Gouritsmond – finaal: Winde van verandering

Die wind kan nogals waai op Gourits.  In 2008 het ons ‘n wind daar gehad wat mense se tente geskeur en hul goed weggewaai het.  Rukwinde van (blykbaar) tot 90 km/h.  Ek hou dus gereeld die weer webtuistes dop om die windvoorspelling te volg.

Hierdie jaar het ons baie naby aan perfekte weer gehad.  Ons het wel vir twee dae wind gehad wat geruk het tot so by 65km/h.  Dan staan jy maar met jou rubberhamer in die hand en kap penne in soos die wind hulle uitruk.

Vir die dag van ons vertrek is eweneens sterk wind voorspel.  Van ons kampvriende is maar die vorige dag al huis toe juis om die wind vry te spring.  Teen die tyd wat ons die oggend daar wegry, toe waai die wind verwoed. 

Die bakkie sukkel maar met die karavaan in die wind, so dit gaan stadig.  Toe ek die N2 Kaap se kant toe vat, toe waai die wind nie meer van agter af nie, maar van voor af.  Toe is dit heelwat erger.  Blykbaar was die wind vir die res van daardie dag besonders erg op Gourits.  Hierdie keer gepaardgaande met reën.  Ons het dus per ongeluk die regte dag gekies om nie op Gouritsmond te wees nie.  Maar dis ook nie so ‘n goeie idee om in so ‘n wind van voor huis toe te ry nie.

Elke jaar neem ons ons voor om ons laaste dag by die see ten volle te geniet, en eers laatmiddag te begin pak.  Maar elke jaar gebeur dit maar net dat, as jy jou kom kry, dan is jy besig om goed te sorteer met die oog op die oppak.  So nog voor 12h00 die middag vind ons dat ons reeds aan die oppak is. 

Waar ons hierdie jaar nie ‘n muisplaag gehad het nie, was die krieke wel met ons.  Die oggend wat ons op pak, is daar krieke orals in ons goed.  Hier en daar ook ‘n kakkerlak.  Ek kyk met verstomming hoe ‘n kwikstertjie ewe diknek ‘n kriek teister wat probeer wegkom.  Uiteindelik kom die kriek weg.

Met alles gepak, laat sak ek die karavaan se opligdak.  Ek hoor ‘n kriek iewer protesteer.  Ek maak die bakkie agter toe.  Ek hoor ‘n kriek iewers daar binne protesteer.

Voordat ek die dak laat sak maak ek eers seker van alles.  Sien, dit het al gebeur dat die karavaan gehaak is, en ons reg is vir ry, en dan is my bakkie se sleutels nog in die karavaan.  Maar dan is dit nie so eenvoudig nie.  Dis in ‘n opklapkassie in die karavaan.  Maar omdat die karavaan se dak al laat sak is, kan die kassie nie meer oopmaak nie.  En om die dak op te lig is ook nie só eenvoudig nie, want ek maak die knippe met kabelstroppe was om seker te maak die dak lig nie op nie.  So die stroppe moet eers afgesny word.  Maar die mes waarmee ek dit moes doen sit toe óók in die opklap kassie.  Jy kry die prentjie.  Só raak mens al slimmerder en slimmerder oor tyd.   

As gevolg van die wind vat dit langer as 5 ure om die 380km huis toe te ry.  Dis warm in die Kaap.  Die res van die dag word daar afgepak. 

Die terugkeer verg natuurlik ‘n paar veranderinge in mens se kop.  Ek gaan stap deur my buurt net om weer die gevoel van die bekende te kry.  Hoë mure, honde wat blaf, elektriese heinings, die sekuriteitsmaatskappy se fietspatrollieman op sy pos.  Die paranoia van deure toemaak en sluit, alarm stel skop weer in.  Home sweet home.

Toe ek laataand my garage gaan toesluit, toe hoor ek steeds ‘n kriek protesteer iewers vanuit ‘n stukkie toegeritste kamptoerusting.

Mag die krieke met jou wees, ou grote.

DIE EINDE

PG JONKER

Gouritsmond – Deel 8: Oujaar

Oujaarsdag is ‘n lekker bewolkte, koue dag.   Ons snooze omtrent drie keer. 

Teen 16h30 word die skaap op die spit gesit.  Dit raak ‘n lekker kuieraand.  Ons ontmoet vir Corné, ‘n professionele klassieke kitaar musikant van die groep CH2.  Gelukkig het Kleinboet mos sy kitaar daar, en op ons versoek kry ons ‘n impromptu vertoning uitstekende klassieke Spaanse kitaar.  

Teen tienuur die aand val daar ‘n paar druppels, maar die skaap is net mooi gaar.  Ons skuif die skaap onder die tent se afdak in, maar die reën hou ook dadelik op.  Die vleis is besonders.  Ons draf die skapie kaf.

Daarna maak vroulief haar souskluitjies in die pot op die vuur.  Ons doen drie rondtes daarvan.  Dit is ‘n groot sukses.

Middernag skiet die sjampanje-proppe en ons doen die gebruiklike happy happy en al daai.  Iemand het die Mayan kalender erg verkeerd versaan. 

