Skip to content

Vrouens op reis

200107-omag-travel-949x534Daar is min dinge meer “scary” maar ook meer bevrydend as vrou alleen te reis.

Dit is ‘n argaiese begrip dat vroue “beskerming” nodig het van iemand met ‘n Y Chromosoom.  Dit is, om die minste te se: seksisties, ‘n belediging vir jou intelligensie en so outyds soos soetkoekies.

Ek reis die afgelope 25 jaar op my eie, soms saam met my man en seun, soms net saam met my seun en ander kere saam met susters en vriendinne. Dus matig ek my aan om uitgesproke te wees oor hierdie onder onderwerp, want ek weet!  Daar is ‘n paar mites wat dadelik die nekslag toegedien moet word nl.

  • Dis net eensame vrouens wat alleen reis. Oh please! Meeste vroue reis alleen omdat hul verskillende belangstellings het as geliefdes en vriende.  Meeste vroue reis eerder alleen in vrede as saam met ‘n neulende, negatiewe reismaat wat glad nie jou sentimente deel nie.
  • Dit is gevaarlik om alleen te reis.  Gevaar skuil selfs in jou tuin as jy nie jou deure sluit nie.  Meeste Europese lande is uiters veilig en alle lande het toeragentskappe wat jou verblyf en reis uiters veilig kan help beplan.  As jy na jouself kan kyk in Johannesburg kan jy dit sekerlik ook regkry in Jaipur.
  • Die gevreesde Alleen-eet-verskoning.  Van die lekkerste etes wat ek al gehad het was op my eie in ‘n knus restaurantjie erens in ‘n vreemde land.  Neem jou tablet of ‘n boek saam as jy regtig so bang is om “alleen” te lyk.  Die alternatief is dat die buurtafel met jou ‘n gesprek kan aanknoop en jy van wonderlike wegsteekplekke in die dorp hoor, waarvan jou gidsboek niks se nie.
  • Dit is duurder om alleen te reis.  Meeste hotelle of gastehuise kwoteer pryse per kamer, nie per persoon nie. Die prys bly dus dieselfde. Die geheim van goedkoop verblyf le in spesiale aanbiedings deur webwerwe soos www.booking.com en www.expedia.com. Maak seker jy bespreek lank voor die tyd.
  • Wat as ek verdwaal/ nie my weg kan vind nie?  Dis hoekom jy sak het waarin jy die gastehuis/hotel se besigheidskaartjie kan sit. Vra enige taxibestuurder om jou na die adres te neem – wys net die kaartjie! Jy kan ook elke aand voor slaaptyd die areakaart bestudeer en seker maak van jou roetes van die volgende dag.  Die heel maklikste is egter om jou mond oop te maak en vir aanwysings te vra.  Meeste mense help graag.
  • Vermy vreemdelinge. Ai ai ai nou hoekom gaan jy dan na ‘n vreemde land? Daar is NET vreemde mense.  Doen eerder moeite om met mense geselsies aan te knoop en maak nuwe vriende.  Meeste mense sal eerder met ‘n enkelpersoon begin gesels as ‘n groep wat klaar mekaar se geselskap geniet.  Dit is veel interessanter om meer te leer van mense se kultuur en humor in ‘n ander land as om dieselfde stories van jou vriendin se slim, sportiewe kinders oor en oor te hoor.
  • Dra ‘n trouring om lastige mans af te skrik.  Dit is nou die simpelste raad wat ek nog gelees het in die vele blogs met raad oor vrou-alleen-reis.  ‘n Lastige vent sal hom definitief nie van ‘n trouring laat afskrik nie.  As ‘n man ‘n oorlas van homself maak is dit veel makliker om op te staan en te loop of selfs die bestuurder van die restaurant te nader vir hulp. My persoonlike foefie is om te maak of ek glad nie verstaan wat die persoon se nie – al is dit ook in Engels.
  • Ek sal eensaam wees op so ‘n alleenreis.  LW daar is ‘n groot verskil tussen alleen en eensaam.  Om jou eie geselskap te geniet en op jou eie tyd deur besienswaardighede te drentel sonder iemand wat in jou nek blaas is een van die groot luukshede.  Jy kan ‘n hele dag in Galarie Lafayette of Harrods spandeer sonder om skuldig te voel.  Jy hoef nie EEN ammunisie-museum van die Tweede Wereldoorlog te besoek nie en jy hoef ook nooit weer verlangend te staar na oulike winkeltjies waar jy gewoonlik nie tyd mag spandeer nie. Om nou nie eens te praat van die voorreg om elke aand in ‘n ander restaurantjie te eet nie (gewoonlik te duur vir manlief en dan knaag jul maar aan droe brood en ham in die hotelkamer).

Om alleen te reis maak ‘n mens onafhanklik en gee jou meer selfvertroue as drie nuwe paar skoene. Jy leer om op jouself staat te maak, jou eie smake en voorkeure te geniet en buitendien is dit die beste voorbeeld wat jy vir ander jong meisies kan gee.200107-omag-travel-949x534

 

Om te baai by Zarace

Zarace strand, naby Hvar Town is een van die mooiste wegsteekplekke en om ‘n dag hier te kuier is baie Kroate se droom. So sit die drie susters, seun en niggie met die fietse lyfie ook af soontoe vir ‘n dag van speel en plesier in die son.

Die susters het nie een juis die lyf om eens in ‘n palazzobroek te verskyn nie, maar besluit om tydens ons besoek aan Hvar-eiland ‘n bietjie te gaan swem. Eers vind een haar swembroek is vol vismotgate en daar moet inderhaas ‘n nuwe een gekoop word.  Nommer twee weier om haar bene te vertoon en trek ‘n fietsrybroek onder die swembroek aan. Sweet tap haar af – kon net sowel ‘n duikpak gedra het, maar nee ydelheid is ‘n lelike ding.  Wel ek, no drie trek toe maar myne ook aan en vind dat die klein dun goue lyntjies nou skielik groot bree stippellyne geraak het met al die gerek en optrekkery oor die gebultes. Ons koop twee strandsambrele, maar die sukkel om al drie te “oorskadu”  dus draai jy maar soos ‘n spithoender in die rondte sodat elke boud ‘n paar minute uit die son kan kom.

Die view oor die baaitjie is asemrowend.  Bootjies dobber op die deurskynende water en kinders baljaar  in die heerlike louwarm water.  Ons familie het ‘n plekkie gevind om uit te span en nig met die fietse lyfie en seun draf ligvoets die see in.

