Vrye mark van idees!

Desember 17, 2010 in Sonder kategorie

Ek hou baie van die Oostenrykse filosoof Karl Popper (1902-1994) se idee van ‘n “open society”. Hiermee het hy bedoel ‘n gemeenskap wat oop is vir kritiese debat en waar opponerende idees aanvaar en verdra word. ‘n Vrye mark van idees!

Interessant is dat orals in die wêreld waar gemeenskappe as “open societies” funksioneer, dogmaties georiënteerde godsdienste dramaties in getalle val. Die ander kant is ook waar, daar waar gemeenskappe nog ‘geslote’ is daar floreer godsdienste soos byvoorbeeld die Christendom en die Islam. Karl Popper se filosofie gaan verder en sê dat daar geen absolute waarheids uitsprake moontlik is nie en sodra enige gemeenskap enkele sienings uithef as die enigste waarheid so ‘n gemeenskap ook op vele ander vlakke menseregte en vrye idees sal misken.

In Beeld is daar juis nou ‘n debat aan die gang waar die Christelike kerk (wat veral verwys na die NG Kerk, Hervormde Kerk, Gereformeerde Kerk en Verenigende Gereformeerde Kerk) probeer regverdig hoekom hulle getalle so radikaal kwyn. In een artikel skryf Fritz Gaum “…die Christelike geloof lê beslis nie op sy sterfbed nie. Al kwyn dié geloof blykbaar in ‘n tradisioneel “Christelike” vasteland soos Europa en in ander gesekulariseerde (of sekulariserende) gemeenskappe, toon die geloof in die Jesus wat twee millennia gelede in Bethlehem gebore is, op ander plekke — van China tot Afrika — ‘n verrassende groeikrag.

Hierdie uitspraak onderstreep juis my argument. In lande soos “China tot Afrika” groei die Christendom. Wel is dit nie juis hierdie lande waar daar min menseregte en vryheid is nie — vryheid van spraak, godsdiensvryheid ens. Plekke waar bittermin vrye vloei van idees toegelaat word. Dit lyk my daar waar mense vrye toegang tot inligting het daar begin mense al hoe meer vir hulle self dink. Is dit nie presies die gevaar wat ons ook nou hier in die Suider punt van Afrika met die ANC en regering se beplande mediatribunaal loop nie? Maar terug na my punt dat Gaum se groeipunte vir die Christendom lê in plekke waar bittermin kritiese debat toegelaat word.
Die Christendom se getalle sal kwyn in gemeenskappe waar mense die reg het om te kan verskil en die reg tot die vrye vloei van inligting het. Want in hierdie vrye gemeenskappe funksioneer vrees minder.

Deel van my soeke na ‘n eietydse verstaan van God het begin met vryheid van spraak. Ek kon my twyfels en vrae eerlik en oop aan die christelike kerk stel, sonder die vrees van wetlike vervolging. Ek kon eerlik debatteer rondom verskeie voorstellings van God, die gebruik van die Bybel, die rol van Jesus, die leerstukke oor hel, hemel, ‘n kritiese bespreking van die drie-verdieping wêreldbeeld en die soeke na ‘n verhouding met ander godsdienste. Ek kon gesprekke voer oor godsdiensgrense heen, selfs met ateïste en agnostici en die wetenskap. Daarom is die vrye beweging van idees so onontbeerlik vir godsdiensvryheid en vryheid van spraak.

Om vrylik toegang te hê tot verskillende idees en self te kan besluit, sonder sensuur, hoe ek my werklikheid kan vertolk is onontbeerlik deel van demokrasie (soos vervat in ons grondwet). Die vrye vloei van idees bring insig en groei. Dit beteken verseker nie jy stem met alles saam nie. Maar jy het die Vryheid om self jou eie sinvolle middelpunt te vind. Jy kan verskeie kante van ‘n saak hoor en self besluit wie jy glo en wie nie. Die Christelike kerk sal hierdie vryheid moet verstaan en nie meer krampagtig vasklou aan die uitlig van enkele waarhede bo ander nie. Daarom is die anonieme skrywer in dieselfde koerant se woorde so insiggewend: “Die kerk het in sy bestaan meer goed as kwaad gedoen, maar dalk is dit die vrees en oordeel wat hy tussendeur saai, wat nou so dorstig onder sy lidmate maai. Dalk het vrees — eens die kerk se grootste vriend — sy grootste vyand geword. Dalk is daar vandag genoeg ander goed wat mense bang maak.