Ten spyte van die Hessequa Munisipaliteit se herhaalde versoeke vroeër die dag op hul mobiele megafoon dat geen vuurwerke afgevuur mag word vanweë die veldbrande nie, word die nuwejaar nietemin steeds op die strand begroet met verligtingsfakkels en ‘n paar stukke vuurwerke. 

Daar is ‘n pub net buite die hek van die karavaanpark.  Ek vergesel die crowd na Die Mond toe.  Kleinboet slaap al.  Die Mond is vol jongmense (Ouboet ingesluit) toe ons daar kom.  Hy is so bly om ons te sien asof hy ons weke laas gesien het. 

Die plek is vol mense.  Ons groep staan effens uit vanweë ons ooglopende ouderdomsverskil.  Wel, nou nie myne nie, maar die mense saam met my mos.  Nog voordat ek iets kan bestel biep my selfoon met ‘n WhatsApp boodskap van Kleinboet.  Dis vreemd, hy’s veronderstel om te slaap.

“Pappa. Dis kleinboet hier kan pappa asseblief karafaan toe kom ek is alleen hier almal is iewers.” 

Ek draf gou die vyftig tree terug karavaan toe.   Die karavaanpark is omtrent verlate op daardie stadium.  Almal is duidelik iewers anders. 

Sommige moontlik op ‘n stasie.

[Deel 9 volg]

PG JONKER

Gouritsmond – Deel 7: Diere, visse en voëls

Laasjaar het ons ‘n kwaai muisplaag gehad.  Ek het vir die Hessequa Munisipaliteit geskryf deur die jaar en gewonder of hulle nie dalk ‘n paar uilkaste kan oprig nie.  Blykbaar kan ‘n uil-gesin so sewentien muise in ‘n nag opeet.  Dit sal mos goed wees vir die uile, het ek nou maar gedink.

Met ons aankoms op Gouritsmond gewaar ek wel ‘n paar muise.  Tewens, dit het gelyk of ‘n splinternuwe werpsel muise pas die lig gesien het.  Dié spannetjie hop vrolik van die een bos na die ander, reg op die rand van ons staanplek.

My buurman wys egter vir my ‘n reuse uil wat op die huis naaste aan ons se dak sit.  Vermoedelik ‘n variant van die oortjies-uil.  Later sluit ‘n kleiner uil by hom aan.  Aha! 

Dit was gou duidelik dat die uile hulle werk gedoen het.  Daar was wel een muis in Ouboet se tent, maar sy tent was reg teenaan die bos waar die gesinnetjie muise tuisgegaan het.  Ouboet het later ‘n stukkend gekoude handdoek onder sy bed gekry.   Maar by die huis is sy kamer net so deurmekaar dat ek ook nie verbaas sal wees as dáár muisneste uitbroei nie.

Ons staan een aand by die vuur en kyk weer vir die uile.  Buurman vertel van die ou bygeloof dat as ‘n uil op jou dak gaan sit, dan gaan iemand in die huis dood.  Ons dink toe dis snaaks.  Totdat buurvrou onthou dat (a) die eienaar van daardie huis onlangs oorlede is, en (b) buurvrou se bejaarde vader en moeder oor drie dae daar intrek – hulle huur die huis vir die vakansie. 

Toe is dit nie meer heeltemal so snaaks nie.

Kleinboet wil vreeslik graag visvang.  Ek is glad nie ‘n visserman nie.  Ons het vir hom by die Chinese winkel ‘n visstok gekoop, maar vroulief besluit daai katrol gaan nie hou nie.  Sy koop vir hom ‘n ordentlike katrol in die Kaap voor ons see toe vertrek.

Buurman maak Kleinboet se drome waar en neem ons saam op sy boot op die rivier om te gaan visvang. 

Buurman moet egter die voorligting en opleiding ook behartig.  Hy is beïndruk met Kleinboet se katrol.  Nou kort hy net ‘n regte visstok, reken buurman.  Hierdie een gaan nie hou nie.  Paah!

 

Verskeie ure later stap ons aan wal met Kleinboet vreeslik vrolik.  Hy het niks gevang nie, maar die ondervinding was vir hom groots.  Miskien is dit goed dat hy nie ‘n byt gekry het nie.  Hy is werklik ‘n slegte verloorder, en reageer normaalweg besonders onsportief op enige vis wat wegkom nadat hy aan sy aas geknibbel het.   Die gebrek aan goeie byte is eintlik ‘n seëning.

 

‘n Paar dae later vertel vroulief my ek moet die pa-en-seun ding gaan doen  en weer vir Kleinboet vat om by die riviermond te gaan visvang.  Ek maak so.  Maar eers moet ek aas kry.  Pilchards is die ding, vertel die plaaslike kundiges my.  Ek sit gou eers af winkel toe om pilchards te koop.

By die rivier sit ek die pilchards aan die hoek.  Dit werk glad nie.  Die goed is te bros, en breek in stukkies.  Dit wil nie aan die hoek vassit nie.  Een van die maats wat saamgekom het, kry ‘n dooie prawn en bring dit vir my.  Dié bly darem aan die hoek sit. 

Ná so drie gooie verloor Kleinboet belangstelling.

Ek gaan maar op my eie aan, maar moet later moed opgee.  Daai pilchards wil nie saamwerk nie.  Ek besluit om op te hou vis vang, en gooi die oorblywende pilchards in die see.  Op ‘n manier voel dit soos besoedeling, maar dit kan tog nie wees nie.