Die son is so warm dat ons susters die oseaan moet nader vir ‘n lafenis.  Probleem nommer een:  daar is geweldig baie klippe op hierdie strand en oseaanbodem en om sommer net ligvoets in te dartel is glad nie moontlik nie.  Probleem nommer twee:  As jy die water slaan begin die ligte brandertjies jou wieg en net daar verloor jy balans.  Ousus plons met ‘n slag in en dit kos ‘n jeugdige reddingspan om haar drywende plakkies te gaan red.  Ek sit en lag natuurlik baie hartlik op die strand.  Hoe moeilik kan dit dan nou wees om in die water in te stap met grasie?

Wel na nog 10 minute van vasbyt in die versengende hitte stap ek ook maar seewaarts. Kinders en susters juig so dat die res van die strand opkyk en my vordering nou stip dophou.  Het jy al ‘n paar kort drilbene probeer lank en slank hou in ‘n te klein swembroeK?  Eerste skerp klip steek my voet en daar val ek ook karplaks in die vlak watertjies.  Le soos ‘n gestrande walvis daar en maak toe maar of ek in elk geval net bietjie in vlakkigheid wou sit.

Ousus het intussen besluit sy het nou genoeg gebaai en wil  graag opstaan en uitklim, maar nee… dinge loop ook hier  skeef.  Elke opstaan veroorsaak dat Newton se wet van swaartekrag oorwin en dan val sy maar weer terug in die water.  Hoe meer ons en sy natuurlik lag, hoe moeiliker raak die oefening. Haar laaste (en suksesvolle) poging is ‘n handeviervoet-kruip tot by  die handdoeke. Net om ook die twee strandsambrele vir oulaas om te val.

Intussen probeer seun vir my leer snorkel.  Nou laat ek nou net eers verduidelik: Ek steek nie eens graag my kop onder die water as ek stort nie.  Was was was so met die sjampoe en spoel dan blitsig af. So snorkel?  Duikbril oor die oge en neus en skielik is alles toegewasem. Lig die bril vir asem (het vergeet van die mond) en probeer weer. Ek kan niks sien nie. Vrouens wat so warmkry in hul oorgangsjare behoort glad nie te duik nie. Vertel dit nou vir seun.  Dit is die eerste keer in sy hele 17jarige lewe dat sy ma saam met hom swem en hy is vas oortuig dat hy my gaan touwys maak in die fynere kunsies van op-die-bodem-loer. Nou probeer hy ook die mondstuk, maar huh-uh dit sal nie werk nie.  Kop onderwater, asemhaal en kyk – nee daardie drie goed kan glad nie saam gebeur nie.  Hy is later so moedeloos met my en skreeu:  “Ma jy is die ongemaklikste mens wat ek ken!” Kan jy nou meer en al die tyd dink ek, cooler as ekke is daar nie… Ek plas maar nog so ‘n  bietjie in die voorste vlaktes rond en klim uit om my wonde te gaan lek.

Al drie susters is gelyk “depressed” oor die toestand van hul lywe, onvermoe om nog soos in die jongdae goedkeurende kyke te kry en ergste van alles oor die feit dat ons nie meer ons kinders se heldinne is na dese nie.  Sit nog so ‘n rukkie swetend onder die blerrie flimsie sambrele en gaan eet toe maar elkeen ‘n pizza by die strandrestaurant.

 

Die ABC van 123-blog-myself

Ek is onlangs gevra om saam met Nina Timm (kosghoeroe) te gesels oor blogs op RSG. Die opdrag was om aan mense wat nog nooit geblog het nie ‘n paar “pointers” te gee.

Vreeslik paraat skryf ek toe so 10 punte neer wat van nut kan wees, maar soos dit maar gaan met onderhoude is dit nie ‘n platform vir die aframmel van punte nie.  Het wel ‘n paar genoem en vir die res was daar nie tyd nie. So hier is my tien sent se raad:

  • Wees uniek – vind jou eie stem. Jy wil iets oordra wat mense sal laat lees en deelneem aan jou blog.
  • Moenie inligting spoeg en plak nie – dis oneties/ onoorspronklik en weerspieel nie wie jy is.
  • Gee erkening waar nodig.
  • Geen beswaddering/ onwettigheid en hou kopiereg in gedagte.
  • Doen jou huiswerk!  Watter ander blogs  is daar met dieselfde onderwerp en wat kan ek leer van dit. Jy wil dalk begin met ‘n kosblog so Google “best foodblogs/ top 20 foodblogs”.  Kyk na die formaat, aanslag en besluit hoe jy joune uniek wil maak.
  • Skryfstyl en taalgebruik – baie minder formeel en taal kan maar gemeng word/ jou eie mening is ok en hou dit interessant.
  • Humor en fotos trek altyd lesers. Blogs met “how to” onderwerpe is ook baie gewild en laastens moenie van die tranetrekkers vergeet nie.
  • Beplan jou uitleg:  genre/ lengte/ visuele aspek/ hersien inhoud gereeld.
  • Wees kreatief:   Selfs al is jy Hemmingway se eie suster/ broer is woorde alleen nie genoeg nie. Foto’s altyd ‘n goeie idee, maar moet pas by onderwerp. En…. hou inskrywings kort(erig).
  • Titel is alles! Oog vang/ ongewoon is goed/ Gebruik woorde wat leser sal aanmoedig om te lees bv. Hoe om….
  • Moedig lesers aan om kommentaar te lewer en antwoord  vining en positief – ja selfs die negatiewes. Goeie maniere is om die persoon wat kommentaar gelewer het se blog ook te gaan lees en so mekaar te leer ken.
  • Hoe kry ek lesers vir my blog:  pos skakels op fb/ twitter/ tumblr en stuur uitnodigings na vriende via epos

Webwerwe vir  gratis blogs:

Ten slotte:

Blog vir jou eie genot en nie omdat jy honderde volgelinge wil werf nie.  Volgelinge is goed, maar as jy so ‘n groot behoefte daaraan het… begin ‘n kerk!

