Totsiens!

April 1, 2012 in Sonder kategorie

Rapport het my gevra om weekliks vir hulle ‘n rubriek/blog te skryf. Daarmee het ek dus besluit om nie meer gereeld op hierdie blad te skrywe nie, maar sal voorlopig my skrywe op my Rapport blog: “KOP en HART” publiseer.

(sien gerus:www.rapport.co.za/Opinie/Blogs/Kop-hart-Slaap-jy-nog-20120330) 

Baie dankie aan elkeen wat gereeld my blog gelees het en ook aan elkeen wat so gereeld gereageer het. Ek het elkeen gelees en dit het my oor die tyd gehelp vorm aan my eie denke.

Ek is oortuig daarvan dat sonder dieper denke wat hopelik sal lei tot dieper insig, sal ons nooit vrede ken nie. Carl Sagan se woorde in die verband is dus een van my persoonlike mantras. “We make our world significant by the courage of our questions and by the depth of our answers.”  

Aan al my mede soekers en vrydenkers wat hier saam met my gekuier het, dankie en vrede!!!


Abel Pienaar

www.spiritualiteit.co.za

abelpienaar@vodamail.co.za

Moord en die Tokkelossie

Maart 22, 2012 in Sonder kategorie

Hoe gebeur dit dat ‘n blykbaar normale en  gelowige boetie en sussie net eendag knak en hulle ouers wreed vermoor? Ek praat natuurlik van die bekende moordsaak van Nicolette en haar jonger boetie Hardus Lotter. Die moordsaak wat nou na drie jaar uiteindelik tot ‘n einde gekom het.


Nicolette (29) is gevonnis tot 12 jaar tronkstraf vir elk van die moorde en haar 23-jarige broer tot 10 jaar. Daar is ook gesê dat die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word en Regter Shyam Gayanda het gelas dat Nicolette eers oor tien jaar vir parool in aanmerking mag kom en Hardus ná ses jaar.


Dit is natuurlik ‘n lekker saak vir die media, want dit is sensasioneel en verkoop  baie koerante en tydskrifte. Net nou die dag sien ek ‘n opskrif op die voorblad van die Huisgenoot: “Ek weet my ouers kyk uit die Hemel na my” en met rooi vet letters, vir die nodige dramatiese effek: “Eksklusiewe tronk-onderhoud.


“Die kinders van vandag is so verlore! Het jy gehoor van die twee kinders wat hulle ouers so wreed vermoor het, en dan kom hulle nog uit so goeie Afrikaner huis ook. Het jy geweet hulle Pa se broer is ‘n dominee van die Kaap…” sê die tannie net voor sy ‘n groot sluk van haar tee vat.


“Dit is regtig hartseer. Gelukkig het hulle nou die Here in hulle lewens. Hy het hulle vergewe, ons moet ook nou. Die twee kinders moet net naby Hom stap…” antwoord haar vriendin met ‘n diep besorgdheid in haar stem.


“Aag shame en het jy gehoor dat toe hulle oumagrootjie die skoknuus hoor sy ‘n beroerte gekry het.” Die vriendin skud haar kop terwyl sy klikgeluide met haar tong maak. Albei die vroue drink verder aan hulle tee. Uit die hoek van die koffiekafee sit ek en kyk na die twee gryskoppe. Ek kan sien dat die saak hulle diep raak.


Dit is vir my egter interessant om te sien hoe simpatiek daar na Nicolette en Hardus gekyk word, as die eintlike slagoffers. Hulle word gesien as die “arme Christene wat deur die Satan versoek en mislei is.” En ja, die werk van die Satan is duidelik sigbaar in die derde persoon in die saak, Mathew Naidoo, ‘n arm Indiër van Phoenix.


Hy het ook die swaarste straf gekry en is uitgewys as die meesterbrein agter die moorde. Sy straf is ‘n voorgeskrewe lewenslange tronkstraf. Daar’s bevind dat Naidoo vir Nicolette Lotter, sy eertydse verloofde, en haar broer gebreinspoel het om te glo God wil hê hulle moet hul ouers, Johnnie (53) en Riekie Lotter (52), vermoor. (Dit was in Julie 2008.)


Die regter het verder gegaan en Naidoo ‘n “slinkse konkelaar” genoem wat vandat hy Nicolette (in 2007) ontmoet het, doelbewus beplan het om die Lotter familie skade te berokken. Dit kan natuurlik alles wel so wees. Wat my net pla is dat die eintlike probleem gemaklik weggevee word en al die skuld netjies op een persoon geplaas word. Natuurlik hou ons van ‘n duidelik skuldige party, want dan kan ons rustig in ons netjies verpakte verstaan van die wêreld voortleef.


Natuurlik pas ou Mathew ook goed in die prentjie van die bose een. Ek meen het hy nie na homself as die “derde seun van God” verwys nie. En is hy dan nie die een wat Nicolette verlei het en vertel het dat hy haar kan bevry van haar getoordery deur met haar seks te hê nie. (Ek meen “what a pick up line”!) En dan, was hy nie die een van die drie, wat nooit regtig berou getoon het nie. Hy het uitdrukkingloos daar in die beskuldigings bank gesit, terwyl Hardus vir die drie jaar onophoudelik gehuil het en Nicolette met Bybel in die hand, prewelend sit en bid het. Hoe dan anders!


Ja, ek is maar te bewus daarvan dat ‘n mens nie ongevoelig, veroordelend en harteloos met ander se leed moet omgaan nie. Ander se hartseer en innerlike worstelinge is heilige grond en op heilige grond moet jy jou skoene uittrek en versigtig loop. Want ek glo regtig dat as jy nie iemand se pyn verstaan nie, sal jy ook nie regtig sy keuses verstaan nie. En daarom moet ‘n mens nooit oordeel oor wat jy nie verstaan nie. En daarom is Nicolette, Hardus, Mathew en hulle families se innerlike pyn en seer vir my heilige grond.


Waarteen ek dit wel het, is die eintlike saak wat na vore gekom het en wat glad nie aangespreek is nie. Die olifant in die vertrek; die premoderne geloofsoortuigings waarmee die Lotters sowel as Naidoo hulle werklikheid beleef. ‘n Totaal onkritiese, bygelowige en werklikheids-vreemde verstaan van die lewe.


Kom ek verduidelik wat ek bedoel.


Nicolette het vir Mathew ontmoet in haar soeke na iemand wat haar kon help om bevry te word van die vloek wat sy geglo het op haar rus, ‘n vloek wat sy geglo het deur haar huishulp (wie se seun ‘n Sangoma is) oor haar uitgespreek is. Sy was oortuig dat ‘n bose gees in die vorm van “tokkelossie” haar geteister het. In haar soektog het sy toe beland by ‘n vrou in Phoenix wat bose geeste uitdryf. Dit is dan ook hier wat sy vir Mathew ontmoet het.


Hulle het vriende geword en Mathew het haar geloofs-oortuigings gedeel. Hy het selfs vir haar gesê hy kan die bose gees uitdryf en dat God direk met hom praat. Nicolette het alles geglo want dit het ingepas by hoe sy oortuig was die werklikheid werk. Daarom was “God” se opdrag om haar ma te vermoor nie vir haar enigsins teenstrydig met wat sy geglo het as waar nie.


Die probleem is nou dat na alles, Nicolette en haar broer nog presies dieselfde glo. Hulle glo nog steeds dat bose geeste en toordery ‘n werklikheid is. Mathew is nou vir haar nie meer “van God” nie, nee, sy verstaan dat hy nou eintlik “van die Duiwel” is. Sy het dus ‘n paar klein verstellingtjies gemaak aan haar onkritiese, voorwetenskaplike geloofswaarhede, maar glo in essensie nog dieselfde.


Hierdie is vir my weereens ‘n tipiese voorbeeld van wat gebeur as mense onkrities en bygelowig omgaan met hulle werklikheid. Dit wat gebeur as mense eksklusief vanuit hulle hart-denke leef en nie hulle kop-denke gebruik nie. Kop (wetenskap, rede) en hart (godsdiens, emosies) het mekaar nodig as ‘n mens ‘n sinvolle en gebalanseerde lewe wil leef.


Daar is ‘n groot verskil in kop- en hart-denke. Die een werk met rede. Die ander een werk met emosie. Albei is nodig om die werklikheid van menswees, hier en nou te verstaan. Om jou realiteit sinvol te interpreteer en te beïnvloed, het jy kop en hart nodig. Daarsonder het jy ‘n onvolledige prentjie van die werklikheid. Nie net onvolledige nie maar ook ‘n skewe en misplaaste prentjie van die werklikheid. En dit is die gevaarlike kant.


Seker daarom dat Mohandas Gandhi so sterk gevoel het toe hy verklaar het: “I reject any religious doctrine that does not appeal to reason and is in conflict with morality.” Hoeveel keer moet ons nog die tragedies van hierdie skewe en misplaaste prentjie beleef wat gelowiges handhaaf, voordat ons gaan raaksien dat so ‘n prentjie lewensgevaarlike gevolge kan hê?


Want die eerste ding wat gebeur met mense wat ‘n skewe prentjie van die werklikheid het, is dat hulle begin glo net hulle is reg. En hulle soek na ander wat hulle skewe beeld van die werklikheid deel. En soos ons weet: die werklikheid is wat mense glo dit is. Henri Bergson beskryf dit so: “The eye sees only what the mind is prepared to comprehend.” Hieruit vloei onverdraagsaamheid en fanatisme.


En is dit nie juis hierdie fanatisme wat daagliks die vrede en harmonie van ons wêreld bedreig nie? Ek dink een van die teenvoeters van fanatisme is oop, eerlike en eietydse dialoog. Want hoe meer ons met mekaar kan gesels en insigte uitruil, hoe meer kom daar ruimte binne ons denkwêreld. Die sosioloog Peter Berger en filosoof Anton Zijderveld het juis hierdie proses beskryf in hulle boek, In Praise of Doubt: How to Have Convictions Without Becoming a Fanatic:


We call this: Cognitive contamination. It means that if people converse with each other over time, they begin to influence each other’s thinking. As such contamination occurs, people find it more and more difficult to characterize the beliefs and values of the others as perverse, insane or evil. Slowly but surely, the thought arises that, maybe, these people have a point. With that thought, the previously taken-for-granted view of reality becomes shaky.


En dit is juis die voordeel van die huidige postmodernistiese wêreldbeeld. Die openheid vir beide hart- en kopdenke. En hiermee saam die ontkenning van enige absolute waarheid. Om onaantasbare sekerhede (dit wat as vanselfsprekend vir alle tye aanvaar word) te mag bevraagteken. En die bewustheid dat alles voorlopig is. Dit skep daarom die ruimte vir meer dialoog en soeke.