‘n Vet seevoël sak dadelik toe en duik die pilchards uit.

‘n Paar manne kom met ‘n kajak verby, met iemand op sleeptou.

As hulle die man probeer laat ski het, kan ek hulle sommer gesê het dit kan nie werk teen daardie spoed nie. 

Uiteindelik is almal gelukkig.  Kleinboet het probeer visvang (ek ook, alhoewel ek kan regkom sonder die poging), niks visse is ontstel nie, en ‘n vet seevoël is ook gelukkig.

Terug by die kamp verneem ek dat ek die verkeerde pilchards gekoop het.  Blykbaar moet jy dooie vissies by die winkel koop, nie die geblikte pilchards nie.

Maar dis darem nou nie asof ons met leë hande teruggekeer het nie.  Ek het vis teruggeneem tent toe.  Ons het mos darem die ekstra blikkie pilchards oorgehou.

[Deel 8 volg]

PG JONKER

 

Gouritsmond – Deel 6: Die Karnaval daag op

alternatiewelik:  Skandes, skades oorwinnings

Elke toertjie en vakansie het maar sy kwota skades, skandes en oorwinnings. 

Met die rit van Montagu af Gouritsmond toe het Ouboet die motor se ligte aan vergeet toe hulle hier stilhou.  Die aand is die battery pap.  Soos in heeltemal.  Die volgende oggend is ek Mosselbaai se Battery Centre toe om ‘n ander battery te kry.  Die battery is egter só daarmee heen dat ek nie die (outomatiese) motor gejumpstart kry nie.  Ek ry met die bakkie Mosselbaai toe.  Dit blyk dat die battery skade het, en nog onder waarborg is.  Ek kry ‘n nuwe battery verniet.

Ons maak een aand hoendervingers en platgesnyde artappels op ons nuwe braaipan wat jy op die kole kan sit.  Ek wil die pan skuif, maar die handvatsel brand my dwarsdeur my handskoen.  Ek moet dit haastig neersit op my anchovienet grondseil.  Nou het ek ‘n ronde gat in my anchovie net, en ‘n interessante patroon onder my splinternuwe braaipan waar die net vasgesmelt het.  Ek het dit ook goedgedink om die pan in gedempte stemtoon te verwittig hoe ek voel hieroor.  Net so effentjies, saggies, verstaan.   

Ouboet moet redelik versigtig wees nog met wat hy eet.  Hy droom nou al weke lank van hamburgers, maar sy mond kan nie groot genoeg oopmaak nie, en in elk geval meen die dokter dis nog te hard vir hom om nou al te probeer.  Die dokter het sy kake ontklem onder streng instruksie dat hy vir nog ‘n week lank niks harder mag eet as dit wat hy met ‘n lepel kan eet nie.  Ek is nie seker of dit ‘n goeie maatskaf is nie.  Ek meen, ek kan aan baie harde goed dink wat ek met ‘n lepel sal kan eet – dit moet net klein genoeg wees om daarop te pas.  Ons kloek dus maar ietwat besorgd rondom Ouboet wanneer dit etenstyd raak. 

Net mooi ‘n week later is Ouboet en sy vriend Langjan, en laasgenoemde se sussie as designated driver, af Stilbaai toe om te gaan touchies kyk.  Ek hou maar my foon byderhand.  Mens weet nooit wanneer daar ‘n noodoproep kom nie.  Ek sê vir Langjan om tog seker te maak dat Ouboet nie dalk iemand byt of met die kop stamp nie.  Hy het nog nooit nie, maar ek meen nou maar, die dokter was baie ernstig daaroor dat hy nie nou sulke beserings kan bekostig nie. 

Maar ja, om 12h06 kry ek ‘n WhatsApp van Ouboet.  Kon gedink het daar gaan moeilikheid wees.  Ek maak die boodskap oop en loer net so met een oog dat ek nie al die nuus op een slag raaklees nie.

“Nunet n burger geet dit was bje lekker en morsig.”

So uiteindelik het ouboet se droom waar geword.  En gelukkig geen skade nie.

Net so ná ses die middag hoor ons die karnaval die dorp binnekom. Luidrugtige musiek en so.  Dan verskyn my motor om die draai by die kampterrein se hek, en kom ons agter dís die karnaval.  Die musiek is hard.  Ouboet en Langjan, effens verstrengel in sy t-hemp,  sing vrolik saam.  Langjan se sussie bestuur die motor. 

Hulle is besonders vrolik.  Ok, party van hulle.  Die sussie wat bestuur is minder vrolik, sal ek nou maar sê.   

Ouboet se vriend van Pretoria het intussen ook geariveer.  Kortjan sluit dadelik aan by die ander twee.  Die res van die aand kuier die drie musketiers saam.  Laataand besoek hulle die pub, Die Mond, net buite die hek van die karavaanpark.

Net so na 02h00 stamp vroulief aan my.  Sy hoor mense luidrugtig sing.  Ons weet nie wie dit is nie, maar ek spring op trek aan, en klim in my bakkie om liewers die drie musketiers te gaan soek.  By die kamp se hek is daar steeds ‘n hekwag aan diens.  Ek vra hom of hy nie dalk drie luidrugtige singende ouens gewaar het nie.