Doebai Meraai 2: Arabian Nights en ‘n Hubbly Bubbly

Dubai is die modernste, blinkste en nuutste stad wat ek al ooit gesien het.  Dit lyk of iemand al die  wildste en duurste argiteksdrome van  die wereld versamel het en hier kom strooi het oor die dorre woestyn.  Nie dat jy eintlik agterkom jy is in ‘n woestyn as jy op die hipermoderne hoofpaaie ry en oral oases van waterkanale, palmbome en natuurskoon tussen die  paleisagtige geboue opduik nie.

Die middelman van elke hoofpad is versier met kleurvolle blomme.  Een oggend nog alles rooi en wit vars blomplante en die volgende oggend…. pienk en pers.  Oornag is alles uitgehaal en nuwes oorgeplant.

Wel rondom is nog steeds woestyn en dit beteken sandduine. So… ons bespreek ‘n woestynsafari-rit vir ‘n bietjie afleiding van al die oorweldigende oorvloed.

Ons word voor ons deur opgelaai in ‘n 4X4 Prado deur ‘n drywer wat soos die “computer analyst” van Beautiful in Beaufort-Wes lyk.  Vaal mannetjie sonder ‘n kopdoek en met ‘n effense geil sweetruikie.  Hy lyk maar stug en onindrukwekkend en al my visioene van ‘n Arabiese Ridder op sy 4X4 is daarmee heen. Oh well, dit was in elk geval ‘n spesiale aanbod so ons klim maar in.

Die stad stop in die middel van nerens en voor ons uit le die dorre vlaktes van die Verenigde Emirate. Hier en daar ‘n bossie, ‘n verweerde boompie en te veel sand.  Die eerste stop is by ‘n curioshop-cum-algemene handelaar. Hulle bied rakke vol tjek-kopdoeke, sjokolade en viltkameeltjies te koop aan en o ja roomys ook. Die plekkie is hopeloos te klein vir al die safaritoeriste (alle verskillende safaritoere se voertuie stop hier op dieselfde tyd).  Stoei vir ‘n doek en hol vir die bakkie tyd.

Computerman praat niks en ons ry houtgerus saam – waar is die duine dan?  Skielik swenk hy links af van die pad en begin “ref” oor ‘n stukkie rowwe terrein.  En net daar voor ons duik rye en rye golwende sandduine op. Skielik kry ons drywer lewe, hy gooi die bakkie in “sandduinrat” en daar trek ons! Dit bokspring, gly en seil duin-af en duin-op.  Sy spesialiteit is blykbaar om al op die skerpste randjie van die duin te ry en dan te kyk na watter kant ons die vinnigste kan afkronkel voor die enjin weer begin groffel en greun vir die volgende oprit. Nig J se ma doen die rit al vir die derde keer in haar lewe, maar gil en vloek die heel hardste van almal.  Die ander meisies wat ook in die bakkie is verstaan nie eens Afrikaans nie, maar hul lag dat die trane loop vir haar – dis nou as hul nie gil dat die trane loop nie.  Ek ontdek die wonderlikste ding van myself!  Ek absoluut “love” die gebokspring en swenkseilery oor die duine en hits net vir computerman aan. Dis nou tot ‘n handsak my van agter tref… Ons drywer lag dat net swart tabaktanne wys en besluit daar en dan om te ry tot ek bang raak.  Maar nee! Ek het my roeping gemis. In my volgende lewe kom ek definitief terug as ‘n jaagduiwel.

Toe my twee susters hees gegil, is soos twee ou damganse,kom ons tot stilstand op een van die hoogste duine.  Hier is die son aan die sak en die mooiste goudbruin en blertse oranje fotos word geneem.   Ons hardloop soos kinders by die duine af en sien ‘n hele groep beach (of is dit nou dune) buggies jaag op die duine langsaan.

As die son sy laaste strale gooi oor die woestyn hou ons stil by die Bedoeinkamp.  Hier wag die heerlikste fees op ons.  Japattas, gebraaide skaap en slaaie.  Almal sit op groot kussings langs rye kniehoogte tafels.  Die oop verhoog is in die middel en bestrooi met juweelkleurige kelims. Rondom alles is stalletjies vir opdress soos ‘n Arabiese familie; henna-tattoeerder, sandkuns, kelimverkope of om die hubbly bubbly te rook.  Ek oortuig die susters om my te volg.  Die klein rietvertrek is toe van die manne en rook, maar ek druk deur en kry ‘n pyp en tabak vir ons al drie saam.  Met die eerste trek skop my asma in, maar ek gee nie op nie en teug aan.  Susters kry ook gou die trick en daar sit en rook ons toe soos drie ou gypsie-tantes dat die rookwolke staan en manne oopmond toekyk.

Na ete kom die bellydancer op die verhoog.  Sy het volop heupe, ‘n magie maar geen ken.  Met die gewriemel van klokkies en chiffon dans sy in die maanlig terwyl die tromme al vinniger slaan. Ons is vooraf gewaarsku om nie saam te dans nie, maar na al die kos is die kanse maar skraal.  Laastens kom ‘n man met ‘n baie wye hoepelrok op die verhoog.  Hy tol in die rondte en die rok tol saam.  Al wyer en wyer en hoger en hoger tot dit tot by sy nek draai.  Hy is ‘n meester met die tolletjierok en almal klap hard saam hande op maat van die musiek.  Die klimaks is as die rok se liggies skielik aangeskakel word en soos ‘n woonstelblok vuurvliegies swymel en draai deur die louwarm woestynnag.

Wat ‘n  aand, wat ‘n wonderlike ervaring om aan die bopunt van Afrika erens in die woestynnag weg te stap met gypsymusiek in jou ore en ‘n paar verdwaalde kamele  wat vaag in die maanskyn le en kou.

Dubai Meraai 1: Fyn ondergoedjies en wenkbroue

Oppad Indie toe vlieg ek met Emirates lugredery. Die plan is om oppad terug vir my niggie in Dubai te gaan kuier.  Die blink plan het natuurlik  alles te doen gehad met die feit dat my twee susters toe reeds by haar sou geland het. Die  trick was eintlik om alles so te bewimpel dat dit na ‘n toevalligheid  lyk vir die drie niksvermoedende wederhelwe wat tuis moes bly om geld te verdien.

Enige iemand wat vir niggie J ken sal weet dat sy volgens streng daaglikse beplanning werk en nog voor ek ‘n voet uit SA gesit het (en  eintlik op Indie gefokus het), het ons al ‘n kalender gekry met aktiwiteite vir elke dag in Dubai. Tevergeefs het gesoek na ‘n los uurtjie hier en daar vir ‘n laat oggendslapie of lekker middagslapie.