As illustrasie hiervan: Kyk maar net hoe Nicolette die Bybel as die enigste waarheid sien. Ek as postmoderne mens het groot respek vir haar toewyding maar sal nie huiwer om vir haar uit te wys dat die Bybel net ‘n boek is wat millennia gelede deur mense in ‘n voorwetenskaplike verstaan geskryf is nie. Ek sou graag vir Nicolette wou verduidelik dat in ons tyd die Bybel se premoderne verstaan van die werklikheid eenvoudig nie meer sinvol is nie.


Hierdie boek is ‘n antieke mitologiese geskrif. En as sy hierdie boek so lees, sal sy wel nog baie waarde daarin kan vind. Want dit is vol metafore, simbole en verhale waarvan die doel is om mense te begelei tot ‘n spirituele ontwaking – maar verseker nie ‘n akkurate verstaan van die werklikheid daar wil of kan stel nie.


Dink maar net hoeveel nader ons aan vrede sou kom, as verdraagsaamheid en harmonie ons belangriker lewensbeginsels kon word. Natuurlik om dit te realiseer moet ons besef dat enige fundamentalisme en fanatisme onaanvaarbaar is. Want beide wetenskaplike fundamentalisme (kop) sowel as godsdienstige fundamentalisme (hart) funksioneer vanuit dieselfde twee fanatistiese karaktertrekke:


Eerstens, hulle vind dit onmoontlik om na opponerende opinies en idees te luister.
Tweedens, hulle glo dat hulle waarheid (wetenskaplik of godsdienstig) die ENIGSTE waarheid is en dat alle ander oortuigings vals is. Die sogenaamde ware gelowiges.


Daarom dat ek eerder ‘n aanhanger is van Boeddha en Spinoza as van Richard Dawkins en die Pous. Peter Berger beskryf dit so: “With the rise of the science in the Western world, we have witnessed the birth of what has aptly been called ‘scientism’ – the often quite fanatic belief in the omnipotence of the (mainly natural) sciences and their technological applications. And they fight fanatically against all forms of alleged ignorance, in particularly that of religion. While on the other side of the same coin, religious faith fights science as blind to the real truth behind everything, their God. Both are lost in their certainties.


Dalk sal ons soveel beter daaraan toe wees as almal net wil erken dat, “Ons weet nie alles nie!” Dat eintlik is ons almal agnosties. En dat ons meestal gryp na sekerhede omdat ons wil veilig voel. Dit maak ons bang om buite beheer te voel. Maar as ons werklik eerlik met mekaar moet wees, sal ons moet erken: Ons weet nie. Niemand weet nie!


Dat J. Krishnamurti veel nader aan die waarheid is met sy: “Truth is a pathless land” as enigiemand wat jou wil oortuig dat hy of sy weet. Spiritualiteit is vir my om te kan aanvaar dat ek nie alles weet nie. Om vanuit ‘n stille nederigheid te leef. Om vanuit die groot misterie braaf elke dag te betree. Om met vrede en fokus die chaos van onsekerheid, onrus en ewigdurende verandering tegemoet te gaan.

Ja, aan die een kant vra dit van my om my gesonde verstand te gebruik. Om rustig die foefies, slenters, nonsense, bog en onsin wat elke dag soveel mense meesleur raak te kan sien, te ontbloot en op my voete te kan bly dink. Maar ook aan die ander kant, om krities te bly vir my eie vaste opinies, gemaklike antwoorde, geliefkoosde insigte, argumente en veralgemenings. Om te onthou dat wysheid is om raak te sien dat ek ‘n produk is van my omgewing, kultuur, invloede, ouerhuis, skool-opleiding en oorgeërfde “waarhede”.


En hierin help iets soos die Zen beginsel, Sho Shin (“To see with a beginners mind”) my ongelooflik baie. Shunryu Suzuki Roshi beskryf dit so in sy klassieke boek Zen mind, Beginners mind: “In the beginner’s mind there are many possibilities, but in the expert’s there are few. So by your practice we must make our beginner’s mind more and more – we should appreciate beginner’s mind. This is the secret of Zen practice.


Dit beteken dus dat ek elke dag nuut moet benader. Stadig tot konklusies moet oorgaan en rustig myself eers self uit die pad haal. Want my ego en kondisionerings verblind my so maklik. Dan kan ek probeer om dit wat gebeur direk te sien. Soos iemand wat dit vir die eerste keer sien.


Miskien sou dit Nicolette, Hardus en Mathew kon help om die mense voor hulle raak te kon sien en nie net die drogbeelde wat hulle oortuigings en bygeloof hulle laat sien het nie. Want uiteindelik sien ons nie wat voor ons is nie, nee, ons sien ons self in alles. Hopelik sal hulle nou hulle beginners oë ontdek. Dit is my gebed vir hulle!


Want dan sal hulle vir die eerste keer in hulle lewe vrede, harmonie en vryheid vind. Dit is ware spiritualiteit.


Soveel anders as die geslote en uitsluitende denksisteme van die fundamentalistiese en fanatistiese tronk waarin hulle gevangene gehou word. Dan sal hulle hopelik beleef dat al sit hulle in ‘n fisiese sel, niemand of niks kan hulle Vryheid van hulle wegneem nie. Dit wat die Franse filosoof Marcel Proust beskryf met:


The real voyage of discovery lies not in seeking new landscapes but in seeing with new eyes.

Die Soutpop

Maart 15, 2012 in Sonder kategorie

Elke mens het spirituele belewenisse.


Maar het jy al gesien wat gebeur na so ‘n gebeurtenis?


Daar word dadelik gepoog om dit te rasionaliseer en te verpak in ‘n verstaanbare en bekende geloofsoortuiging.


Sodra dit dan sin maak, word dit oorvertel, getuig en aangebied aan ander.


Dit is verstaanbaar, want sulke intense en verhelderende oomblikke bring innerlike verwondering.


En die mens is nou maar eenmaal so bedraad; verwondering moet gedeel word.


Dit is natuurlik hoe spiritualiteit, godsdiens geword het.


Iemand se diep spirituele belewenis, wat toe later in bekende woorde vasgelê is, en sodoende ‘n tipe resep geword het.


En mense hou van resepte. Die eenvoudige en maklike stap vir stap na, hopelik, dieselfde spirituele belewenis, sonder die self-soeke en worsteling.


Dit is egter ‘n fout om te dink dat iemand anders se spirituele belewenis nageaap kan word. Dis ‘n fout want dit kan nie.


Elkeen moet self die pad stap. Self die diepte beleef. Daar is geen kortpaadjies en geen resepte nie. Dit is dieselfde met doodgaan; baie boeke is al daaroor geskryf en vele getuienisse van wat en hoe, maar niemand kan dit namens jou doen nie.


Spiritualiteit is soos ‘n vingerafdruk, uniek en eie aan elk.


Indien daar resepte gebruik word, versteen alles vinnig in dooie dogma en meganiese rituele. Die misterie verdwyn en word vervang met ‘n kragtelose skyn. Liefde en passie word vervang met vrees en straf.


Nee, spiritualiteit is ‘n intens persoonlike belewenis van iets veel dieper en groter as wat enige woorde ooit aan kan raak. Spiritualiteit is verby ego en verby vrees. Spiritualiteit is vormloos.


Dit is net aanraakbaar, beleefbaar en sigbaar wanneer iemand – al is dit net vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde – beheer oorgee. Magteloos en weerloos die ewige Nou betree om opgeneem te word binne die groot Geheimenis.


Hierdie oomblikke is meer, anders en groter as wat ons met ons sintuie kan waarneem en interpreteer. Hierdie oomblikke is ons kontak-maak met die transendente.


Daarom moedig ek jou weereens aan: om teenwoordig in jou eie lewe te leef, deur vir jouself te dink, self te beleef en self te ontdek.


Net soos die soutpop wat soekende was. Sy het met vrae geworstel soos “Wie is ek?”, “Van waar kom ek?”, “Waarheen is ek op pad?”, “Hoekom is ek hier?”


Eendag stap die soutpop, diep in gedagte, op die strand, toe sy ‘n diep en swaar stem hoor wat vra: “Wil jy weet?” Sy stop en kyk verward rond, maar sien niemand raak nie. “Wie praat met my?” vra sy huiwerig.


“Ek, die water van alle waters. Die begin en die einde van riviere en strome, ja selfs die begin en einde van lewe. Die een wie se diepte nog nie bereik kon word nie en wie magtiger is as enigiets anders op aarde!”, dreun die diep stem van die See.


“Wat wil jy van my hê?” vra die soutpop bewend.


“Wil jy die antwoorde op jou vrae weet?” dreun die waters.


“Ja asseblief…” fluister die soutpop terug.


“Kom dan in … stap so diep as wat jy kan en daar op die bodem sal jy jou antwoord kry” beloof die See.


En soos die soutpop dieper en dieper inloop, begin sy oplos.


En skielik weet sy wie sy werklik is; soveel meer, groter en anders as wat sy ooit kon raai.


Dit is spiritualiteit, dit is jy!

Fragmente van die waarheid en sandsteen berge

Maart 8, 2012 in Sonder kategorie

Dit is Vrydag middag net na drie en ek en Zelda vertrek op ons lang verwagte trippie na Clarens. Let wel, net ek en Zelda, geen kinders of aanhangsels nie. En soos twee tieners babbel ons opgewonde oor die naweek wat voorlê.


Ek moet erken Clarens was nie my voorstel nie. Zelda wou nog altyd soontoe. Ek myself, het gevoel dat vir net nog twee ure by, kon ons iewers langs die Natalkus gaan kuier het. Ek het geredeneer, wie wil nou in die Vrystaat van alle plekke gaan laaglê. Want as ek dink aan die Vrystaat dink ek aan my tuisdorp Bethal, in die Transvaalse Hoëveld. Maar nou ja, soos dit maar gaan is ‘n huwelik mos maar gee en neem en hierdie keer het Zelda geneem. En so is die naweek beplan, bespreek en betaal.


Dit was laat middag toe ons van Bethlehem se kant af die klein dorpie binnery. En wat ‘n prentjie. ‘n Klein dorpie omring deur sandsteen berge. Die Rooiberge aan die een kant en aan die ander kant die Malutiberge wat die grens is na Lesotho. Ek was heeltemal onkant gevang deur die skoonheid van die boomryke dorpie.


Ek meen, ‘n tipiese Vrystaat dorpie lyk tog nie so nie. En dan praat ek nie eens van die regop Lombard Populiere, wat plek-plek soos toringtjies staan nie. Dit het vir my gevoel of ek binne-in ‘n Johan Smith skildery wakker word. Ek was verlief!


Na ons ingeteken het by die gastehuis kon ek nie wag dat ek en Zelda die area gaan verken nie. Dit was egter veel later as wat ek gedink het en ek moes maar tevrede wees met net iewers iets gaan eet. Die volgende oggend was ons vroeg wakker. Die sandsteen berge met hulle verskillende lae was asemrowend in die rooi oggendson.