Die hekwag stel my gerus dat ek my oor niks hoef te bekommer nie, sulke ouens sal glad nie by hom verbykom of in die kamp toegelaat word nie. 

Mmmm……  Dis presies waarvoor ek bang was.

Ek ry deur die dorp, maar buiten vir ‘n oewerkonyn en so drie jeugdiges is die strate stil.  Ek kom terug karavaan toe en WhatsApp vir Ouboet om 02h33.

“Ons kon netnou vrolike mense hoor sing.  Kamp toegangsbeheer sal luidrugtige mense toegang weier.  So wees bedeesd as julle inkom.  En as jy langs die pad ‘n groot haas sien, los hom uit.  Dis nie die Paashaas nie, maar ’n oewerkonyn – ‘n bedreigde spesie.”

Vroulief hoor beter as wat nodig is.  ‘n Paar minute later rapporteer sy dat die manne nou ingekom het – doodstil. 

[Deel 7 volg]

PG JONKER

Gouritsmond – Deel 5: ‘n Hondelewe

Troeteldiere kan ‘n lastigheid wees oor die vakansie.  Ons is gelukkig dat ons twee tweedehandse honde by familie op die plaas by Montagu kan kuier.  Dit verg ook dat ons met twee voertuie moet ry, maar dit werk eintlik goed, veral nou dat vroulief en Ouboet in elk geval later moet kom.

Die Bulhond is ‘n grompie grompot met ‘n ernstige sosiale onbekwaamheid.  Sy byt darem nie aan mense nie, net ander honde.  Buksie is ‘n oor-opgewonde Jack Russel.  Sy sosiale vaardighede is heelwat beter as die Bulhond s’n.  Buksie maak gou vriende, en is heel gewillig om ‘n vriendelike aankomeling by die huis se voet te homp net om te wys hulle is nou nuwe beste vriende.

Dis juis Buksie se sosiale lewe wat gemaak het dat hy by ons beland het.  Sien, dis lastig wanneer ‘n rondloper Jack Russel ‘n baba Boerboel van 65 kilogram oorreed om saam met hom rond te loop tussen plase, met skapies en almal daai goed wat ook daar ronghang.  Dus, voordat die laksman vir Buksie kon bykom, het ons hom toe aangeneem.

Met die honde op die plaas afgelaai, verras vroulief en Ouboet my vroeg die volgende oggend op Gouritsmond.

‘n Aand of wat later bel skoonma.  Sy kuier ook op die plaas.

“Is jy alleen, of is die kinders naby jou?” vra sy. 

Ek kan hoor daar is dood in haar stem.  Ek sê sy kan maar praat;  ek is besig om skottelgoed te was, wat ‘n seker manier is om te weet dat geen van die kinders selfs binne roepafstand van my af sal wees.

Dit blyk dat Buksie vroeër die dag onder een van die plaasvoertuie se wiele beland het.  Hy het nie enige sigbare beserings gehad nie, maar is toe ‘n paar uur later dood.

Dis ‘n tranedal.  Sussie gaan treur by die see op die rotse.

Skoonsus, wie agter die gewraakte plaasvoertuig se stuurwiel was toe die insident plaasgevind het, is oorval met skuldgevoel oor stomme Buksie se ontydige verwisseling van die tydelike met die ewige.  Sy begin dadelik rondverneem of daar nie dalk iewers plaasvervangende hondjies beskikbaar is vir aanneming nie.  En sowaar, op ‘n plaas daar naby is is ‘n werpsel soortvan Jack Russeltjies, waarvan daar twee tefies is wat nog huise soek.   

Die plan was in elk geval dat ons vir Kersfees Montagu toe gaan om saam met die familie daar te kuier, dan kan ons sommer die nuwe aannemelinge gaan besigtig.  Ons maak so.  Hier is die twee nuwe hondjies van ons huishouding.  Die outjie links kan nog nie behoorlik loop nie, maar hy het die cheek om vir my te wil blaf-grom toe ek haar afneem.

Kersfees op Montagu is ‘n groot affere.  Op Kersdag is daar 21 mense wat saam Kersfees hou. Die plan is om Kersdag namiddag weer terug te ry.  Middagete loop teen half-ses die middag ten einde met ‘n baie eksotiese krismispoeding. Ons vertrek terug Gourits toe voordat die koffie bedien word.

Die pad tussen Riversdal en Albertinia is onder bedreiging vanweë ‘n veldbrand.  Ons ry naby die vuur verby, maar die pad is gelukkig oop.  

Wel, nou het ons twee nuwe Jack Russeltjies wat ons oor ‘n paar weke moet gaan haal, maar wat ook name moet kry.  Jy het geen idee hoe ‘n totale afwesigheid van eenstemmigheid daar in ‘n huishouding van vyf kan wees oor iets so eenvoudigs soos twee honde se name nie. 

Hondetelers se volbloedhonde het soms vreeslike eksotiese name.  Ons het jare gelede ‘n opregte Bouvier gehad.  Die pa was ook een of ander baron of iets, wat blykbaar kon lees en skryf.  Ons nuwe hondjies (die geveg oor wat hulle name gaan wees woed steeds) se ma en pa is ook geen uitsondering nie. 