Natuurlik sal die kerk nog groei in dele van die wêreld waar mense deur vrees beheer word. Dit is asof hulle geen ander opsies het nie en gryp dus enigiets aan om te oorleef. En hierin is godsdienste soos die Islam en Christendom ‘n wonderlike uitweg vir die massa onderdruktes en stilgemaaktes. Maar om dit as bewys van groei aan te toon is nie ‘n weldeurdagte argument nie.

Die Christendom kwyn in vrye samelewings juis omdat mense daar Vryheid het. Daarom moet ons samelewings waar daar nog nie vryhede tot eie denke en debat is nie, help. Want dit gaan ten diepste daaroor in watter samelewing iemand wil leef, een van fundamentalisme en fanatisme of een waarin vrye en gelyke waardes geld. Dit beteken nie dat indien die meerderheid mense ‘n siening aanvaar, dit goed en reg is nie (soos slawerny), maar een waar respek vir ander sieninge, dialoog en kritiese oordeel deel van die waardes is.

Het ons nie nou al geleer nie dat daar waar nie die vrye vloei van idees is nie, ongeregtigheid seëvier. Het ons dan so vinnig vergeet van die verwoestende invloed van die sensuurstelsel? Het ons vergeet wat gebeur as iemand namens jou dink en besluit wat jy mag lees, kyk en dink? Het ons reeds vergeet hoe dit voel om deur ander vertel te word watter flieks, boeke en musiek ons na kan luister en waarna nie?

Eerlike, oop, verantwoordbare en eietydse gesprekke rakende God, godsdiens, politiek, samelewing, wetenskap, filosofie en vele ander, is wat ons gaan vry maak en hierin kan die godsdiens gemeenskappe ‘n wonderlike rol speel … as hulle betyds wakker word! Natuurlik is dit baie belangrik om reëls te hê in hierdie oop, soekende gesprekke. Hierin help Popper ons met sy wetenskaps-filosofie model. Hy het dit ontwikkel op 32-jarige ouderdom en gepubliseer as Die Logik der Forschung (Die Logika van Navorsing). Dié werk is in 1948 in Engels vertaal as The Logic of Scientific Discovery en word deur baie filosowe gereken as die invloedrykste teks in die wetenskapsfilosofie wat in Engels sedert die Tweede Wêreldoorlog verskyn het. Popper se wetenskapsfilosofie het bekend geraak as “falsifikasionisme”.

Volgens Popper kan geen hoeveelheid eksperimentele toetsinge enige teorie waar bewys nie, want ‘n enkele weerspreking kan ‘n hele teorie vals bewys. Dit inspireer hom om die valsbewysbaarheid te gebruik as kriterium om onderskeid te maak tussen dit wat wetenskaplik is en nie-wetenskaplik is nie. Volgens Popper kan kennis alleen as wetenskaplik erken word indien dit die strengste moontlike toetse kan weerstaan om dit vals te bewys. Alle wetenskaplike kennis is vir Popper ook bloot voorlopig en niks is vas en seker nie.

Kennis is vir Popper iets wat net in ‘n spesifieke tyd en plek (historiese-kulturele omgewing) waar kan wees. Dit help iemand om in daardie omstandighede probleme op te los, wat ook in daardie spesifieke omstandighede ontstaan het. Daarna moet verder en nuut gedink word want die omstandighede het in die tussentyd verander en daarom is alles anders. Uit hierdie veronderstelling vloei sy ander bekende boek oor die wetenskapfilosofie voort, naamlik Conjectures and Refutations. Die naam dui op die feit dat wetenskaplike kennis ontwikkel op voorlopige voorveronderstellings (conjectures), wat dan aan valsbewysbare toetse (refutation) onderwerp moet word. Slaag die veronderstelling die toets, word dit voorlopig aanvaar as ‘n getoetste wetenskaplike wet. Natuurlik net totdat nuwe inligting dit weerlê, dan begin die siklus weer van voor af.

Daarom is dit so belangrik om te onthou, maak nie saak hoe oortuig jy is van jou waarheid nie, môre kom daar nuwe insigte na vore en dan is jou waarheid nie meer waar nie! Eietyds beteken juis dit — ‘n voortdurende proses van oop, vry en eerlik wees. Dit is ‘n voortdurende reis! Dit is die lewe en geen sisteem of vaste oortuigings kan op mense afgedwing word vir ewig en altyd nie — ook nie uitsprake oor God en lewe nie. Daar is wel beginsels wat kan dien as rigtingwysers, om mense te help op die reis. Beginsels van liefde, eerlikheid, respek, kritiese denke, nederigheid en verdraagsaamheid.