Laat ek sommer by die lughawe begin:  die skoonste en blinkste wat ek al gesien het met manne in wit gewade en getjekde kopdoeke wat sweef oor die marmersuile van die groot lugpaleis.  Wat my veral opval is hoe goed versorg die manne is.  Baarde is in alle shapes en sizes geskeer en die voete en hande word definitief gereeld gemani/pedikuur. En ruik hulle lekker!

Die eerste aand word afgeskop met ‘n braaivleis op J lieflike groot balkon wat uitkyk oor ‘n bruindeinserige Dubai.  Reg rondom is ‘n see van ander woonstelblokke wat ingeryg staan tussen pragtige aangelegde tuine, swembaddens en rye winkels vir die inwoners. Spinnies is definitief bo-aan die lys van die drie susters. So ‘n soort van Pick & Pay op steroide.  Hier ontdek ons aarbei en roos melkskommel, vye so groot soos granate en roosgegeurde teesakkies.  Ons dwaal so lank tussen die oorlaaide rakke – ons laat kom vir ons eie braai.

Dubai Mall wag en vir vrouens met ‘n voorliefde vir neus-teen-die-winkelvensters is dit net die plek om ‘n goeie twaalf ure te gaan spandeer. Ook hier lyk dit of die gange met goud beslaan is en oral staan sagte fluweelbanke vir die moee shopper.  Kan nie help om te dink dat dit glad nie by ons sou werk  – lankal weggedra. Dit is my eerste kennismaking met die fyn ondergoedjiewinkel Victoria’s Secret, maar ai hulle cater nie eintlik vir koppies wat ‘n gesin van agt kan voed nie, so ek koop maar ‘n klein botteltjie parfuum en neem die mooi fynigheidjies uit alle hoeke af. Oral in die gange hang duisende papierskoenlappers in stringe en in al die gange hang  ook ‘n hele reeks advertensies van Evian water – meisies, bikers en oumense met wat babalyfies op gedruk het – seker om te wys hoe jonk die wat jou kan maak.  Daar is ook ‘n luukse teekamer waar net Arabiese mans sit en as ek soontoe wil mik, stuur nig my vinnig in ‘n ander rigting.

Ontwerpersklere is soos skilderye uitgestal in die winkelvensters en name wat jy net op FashionTV en Vogue sien is hier ingeryg soos krale.  Jy weet nie waar om te kyk nie – soveel geld, soveel prag en praal en jou SA Rand kreun benoud in die beursie.

Ons spandeer meer as ‘n uur in ‘n reuse lekkergoedwinkel en hou die kleintjies se gesiggies dop as hul die M&M helikopter sien en vinnig oorhardloop na die Rascalmannetjies.  Dit is kosbaar.  Net oorkant die lekkergoedwinkel is ‘n groot onderdak-akwarium.  Haaie swem grasieus saam met reenboogvisse en as jy vinnig beweeg loer hulle jou agterdogtig agterna.

By die Jashanmal huiswinkel verloor die drie susters heeltemaal kop.  Ons koop elektriese lugverfrissers en olies, lampe van metaal en handsakspieeltjies – alles in die eerste tien minute.  Mooiste-mooi linne, kussings, voetstoeltjies, poefs, glasware en huisgereedskap en o wee, slegs 30kg kan in die tas pas. Niggie J sleep ons behoorlik daaruit en ek voel of ek kan huil.  Hoe kry ek al die mooi goed in my huis?

Die volgende haakplek is die kosmetiekwinkel net voor die uitgang na die buitenste die mensgemaakte meer.  Ek vergaap my aan die vroue wat instap met hul Arabiese prinse op tou.  Hulle koop mandjies vol skoonheidsmiddels en pappa betaal met die swart kredietkaart sonder limiet.  Een van die verkoopsdames merk my woeste wenkbroue op en besluit dis tyd dat ek gehelp word.  Sy pluk, sy “thread” en kleur in en as ek weer in die spieel kyk lyk ek tien jaar jonger (ok dalk net 2 jaar…), genoeg om ‘n ekstra wip in my stap te sit.

Wenkbroue en al gaan ons buitentoe vir die uurlikse water-en-musiekvertoning wat moet begin. Duisende mense wag reeds en sodra dit donker is (mos gese ons was meer as twaalf ure in die mall!) begin die skouspel.  Waterfonteine spuit op maat van “A time to say goodbye” en ander musiek en hier en daar vaar ‘n bevoorregte bootjie om alles van naderby te bekyk.  Ek hou egter mooi die hande oor die nuwe ingekleurde wenkbroue sodat die fyn sproei van die water nie die meisie se handewerk op my wange laat drup nie.

Dit was ‘n goeie eerste dag in Dubai en daardie nag droom ek van ‘n Arabiese prins met ‘n groot skip wat al my nuwe huisware laai en stadig uitvaar Kaap se kant toe.

Wynproe op Hvar-eiland

IMG_3433

Van die mees outentieke en heerlikste wynkelders is gestrooi oor die eiland van Hvar en om by elkeen ‘n draai te gaan maak is ‘n pure plesier waarvoor ‘n goeie lewer en nugter drywer ‘n noodsaaklikheid is.  ‘n Baie dapper navorser van hierdie wynplekke, genaamd Paul Bradbury, het al baie hieroor geblog en sover ook sy lewer oorleef.  Lees gerus www.Total-Hvar.com .  Ek gaan dus nie sy harde werk oordoen nie en my bepaal by die drinkgedeelte – sonder dat ‘n drywer nodig is.

Al die restaurant en café/bars bedien  tuisgemaakte crno vino of bjelo vino (rooi of wit wyn) en dit is meestal ‘n goeie opsie as jy van die “local flavours” wil proe.  Wees egter net vooraf gewaarsku:  party van hierdie huiskonkoksies kan verf “strip” of is soms bietjie verdun met water.  Dit is ‘n goeie idee om eers vir ‘n proeglasie te vra voor jy ‘n kraffie bestel.  Gelukkig het die meeste van Hvar se kelners ‘n vreeslike swaar hand en die proeglas is gewoonlik ‘n reuse wynglas wat tjokvol gegooi is.  (Zagreb se restauranteurs neem asb kennis…. 100ml is ‘n proetjie, nie ‘n glas wyn nie.) Partykeer bestel ek maak net ‘n tweede glas om nie te lyk of ek alewig verniet wil drink nie.