Die ma se naam is Moppie.  Mens kan duidelik sien hoekom. Sy lyk soos ‘n kruis tussen ‘n Maltese poedel en ‘n Jack Russel, maar blykbaar is sy ‘n kruis tussen ‘n Jack Russel en ‘n langhaar Fox Terrier (Wire Haired Fox Terrier).  Jy kan maar sê sy is ‘n opregte Jack Terrier.  Boonop is sy ‘n halfsuster van ons nou oorlede Buksie.

 

Duidelik het hierdie honde se baas geen probleem gehad om hulle honde name te gee nie.  Noudat ek daaraan dink, Buksie se pa, wie die oupa van hierdie werpsel is, hoef self ook niks terug te staan in terme van eksotiese name nie.  Sy naam is Poeph*l, maar anders as met Moppie kon ek nie mooi sien hoekom nie.

Ek het liewer nie ‘n foto van hom geneem om ook sy naam te illustreer nie.

[Deel 6 volg]

PG JONKER

Gouritsmond, deel 4: Die Alledaagse

Dis ‘n warm oggend.  Ek staan op om die bakkie se vensters te gaan afdraai dat die luggie darem die binnekant kan afkoel. 

Op pad na my bakkie toe voel ek die karavaantent is baie bedompig.  Ek stop gou om eers die karavaantent se kantflappe oop te maak dat die tent kan afkoel. 

Toe ek buite kom sien ek die buurvrou was wasgoed.  O ja, dis wat ek moet doen, onthou ek.  Normaalweg doen vroulief daardie dinge.  Darem met my hulp (nee,regtig).  Maar nou is sy mos nog nie hier nie.  Seker tyd om die wasgoed ‘n slaggie skoon te kry. Ek haal gou eers ons kampwasmasjien uit.

Jare gelede is vroulief een goeie dag af na die buitelugwinkel toe om ‘n groot pan te koop.  Toe kom sy terug met die wasmasjien in plaas van die pan.  Die wasmasjien was goedkoper, en kon boonop binne vier wasse homself afbetaal.  Anders as die pan, wat natuurlik voortdurende insette verg. 

Ek dwaal nou bietjie af, maar dis eintlik die hele punt.  Sien, tussen ‘n paar bondels wasgoed se was, spoel en ophang, en die skottelgoed was en afdroog, en vroulief se kosinstruksies raadpleeg oor wat ons gaan eet vir die dag, raak ek toe bietjie besig.  Met die ophang van die wasgoed sien ek my een wit t-hemp het nou ‘n geel kleursel.

Buurvrou sê ek moet dit inseep en oornag laat lê.  Ek maak so, maar dis nie regtig ‘n probleem nie.  Ouboet het ‘n identiese wit t-hemp.  Ek gaan net ons hemde omruil as hy nie kyk nie.  Maar in ieder geval, so verloop die dag dus heel huishoudelik.

Teen twaalfuur kry ek toe vir die eerste keer weer gedagte daaraan dat ek al vanoggend sewe-uur eintlik op pad was om my bakkie vensters oop te draai – en nog nie daarby uitgekom het nie. 

D-dag het aangebreek vir Ouboet.  Hulle afspraak met die dokter is 17h00.  Vroulief hou my met WatsApp op hoogte.  Uiteindelik is Ouboet ontklamp.   Nou kan hulle môre deur ry om ons liewe tweedehandse honde op Montagu af te gee, en dan Gourits toe te kom.  Vroulief se suster is ‘n bietjie van ‘n hondefluisteraar, so die dierasietjies is in goeie hande op die plaas.  Dis nou die bulhond, wie se ouers Australië toe is, en die Jack Russeltjie, wat in elk geval van die plaas af kom.  Meer oor hom (heelwat) later.

Die aand braai ek wors vir worsbroodjies.  Buurman dring aan dat ons saam met hom van sy sappige karoo-tjops eet.  Ons voldoen aan sy versoek.  Mens wil immers nie sy gevoel seermaak nie.

Ná 21h00 laat weet vroulief hulle is reeds op Montagu.  Hulle het besluit om sommer dadelik ná die doktersafspraak te ry.    

Die volgende oggend sit ek by buurman en koffie drink.  Die son kom vroeg op, so dis nie vreemd om sewe-uur relatief wakker te wees nie.  Ek moet deeg vir ‘n potbrood gaan aanmaak.  Vroulief en ouboet behoort so elfuur hier te wees, dan wil ek haar verras met ‘n lekker potbrood. 

Dan bliep my foon net voor 08h00 vanaf vroulief met ‘n bestelling:

“Ons is oor tien minute daar.  Koffie, toast, eiers, sunny side up asseblief.”

Né.

[Deel 5 volg]

PG JONKER

Gouritsmond – Deel 3: Konserte en Sandkastele

Die stranddienste is baie bedrywig om veral die jongspan besig te hou.  Kleinboet  se portuur, nou, maar ook die ouer kinders.

Buiten vir ‘n sokkie vir die tieners, was daar ook ‘n talentkonsert gewees.  Ek is verras met die goeie talent, en ook komiese humor, wat die jongmense openbaar. Kleinboet kry die junior prys vir kitaarspeel.  ‘n Meisie van Pretoria kry die senior prys vir dans. 

Uiteindelik is daar moderne dans, hip-hop dans, kwaito, gangnam, selfs tong in die kies opera-areas. 