Karl Popper: “Everything is open to revision in the light of experience.”

8 antwoorde op Vrye mark van idees!

  1. UNPOCO het gesê op Desember 17, 2010

    Ek het ook die debat in Beeld gevolg en hard gesug. As die kerke nie besig is om leeg te loop nie, waarom maak hulle dan so groot bohaai daaroor. Dis net as daar bekommernis oor iets is wat mense so te kere gaan. En ja, die reis na jou eie waarheid is ‘n lang, moeisame maar baie interresante reis.

  2. Jis Abel, ek stem grootliks met jou saam. Suid-Afrika was vir so lank geïsoleer van die res van die denkende wêreld en die teologiese insigte hier het erg agter geraak. Toe ek nog kerk-agtig was, het ons dominee omtrent net met die Bible belt-kerkmense in die VSA kontak gehad. Ek glo nie hy het eens gehoor van Spong en ander liberale teoloë nie. Dié dat ons kerkmense langer vasklou aan die dogmatiese mitologie van die susterkerke.

    Die charismate floreer vir eers nog, want hulle godsdiens is nou ware opium vir ‘n beswaarde, gespanne psige, soos so baie van ons mense het.

    Maar dink jy nie China is effe anders as Afrika nie? Afrika is al lankal bekend met die Christelike boodskap, terwyl China amptelik enige godsdiens ontmoedig het. Die ‘sendelinge’ vind waarskynlik ‘n heel ander tipe bekeerling daar as in Afika.

    Lekker blog, ek is nou ook lus op Popper te gaan lees.

  3. kolja het gesê op Desember 17, 2010

    Die feit dat die susterskerke so leegloop wys dat daar geestelike groei plaasvind onder die Afrikaanssprekendes. Lande waar die “Vreeskerk” in al sy vorme nou regtig begin inslag vind, soos in Afrika byvoorbeeld, verkeer die mense nog in ‘n 14e eeuse geestelike ingesteldheid.

  4. UNPOCO het gesê op Desember 17, 2010

    Sommige in die 14de eeu ander nog agter dit.

  5. kolja het gesê op Desember 17, 2010

    Jy het heeltemaal reg daar.

  6. kolja het gesê op Desember 17, 2010

    Alles is een ding. Lewe= liefde= God. Lewe= vibrasie. Liefde = saamvoegingskrag. God = die allesomvattende. Alles wat bestaan = Ek is. Dus niemand anders as jyself kan jou saligmaak nie, want jy is net ‘n ander aspek van die EEN DING, “Ek is”. Dis slegs moontlik dat ‘n ander aspek van die “EK is” jou kan wys hoe om anders oor ‘n saak te dink.

    Afhangeende van die vlak van ontwikkeling van die liggaam waarin jy jou bevind kan jy sekere dinge begryp en ervaar.

  7. PNMLouw het gesê op Desember 19, 2010

    Baie goed. Jesus sou met Popper saamgestem het, Hy het mos gesê daar is dinge wat ons nog nie verstaan nie, en Paulus het hierop voortgeborduur met sy stelling dat ons nou soos deur ‘n troebel glas sien. Inderdaad dus is die waarheid voorlopig.

    Weliswaar is ons, en Popper, deel van die huidige postmodernistiese geestesklimaat wat tot subjektivisme en relativisme neig sedert Einstein e.a. Ook ons relativisme is dus beperk, en kan deur latere generasies gekritiseer word. Oor vyftig jaar sal mense dalk weer begin klem lê op vaste eerder as relatiewe waarhede …

  8. Hey Abel,

    Ek is jy bly bring Popper op.

    Net een ding wat ek wil bysit is dat vir ‘n idee om as wetenskaplik beskou te word moet dit stellings maak wat getoets kan word.

    Daar moet ‘n observasie wees wat logies moontlik is wat die idee kan verkeerd bewys. Neem byvoorbeeld gravitasie. Dit voorspel ‘n spesifieke krag tusses alle massas. So as mens massas observeer wat nie daardie krag ondervind nie word gravitasie verkeerd bewys. Daar bestaan dus ‘n observasie wat logies moontlik wat gravitasie kan verkeeerd bewys.

    ‘n Stelling of idee wat geen moontlike toets het nie is nie falsifiseerbaar/falsbewysbaar nie en is nie wetenskap volgens Popper nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.