Ons is al stappende deur die dorpie se strate tot ons by binneplein aangekom het. Reg rondom die plein was daar kunsgalerye, boetiek klerewinkels, ou boekwinkels, antieke meubel winkels, koffiekafees, restaurante en selfs ‘n tattoo parlour en ‘n meswinkel. Werklik ‘n kunsliefhebber en snuffelaar se paradys.


Zelda was in haar noppies, sy’t eintlik gespin soos ‘n kat. Ek het saam gedrentel en af en toe die nodige “Dis mooi!” of “Sjoe, ja dit sal goed lyk in ons sitkamer…” terug gemompel. Toe ons uit een van die kunsgalerye stap, die Blou Donki om presies te wees, loop ons vir Vic raak.


Eintlik het ons hom nie raakgeloop nie, hy het ons raak gestorm. Hy het op ‘n self gemaakte stoel onder een van die groot akkerbome gesit en toe hy ons sien het hy opgespring. “Hallo, ek is ‘n skrywer van kortverhale en ek…”, so het hy sonder om eenkeer asem te haal sy hele lewensverhaal en skrywers credentials afgerammel.


Vic lyk soos ‘n boemelaar (ek vermoed hy is een!) of kom ek stel dit anders; hy vertoon al die tekens van iemand wat die verkeerde kant van die lewe intiem ken. Met sy lang grys hare in ‘n poniestert gebind, en sy deurmekaar snor wat laag en slordig oor sy bolip krul (nogals ‘n slim plan het ek gedink, want dit steek sy haasbek mooi weg), het hy onverpoos voortgepraat.


Nodeloos om te sê, ek en Zelda kon eers uit Vic se greep ontsnap toe ons sy bundeltjie kortverhale met die titel Die Wieletjies van Geluk gekoop het. ‘n Versameling kortverhale wat handel oor die wel en weë van Mal Jan en Skreebek Annie. Ek kon nou so loop-loop na die verhale loer terwyl Zelda, ek bedoel ons, verder Clarens se kunsgalerye besoek.


Vic en sy stories het my dadelik laat dink aan die ou Grieke se siening van die verhaalkuns. Hulle het verhale ingedeel in twee tipes; komedies en tragedies. Komedies was natuurlik vir hulle verhewe bo tragedies. Die rede was omdat hulle gesê het dat ‘n tragedie, vanuit die menslike oogpunt na die lewe kyk (siekte, lyding, verlies en dood) en ‘n komedie, was ‘n poging om ‘n storie te vertel vanuit die oogpunt van die gode. Want net die gode kon na die mense se swaarkry en gesukkel kyk en dink dit is komieklik. Daar was juis geglo dat die gode na die mens vanuit die hemele gekyk het vir hulle daaglikse vermaak. Amper soos mense wat daagliks hulle TV sepies deurdraf.


In elk geval, terug by Clarens en skoonheid. Dit is nogals inspirerend om so deur kreatiwiteit omring te wees. Dit is regtig ‘n wonderlike energie wat ‘n mens hier in die klein Vrystaatse bergdorpie beleef. Ek verstaan hoekom so baie kunstige en skeppende mense hier wil wees.


Ek en Zelda het natuurlik soos groot meneer en mevrou die een na die ander gallery eienaars uitgevra na die pryse van hulle kunswerke. En dan by aanhoor van die bedrae, gemaak ernstig ons koppe geknik en betekenisvol na mekaar gekyk met bypassende opmerkings soos “uhmm, nie sleg nie!” of “Regtig, is dit al?” Net om dan ons so vinnig as moontlik uit die voete te maak.


Terwyl ons die dag lekker gekuier het en later ook meer van Clarens se natuurskoon beleef het, het my gedagtes telkens terug gedwaal na ou Vic en sy kortverhale. Duidelik was Vic ‘n baie intelligente en begaafde mens, maar sy kortverhale het nie regtig die verbeelding aangegryp nie. En die hoofrede was nie omdat hy nie ‘n talentvolle skrywer is nie, nee, dit het eerder gegaan oor sy enkelsydige uitkyk op die lewe. En daarom was sy verhaal van Mal Jan en Skreebek Annie, stereotipies en voorspelbaar.


Mal Jan as karakter was tipies manlik; emosioneel afgestomp met ‘n sterk ontwikkelde rede. En Skreebek Annie was weer oorheers deur haar emosies, sonder die vermoë om een enkele logiese argument deur te voer. Ja dit is seker so dat vrouens meer in aanvoeling is met hulle emosies en mans meer werk met logiese denke, maar dit is ‘n growwe veralgemening om mans en vrouens te beperk tot hierdie karakterisering. Want dit is bloot nie waar nie. Die mens is veel meer kompleks as dit.


Vic het in sy verhale die misterie van menswees mis geskryf. En ek dink die hoofrede is dalk omdat hy vasgeval het in sy eie beperkende verstaan van die lewe. Dit is egter nie net Vic wat hierdie aanname-foute maak nie. Baie mense leef hulle lewens vanuit hulle aangeleerde en geïndoktrineerde voorveronderstellings van die lewe. Absolute oortuigings van hoe dinge in mekaar steek.


En net soos met Vic se lewe, kan voorveronderstellings en sekerhede, lewensverskralende gevolge hê. Want in wese maak dit jou blind vir alles wat buite jou sekerhede lê. Die Zen leermeester Shunryu Suzuki praat van “Sho shin” (Beginners mind) wat verlore gaan as ‘n mens te veel sekerhede het: “In the beginner’s mind there are many possibilities, but in the expert’s there are few. So by your practice we must make our beginner’s mind more and more – we should appreciate beginner’s mind. This is the secret of Zen practice.


Die realiteit is dat solank as wat iemand met sy vooropgestelde sekerhede leef, kan hy of sy nie werklik oop wees vir die misterie van die lewe nie, en sal daarom sukkel om ‘n vervullende en kreatiewe lewe te hê. Eers as die aannames laat vaar word en daar weer ‘n openheid en direktheid in waarneming en belewenis kom, kan skoonheid en sin gevind word.


Miskien daarom dat Albert Einstein die volgende opmerking gemaak het: “Logic will get you from A to B. Imagination will take you everywhere.” Ek is seker dat hy nie hiermee bedoel het dat analise, logiese denke en wetenskaplike kennis ongeldig is nie. Ek dink hy wou net die klem plaas op ‘n oop en soekende ingesteldheid. Want hy’t maar te goed geweet dat daarsonder, min mense sinvol en kreatief sal kan leef. Hieruit vloei van sy bekendste woorde: “There are two ways to live: you can live as if nothing is a miracle; you can live as if everything is a miracle.


Om die lewe so te kan benader vra egter van jou om jou sekerhede minder seker te maak. Om te onthou wat Austin O’Mally in sy boek Keystones of Thought geskryf het: “Human truth is always soiled with falsehood.” En die filosoof Karl Popper brei hierop uit as hy verduidelik dat geen absolute waarheids uitsprake moontlik is nie, en dat sodra enigiemand ‘n enkele siening uithef as die enigste waarheid, so ‘n persoon vervlakking en blindheid sal beleef. En dan sal daar op vele ander gebiede menseregte en vrye idees misken word. Kyk maar net wat gebeur wanneer iemand fundamentalisties met die Bybel omgaan: Vroue, gays, anderskleuriges en ander gelowe se regte word ontken en misken.


Maak nie saak hoe oortuig jy is van jou waarheid nie, môre kom daar nuwe insigte na vore en dan is jou waarheid eenvoudig nie meer waar nie. Dit het die wetenskap al oor en oor bewys.


Om oop, vry, eerlik, soekend en met ‘n “beginners mind” die lewe te benader, is om die lewe as avontuur te benader. Daar sonder is jy ‘n slagoffer en gevangene van jou vooropgestelde sekerhede. Dink maar net aan die onbevredigende debat betreffende die soeke na waarheid, wat tans aan die gang is. Die debatvoerders werk elkeen vanuit hulle uitsluitlik wetenskaplike of godsdienstige sekerheid. Elkeen is blind vir die ander se verstaan.


Beide kante sou soveel kon leer en groei, indien hulle na die tafel van dialoog sou kom met die tipiese Sokrates-styl van respek vir sy “opponent”, en met ‘n ingesteldheid dat hy of sy eintlik niks weet nie en eerlik na die ander een wil luister. Want dan sou wetenskap en godsdiens sekerhede nie in konflik gewees het nie.


Die wetenskap toets, wysig en pas aan en in die filosofie en godsdiens, word daar heeltyd gevra waarom en waartoe nou. Want evolusie van idees, metafore en simbole is in beide teenwoordig. Albei is besig om die ooreenstemmings tussen een saak en ‘n ander saak te ondersoek en te verwoord. En hierdie verwoording geskied deur metafore. Weer is Albert Einstein (se metafoor!) in hierdie verband in die kol, “All religions, arts and sciences are branches of the same tree.


Filosofie en godsdiens sonder die wetenskap is soos iemand sonder ‘n flits in ‘n donker kamer, maar die wetenskap sonder filosofie en godsdiens, is soos iemand met ‘n flits maar wat vasgebind sit in ‘n stoel.


Miskien is dit wat Clarens vir my gedoen het hierdie naweek. Ek het weer iets beleef  van die inspirerende krag van skoonheid, ek het in die diepte van my wese iets beleef van die ontvouende misterie van die lewe. En ewe skielik kon ek helder die ontvouende beweging van waarheid sien. Dat dit tydelik gevind word, net om dan weer ontwykend buite bereik te beweeg. Dat Henry Ward Beecher reg was toe hy gesê het: “Nobody ever sees truth except in fragments.” En miskien is dit eerder die kunstenaars onder ons wat die fragmente die beste raaksien.


Die naweek in Clarens en natuurlik Vic, was vir my ‘n spieël. En wat ek daarin gesien het was my valse sekerhede wat weer stadig soos katarakte begin groei het. Ek het geskrik!


Daarom het ek myself weereens herinner om soekende te bly; om nooit Jiddu Krishnamurti se woorde te vergeet nie: “It is only those who are seeking, that discover what is true, not the man who conforms, who follows some tradition. It is only when you are constantly inquiring, constantly observing, constantly learning, that you find truth, God, or love.

 

En daar tussen die populiere, sandsteen berge en kreatiewe energie, het my gemoed verlig en ek kon weer die skoonheid van ‘n “beginners mind” ervaar. En natuurlik die helderheid wat daarmee saam kom.


Dit is egter nie nodig om eers weg te gaan om skoonheid te vind nie. Maak meer tyd. Stop meer gereeld en sit by jouself. Kyk net met sagter oë. Die waarheid is orals … soos God, soos liefde, soos goedheid en vrede, soos Lewe.

 

Fluister elke oggend die woorde van Mark Akenside vir jouself: “Truth and Good are one; and Beauty dwells in them, and they in her.