Foto Tydens Dans

Een tjokkertjie het ‘n tong in die kies liedjie wat hy sing onder eie begeleiding met die kitaar – net een vals akkoord deurentyd.  Later besef ek dis NIE tong in die kies nie, maar sy beste poging.  Hy’t nietemin ‘n groot cheer en ‘n prys gekry.

Kort voor die stranddienste se vertrek kry hulle ook die gospel sang-groep Prophet daar.  Hierdie ouens is verbrands snaaks, met sulke deadpan sedige gesigte.

   

Een oggend het die stranddiensspan ‘n sandkasteelkompetisie op die strand.  Sand is ‘n redelike kritiese bestanddeel vir ‘n sandkasteel, derhalwe dat die strand as die ooglopend geskikte venue gekies is.  Daar’s nogals ‘n bietjie sand, mos.

Daar is ‘n paar werklik vaardige sandkasteelbouers.   Toe alles klaar is word pryse uitgedeel, waarna almal groot pret het om weer die sandkastele te vernietig.

OK, nee, nie heeltemal almal nie. 

Een vierjaar-oud is nog besig om ‘n paar gate in sy sandkasteel op te patch (sy konstruksie was van meet af in elk geval bietjie bedenklik, so hy het nie regtig ‘n kans gestaan om ‘n prys te wen nie), toe is die kompetisie al verby.  Die mannetjie sien die massale vernietigingswerk wat rondom hom plaasvind.  En hy hou niks daarvan nie.  Hy besluit dat hy met sy stembande en met sy lyf sy kasteel tot die dood toe gaan verdedig. 

Gelukkig sien (ok, nee, eerder hoor) die stranddiensspan dat dié mannetjie nié sy sandkasteel opgebreek wil hê nie (heeltemal regtig glad nie, verstaan), en keer hulle goedgunstiglik die dekonstruksie van sy sandkasteel.   

Dit het nog ‘n tydjie gevat voor die mannetjie besef het sy vokale aanslag was suksesvol en kan maar gestaak word. 

Die Jeugliga is ‘n mooi bog.

[Deel 4 volg]

PG Jonker

Gouritsmond – Deel 2: Pap Wiele

Ek is nie baie handig nie.  Vroeër vanjaar (o nee,dis nou alweer laasjaar) het ek en Kleinboet ‘n pa-en-seun kampeerdery bygewoon wat sy skool aangebied het.  Ek het die tent op geslaan.  Dié kan ek darem nou al goed doen, ná jare se oefening, het ek gedink.  Tog merk een buurman op “Jy’s nie ‘n ingenieur nie, né”. 

En dit weet hy net van kyk hoe ek tent opslaan.  Ten spyte daarvan vorder my ‘buitegeboue’ darem oor tyd heel suksesvol.

Net so was fiets herstelwerk nooit hoog op my lys van vaardighede nie.  Buiten dat ek nie bereid is om met ‘n fiets te ry waarvan ek self aan die remme gewerk het nie, kan ek nie onthou dat ek al ooit ‘n pap wiel van ‘n fiets kon regmaak sonder om sewe nuwe gate in die binneband te veroorsaak met die terugsit van die binneband nie.

Op dag een, reeds, rapporteer Kleinboet ‘n pap wiel.  Ai.

In my trommel wat ek maar uit gewoonte elke jaar inpak sonder inagneming van die inhoud, kry ek sowaar ‘n stelletjie patch & solution.  Ek het ook ‘n toolbox saam met my.  Dis eintlik maar net vir as ek langs die pad gaan staan, dat die ou wat my help nie sy eie tools hoef te gebruik nie.

Gelukkig het ek niks om te doen nie.  Ook kan ek lekker buite almal se gesigsveld probeer sukkel met die probleem.  Heelwat later kan ek natgesweet (dis mos baie warm) terugsit en my suksesvolle handewerk aanskou. 

Ek het sowaar die agterwiel afgehaal gekry.  Nou moet die binneband nog uit.

Miskien moet ek volstaan met die opmerking dat, omdat ek mos nou heeldag tyd het om dit te doen, ek nie haastig was om dit vinnig te doen nie.  Heelwat later toe is die binneband herstel en teruggesit.  Nóg heelwat later (twee pogings later) is die wiel weer terug op die fiets.  Sien, mens moet tog oplet waar die ketting is voordat jy die wiel in posisie vasmaak. 

Nie min trots op my handewerk nie, kan ek later die middag die fiets vir Kleinboet teruggee.  In lopende en werkende toestand. 

Die volgend oggend rapporteer Kleinboet dat daar nóg ‘n doring in dieselfde band gesteek het.  Die wiel is weer pap.  Hy sê dit was per ongeluk, hy het nie die duwweltjie gesien nie.  Yeah, right. 

Aangevuur met my sukses van die vorige dag herhaal ek die oefening.  Daar is natuurlik geen plaasvervanger vir ondervinding nie.  Hierdie keer gaan dit twee keer vinniger.  Ek doen dit nou soos ‘n professional, ek sê.  Ek stuur nietemin ‘n versoek huis toe dat vroulief tussen my tools moet soek vir die twee houertjies renostersnot wat nou seker al ses jaar oud is, en wat ek net nog nooit by uitgekom het om in die fiets se bande te spuit nie. 