As deeltydse inwoner van die dorpie Stari Grad het ek al die heerlike verrassings ontdek: in my buurman se agterplaas uit ‘n groot houtvat; die oulikste stowwerige konobas (kelderverdiepings van huise) en wynwinkeltjies wat staaltenke vol wyn huisves. By laasgenoemde daag jy op met jou 2 liter Coke bottel en wag vir die rooipers straaltjie om die bottel te vul. So terwyl jy wag vertel hy vir jou van die variteit, sy probleme tydens die laaste druiweseisoen en laat jou ook proe aan die ander wyne. Dis egter ook by die huise wat vino, prosek en witblits Travaritsa adverteer op ‘n stukkie kaartbord, in ‘n bewerige handskrif, waar jy inglip en bedien word deur ou omies met knobbellitte wat hul eie wyn maak.  So met die uitstap koop jy sommer ook van die aartappels wat in ‘n bak by die deur le – nog vol grond van vanoggend se uithaal.

My buurvrou, Natascha (verlede jaar tragies heengegaan – bless her soul) het die lekkerste lekker Prosek gemaak in SG.  Dis ‘n soet wyn van rosyne en ‘n paar te vinnige slukkies laat jou vreeslik oopmond lag vir jou eie grappies.  Ek het myself aangestel as die amptelike ambassadeur van Kroatiese (Hvar) Prosek en wanneer SA vriende kom kuier word hul altyd verwelkom met ‘n groot glas gevul met baie ys, suurlemoenskyfies en ‘n  skeut (of vyf) Prosek.

Nog ‘n skelmstreek, om my SA besoekers vir ewig getrouheid te laat sweer aan Stari Grad, is om hul sonsondergang te neem na die dowe omie se Vino Place oorkant die seiljaghawe. Die ritueel is om net buite die klein klipgebou te sit op houtbankies – met ‘n klein glasie brandsoet Prosek, netso uit die vat. Die soet smaak van rosyntjies-in-die-son en sterk alkohol kielie jou tong en jy besef dat die uitsig voor jou, van seiljagte wat wasgoed uithang, sundowners drink op die dek en ‘n oranjerooi horison, iets is om vir ewig vas te vang in die geestesoog.

Die dowe omie neem al solank ek SG besoek (10 jaar) elke keer ‘n foto van my voor die deur en die aanskoue van my eie fisieke aftakeling oor jare heen is genoeg om by elke besoek nog‘n tweede of derde glasie te drink.

Om die vele wynkelders (regtes) te besoek bied uitstekende proesels wyn – wyn wat al wereldwyd pryse gewen het, maar dit is in die vate van elke huishouding wat die smaak van oorspronklikheid vasgevang word.  Dit is hier waar jy versigtig aan jou stoel vashou as ‘n glasie Travaritsa (witblits) aangebied word. Dit is wanneer jy ‘n glasie huiswyn, -prosek of –Pelinkovac aangebied word dat jy WEET:  ek is nou amptelik deel van die locals en ‘n vriend/in van hierdie huis.

The Highs and Lows of Croatian Customer Service and Habits

Skies hierdie een is in Engels – doen ook ‘n blog vir Total-Hvar:

The highlights of Croatian Customer Service/ Customs and habits

It took me a lot of soul searching, checking myself in the mirror and sleepless nights to understand the understated customer service and customs of Croatians – especially on the islands.

Here is 10 “Must-knows” to help you through your first visit to Croatia

  1. Smile – what smile?

It is not customary to smile at any customer while serving them. It is has nothing to do with you – they just don’t like to smile while they are working. Take note Croatians also bestow a lot of suspicion on visitors who smile too much or greet too loudly.  Be as demure as possible and don’t flash your pearlies too much.

  1. Spend minimum and stay maximum

You can order a small black coffee and sip on it for two hours on any café bar veranda and it is ok.  No really! You do not have to keep ordering to stay as long as you want.

  1. Free internet

All the café/bars and restaurants have Wi-Fi and you are allowed to use it for free – just ask the code.  Now the code might be the part that hampers your connection as it can be anything from 0000000111111 to 234%&*&%TWOrkl .  Keep on trying and call the waiter if you struggle – a bit of a smile from your side might help.

  1. To give flowers or not

It is not Croatian custom to bestow your friends with flowers on a birthday, during a sick bed or just to say “hi, I really like you”.  Flowers are for funerals and then we talk about serious flower arrangements in the form of massive wreaths. My own experience in this matter still haunts me as I made the mistake of taking flowers to a sick elderly lady – the next day she died.

  1. Tipping

Unlike many other countries, Croatia is not big on tipping.  Café/bars do not expect you to tip, but the waiters are forever grateful if you do open your purse. In restaurants 10% is of the bill is a good tip.

  1. Grocery store assistants – a breed of their own

Beware of the long-serving grocery store assistant.  They encourage Croatians to skip the line and will serve them before tourists – especially if they have one less item in their basket than you.

Make sure you practice your grocery-packing-in-bag skills beforehand as they can get very agitated at your foreign fumblings and might show their irritation to the whole crowd.

Make sure you have change and even more important: make sure you understand the money as they do not have time for your show-and-tell to find the right coins.

  1. Ordering coffee can be tricky

If you, like me, like a big cup of coffee with hot milk save yourself a lot of disappointment and order a cappuccino. Various explanations and even a visit or two to the coffee machine was of no use thus far.  The easiest order is a single or double espresso.

  1. Deserts or puddings are not a priority on the Croatian menu.

Coming from a country where the desert menu often overtake the main menu it is rare to see a variety in this category.  Rather treat yourself with a delicious ice-cream, at one of the many ice-cream parlours that are scattered across any waterfront.

  1. Lost in translation…

Posters of festivals and upcoming events are often written in Croatian and not aimed at foreign visitors. Therefore…. If you see a large crowd gathering somewhere make sure you follow them.  There is bound to be something about to happen.

  1. Flexible church services

Everybody that attend a church service does not necessarily sit inside the building.  Some smoke outside on the steps, some wander in and out throughout the ceremony and a few even strike up a conversation with a neighbour near the entrance.  As long as you are in the vicinity God is happy (or so it seems to me).