Welkome Gaste

Maart 1, 2012 in Sonder kategorie

Die oomblik wat jy wakker word in die oggend, word jy opnuut gebore. ‘n Nuwe dag, ‘n nuwe begin, ‘n nuwe jy! Maar dan arriveer jou ou lewe, in die vorm van verskillende gaste. Meestal is dit ou bekende emosies wat vinnig kom aanklop maar kort op hulle hakke is altyd ‘n paar nuwes.


Gaste wat jou innerlike gastehuis besoek. En soos gaste nou maar doen, bring hulle saam met hulle, hul bagasie. En of dit nou vreugde, bekommernis, opgewondenheid of depressie is, daar is ‘n impak op hulle direkte omgewing – en in die geval jou innerlike gastehuis.


Gelukkig het jy as eienaar van die gastehuis ‘n keuse. Jy mag besluit wie jy inlaat en wie nie. Dit klink tog logies dat jy toegang sal weier vir sekere gaste. Daarmee net die positiewe gaste innooi. Maar dit is nie wat die Sufi Rumi sou voorstel nie. Hy het reeds eeue terug gesê dat alle gaste verwelkom moet word, hetsy positief of negatief. “…regardless of their beauty, be grateful for whoever appeared, for each had been sent as a guide from beyond.


Hierby sluit Fransiskus van Assisi aan, as hy op sy unieke manier dit verduidelik aan die hand van ‘n tuinslak. Hy vertel hoe hy eendag ‘n slak gesien het en toe afgebuk het en hom gegroet het met die woorde: “Welkom broer slak, wat is jou boodskap wat jy vir my vandag moet gee?


Die lewe is in werklikheid ‘n gesprek met die wêreld rondom jou en binne jou. As ons dit net kan regkry om uit die middelpunt van ons bestaan te tree en bietjie aandag te fokus op die gaste in ons lewens (in watter vorm hulle ook al arriveer) sal ons dalk soos die mistieke digter van Persië, Hafiz, ook kan uitroep: “Everyone Is God speaking. Why not be polite and Listen?


Moontlik dan sal ons soos Fransiskus van Assisi geen gas te gering ag om ‘n dialoog mee te begin nie. En watter wonderlike insigte sal ons nie daagliks kry nie. Wanneer laas het ‘n sonsondergang met jou gepraat oor die misterie van die lewe? Of jou hond jou verduidelik, wat ware liefde is? Of jou jaloesie jou vertel het van selfsug?


As ons maar net meer wil luister, meer oop en bewus wil leef, sal ons verras wees vir dit wat in elke oomblik vir ons wag. Die lewe is slegs vervelig en eentonig, vir die wat nie bereid is om die gaste wat aanklop te verwelkom nie.


Ek wil graag vir elkeen die “Welcome Prayer” gee, wat ek gekry het by ‘n goeie vriend en mentor van my. Sy naam is Thomas Keating en hy is ‘n Rooms Katolieke Priester. Met hierdie gebed het ek geleer om al die gaste wat opdaag, te verwelkom.


Welcome, welcome, welcome.
I welcome everything that comes to me in this moment
Because I know it is for my healing.

All thoughts, feelings,
emotions, persons,
situations and conclusions.

I let go of my desire for security.
I let go of my desire for approval.
I let go of my desire for control.
I let go of my desire to change any situation,
condition, person or myself.

I open to Love and the presence of Peace,
and to the healing action and Grace within. Amen.


En sedert ek hierdie gebed elke oggend bid, het my lewe radikaal verander. Dit is asof die negatiewe gaste baie vinnig ander verblyf gaan soek. Miskien is dit omdat hulle nie gewoond is aan so ‘n vriendelike ontvangs nie.


Die lewe het vir my ‘n heilige plek geword. En ek verstaan nou vir die eerste keer die woorde van Rumi:

 
Life is a letter to everyone. You open it. It says, LIVE!

Dankie dat jy my toelaat!

Februarie 23, 2012 in Sonder kategorie

“Wat sal jy doen?”

“Nee, die vraag is, wat wil jy doen?”

“Ja, ja ek weet ek moet self by ‘n antwoord uitkom … maar jy is die expert! Wat sou jy doen as jy ek was?”

“Die expert van wat?”

“Jy weet … jy is die ghoeroe, die leermeester!”

“Sê wie?”

“Aag dok Abel, jy weet wat ek bedoel. Jy is die slim een met die antwoorde!”

“Nee ek weet nie wat jy bedoel nie. Ek is verseker nie ‘n ghoeroe nie en ek het verseker nie al die antwoorde nie. En enigiemand wat sou voorgee dat hy al die antwoorde het, oppas vir so iemand! Luister mooi na my – nie ek of enigiemand anders kan jou help met jou lewe nie, die meeste wat enigiemand kan doen is om vir jou ‘n spieël te wees; sodat jy self meer kan leer. Want onthou al die antwoorde wat jy soek is reeds binne jou. Gaan soek dit daar!”

“Hoekom is daar dan enigsins ‘n nodigheid vir onderwysers, sielkundiges, mentors, life coaches, shamans, ghoeroes en al die ander verskillende raadgewers? Het elkeen van ons nie op sekere tye van ons lewens iemand nodig wat ons moet leer wat ons self nie kan nie?”


“…kan ek vir jou ‘n storie vertel?”

“Sure.”


“Dit is ‘n baie ou Sufi wysheidsverhaal. Lank lank gelede in die land van die Dwase was daar ‘n verskriklike monster. Die Dwase was baie bang vir die monster. Een dag, terwyl die Dwase in die landerye gewerk het, sien een van die dwase die monster. Hy waarsku almal en hulle hardloop vinnig weg. Net op daardie oomblik kom ‘n leermeester van ‘n ander land daar aan. Hy sien al die dwase mense wat vreesbevange weghardloop. Toe hy van nader ondersoek instel, sien hy dat die sogenaamde monster eintlik net ‘n groot waatlemoen is, wat wild in die landerye groei. Hy roep almal nader en sê vir hulle dat dit net ‘n onskadelike waatlemoen is. En om vir hulle te bewys dat hy die waarheid praat, sny hy die waatlemoen oop en begin van die binnekant eet. Dit het egter die Dwase baie bang gemaak. En hulle het onder mekaar begin praat: ‘Die wrede man gaan ons ook eet!’ Hulle het hom toe doodgemaak uit vrees. ‘n Paar jaar later kom daar ‘n ander leermeester in die land van die Dwase aan. Hy was ‘n wyse leermeester. Toe hy hoor van die Dwase se vrees vir die waatlemoen monster, het hy by hulle gaan sit en saam met hulle gesels oor die verskriklike monster. En oor tyd het hy hulle stadig en bietjie vir bietjie verduidelik dat dit net ‘n skadelose vrug is. En met tyd het die Dwase self hulle vrees vir waatlemoene verloor en selfs meer waatlemoene begin aanplant. En die storie word verder vertel, dat tot vandag toe, niemand lekkerder waatlemoen konfyt kan maak as die Dwase nie! Verstaan jy dat waarheid nie noodwendig mense vrymaak nie. Net so verander feite ook nie sommer mense se ingesteldheid nie. En dit weet ‘n wyse leermeester. ‘n Wyse leermeester is juis iemand wat verstaan dat insig en antwoorde slegs sal plaasvind wanneer ‘n mens self-insig vind. Daarom verstaan ‘n wyse leermeester dat sy rol is die van omgee en luister, en wanneer nodig, moet hy ‘n spieël word waarin ‘n mens die raai-self van hom of haarself kan sien. Soos William Shakespeare dit lank gelede in sy stuk, Julius Caesar geskryf het: ‘And since you cannot see yourself (Brutus) so well as by reflection, I (Cassius), your glass, will modestly discover to yourself that of yourself which you yet know not of…


“So wat jy sê … is dat jy op die meeste ‘n gids vir my kan wees, en nie die antwoord of oplossing het nie. Maar daar is dan so baie pastore, predikante, ghoeroes en leermeesters wat wel die antwoorde gee. Kyk maar net na al die kerke en selfhelp boeke. Is godsdienste nie maar gebou op die antwoorde van een of ander belangrike leermeester nie?”


“Jy is reg. Meeste mense wil hê dat daar vir hulle gesê moet word – wat, hoe, waar en wanneer. Maar dit is nie gesond nie! Want dit beteken slawerny, afhanklikheid en gevangeniskap. In ‘n wonderlike insiggewende boek When you meet the Buddha on the road, kill him! van ‘n psigoterapeut Sheldon B. Kopp, skryf hy die volgende: ‘No meaning that comes from outside of ourselves is real. The buddhahood or Christhood of each of us has already been obtained. We need only recognize it. Thus the Zen Master warns his disciple to kill the Buddha, if he meets him.

Hiermee bedoel hy dat ‘n mens moet versigtig wees vir enigiemand wat vir jou antwoorde en redding belowe. Want niemand kan jou red nie, net jy self kan dit doen. En ja, daar is baie sogenaamde leermeesters wat met beloftes van redding en finale antwoorde te koop loop. Die hartseer werklikheid is egter, dat die oomblik wat jy jou vertroue op so ‘n iemand, oplossing, idée, ideologie, godsdiens plaas, jy daarmee saam ook jou vryheid en kreatiwiteit verloor. Jy verstil daarmee jou eie stem en word afhanklik en ‘n slaaf van iets of iemand anders se wil en waarheid.

Gelukkig is daar ook wyse leermeesters. Jy kan hulle gewoonlik herken aan hulle egoloosheid. Hulle is glad nie vatbaar vir hulle student se vleitaal of ego-streling nie. Thich Nath Hanh was so ‘n leermeester vir my. Die dag toe ek hom vanuit desperaatheid gevra het vir ‘n antwoord op my vraag na sin, kon hy wel tot sy eie finansiële, emosionele of ego voordeel, my ‘n antwoord gegee het. Ek was so vatbaar in daardie desperate tye dat ek maklik sou geval het vir ‘n maklike antwoord of oplossing. Hy kon my gebind het aan sy ego, as hy wou. Maar instede van sê wat ek wou hoor, het hy tipies Zen, vir my ‘n koan gegee. Wat ek vandag besef, eintlik ‘n sleutel tot Vryheid was. Sy antwoord op al my desperate vra was eenvoudig: ‘When you eat the orange, eat the orange.‘ En met tyd, het hierdie antwoord vir my ‘n gids geword. ‘n Rigtingwyser op my ontdekkingstog. En ek is Thich Nath Hanh ewig dankbaar vir daardie antwoord.”


“Goed, maar sou jy enigsins in daardie tye kon uitvind wie jy is en wat jou doel hier op aarde is, sonder daardie Zen ghoeroe? Weerspreek jy nie jouself nie? Want lyk vir my jy het tog iemand nodig om by die antwoorde uit te kom … al is die antwoorde dan op die ou einde binne jou!”


