Namibië toertjie – Hoofstuk 1

 

Namibië – Julie 2000

 

[Aangepaste weergawe hiervan gepubliseer in Leisure Wheels, November 2010]

  

Grenskruising

Ons maak die strategiese fout om die dag na die skole gesluit het van die Kaap af te vertrek vir ‘n Namibië toertjie. Die hele Kaap dam by Vioolsdrif op. Amper soos ‘n plattelandse kerkbasaar, net nog baie meer karre.

  

Ek moet sê, ons het ook bietjie verkeerd begin. Toe ons konvooi van drie voertuie by Vioolsdrif aankom toe staan daar al ‘n tou van langer as ‘n kilometer. Soos wetsgehoorsame burgers parkeer ons agter in die ry, haal ons toebies uit en begin middagete eet. Mettertyd kom ons agter dat die tou nie beweeg nie. Toe sal ons agterkom dis nie hoe dit werk nie. Jy moet die kilometer vorentoe voetslaan, en daar agter in ‘n voetgangertou gaan inval. En die ouens is nie so vriendelik soos wanneer hulle toustaan vir basaar poeding nie.

  

Die son brand ons vir die meer-as-‘n-uur wat ons daar toustaan. Frikkie reken dit was ‘n simpel plan om sy bakkie te diens vóór die vakansie. As hy geweet het ons gaan so lank in die tou staan dan het hy sy bakkie hier kom diens terwyl hy wag. Frikkie doen sulke dinge. Na ‘n uur is ons darem deur die Vioolsdrif grenspos.

  

  

Aan die Namibiese kant is ons nou bietjie slimmer. Ons het nog nie behoorlik stilgehou nie, toe spring die helfte al uit die voertuie uit om ‘n goeie staanplek in die tou te kry. Maar nee, hier werk dit net mooi anders. Die Namibiese verkeersbeampte wie sake daar reël jaag almal terug – hier moet jy by jou motor wag tot dit jou beurt is. Algaande leert men.

  

Aan die Noordoewer kant is daar nie ‘n rekenaar nie. Die vorms word per hand ingevul, en die hele toestroming word deur 2 beamptes hanteer.   Die uitgaande stroom (nie-bestaande) word ook deur 2 ledige beamptes hanteer. Maar hulle help nie met die in-stroom nie, net met die uit-stroom. Dus wag ons ‘n verdere 2 ure plus in hierdie tou voordat ons uiteindelik op pad is.

  

Uiteindelik is ons op pad.   Ons stel ons horlosies een uur terug in ooreenstemming met Namibië tyd. Met wat lyk na sowat ‘n uur se sonlig oor pak ons die pad aan Ai-ais toe. Ongelukkig word die son nie ook ‘n uur teruggehou nie.   Sowat 30 km voor Ai-ais vang die donker ons.   Ons arriveer in Ai-Ais in die donker en na 850km op die pad. Ons probeer ‘n kampplek kry, maar die plek is tjok-en-blok vol. Al daai ouens wie voor ons in die tou gestaan het by die grenspos het toe voor ons hier ook opgedaag.

 

  

Ai-Ais se geriewe is nog nie heeltemal herstel na ‘n groot vloed wat hulle gehad het nie. Orals staan kabeldromme, grondverskuiwingsapparaat en diese meer.  

 

Daar is nou ook minder kampplekke as gewoonlik.   Dié met daktente staan sommer in die pad gekampeer. Nadat ons die hele plek platgeloop het gate-crash ons daar op ander ouens se persoonlike ruimte en slaan ons 3 tente daar op. Frikkie parkeer sy bakkie so dat niemand anders op ons persoonlike ruimte kan inbreuk maak nie, en ons ook nie kan vas parkeer nie.

  

Die volgende dag begin die kamp leeg te loop. Dit kom voor asof toeriste dit net as ‘n intree-staanplek gebruik het voordat hulle die res van Namibië aanpak. Ons ontmoet die motorwerktuigkundige van Grunau, wie ontbied is om aan ‘n Stellenbosser se nuwe Toyota Land Cruiser te kom werk. Ons gesels oor bande en so. Die man sê hy het ook eers met Dunlop gery.   “Dan lop hy hie, dan lop hy da…” reken hy.

  

  

Na twee nagte by Ai-Ais is ons reg vir die res van ons reis. Ons is douvoordag op (nie moeilik nie, in ag genome dat ons al die vorige aan teen 20h00 gaan slaap het) en ruim die kamp op.   Die motorwerktuigkundige is nog nie daar teen die tyd wat ons vertrek nie, en ons vertrek sonder Frikkie se v-belt.

 

Colin het twee aande gehad waarin hy ure kon spandeer om nuwe planne te bedink waar om sy plastiek tafel agter in sy bakkie te herrangskik om nie so in die pad te wees nie. Hierdie was ‘n oefening wat Colin vir die res van die toer feitlik elke dag sou herhaal. Ek kan rapporteer dat hy toe nooit ‘n bevredigende oplossing vir sy in-die-pad tafel kon kry nie.

 

Eers ry ons na die uitkykpunt van die Visrivier canyon.   Ons neem die nodige ‘been-there-dunnit’ foto’s soos gewoonlik op poskaarte pryk, waarna ons in die pad val vir Hardapdam.

 

 

In ons beplanning het ons gereken dat, ter wille van die kindes, ons nie te lang stuke op ‘n dag wou reis nie. By heroorweging sou dit egter ‘n beter plan gewees het om deur te ry Windhoek toe. Vandag se trip Is net 520km tot by Hardap, eerder as die 770 km Windhoek toe.

Ons volg die gruispad Seeheim toe. Die Visrivier kruis die pad kort voordat ons die Luderitz-Keetmanshoop teerpad kry. Daar is water in die rivier.

Ons parkeer agter die Spar op Keetmanshoop in die koelte. Tyd vir ons middagete-toebies. Skielik daag twee locals op en kom skend ons persoonlike ruimte blatant ernstig. Hulle stap ongepoets binne-in ons kring in, en kyk voorbarig wat ons eet.   Frikkie en Colin staan nader, maar voor hulle tot enige aksie kan oorgaan daag die plaaslike ‘car-watch’ op tot ons redding. Met groot gebaar jaag hulle “die Wambos” weg en onderneem om ons veiligheid te verseker. Ons is nie mooi seker of die hele oefening dalk so beplan is, en of hulle werklik tot ons hulp gekom het nie. Die res van ons ete verloop verder sonder voorval.

Ons arriveer laatmiddag by Hardapdam. Die dam is spieël-glad. Ongelukkig is al die gras-staanplekke reeds geneem, en ons slaag ons tente op in ‘n stofhoop. Duwweltjies vir Afrika. Die krag ‘trip’, en derhalwe is daar nie lig of warm water nie.

Dis koud, en die gerieflikste plek is maar in jou bed. Ons gaan slaap vroeg.

Die volgende oggend vat dit ‘n tydjie om die duwweltjies uit my anchovie-net te kry wat vir ‘n grondseil diens doen.   Op pad Windhoek toe doen ons aan by die Kalahari Bar, die vermaaklikheidsentrum van die Kalkrant Hotel. Ons het moeite om die plaaslike ruitwassers van ons voorruite af te hou.

 

 

PGJ

 

2 thoughts on “Namibië toertjie – Hoofstuk 1

Los ’n antwoord.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.