 

Deeltydse blyplekke sonder sondes

IMG_3967Soos julle seker al agtergekom het is ek nogal lief vir reis.  Eintlik is dit ‘n bietjie van ‘n ‘n jok, nee, ek is mal oor reis! Van Kaapstad na Kakamas of Rome tot Ruanda – enige trippie maak my baie opgewonde.  Een maal per jaar is gans te min en ek vat gereeld die pad vir ‘n dag, ‘n naweek of selfs paar weke op ‘n slag. Weens hierdie obsessietjie, moet kostes laag gehou word, want soos my liewe man se: geld groei nie op ons rug nie!

Hotelle staan my regtig nie aan nie.  Of jy nou in die HI in Londen of Kairo bly – almal lyk presies dieselfde binne.  Ek maak gebruik van webwerwe soos www.booking.com; www.venere.com, www.expedia.com en www.airbnb.com om klein woonstelletjies uit te snuffel in die middel van elke dorp of stad se moet-wees-middelpunt. Dis goedkoper as ‘n hotelkamer (in dieselfde sentrale area), baie meer huislik en so ervaar jy ook die gevoel van ‘n woonbuurt en sy straatkafees saam met die besienswaardighede. So het ek al die wonderlikste juweelblyplekke raakgereis met dakkamertjies wat uitkyk oor die Eiffeltoring of ‘n klein balkonnetjie wat die lewe op La Ramblas sien verbystroom.

Die ander moet is om langer as 3 dae op ‘n plek te  bly as jy regtig die “vibe” wil beleef. Anders kan jy net sowel die bustoerroete volg en elke dag ‘n ander land besoek. Hier is ‘n paar wenke om hierdie “huisverblyf” plekke optimaal te geniet:

  1. Pak ‘n ziplocksak met outomatiese waspoeier in,  meeste van die woonstelle het ‘n wasmasjien. Pak een van die plastiek ronde sirkels met die wasgoedpennetjies in en ‘n lekker lang stuk stewige tou vir nat wasgoed.   Niks erger as wasgoed wat oor die hele plek gedrapeer is nie.
  2. ‘n Lekker skerp messie is baie handig (nie in jou handbagasie nie) of as jy nog slimmer wil wees kan jy ‘n klein messkerpmaker insit en die ander mense se stomp messe bietjie regsien.
  3. Vra vooraf of hulle wi-fi het en as jy daar kom  maak seker jy kry die kode.
  4. Maak ook seker jy weet hoe al die elektriese toestelle werk voor die ontvangspersoon jou verlaat.  Niks erger as om bolle skuim tot by die voordeur op te droog van ‘n wasmasjien wat jy nie mooi verstaan het nie.
  5. Maak seker jy het die agent se selnommer sodat enige navrae verder per sms hanteer kan word.  Dit word ook gebruik om later te reel vir afgee van sleutel.
  6. Vra die agent (ontvangspersoon) vir aanwysings na die naaste supermark en stasie of bushalte.  Met hierdie drie goed kan jy enige stad aanpak.
  7. Moenie die woonstel verlaat sonder die straatnaam, gebou se naam en nommer nie.  Ek weet dit klink simpel, maar glo my ‘n taxibestuurder sal ‘n hotel kan vind, maar nie jou woonstel wat “erens naby die bakkery langs ‘n groot park is” in die middel van die nag nie.  Maak seker elke lid van die geselskap het die adres in ‘n binnesak of handsak.  As ma van ‘n seun wat al van vierjarige ouderdom af saam met my reis sorg ek dat die adres binne in sy baadjie vasgespeld is al gaan ons saam uit.  Kleintjies het die gewoonte om “weg te raak”.
  8. Ons maak graag self kos, maar om elke keer ‘n spesery-voorraad aan te koop is duur en die botteltjies is ook swaar. Ek gebruik een van daardie plastiekhouers wat die verskillende koeksprinkel-afdelings het en vul elke afdeling met ‘n ander spesery.  Glo my met gemengde kruie, knoffelvlokkies, growwe swartpeper, sout en origanum maak jy van selfs die verveligste dis ‘n pronkstuk.
  9. Ek reis nooit sonder my  houertjie teesakkies nie.  Om in ‘n vreemde land die tee te vind wat vir jou lekker smaak, kan ‘n duur speletjie raak. Nescafe koffie koop jy oral, maar Joko en rooibostee is ‘n ander saak.
  10. Maak seker jy het die regte elektriese muurproppe (adapters).  Selfs in Suid-Afrika is daar min dinge meer frusterend as om in die oggend rond te trippel met nat hare, want die tweepunt-muurprop het by die huis gebly.  Neem ook ‘n klein kaartleser  as jou rekenaar saamgaan.  Daarmee laai jy saans jou foto’s af en sorg dat jy genoeg spasie het op jou kamera se geheuekaart.
  11. Die volgende webtuistes bied gratis huis-uitruilskemas en so het ek al in Frankryk, Milaan en Budapest gekuier sonder om ‘n sent huurgeld te betaal.  Registreer gerus by www.itamos.com of www.guest2guest.com.

Gee gerus nog handige wenke deur by kommentaar!

Opera – Toeparra en daar seil ons oppie see.

Meeste van ons Suid-Afrikaners ken hoogstens ‘n rubberbootjie wat naweke op die Vaaldam of see ronddobber.  So die nuwe fenomeen van die MSC seevaartskepe het man en muis in ‘n klein “tis” om betyds te bespreek en erens heen te vaar.  Ons is bietjie ver van die res van die wereld en moet maar tevrede wees met :

Kaapstad na nerens (huh?)

Kaapstad na Mosselbaai (wou jy nog altyd graag Mosgas se torings van ver bewonder?)

Kaapstad na Swakopmund (klink darem bietjie beter, maar as jy al ooit langs die Weskus gekamp het weet jy dat hogere branders jou erg gaan laat rondsteier).

Dan is daar ook:  Durban na Kaapstad of andersom met die hoogtepunt van ‘n verbyvaarvisie van Coega – die nuwe industriele hawe in Port Elizabeth en as jy goed kan ver sien dalk ook die soutpanne daar naby.

Ons kies die Durban – Portugese Eilande roete wat by Inhaca en Mhambane stop vir ‘n paar uur per dag.

Vrydagoggend net na 11 land ons op die kaai en die rye staan reeds verby die amptelike afskortings.  Die Honey meisies het gelukkig “fast track” paspoorte en glip by die kortste ry in.  Na ‘n gestoei onder ‘n klamwarm tentafdak is ons reg om aan boord te gaan, maar nie voor die eerste “amptelike” fotograaf jou kiek nie.