“Ek het nooit gesê dat ‘n goeie raadgewer nie nodig is nie. Ek het dit slegs teen leermeesters wat hulle self aanbied as die antwoord. En dan daardeur tot nadeel van hulle volgelinge hulleself verryk, materieel of emosioneel. Want so skep hulle dan die illusie dat sonder hulle waarheid, goedkeuring of raad mense verlore sal wees. Terwyl die eintlike waarheid is, dat jy niemand nodig het om lewensin en lewensvreugde te vind nie. Hierteenoor is ‘n goeie leermeester van onskatbare waarde. Maar so ‘n leermeester sal slegs van waarde wees as jy werklik besef dat hy jou nie kan red nie. Hy is slegs ‘n rigtingwyser. ‘n Mooi Boeddhistiese waarheid som dit op, “When the student is ready, the teacher will appear.” Want die realiteit van die saak is dat meeste van ons blind is vir ons ego se misleiding. En daarom is iemand wat dit kan uitwys wel belangrik.

Ek onthou so goed, die dag toe ek na ‘n lang meditasie sessie, baie trots by die Zen leermeester my visioene en goddelike insigte gaan verklaar het. Hy het geduldig na my geluister en sonder enige emosie vir my gesê: ‘I see, it’s nice to experience that … now remember to return to your breathing.‘ En daarmee het hy my spirituele ego ontmasker en ek is bevry en kon verder groei. Dit is die rol van ‘n goeie leermeester. Want sonder so ‘n hulp verval ons maklik binne ‘n eindelose misleidende binne-gesprek. Seker daarom dat Eckhart Tolle daarna verwys as: ‘The human condition: Lost in thought.

In isolasie van die afgesonderde ‘ek’ is daar meestal ‘n doellose sirkelgesprek in ‘n poging om self ‘n oplossing te vind. Die Romeinse keiser en filosoof Marcus Aurelius Antonius (121-179 nC) het gesê dat wanneer mense hulself soek maak hulle gewoonlik die fout om hulself af te sonder iewers op ‘n stil plekkie by die see of in die berge. Hy sê: ‘Dit is tog so onsinnig, want jy kan tog enige tyd toevlug neem in jouself.‘ Lao Tzu stem hiermee saam toe hy eeue terug reeds gesê het: ‘The farther you go, the less you know.‘ Dit blyk dus duidelik hieruit dat ons beste leermeesters die mense is wat in ons elke dag lewens teenwoordig is; hulle wat ons goed ken en eerlik met ons kan wees. Hulle hou gewoonlik die helderste spieël vir ons op. Verstaan jy nou wat ek bedoel?”


“Ek verstaan. Ek verstaan ook dat die beste leermeester vir my sal die een wees wat my help om my eie waarheid te ontdek. En die slegte leermeesters sal die wees, wat hulle waarheid aan my probeer verkoop of opdring. En dat ‘n goeie leermeester eintlik enigiemand kan wees, veral wanneer dit iemand is wat my help om verby my eie selfbedrog te kyk. Ek wonder net hoekom so min mense dit regkry om vanuit hulle eie innerlike waarheid te leef?”


“Ek dink een van die grootste redes is omdat ons ingekoop het op die idée dat daar iewers buite ons ‘n absolute, onveranderde waarheid is. En daarom as iemand vir ons sê dat hy of sy dit gevind het, ons naïef en goedgelowig op so iemand inkoop. En wat dan gebeur is dat dit vrees en begeerte binne ons wakker maak. Begeerte is die drang om meer te wees en om iets by te voeg. Dit het dan die innerlike gevolg dat jy vergeet jy is genoeg. En so ontstaan vrees dat jy minder gaan word, verlies gaan beleef en dit verloor wat jy glo jou meer kan maak. Sien jy raak dat hierdie eintlik die geboorte van ego is. En so verblind dit mense vir die feit dat hulle reeds genoeg is, reeds die waarheid het. Dit wat Lao Tzu beskryf as: ‘At the center of your being you have the answer; you know who you are and you know what you want.

Daarom is ‘n wyse leermeester daardie persoon wat jou help om weer te onthou. Wat jou wakker maak vir dit wat reeds teenwoordig is. ‘A true teacher does not have anything to teach in the conventional sense of the word, does not have anything to give or add to you, such as new information, beliefs, or rules of conduct. The only function of such a teacher is to help you remove that which separates you from the truth of who you already are and what you already know in the depth of your being. The spiritual teacher is there to uncover and reveal to you that dimension of inner depth that is also peace‘, omskryf Eckhart Tolle so ‘n leermeester.”


*Ek skryf hierdie rubrieke, week na week, in die hoop dat dit vir jou ‘n spieël kan wees. Dat dit jou kan vrymaak en weer herinner aan wie jy werklik is. En dat elke keer wat die stemmetjie in jou kop vir jou sê jy is nie goed genoeg nie, jy sal onthou dat jy IS. En al voel dit nie altyd so nie, jy sal onthou dat jy die EEN is wat kyk, die EEN is wat weet. Ek hoop dat my skrywes jou laat onthou, jou herinner aan jou oorsprong. Dankie dat jy my toelaat. Abel


Knowing yourself as the awareness behind the voice, is freedom.” – Eckhart Tolle

Die Hanswors en die Ondier

Februarie 16, 2012 in Sonder kategorie

Na die laaste persoon die groot sirkustent verlaat het, gaan sit Ronald die Hanswors in sy aantrek-kamer.


Ingedagte staar hy na sy eie beeld in die spieël.


Hy is bang vir hierdie alleen oomblikke na die aand se opgewonde en energieke ekstase.


Hy weet bang is dalk ‘n snaakse woord om sy gevoelens te beskryf, en met snaaks bedoel hy nie hanswors-snaaks nie. Meer onheilspellend-snaaks. Tog beskryf dit presies hoe hy voel.


Die toertjie op sy eenwiel fiets oor die spantou maak hom nie eens so bang nie. Die gevare wat hy elke aand moet trotseer is eintlik vir hom ‘n ontvlugting. Die gille en daarna die verligte handeklap, maak dit elke keer die moeite werd.


Dis asof hy net vry asemhaal wanneer die skerp ligte op hom skyn. Dis net dan wat hy werklik ‘raakgesien’ voel. Miskien sal nie almal verstaan wat hy bedoel nie. Maar vra maar gerus vir enigiemand wat al ‘n staande toejuiging of applous beleef het, hulle sal weet waarvan hy praat.


En dan die vrees wat jou pak sodra die vertoning verby is. Die leegheid wat soos ‘n ondier, grommend in die donker skuil. Gereed, dreigend en honger.


Met elke afskil van sy hansworsmasker kom die ondier sluipend nader.


Sy roetine is altyd dieselfde, eers trek hy sy geel swaelstertbaadjie (met die blou blomme op) uit.


Hy haal versigtig sy groot rooi neus af en dan is dit die beurt van sy wortelgeel pruik.


Teen hierdie tyd begin hy al die ondier se asem ruik.


Die moeisame proses van grimering afwas begin. En so saam met die grimering se laaste afvee, voel hy die ondier se tande wegsink in sy vlees.


Gewond kyk hy op na die spieël en die selfde vraag wat hy aand na aand vra, vat weer sy laaste asem weg:


“Wie is ek, sonder al my maskers?”

Die Weg van Harmonie

Februarie 9, 2012 in Sonder kategorie

Hoekom is innerlike vrede en harmonie so ‘n skaars verskynsel? Dit ten spyte van so baie geloofs- en wysheidstradisies wat beloof dat hulle die goddelike aanwysings na lewensin en vrede het.


Want kyk ek rondom my sien ek baie mense wat sukkel met depressie en angsaanvalle. Statistieke van die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsstoornisgroep wys juis dat altesaam 22 mense in Suid-Afrika elke dag selfmoord pleeg en ongeveer 220 daagliks onsuksesvol probeer. En dan wys kenners ons daarop dat hierdie statistieke ‘n onderskatting is, aangesien die meeste gevalle nie aangemeld word as selfmoord of poging tot selfmoord nie.


Die realiteit is egter dat meeste van ons ten minste een iemand (indien nie self) ken wat aan depressie ly. En die persentasie van mense wat depressief is en wat tot selfmoord oorgaan staan op 60%. Wat verder ontstellend is, is dat die afgelope 15 jaar, selfmoord veral onder 10 tot 15 jariges verdubbel het. Dus, enigiemand wat nog maklike oplossings wil gee soos “Glo net in God” of “Kom tot bekering” verstaan duidelik nie die probleem nie.


Want in Suid-Afrika is meer as 75% van die bevolking Christene. Altesaam is 98% van die bevolking gelowig. Duidelik werk die oplossings wat die verskillende geloofstradisies bied, nie teen oormatige stres, angstigheid, gevoelens van paniek en buite beheer wees nie.


En anders as wat meeste mense dink, gaan selfmoord nie oor die dood nie, dit gaan oor desperaatheid. ‘n Desperaatheid wat duidelik die laaste paar jaar weens die ekonomiese, sosiale en ander lewensveranderende gebeure, onder mense toegeneem het. Nou is my vraag, hoe kan ‘n mens hierdie innerlike gevoelens van desperaatheid beveg?


En let asb. op, ek maak ‘n duidelike onderskeid tussen kliniese en maniese depressie (Bipolêre stoornis) en depressie wat deur stress, desperaatheid, verlies, trauma en dwelmmisbruik veroorsaak word. Die mediese wetenskappe behandel kliniese of major depressie baie suksesvol; studies toon juis dat tot 80% van pasiënte wat ly aan kliniese depressie met medikasie en mediese behandeling genesing kan vind.


Die depressie waaroor ek praat, gaan oor die donker en angstige gemoedstoestande wat ‘n reaksie is op omstandighede en gebeure. ‘n Toestand wat geen medikasie permanent kan verlig nie. Ek wil dus my vraag van vroeër weer herhaal: hoekom is innerlike vrede en harmonie so ‘n skaars verskynsel?


Miskien het dit te doen met die westerse denke wat leegheid sien as iets negatief, die afwesigheid van iets. Kyk maar net na die obsessie met sukses en welvaart. Leegheid wat gevul moet word met besig wees, doelwitte, prestasies, dinge en besittings. ‘n Tipiese verskynsel hiervan is dat mense die prys van alles ken maar die waarde van niks. Kyk maar net hoe mense uiterlike dinge en sekuriteit ten koste van innerlike vrede, najaag.


Die onlangse reaksie van Japan se mense op die tsunami en aardbewing tragedie, en daarmee saam die moontlike bestraling deur sy kernaanlegte, staan in radikale kontras met hoe die weste reageer op tragedies. Die kalmte, aanvaarding en daarmee saam die inspring om te herbou, het my aangegryp. Het dit nie dalk te doen met oosterse denke en veral hulle verstaan van leegheid nie?


In die oosterse denke word leegheid gesien as positief; die leë spasie maak beweging moontlik, vanuit niks word alles gebore. Soos in Zen verduidelik word, “Empty space is what makes a cup useful. (What good is a cup that is filled?)” Vir ons westerse denke maak hierdie uitsprake nie regtig sin nie. Maar hierin lê ‘n kragtige waarheid opgesluit wat elkeen wat dit ontdek se lewe radikaal kan verander.