Wat my laat dink, die rede daarvoor is dat dit nie regtig veilig vir Kleinboet is om by die huis fiets te ry nie.  Hiér, daarenteen, kan hy ry feitlik soos hy wil, selfs buite die karavaanpark. 

Hier is nie baie karre, of skelms wat sy fiets gaan wil vat nie.

[Deel 3 volg]

PGJ

Gouritsmond 2012 – Deel 1

Die reis

Dit is asof alle slegte dinge van die jaar houdbaar gemaak word met die verwagting dat ons aan die einde van die jaar ons karavaan Gouritsmond toe sleep.  Die laaste weke voor ons vertrek heers daar reeds ‘n opgewonde afwagting. 

Hierdie jaar is dinge bietjie deurmekaar.  Ouboet het ‘n paar ‘n paar weke gelede kaak chirurgie ondergaan.  Sy kake is dus nog aan mekaar vasgeklem, en hy kan net vloeistowwe inneem.  Nie heeltemal die tipe diëet wat jy suksesvol met ‘n see-vakansie kan volhou waar kos hoofsaaklik op die vuur gemaak word nie. 

Sussie se vriende kuier reeds op Gouritsmond.   Sy ry ‘n paar dae voor ons reeds met die Langeberg bus af Albertinia toe waar die vriende haar oplaai. 

Ek en Kleinboet volg ‘n paar dae later met die karavaan.  Vroulief en Ouboet bly agter vir nog ‘n paar dae.  Die dokter moet eers sy kake losmaak. 

Ander jare het ek nog lank voor ek by die Paarl kom nodig om ‘n slag of wat te stop.  Dan is ‘n kasdeurtjie oop, dan het die yskasdeur oopgegaan, of bagasie agter in die bakkie het rondgeskuif en my uitsig na agter versper.  Oor tyd leer mens wat alles losgaan, oopgaan en rondskuif.   

Buiten vir ‘n pitstop op Worcester ry ons eenstrykdeur tot op Gouritsmond.  Ek het die windvoorspelling goed dopgehou.  Die vorige paar weke het die wind verwoed in die Kaap gewaai, en op een goeie oggend is vyf trokke omgewaai op die brug net voor mens die tonnel binnegaan.  Gelukkig het ons ‘n windstil dag.  Die wolke was maar net ‘n ydel dreigement.

‘n Sinkgat in die pad tussen Ashton en Swellendam veroorsaak dat ons Bonnievale, Stormsvlei om moet ry.  Volgens die GPS het ons ‘n gemiddelde 76km per uur gehandhaaf oor die 380 km’s. 

Met my en Kleinboet se aankoms op Gouritsmond is die bure se brunch feitlik gereed vir ons.  Ons eet eers lekker brunch en drink koeldrank ná 5 ure op die pad (met die aircon wat reeds van kwart voor sewe die oggend af ononderbroke werk).  Met die bure en ander vriende se hulp staan die strukture wat hulp verg binne ‘n japtrap.  

Die res van die middag slaan ek tentpenne in en rig ek ons bewoning vir die volgende paar weke in.  Teen laatmiddag kan ek vir vroulief ‘n foto WhatsApp van wat ek dink ‘n heel goed ingerigde en netjies perseel is. 

Die karavaan se bed stel my nooit teleur nie.  Hierdie keer is geen uitsondering nie. 

[Deel 2 volg]

PGJ

Besoek aan Windhoek – deel 3

Die seremonie

Saterdagaand is die eintlike doel van ons besoek aan Windhoek. 

Ons woon die Namibian Children’s Book Forum se prystoekennings in die Goethe sentrum in Fidel Castro rylaan by.  Vroulief se kinderboek, “Wat is jy Kartoffel?” is genomineer vir die prys in die kategorie van geillustreerde kinderboeke.

Sandy Rudd, die seremoniemeester, hou die atmosfeer lig en vinnig.  ‘n TV span van (vermoedelik) Nam TV is daar, en ‘n klompie fotograwe.  Hierdie kontingent maak dit soms moeilik om uit die gehoor uit foto’s te neem.  Hulle is so half in ‘n mens se pad.   Die spannetjie van die Greenwell Matongo Library Dance Group doen hulle ding.  Energiek, lewendig, luidkeëls.  Die gesiggies léwe.  Dis ‘n plesier om hulle dop te hou.  Gcina Mhlope is ‘n besonderse vrou.  Sy doen twee storievertellings.  Haar hele wese het ‘n ritme.  Sy betrek haar gehoor maklik, en amper ongemerk maak sy ‘n ritmiese liedjie waarby sy almal betrokke maak.

Mevrou Kovambo Nujoma, gade van die oud-president, is al vir baie jare die beskermheer van die Forum.  Sy doen die oorhandigings.  Sy is ‘n waardige tannie.

Daar is ooglopende toegeneentheid by die aanwesiges.  Ek weet dis baie irriterend hierdie ouens wie drie weke in Suid-Afrika kuier en dan reken hulle kan al ons probleme oplos.  So, op risiko om soos ‘n wysneus te klink, was dit nog telkens my waarneming dat die rasseverhoudinge in Namibië voorkom om baie meer gesond te wees as Suid van die Oranjerivier.   Hierdie aand is geen uitsondering nie.  OK, tannie Nujoma se lyfwag was nie onnodig vriendelik nie, maar dit kom waarskynlik saam met die posbeskrywing.