Almal vergader eers op dek 11 – swembad en partytjiedek met nie minder as drie kroee.  Die boot/skip het ‘n spesiale aanbieding van 12 skemerkelkies vir 42$ en ook een vir 10 roomyse teen 20$. Koeponboekies word aangekoop soos pakkies tjips.  Ek sien selfs ‘n familietwis oor wie nou hoeveel koepons mag kry en dis net wat die aantal roomysse betref.

Ons is so opgewonde  toe ons drie kamermaats ons balkonsuite ontdek.  Heerlik groot en met ‘n eersteklas uitsig op die wereld daar buite. Net om seker te maak ons voel soos regte celebs dreun daar ‘n helikopter reg bo ons balkon as die hawe en stadsbuitelyne van Durban onder die boot uitglip.  Die hawemeester word flink van die skip gelig en teruggeneem na die droee grond.  James Bond materiaal.

Maar moenie dink die lewe van ‘n bootreisiger is gevul met leegle en ontspan nie.  O nee, die alarm gaan af en almal moet met ‘n kaartjie vol inligting en jou reddingsgordel aanmeld op ‘n dek sowat 5 vloere van waar ons so graag wou bietjie uitpak en ontspan… Almal drentel op hul tyd en as ons uiteindelik by die “nooddril”  aankom word ons in rye staan gemaak, ons kaartjies ingeneem en summier weer verdaag.  Weet nou nog nie hoe om te maak in geval van nood nie, maar toemaar.

Saans is daar ‘n verskeidenheid aktiwiteite om die gemiddelde middeljarige couple van Brakpan tot Bellville te vermaak.  Die een bar/lounge bied danslesse aan en as jy nie vining koes nie, bespring ‘n Italianertjie, wat lyk soos PeeWee Herman, jou en sleep jou onwillige bene tot voor in die opgelynde groepie.  Jy was netnou nog 53 maar skielik moet jy soos ‘n wulpse katjie salsa, tango of shimmy tot groot vermaak van die res van die gaste. Die jong demonstreerders voor op die verhoog laat dit so maklik lyk, maar hier waar jy staan trap jy net hakskene en dril dele van jou lyf wat nog nooit gedril het nie.

Dan begin die teatervertonings van die aand en elke aand het ‘n ander tema. Italiaans/ Suid-Amerikaans ens, maar die seremoniemeester is ‘n mnr de Reuck van erens in Gauteng.  Hy doen die joppie al 8 jaar en jy sal nie ‘n sweempie afri-english bespeur nie.  Hy is glad met die mond, snaaks en vol fun.  Jy is sommer trots op die seun van jou eie land. Die eerste aand is daar akrobate, manne wat mekaar optel met een vinger en twee jong meisies wat soos ‘n koeksuster vleg inmmekaar terwyl bene en arms in alle windrigtings uitsteek.  Later die aand stel ek voor ek en my twee vriendinne probeer ook soiets in ons suite, maar die enigste trick wat ek baasraak is om my heupbeen potblou te stamp teen die bed se poot. Die ander twee het nie eens ‘n poging aangewend nie en ek is baie teleurgesteld, want ek kon reeds ‘n suksesvolle loopbaan op die skepe vir myself visualiseer.  Hoeveel middeljarige “contortunats” kan daar nou wees in die wereld.

Die volgende aand se teatervertoning is spaanse danse met kieries, hoede en vele valletjies. Ons klap hande en “ole” saam, maar die kieriestampery hou bietjie lank aan en ons stem saam dat die akrobate dalk meer entertaining is.  Aand drie is dit Italiaans in die teater en ‘n dame met pikswart gedyde hare en ‘n vreeslike lae hals sing hartstogtelik terwyl twee blonde meisies sigeuner rompies swaai en wieg teen die agtergrond van Venesie se gondolas.

Na elke vertoning is dit die tweede sitting vir aandete in die baie groot restaurant met kelners wat van Indie tot Irak verskyn in karige Engels met nog kariger spyskaartkeuses.  Die eerste aand land my vriendin M se skapptjoppie tussen my vis (baie taai en nie lekker snybaar).  Roomys is die driekleur wat jou ma as kind gekoop het vir partytjies en die wyn is so duur jy drink maar heelaand water.  Almal is opgedress, maar die kos het nie die boodskap gekry nie en lyk na koshuisproviand.

Deur die dag hang almal by die swembaddens rond en hier kan jy maklik enige fobies wat jy ooit oor jou figuur gehad het afskud.  Anties met dikgeswelde enkels en nog dikker arms plas lustig in die water en manne met vaatjieronde mae sit met die “cocktail” koepons gereed. Dae is min en die koepons is baie! Tongaat en Witbank is vir ‘n paar kort daggies beste vriende rondom die kroegtoonbanke van die Opera.

Die Portugese Eilande is ‘n oordrewe term vir geelwit verlate strande met geen bome, skuiling of aktiwiteite.  Ons “skip” maar die eerste een en die tweede een bereik ons nooit, want na ‘n uur se diesel “fumes” en ‘n onstuimige gedobber op die see besluit die skipper dis te gevaarlik om ‘n landing te doen.  Ook maar beter so, want later die aand verneem ons een van die bemaningslede van ‘n ander bootjie se been is gesny deur die enjinskroef by die afspringslag en ‘n ander gas is met handsak en al onder water.  Ek dink haar paspoort is nou bietjie klam.

Die laaste aand adverteer hul Miss Opera as vermaak, maar as ons aanmeld vir deelname sien ons ‘n paar wankelende meerderjarige tantes het ons reeds voorgespring.  Hulle word uitgedaag om ballonne stukkend te sit op ‘n viriele jong man se skoot of dit met die boude stukkend te stamp.  Die naam Mej Viskoek sou dalk meer gepas gewees het.  Die een deelnemertannie praat italiaans en loop drie rye spore op haar egte leerskoene.

Daar is later nog vermaak op die swembaddek en almal vergader vir oulaas om saam met die uitstekende vermaakspannetjie  te dans dwarsdeur alle lande – van La Bamba tot Wakka Wakka e eh kry ‘n beurt.

Die aand en trippie word afgesluit met ‘n draai by die disko (of liewer dikskou).  Hier merk ons weer die Italiaanse dame op en  nou wieg sy nog gevaarliker as die boot wat intussen midde-in ‘n Indiese Oseaanstorm geland het.