Om regtig oosterse denke te verstaan, is om te begin by een van hulle grootste spirituele leermeesters, Lao Tzu. Boeddhisme en vele ander oosterse wysheidstradisies kan terug herlei word na sy wysheid.


Lao Tzu het volgens oorlewing in die sesde eeu v.C. geleef. ‘n Mistieke leermeester wat dikwels uitgebeeld word in ‘n lang wit rok en sandale, ‘n ou man met ‘n grys baard, wat die grootste deel van sy tyd in meditasie deurgebring het. En soos Boeddha en Jesus na hom, altyd daar was as mense met hom wou gesels en by hom wou raad hê.


Confucius (‘n ander bekende Oosterse leermeester en staatsman) het op ‘n keer by Lao Tzu, wat op daardie stadium reeds ‘n baie ou man was, gaan kuier. Na die tyd het Confucius aan sy volgelinge die volgende gesê: “Ek weet dat ‘n voël kan vlieg, ‘n vis kan swem, en dat diere kan hardloop. Om die wat hardloop te vang, stel jy ‘n wip; vir die wat swem, ‘n vangnet; en vir die wat vlieg, gebruik jy ‘n pyl en boog. Maar om ‘n draak wat sweef op die wind te vang is bo my begrip. Vandag het ek Lao Tzu ontmoet, en hy is soos ‘n draak!” En die simbool van ‘n draak, vir oosterlinge, is die van wysheid en goddelikheid.


Die mite van Lao Tzu vertel dat teen die einde van sy lewe, hy besluit het om alleen weg te gaan. Nadat hy alles ingepak het, het hy op die rug van ‘n waterbuffel geklim en vertrek na die berge. By die Han-ku pas (op pad na Tibet) het die grenswag, met die naam Yin His (wat glo net die vorige aand van Lao Tzu gedroom het) hom voorgekeer en geweier om hom deur te laat as hy nie vir hom iets op skrif stel van sy filosofie en insigte nie. Lao Tzu het toe die Tao Te Ching (uitgespreek Dow De Jing) geskryf. Daarna het hy vertrek, en niemand het hom ooit weer gesien nie. Wel so word die legende vertel.


Die Tao Te Ching is ‘n dun bundel wat bestaan uit een en tagtig verse. Mense het hierdie bundel begin bestudeer en vanuit dit is Taoïsme gebore. ‘Tao’, as direk vertaal word beteken ‘Die Weg’. En as jy die Tao volgens Lao Tzu se filosofie wil opsom, sal ‘Die weg van minste weerstand’ seker die naaste daaraan kom. Vanuit hierdie filosofie kan iets van die optrede van die Japanese verstaan word.


Interessant van Lao Tzu se filosofie, is dat hy al sy wyshede gekry het vanuit dit wat hy in die natuur waargeneem het. Hy het byvoorbeeld ontdek dat selfs chaos ‘n delikate balans het, en dat in die natuur alles saamwerk om hierdie balans te behou. En dat net soos ‘n rivier, die mens moet vloei daar waar die minste weerstand is.


Deur die eeue het miljoene mense hierdie een en tagtig verse gebruik om vrede en innerlike verligting te beleef. En so het ‘Tao’ die omskrywing gekry as ‘Die Weg van Harmonie’. Lao Tzu het nooit enige aansprake gemaak op goddelikheid of heiligheid nie. Hy het met sy bundeltjie maar net probeer om sy filosofie deur te gee. In vele van die hoofstukke in die Tao Te Chingskryf hy dan ook dat as iemand van hom sou praat as ‘n meester, hulle nie daardeur moet sê hy was iemand wat heilig was nie, nee, hy was maar net iemand wat die verskil geken het tussen die werklikheid en sy idees oor die werklikheid.


Stephen Mitchell, ‘n Amerikaanse kenner van die Tao Te Ching, beskryf dit soos volg: “The master is just like everyone else, except that he no longer believes that in this moment things should be different than they are. Therefore in all circumstances he remains at ease in the world, is efficient without the slightest effort, keeps his lightness of heart whatever happens, and, without intending to, acts with kindness toward himself and everyone else. He is who you are once you meet your mind with understanding.


Die klein bundeltjie het egter so ‘n kragtige effek op die psige gehad dat baie mense wel daarvan ‘n godsdiens gemaak het. Daarmee saam het dit meeste van die oosterse lewens verstaan radikaal beïnvloed. Dink maar aan die Chinese se interne “Martial arts”, Tai Chi, Qigong, Feng Shui ens. Mettertyd is die Tao Te Ching opgevolg met twee ander werke, albei deur studente van Lao Tzu – Chuang Tzu en Leih Tzu. En vandag vorm hierdie drie geskrifte die basis van klassieke Taoïsme. En in essensie gaan die lering oor ‘n lewenstyl van harmonie, balans en innerlike vrede.


Hierdie eenvoudige verstaan van Lao Tzu kan natuurlik vir ons vandag baie help. Veral ons met ons oorvol, uitkoms gedrewe, aggressiewe en angstige lewens. Dit kan ons veral help om anders te kyk na die sin van die lewe. En dit op sig self kan ons uit die toestand van depressie lig.


En wat presies leer Lao Tzu?


Wel volgens hom is die Tao die verwysing na die oorsprong of bron van alles. Dit is interessant dat hy iets van evolusie verstaan het nog voor iemand soos Charles Darwin op die toneel verskyn het. Hoor hoe beskryf hy dit: “Tao gives birth to One, One gives birth to Two, The Two gives birth to Three, The three gives birth to all universal things.

As Paulus in die Romeine boek God beskryf met: “Uit hom en deur hom en tot hom is alle dinge”, beskrywe hy in essensie Tao.

Priya Hemenway beskryf Tao as volg: “It is from Tao and towards Tao that all life moves. At the beginning and at the end there is Tao. By its nature it is indefinable; it is emptiness, nothingness. It is perfectly still even while being in motion. To contemplate Tao is to contemplate the great mystery of life; to experience Tao is to have an experience which the mind cannot comprehend. To know Tao is to experience that which is eternal.


Dit alles wys op wat Lao Tzu met Tao bedoel het, “dit wat is”, die realiteit van nou. Miskien sê Stephen Mitchell dit dalk duideliker: “Tao is reality. Reality is simple. There’s nothing behind it or above it, and it holds no secrets. It’s whatever is in front of you, what ever is happening. When you argue with it, you lose. It hurts not to be a lover of what is.


Om dus vrede te maak met jou omstandighede, die gebeure daarbinne en die ontvouing daarvan in die nou. Dit is om “ja” te sê vir wat is; goed of sleg. Want eers as jy kan aanvaar wat is, kan jy vrede in die oomblik beleef. En vanuit hierdie vrede vloei daar dan ‘n krag wat positiewe invloed het op die lewe. Die filosofie van die ‘Weg van Harmonie’ kan veral mense wat moedeloos, ongewaardeer en hartseer voel, baie help. Om net enkele beginsels te noem:


Wu Wei. Die Chinese uitdrukking Wu Wei (uitgespreek woo way) kan direk vertaal word as “inspanninglose aksie” of “om te doen sonder om te doen”. In Engels vertaal “effortless action”. Met ons westerse uitkyk van produktiwiteit en prestasie sal ons dalk nie heeltemal hierdie insig verstaan nie, maar eenvoudig gestel beteken dit dat ons minder dinge moet forseer en meer vloeibaar en buigsaam moet wees. Soos Byron Katie dit sou stel: “Stop forcing life to be the way you want it to be, rather accept and let it be the way it is.


As jy ooit die voorreg het om ‘n Tai Chi meester in aksie te sien, sou jy dalk beter verstaan hoe Wu Wei werk. Met grasie en sonder enige inspanning kan so ‘n meester die grootste opponente met slegs ‘n gewrigsbeweging omdop. Hierdie inspanningslose aksie kan ook waargeneem word by ‘n sportman of vrou wat in die oomblik is en egoloos vergeet van die skare, ook genoem “flow”. Daarom indien jy sou kon leer om lig en ongeforseerd te leef, soos ‘n arend in vlug, sou baie stress en spanning vanself verdwyn.


Nederigheid. In die Tao Te Ching word die leser telkens aangemoedig “om te word soos water”. En dit beteken dat net soos water wat altyd die laagste punt soek om na te vloei, of soos Jesus sou sê “die minste wees”, ons vanuit ‘n nederige en selflose kern moet leef. Want alhoewel die see laer is as die riviere, vloei alle water tog altyd terug na die see. Om daarom soos die see te wees is om te besef dat mettertyd jy verhef sal word tot meer. Hierdie ingesteldheid kan jou baie angstigheid spaar.


Sag en buigsaam. In Stephen Mitchell se vertaling van die Tao Te Ching skryf hy: “Men are born soft and supple; dead, they are stiff and hard. Thus whoever is stiff and inflexible is a disciple of death. Whoever is soft and yielding is a disciple of life. The hard and stiff will be broken. The soft and supple will prevail.” Die les hieruit is om sag en buigsaam te leef, nie net fisies nie maar ook emosioneel – in woord en daad. Want dan word jy net soos water. En niks is sterker as die soepel krag van water nie.


Yin en Yang. Hierdie beginsels gaan oor die aanvaarding van die werklikheid, naamlik dat alles in die lewe ‘n komplimenterende teenoorgestelde het, byvoorbeeld: soet en suur, manlik en vroulik, dag en nag. Dit is nie negatief teenoor positief nie, nee, dit is meer soos twee kante van dieselfde muntstuk. Hierdie simbool herinner ons dat die lewe bestaan uit ‘n konstante siklus van geboorte en sterwe en dat die een voortvloei uit die ander – net soos die sons-opkoms gevolg word deur ‘n sons-ondergang en seisoene mekaar die heeltyd afwissel. En omdat verandering ‘n konstante proses is, is dit baie dom om in te koop op enigiets as goed of sleg. Die een het die ander nodig. Net so het jy ook ‘n skadukant. Die geheim is om balans te vind. Om geïntegreerd te leef.


Natuurlik is dit maar ook net nog ‘n manier om na ons werklikheid te kyk. Alhoewel ‘n baie sinvolle lewensfilosofie, kan dit nooit verabsoluteer word as die enigste lewensfilosofie nie. Die kern beginsels wat Lao Tzu deurgegee het kom ook in baie ander wysheidstradisies na vore.


Beginsels wat ons moderne mens kan help om weer diepte en sin te vind. Ten spyte van ‘n wêreld wat deur kapitalistiese uitbuiting, onseker ekonomieë en toenemende desperaatheid gedryf word, kan ons vanuit ‘n stil kern leef. ‘n Innerlike vrede en harmonie kan ons gids wees in ‘n deurmekaar wêreld.