Van al die toekennings van die aand is my belangstelling natuurlik eintlik primêr vroulief se ontvang van haar toekenning.  Ek is baie trots op my vrou toe sy opgeroep word om haar prys van mevrou Nujoma af te ontvang. 

Nou ken ek ook iemand wie al ‘n gewese Namibiese president se vrou se hand geskud het.  Wat my natuurlik self nou bietje van ‘n celebrity maak.

Laaste kuier

Ná die verrigtinge word daar gesellig verkeer oor ‘n vingerete en ‘n glasie wyn.  Toe almal huis toe is, neem ons gasvrouens ons vir ‘n koffie-uitstappie na die Thule restaurant.

Mokerstok!  Die restaurant sit seker op dié prime spot in Windhoek.  Jy kyk uit oor die Noordelike deel van die stad (ek aanvaar dit moet Eros wees), alhoewel ons natuurlik niks anders as liggies sien nie.  Dit is hierdie warm aand, met ‘n luggie wat nét genoeg stoot om die hitte te breek.

Ons ga hystoe

Sesuur Sondagoggend word ons opgelaai om terug lughawe toe te gaan.  Dis ‘n heerlike rit uit Ooswaarts lughawe toe.  Die son begin net oor die Namibiese vlaktes skyn.  OK, ek lieg bietjie van die vlaktes, dis meer soortvan poëtiese lisensie.  Daar is juis nié vlaktes hier nie.  Dis hoeka die rede hoekom die lughawe 40km buite die dorp is, want dis waar hulle eers ‘n groot genoeg vlakte kon kry om die aanloopbaan te bou.

By die inweegtoonbank kyk die man agter die toonbank ‘n paar keer op van ons paspoorte na die rekenaar voor hom en na ons.  Dan neem hy my elektroniese kaartjie en vergelyk dit met die rekenaar voor hom.  Die frons tussen sy oë verdiep.

“I will be with you shortly,” sê hy. 

Hy neem ons paspoorte en die rekenaaruitdruk van my aanlynbespreking, en verdwyn by ‘n deur uit.  In die agtergrond verbeel ek my ek hoor die 007-temaliedjie speel.   Later begin ons (nog meer) bekommerd raak.  Nog later sien ek die man ‘n ent weg verbystap, nog steeds met al ons goed in sy hande.  Ek draf agterna en volg hom in ‘n kantoor in waar ‘n vroulike veiligheidswag my onvriendelik aankyk. 

Ek beduie vir haar dis my pampiere daai, ek wonder maar net wat die probleem is.

“No, there is no problem,” sê die beampte.  Ek stap saam met hom terug na die inweegtoonbank.  Blykbaar is daar net ‘n klein probleempie, waarop hy nie uitgebrei het nie, wat maak dat hy ons instapkaarte met die hand sal moet invul, in plaas van om dit elektronies te doen.  Dit doen hy toe ook, en ‘n paar minute later kan ons rustig neersak vir ‘n laaste koffie voor ons vertrek. 

Ek sit lekker terug met die koffie, en kyk na die handgeskrewe kaartjies.  En stik in my koffie.  Ek gryp my vrou se kaartjie en die rekenaaruitdruk van my elektroniese bespreking en stap (nee, sorrie, hardloop) terug na die inweegtoonbank toe.

Die beampte kyk gesteurd op toe ek plaasneem langs die persoon wie hy besig is om te help.

“You booked us to Johannesburg, and we want to go to Cape Town,” verduidelik ek.  Ek hou die instapkaartjies uit na hom.

“Oh, don’t worry, you are going to Cape Town, the flight number is correct.  You can just change JHB to CPT,” reken hy.

Teen daardie tyd is die eerste oproepinstruksie al vir die passassiers wat afreis na Kaapstad om deur te stap na doene toe, en ek het nie tyd om hom anders te oortuig nie.  Ek haas my terug na waar my koffie staan en koud word, drink so staan-staan twee groot slukke van die koffie, en verander ons bestemming met pen op die instapkaaratjie. 

There, I fixed it

By die paspoortbeheer vul ons die vormpies in.  Die vormpie vra weer vir my na watter adres in Namibië ek op pad is.  Ons besluit die vorms is nie nodig nie, en vul dit nie verder in nie.  Ek verduidelik vir die dame wat die paspoorte moet stempel dat ons nie die vorms klaar ingevul het nie, want sien, ons dink dis onnodig, verstaan, want hulle wil weet waar in Windhoek ons gaan bly en eintlik is ons mos nou juis op pad wég van Windhoek af en nie ná Windhoek toe nie, so verstaan …. 

Sy glimlag vir my soos my een sub-A juffrou altyd vir my geglimlag het (sy’t my baie gelike – ek het mos toe later met haar dogter getrou.  Die sub-A juffrou nou, nie die paspoort-beampte nie) en sê daai is oraait so.

Ons stap deur vliegtuig toe.  Net vir veiligheid hou ek die instapkaartjie só vas dat my duim die deel toehou wat ek intussen verander is van JHB na CPT toe.  Net vir ingeval, verstaan.

En toe gaan ons huis toe.  

PG JONKER

Oktober 2012