktes en teksture raak om myself binne my konteks te vestig. (Ek bly wel weg daarvan om my smaaksintuig te toets in nuwe omgewings. Mense neem dit gewoonlik nie goed op as jy hulle mure en meubels begin lek nie.)

Van my eerste, helderste herinneringe van België was die reuk van warm, varsgebakte wafels wat deur die strate in die ou stad van Antwerpen sweef. Daarna kom die klanke van bekende woorde in ‘n anderste uitspraak na vore: ek vertaan wat die mense om my sê, sonder dat ek die taal praat.

Voordat ek myself in die land van die Belge begeef het, het ek in voorstedelike Centurion gewoon. Naby genoeg aan die snelweg om byna altyd die geruis van die verkeer te hoor, tog ver genoeg weg van die besige kern om myself in die tuin te kon afsonder en te luister na die mossies, duiwe, piet-my-vrou en bonthoutkapper. Soms – veral vroegoggend oor naweke – was dit stil genoeg dat ek kon hoor hoe my ritmiese asemhaling saggies wegsterf onder die gesuis van die wind deur die groot palmbome in die tuin.

‘n Klankskap sonder die indringing van mensgemaakte klanke is nie vir my ‘n luukse nie, maar ‘n oorlewingsnoodsaaklikheid. Van die plekke waar ek op my vredevolste was, was die Vredefort Koepel, waar die klank van my asemhaling net-net oorheers was deur die suising van die wind deur die veldgras, die voëlgekwetter en ‘n bobbejaan wat af en toe sy mense waarsku dat ‘n allenige mens oppad is in die trop se rigting.

Hier saam met my Belg in ons woonstelletjie, het ons goeie toegang tot ‘n groot deel van die stad en haar voorstede, maar dit kom met ‘n dure prys: ‘n mens hoor altyd die stad en haar mense.

Die afwesigheid van klank is wat my egter die meeste aantrek hier in my nuwe tuisland. Ek smag na stilte.

Aanvanklik het ek dit gesoek in die park naby ons woonstel. Groot bome, groen gras en yskristalle op houtbankies het ek daar gevind – goed deurdagte, mensgemaakte landskappe wat sag val op die oog – maar ongelukkig oorheers deur die klank van groot volumes verbygaande motorverkeer. So soek ek die volgende park naby ons op, met dieselfde gevolg. Maak nie saak waarheen ek gaan nie, orals hoor ek karre.

Tot die dag wat ek op Laventeltjie geklim het en drie dorpe verder gery het. Tussen Wommelgem en Ranst lê ‘n stukkie (relatief) ongeskonde aarde. In die inwonersmond staan dit bekend as die Bos van Ranst. Skoonma het my die agterpaadjies soontoe geleer. ‘n Mens vleg deur die rustige woonstrate, weg van die verkeer, totdat jy die eeue-oue allemansreg-weë tussen die landerye van die weggesteekte platteland kry.

Daar, op die enkelspoor sandpaadjies tussen die landerye, met swart rawe wat my met blink oë dophou, voel ek die eerste keer dat vrede deur my ore inkruip.

Minder as ‘n kilometer verder groei die Bos van Ranst in stilte. Die bome is ‘n aardse katedraal en die bosvoëls die koor wat van die heilige ruimte benede die blare vertel aan die wat wil hoor. Elke voetval word versag deur ‘n digte laag gevalle blare. Wanneer mens van die voetpad af wyk, ontdek jy geheimsinnige tonneltjies van konyne en veldmuisies, of skielike ooptes omring deur kreupelhout. Die beste rusplekke is die omgevalle bome, digbegroei met varingagtige mosse en paddastoele.

Die waardevolste deel van hierdie bos bly vir my egter die afwesigheid van die menslike gedruis. Hier, onder die houtkatedraal van die natuur, lê die stilte so dig dat ek weer my eie asemhaling kan hoor.

Dis dan dat my wankelende aarde weer terugkeer na sy as.

Profile photo of Tarina

by Tarina

‘n Tweedehandse fiets ry lekker

February 14, 2017 in Uncategorized

Ja ja, ek besef die blog-titel klink dubbelsinnig. Maar ek bedoel dit in die onskuldigste van betekenisse: my tweedehandse fiets ry regtig lekker.

In alle eerlikheid moet ek vertel dat ek eintlik die derde eienaar van hierdie spesifieke fiets is. Oorspronklik was dit my Belg (my man) se ouma se fiets. Na Oma se afsterwe, gaan Laventeltjie (daar staan ‘Lavender’ op die fietsraam) na Skoonma, wat haar as reserwefiets gebruik het. Toe ek daardie finale stap geneem het ‘n maand gelede en op ‘n vliegtuig na België – agter my Belg aan, natuurlik – geklim het, het Laventeltjie finaal myne geword.

Laventeltjie is ‘n liewe dier. Sy is ‘n regte stadsfiets, alhoewel ietsie aan die ekonomiese kant wat stadsfietsmodelle betref. Een rat en handvatsels sodanig geposisioneer dat ek gedwing word om soos ‘n properse lady regop te sit. Niks van daardie bergfiets-nonsens van lê op jou arms totdat dit voel asof jou polse gaan breek nie.

Laventeltjie gee my min probleme. Behalwe as dit reën. Dan word haar net-net aanvaarbare remvermoë verlaag tot nie-bestaande. En soos julle miskien weet: in België reën dit baie. 

So ry ek verlede week in ‘n ligte motreën na die buurdorp se groot supermark, vyf kilometer van ons. Ek gee nie om vir die rit nie, want hier in Vlaandere is die wêreld lekker plat en Laventeltjie maak katkos van vyf kilometer op die fietspaaie. Die motreën pla ook nie – ‘n digte mus en goeie jas hou mens droog.

Dit hou egter nie Laventeltjie se remme droog nie.

Die munisipale bestuur van Antwerpen – waar ek woon – is daarop uit om die stad te Copenhagenize, m.a.w. fietsvriendelik te maak. Daarom bestaan daar ‘n relatiewe goeie fietspadnetwerk deur die stad en selfs aparte verkeersligte vir fietsryers om kruisings oor te steek. Jy ry op die rozen bandje en jy steek vir ‘n vy nie ‘n kruising oor as die fietsverkeerslig op rooi staan nie. Veral nie as jy nog ‘n vreemdeling op ‘n visum in België is nie (lees: moontlike deportasie na sewe maande se administrasie net om die visum in die eerste plek te kry).

So steek ek die eerste kruising oor gedurende die groen liggie. Geen probleme. Die karre wag vir my en waai selfs hulle wipers liggies in die motreën. Nou nog net die dwarsstraatjie oorsteek.

Ek sien die rooi liggie. Ek rem. Laventeltjie gáán. En voor ek my oë kon uitvee, is Laventeltjie met my en my inkopies oor die rooi liggie, verby ‘n patrolliekar wat wag vir die verkeerslig om groen te word.

Wat moes ek doen met die moontlikheid van deportasie weens ‘n fietsoortreding wat oor my kop hang? Wat sal enige nugtere mens doen in so ‘n geval?

Jy trap, boetie. Jy trek jou mussie nog laer oor jou ore en dan tráp jy Laventeltjie totdat sy om ‘n hoekie verdwyn.