Dalk is dit wat Lao Tzu amper drieduisend jaar terug probeer sê het: “In the middle of nothing, I join the Source of All Things.” En Benjamin Hoff sluit hierby aan in sy briljante boek The Tao of Pooh met:

We simply need to believe in the power that’s within us, and use it. When we do that, and stop imitating others and competing against them, things begin to work for us.

Droom jy nog?

Februarie 2, 2012 in Sonder kategorie

Kahlil Gibran: “I prefer to be a dreamer among the humblest, with visions to be realized, than lord among those without dreams.


Daar is seker nie ‘n denkende persoon op aarde wat nog nie gehoor het van die “I have a dream“-toespraak van die Amerikaanse Baptiste-prediker en burgerregte-leier Martin Luther King jnr. nie. Hierdie spesifieke toespraak van hom wat op die trappe van die Lincoln Memorial in Washington DC op 28 Augustus 1963 gegee is, het ‘n generasie se drome gemotiveer en geïnspireer.


Ek persoonlik kry elke keer hoendervleis by die gedeelte: “…I have a dream that my four little children will one day live in a nation where they will not be judged by the color of their skin but by the content of their character…


Daar is niks so kragtig soos ‘n droom wat groter is as die dromer nie. Dit is asof dit resoneer met ‘n mens se diepste wese en jou betower en inspireer om self ook groter te droom. Albert Camus noem dit: “In the depth of winter I finally learned that there was in me an invincible summer.

Dit het my weer laat dink aan my eie drome. En tot my skaamte moet ek erken dat meeste van my drome nie veel groter is as my eie, klein en selfsugtige ego behoeftes nie. Drome wat my aftrek en verblind.


Waaroor droom jy? Want dit waaroor jy droom, wys wat en wie regtig vir jou belangrik is. Dit wys in watter rigting jy na lewensgeluk en vrede soek. Dit wat jy eintlik glo jou gaan red. En dit bepaal die rigting van jou lewe.


Mohandas Gandhi omskryf dit as: “A man is but the product of his thoughts. What he thinks, he becomes.” En mettertyd skep jy aan die buitekant, dit wat in jou binnekant oorheers. Want is die uiterlike realiteit nie maar net ‘n spieël van die mens se innerlike wêreld nie?


Daar is natuurlik soveel verskillende drome soos wat daar dromers is. En soos ons maar te goed weet, een se droom is ‘n ander een se nagmerrie. Een droom van roem en bekendheid en ‘n ander droom van ‘n huisie iewers op die platteland waar net hy en sy familie in vrede, privaat kan leef. Een droom van ‘n werk en ander een droom van aftree. Hierdie drome is natuurlik ook belangrik. Maar hierdie drome lê begrens binne die dromer se vrese en beperktheid.


Die drome wat egter ‘n mense se verbeelding aangryp en inspireer tot groot onselfsugtige dade, is die drome wat ‘n mens verby die grense van die moontlike neem, nie die drome wat jou daarbinne vasvang nie. Dit is die drome waarvan Woodrow Wilson (1856-1924) die 28ste President van die VSA, praat:


We grow great by dreams. All big men are dreamers. They see things in the soft haze of a spring day or in the red fire of a long winter’s evening. Some of us let these great dreams die, but others nourish and protect them; nurse them through bad days till they bring them to the sunshine and light which comes always to those who sincerely hope that their dreams will come true.


Verstaan dat drome kragtig is en vir jou ‘n voertuig kan word wat jou kan neem na ver landskappe, plekke wat jy dalk nog nie eens van gehoor het nie. Hierdie drome kom in verskillende vorme en gedaantes na jou. Klein, groot, vaal, gewoon of indrukwekkend en oorweldigend, maar meestal weggesteek in die eenvoud van elke dag gebeure. Dit is iets van wat die Franse skrywer Albert Camus sê: “All great deeds and all great thoughts have a ridiculous beginning. Great works are often born on a street corner or in a restaurant’s revolving door.


Jy kan nie hierdie drome najaag of uitsnuffel nie. Jy kan ook nie hierdie drome steel by iemand anders nie. Die tipe drome wat jy kan skep, steel of dupliseer is nie die groot drome waarvan ek praat nie. Sulke drome is die klein en ego gedrewe drome wat teer op jou vrese.


Dis vlietende van aard en laat jou altyd onbevredig. Dink maar aan die na jaag van plesier en genot. Ons almal weet dit hou nie. Dit is ‘n onophoudelike soeke na oomblik na oomblik. Seker daarom dat die prediker (Prediker 2:11) dit so sterk gestel het: “Maar toe ek goed nadink oor alles wat ek gedoen het en oor alles waarmee ek my met soveel sorg besig gehou het, het ek gesien dat alles niks was, ‘n gejaag na wind. In hierdie wêreld bevredig niks nie.


Nog ‘n voorbeeld is, die onoorspronklike drome van rykdom en roem. Arthur Schopenhauer verduidelik die tydelike aard daarvan soos volg: “Wealth is like sea-water; the more we drink, the thirstier we become; and the same is true of fame.” Dit is asof dit ‘n onversadigde honger is wat jou verteer.

Daarom is die drome wat bemagtigend en inspirerend is, die drome wat jou nie laat fokus op mense en dinge nie maar op dit wat jou verbeelding vlerke gee. Dit wat jou kreatiwiteit stimuleer en jou siel wakker maak.


En ja, die byproduk van iemand wat sy drome vreesloos, opofferend en passievol leef is baie keer; rykdom, roem en sukses. Maar die outentieke dromer weet dat dit slegs simbole en byprodukte is. Dit is nie die doel nie, was dit nooit. Want om jou droom te vind is om vervuld te wees. Waarvan plesier en genot ‘n klein deeltjie uitmaak, maar lewensgeluk ‘n toestand is waarbinne iemand leef.


Kom ek probeer hierdie punt illustreer. Mense wat vanuit innerlike vrede en lewensgeluk leef, verstaan dat hoogtepunte en laagtepunte deel is van die lewensreis. Hulle verstaan dat hulle nie moet inkoop op een van die twee nie, want dit is ‘n tydelike toestand. Dit sal verbygaan, goeie tye maar net so ook slegte tye, dit is deel van die aard daarvan. En daarom kan geen tydelike toestand ooit werklik bevredig nie.


Maar ongelukkig verwar meeste mense die byprodukte van ‘n gelukkig lewe vir ‘n gelukkige lewe self. Meer nog, mense verwar lewensgeluk met kortstondige plesier en genot. Daarom is dit seker nie snaaks dat meeste mense nie weet wat hulle droom is nie.


Dit is soos iemand wat naarstugtelik blink glasstukkies optel en bymekaar maak maar die dowwe goudklippe miskyk. Mense gaan vir ‘n oomblik se genot en mis daardeur die tydlose vreugde. Mark Twain se woorde klink soos Grieks vir sulke mense: “The two most important days of your life are, the day you are born and the day you find out why.


Ek vra weer, waaroor droom jy? Is dit klein, nietige, tydelike behoeftes, wat in elke geval nie gaan bevredig nie. Is dit nie tyd dat jy weer aandag gee aan jou rede vir hier wees nie? Of soos die Brasiliaanse skrywer Paulo Coelho dit stel, “… it’s just a matter of paying attention…” Jy het daagliks besoeke van die muse. Jy moet net wakker wees daarvoor!


Nothing happens unless first we dream.” sê Carl Sandburg. Wees wakker genoeg om bewustelik teenwoordig in jou eie lewe te leef en jy sal bewus word van die sagte plukkies aan jou siel. Die uitnodiging tot ‘n droom wat groter as jy is. Kan jy dit al voel? Nog nie? Wel dan, maak meer tyd vir stilte. Dit is en was nog altyd daar…


En wat gebeur as jy jou droom, wat groter as jy is, vind of eerder ontvang? Dan moet jy vreesloos wees. Want dit is die begin van die grootste avontuur van jou lewe. Hoekom vreesloos? Want hierdie droom se lig is so helder dat meeste van ons daarvoor skrik en wegdraai daarvan.


En ja, meestal sal ander mense jou ontmoedig. Want net soos jy het hulle ook geskrik vir hulle drome. En omdat hulle hard probeer om daarvan te vergeet en daagliks dit onderdruk, ontstel dit hulle, as jy blinkoog van jou drome praat. Dit herinner hulle aan hulle drome. Daarom is die instinktiewe reaksie van hierdie droom-onderdrukkers, om ander se drome af te skiet en te ontmoedig. Douglas Adams se skerp humor sê dit so raak: “He was a dreamer, a thinker, a speculative philosopher … or, as his wife would have it, an idiot.


Die vrees binne ons dat ons drome onvervuld sal bly of dat ons sal misluk verlam ons in so ‘n mate dat ons niks doen nie. Hierdie vrees is natuurlik by alle dromers teenwoordig. Geen mens is sonder hierdie self-vertwyfelings nie. Selfs die groot dromers onder ons wat vreesloos hulle drome verwesenlik het, moes eers hierdie vrees oorwin.


Nelson Mandela is so ‘n voorbeeld, “I learned that courage was not the absence of fear, but the triumph over it. The brave man is not he who does not feel afraid, but he who conquers that fear.” Paulo Coelho sluit hierby aan met: “Tell your heart that the fear of suffering is worse than the suffering itself. And no heart has ever suffered when it goes in search of its dream.


Ek wil elkeen wat hierdie woorde lees, weer herinner aan sy of haar droom. As jy dit te lank onderdruk het en vergeet het wat dit is, moenie moed verloor nie. Begin maar net weer doen waarvan jy hou. Spandeer weer tyd by jouself en jou geliefdes. Kyk minder TV en hou op om aan die slaap te leef.

Want dit is nie jou droom wat verlore is nie, dit is jy!


En wanner jou droom jou weer besoek en onverwags vul met energie en passie, hou dan vas! Moenie bang wees nie. En moet veral nie na mense wat self nie hulle droom leef, luister nie.

Luister eerder na iemand soos Martin Luther King, jnr. Hy is vermoor vir sy droom. Ja, die dromer is vermoor, maar die droom leef voort. Sy droom het leiers soos Mandela en emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu geïnspireer en hulle inspireer weer vele ander.

Onthou die droom is altyd groter as die dromer; indien nie, is dit nie die regte droom nie!


Droom en gaan dan uit en leef jou droom waar. Droom my mede dromer, droom groot!

Vrydenkers en Vrygeeste

Januarie 26, 2012 in Sonder kategorie

Dit is vir my al meer duidelik dat meeste mense in Suid Afrika (en wêreldwyd) nog steeds vasgevang sit binne ‘n kudde-mentaliteit. Hiermee verwys ek spesifiek na die onvermoë van meeste mense om vir hulle self te dink. Of dit nou ‘n onkritiese na-dink, na-praat, na-volg of na-doen van godsdienstige of politieke leiers is – die feit is, meeste mense is nie vry genoeg om ‘n enkele kreatiewe gedagte toe te laat nie.