Bootvaart is groot vermaak en die heel beste plek vir “people watch”.  Jy klim af met ‘n sak vol duur foto’s (‘n fotograaf neem elke hap en beweging op film) en goeie waarde vir geld.  Daar is, soos almal se, baie kos en vermaak.  So bespreek vir jou en ‘n paar vriende ‘n trippie.  Dis beter as enige komedievertoning. Al lag jy ook net vir jouself.

 

 

 

Roadtripping: Van Barrydale tot Prins Albert

Om te ry, verken, snuffel en veral  kuier-kuier tee te drink op allerhande klein dorpies is lekkerder as lekker.

Op ‘n Lekker Vrydag-vakansiedag vat ons die pad deur die tonnel en as die geelgoud wingerde van Rawsonville opduik dan weet ek:  die langpad vol beloftes le voor. By Rooiberg staan een m…rse rooi stoel vlak teen die pad en dis al aanmoediging wat ons nodig het om hul heuning-en-kaas botterbroodjies (lekkerste) te bestel en weer te bestel.  Ons koop rooi muskadel, cabernet sauvignon en skielik klink  kaggelvuur en koue winterwinde nie meer na ‘n slegte idee nie.

Dis die naweek van die “Buff” en oral zoer motorfietse met manne en hul leerbelaaide doedies verby op soek na ‘n skeutjie onheil en jonkwees.  Die enigste verskil is almal is al oor 50. Op Barrydale loop ons juis so ‘n groep raak by Diesel & Creme. Dis heerlikste skuur-met-attitude restaurantjie wat so pas deure oopgemaak het.  Van gehekelde teepotoortreksels tot lewensgrootte Coke tekens en ‘n geroeste kar-enjinkap oor die  kroegtoonbank nooi jou uit om ‘n bietjie te vertoef.  As die eienares ‘n varsgebakte stuk wortelkoek voor my neersit vergeet ek vir ‘n klein rukkie om my te vergaap aan die ingemesselde kerkvensters en muur vol “vintage” advertensieborde. Vader Krismis en ‘n pop met ‘n bling kroontjie sit tjoepstil langs ‘n geblomde enamelbak vol suurlemoene en rooiuie en in een van die vensters is Lucky Star sardyne in rye uitgestal.

Oudtshoorn is ‘n skone plesier sonder die geroesmoes van KKNK (gelukkig eers volgende naweek).  Ons slaap oor by Hlangana Lodge en verneem dat hul 95% oorsese gaste ontvang. Ons is dus kroonwild en word aan al wat uitlander is bekendgestel vir raad oor besienswaardighede in SA. Vroegoggend ry ons deur die natgedoude straatjies en koop ‘n koerant by Smit se Kafee wat lyk soos ‘n foto uit my ouma se album.  Skuins bokant, hoog op ‘n koppie, sit drie groterige bote, honderde kilometers ver van die naaste see. Oppad deur die hoofstraat word ons tot stilstand gedwing deur ‘n groep dromproppies en ‘n rumoerige lekker brass band.  Iemand prop ‘n traktaatjie oor TB deur ons motorvenster en ek wil skielik hoes.

As ek weer kyk duik die afdraand-hoofstraat van De Rust voor ons op.  Die dorpie bestaan uit snuffelwinkeltjies, ‘n paar kafees en ‘n restaurant met vintage klere te koop. Ant Dora se Spens is buite versier met koekblikdeksels, geroeste plaasimplemente en ‘n paar droe dierkopbene in die tuin.  Daar is twee geboue en een dien as ‘n glasstudio. Jy lui ‘n klokkie as jy wil inloer en as die eienares nie elders besig is nie sal sy oopmaak. Hier is oop- en toemaaktye eie keuse. Laer af in die straat verf ‘n rastaman ‘n teken wat lees Klapperbos en agter hom is ‘n bloedrooi muur met ‘n ou ingeboude koolstoofoondjie vir buitebrode of dalk sommer net koue aande. Teen die kant van die gebou hou ‘n kordate sementhoenderhaan wag oor die woorde: ” Na al die jare maak ek weer ‘n plaashek oop. Waar het my paaie tog nie geloop.” Uys Krige

Dis Saterdag in De Rust en erens in die verlede het ‘n baie orige dwergieman onder die vroue gesaai, want oral oor die straat strompel klein verrimpelde mannetjies en meidjies gevul met vroegoggend se bottelstoorvoggies doelloos op soek na nog.

Vroegmiddag ry ons deur Meiringspoort.  Eerste tol, tweede tol en derde tol is almal bakens van ‘n tyd toe padwerke geld gekos het vir die reisiger.  Die rivierklippe is blink van die goeie reens en die groengeilbossies van die Klein Karoo klou verbete aan oorhellende rotsformasies. Jy wens die pad wil nooit ophou kronkel nie, want lekker en mooi gaan tog so gou verby.

Op Prins Albert is die strate bedrywig, want hier is drie troues aan die naweek.  Gastehuise se voorhekkies is versier met Kaapse motors en jong meisies met min grimering en somerrokkies drink lang glasies op die voorstoepe. Ons is ingeboek by die Swartberg Hotel.  Geen gastehuis kan kers vashou by die stories wat vasgetrap is in die houtvloere van ‘n dorpshotel nie.  Krakerige houttrappe na die tweede verdieping vertel van baie voete en vele gaste uit tye lank voor naweekuitstappies “fashionable” geword het.

Ons eet by The Galery en saam met die lamskenkel en Volstruis Carpaccio verlustig jy jou aan die mooiste kunswerke wat oral opgehang is.  Een toneel van ‘n wintervaal Karoodag is gemerk R55 000.

Vir oulaas drentel ek die hoofstraat af en neem foto’s van ‘n outydse houtkarring en bont enamelskottels by die Prins Albert Trading Post.  Agter in die tuin, langs die lang sementdam, word moerkoffie bedien wat ruik na plaas en tiemieblare.

Die Karoo Store is ‘n moderne kuns-cum-interiorwinkel met Drum Magazine-kussingslope, klein muurskilderytjies van neon en kantinsetsels en ‘n helder oranje art deco bank vol brighter strooikussings.  Die materiale is almal eg Suid Afrikaanse ikone en voor ek uitstap koop ek ‘n klein keramiekprentjie wat se “We will not move from here”.

Gaan direk na nutsbalk.