Dit is seker omdat ons van kleins af so geleer is, nee, geïndoktrineer is; om te glo dat eie denke altyd ondergeskik is aan die kultuur, geloofstradisie en “waarheid” van die dag. Daardie idee dat net diegene wat soos die kudde dink en doen aanvaarbaar is. Dit is ook hoe ek grootgeword het. My skool- en universities-opleiding was tipies hiervan. Ek onthou selfs die dag toe ek my Afrikaanse opstelpunte teruggekry het, en my Afrikaanse juffrou gesê het ek sal nooit ‘n ‘A’ kry vir sulke opmaak-stories nie. Iets van my kreatiewe gees het daardie dag groot skade gely.


En in my studentejare is ek net verder ontnugter toe ek agterkom dat die ongeskrewe reël vir goeie punte is, jy moet die dosent so akkuraat moontlik na-dink en na-praat. Geen beloning vir kritiese denke nie. Dink maar net hoe kreatief en vreesloos sou mense gewees het as ons amptelike onderrig eerder gebaseer was op die Amerikaanse joernalis, skrywer en digter Christopher Morley (1890-1957) se sienings. Hy het net voor sy dood die volgende geskrywe wat dit goed saamvat: “Read, every day, something no one else is reading. Think, every day, something no one else is thinking. Do, every day, something no one else would be silly enough to do. It is bad for the mind to continually be part of unanimity.


‘n Ander voorbeeld is Walter Lippmann (1889-1974), ook ‘n Amerikaanse joernalis, skrywer en filosoof wat gesê het: “When all think alike, then no one is thinking.” Hoe anders sou ons wêreld nie gelyk het as hierdie mense se woorde deel was van elkeen van ons se opvoeding nie. Vrydenkers sou heelwaarskynlik die norm gewees het, en nie die buitestaanders, soos die werklikheid vandag daar uitsien nie.


Soos meeste mense het ek ook van vroeg af probeer om by die reëls te hou en te konformeer, maar dit het nie gehou nie. Reëls was altyd vir my ‘n probleem. Ek is baie keer gesê dat ek moedswillig is. En dit het my altyd laat voel soos ‘n buitestaander. Dit was eers jare later dat ek besef het dat hierdie kudde-mentaliteit my en baie Afrikaners groot skade aangedoen het. Dit wat J. Krishnamurti verwoord het as: “It is no measure of health to be well adjusted to a profoundly sick society.


Gelukkig vir ons was daar altyd ‘n individu of twee, wat getrou aan hulle gewete by hulle oortuigings gebly het, ongeag persoonlike benadeling, verwerping of skade. Hierdie mense was meestal uitgedruk en as buitestaanders gebrandmerk. Friedrich Nietzsche omskryf hulle so: “The individual has always had to struggle to keep from being overwhelmed by the tribe. If you try it, you will be lonely often, and sometimes frightened. But no price is too high to pay for the privilege of owning yourself.


In my eie lewe het ek ook te doen gekry met vrydenkers en vrygeeste. Hulle woorde en dade het my geïnspireer en gehelp om myself te aanvaar. Selfs vandag nog ontmoet ek gereeld vrygeeste wat my aanspoor om self ‘n vrydenker en nonkonformis te wees. Ek het ook geleer dat ander mense se eerlike twyfels en soeke my inspireer om dieselfde te doen. En baie van hierdie mense wat ek ontmoet is nie noodwendig bekend of radikaal anders nie. Nee, ek’t gou agter gekom daar is soos enigiets in die lewe, verskillende grade van vrydenkers en nonkonformiste. Sommiges beur teen die grense van die aanvaarde en ander deurbreek die grense. Net soos daar uitgesproke en aktiewe vrydenkers is, is daar ook swygende en passiewe vrydenkers.


Daar is vrydenkers wat die geskiedenis radikaal beïnvloed en daar is die wat ongemerk verbygaan. Vrydenkers verskyn in verskillende gedaantes op die toneel; van aktiviste, politici, filosowe tot kunstenaars. Nietemin speel elkeen ‘n belangrike rol. ‘n Paar gunstelinge van my is:


George Bernard Shaw (1856-1950), ‘n Ierse dramaturg en ‘n mede stigter van die London School of Economics. Hy is die enigste persoon wat in die geskiedenis ‘n Nobelprys vir Letterkunde en ‘n Oscar ontvang het vir sy werk. Shaw was ook openlik ‘n buitestaander en nonkonformis. Hy het sy Nobelprys geweier maar word later deur sy vrou oortuig dit kan as ‘n huldeblyk aan Ierland gesien word. Hy was ‘n vurige vegter teen uitbuiting van die werkersklas. Hier is iets van hom: “A life spent making mistakes is not only more honorable, but more useful than a life spent doing nothing.


Franz Kafka (1883-1924) ‘n Duitse romanskrywer. Kafka se werke het merendeels ná sy dood bekend geword. Tans word Franz Kafka as een van die invloedrykste skrywers van die 20ste eeu beskou. Hy het onder andere die volgende gesê: “All great truths begin as blasphemies.


Jean-Paul Sartre (1905-1980) was een van die belangrikste Franse filosowe en een van die hooffigure van die Franse eksistensialisme. Wat my so na Sartre aantrek, is sy eerlikheid oor sy buitestaander posisie. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is dat hy ook geweier het om die Nobelprys vir Letterkunde in ontvangs te neem, sy rede was dat hy daardeur van sy Vryheid sou verloor om te sê wat hy wil. Een van sy wonderlike wyshede was: “Freedom is what you do with what’s been done to you.


Albert Camus (1913-1960), ‘n Frans-Algerynse skrywer en joernalis. Hy het ook die Nobelprys vir Letterkunde ontvang. Hoor hoe hy sy buitestaander en vrydenker identiteit verstaan: “Don’t walk behind me; I may not lead. Don’t walk in front of me; I may not follow. Just walk beside me and be my friend.


En dan meer onlangs, nader aan my vel. Wie sal kan vergeet hoe die tagtigs gekenmerk was deur vrydenkers wat teen die denke en gees van die tyd ingegaan het. ‘n Groep individue wat na Dakar vertrek het om met die ondergrondse ANC te gaan praat, na die politieke skuif waarin Van Zyl Slabbert uit die parlement geloop het. Alhoewel in die minderheid, het hulle seer sekerlik die weg gebaan vir dit wat gevolg het.


Ook die herlewing van Afrikaanse musiek wat aan die einde van die tagtigs deur die Voëlvry-beweging ingelei is. Die Voëlvry-beweging wat gekenmerk was deur ‘n verset teen die kudde-mentaliteit wat so sigbaar was in ons politieke stelsel en Calvinisties nasionale breinspoeling van die tyd. Hierdie rock rewolusie is ingelei deur vrydenkers en nonkonformiste soos o.a. Johannes Kerkorrel, Koos Kombuis en Bernoldus Niemand.


Daarom is ek so dankbaar vir al die vrydenkers, nonkonformiste en meestal buitestaanders wat eerlik en openlik hulle waarheid leef. Ek besef dat hulle is meestal hoogs individualisties en alleenlopers. Maar sonder hulle kritiek en uitwysing van alles wat bydra tot die verontmensliking, afstomping en ontkenning van eie denke, sal dogmas, ideologieë, sosiale strukture wat mense nommers en kommoditeite maak, altyd heers. Hulle is die wat konstant besig is om grense af breek; om teenoorgesteldes by mekaar uit te bring en om ‘n nuwe logika oor die lewe te vind.


Aanvanklik het my ‘van die kudde’ afskeid neem nie op ‘n dramatiese wyse plaasgevind nie. Dit het oor ‘n verloop van tyd gebeur. Maar nog voor dit uiterlik sigbaar was het dit al my hele lewensloop bepaal. En op ‘n dag kon ek dit eenvoudig nie meer wegsteek nie, veral nie vir myself nie. En ek het gerebelleer, teen dit wat in my lewe die kudde mentaliteit verteenwoordig het, die kerk. Ek het bedank as NG predikant, bedank as NG lidmaat, bedank as Christen en bedank as konformis, bedank as een van die kudde. Daardeur het ek my vryheid en kreatiwiteit gevind.


Dit was my lot, en my keuse, om ‘n vrydenker te wees, ‘n buitestaander, innerlik op ‘n afstand van die kudde. Dit het al hoe meer vorm begin gee aan my lewe en nou ook die koers daarvan. Dit het veroorsaak dat ek tot op hede wel baie dinge het waaroor ek jammer is en graag sou wou anders doen. Foute wat ek gemaak het, skerp woorde waarvoor ek nie verskoning gevra het nie, medemense na wie ek nie uitgereik het nie, arrogansie toe ek nederig moes gewees het en baie woorde toe ek eerder meer moes gedoen het. Maar die een ding waaroor ek geen berou het nie, is dat ek nie meer een van die kudde is nie, dat ek dit nie kan wees nie en nooit weer sal wees nie.


Wêreldwyd is daar ook al meer die wegbeweeg van die kudde-mentaliteit se onkritiese aanvaarding van gesag. Dink maar aan die “Occupy Movement” wat nou ‘n wêreldwye beweging is. Dit het ontstaan vanuit ‘n protes-optog in Spanje op 15 Mei 2011. Die protes was ‘n reaksie teenoor die ekonomiese situasie en veral die banke en eienaars se selfverryking en ondeursigtigheid. Hierdie beweging kring vinnig uit na ander Europese lande en spoel oor na Amerika se “Occupy Wall Street” betogings. Die eerste internasionale Aksiedag is gehou op 15 Oktober 2011. En hierdie beweging is nou wêreldwyd en groei by die dag.


Dit is soos Alan Keightley (1843-1926), Amerikaanse politikus, dit stel: “Once in a while it really hits people that they don’t have to experience the world in the way they have been told to.” Dit is net jammer dat in die populêre Afrikaanse kultuur nog min van hierdie kritiese selfdenke teenwoordig is.


Dit het egter nou tyd geword dat ek en my mede vrydenkers die grense moet oorskry en die noodsaaklike teenwig vir versmorende kuddementaliteit moet word. Ons moet die agente van vernuwing en hervorming wees, daar waar ons leef en werk. Natuurlik, sonder om te wil voorskryf hoe mense moet dink en voel. Anders is ons nie veel anders as die wat ons verdruk het nie. Om ‘n vrydenker te wees wat mense probeer help om vry te word, moet ons vanuit ‘n ingesteldheid werk waarvan Karin Armstrong praat: “Look into your heart, discover what it is that gives you pain, and then refuse, under any circumstance whatsoever, to inflict that pain on anybody else.


Kom ons verkondig hierdie eenvoudige, voor die hand liggende boodskap: Dink vir jou self! En weet dat wanneer mense dink, bly die gemeenskap aan die lewe. Soms vat dit net een idee of woordjie om iemand wat vasgevang is, vry te maak. Maar meestal vra dit van vrydenkers om hulle waarheid te leef.


The only way to deal with an unfree world is to become so absolutely free that your very existence is an act of rebellion.” – Albert Camus