by Vloei

Laasnag

Mei 29, 2012 in Sonder kategorie

Die Suiderkruis het omgeval met die wysers na bo en Koue het haar neergevlei langs my sodat Slaap noodgedwonge moes padgee. Dit was die laaste paar ure voor dagbreek en Stilte se jas het oor alles gehang. In die dowwe sterrelig rondom my was die landskap ‘n mengsel van donker en minder donker etse, ongefokus self na ek my bril opgesit het.

 

Voornag het ons rondom die vuur gesit en luister na die hienas se geroep. ‘n Paar wildebeeste het onrustig geproes en die praat het saam met die vuur doodgegaan. Net die rook en die laaste indrukke het vir ‘n rukkie rondegehang voordat Slaap ons kom haal het.

 

Nanag het ek my nuwe bedmaat se kokketerigheid probeer ignoreer deur my mussie oor my ore te trek en my serp stywer om my nek te draai. Sy’t vir oulaas haar naels oor my rug getrek en die rilling was nie een van genot nie! Mymer is ‘n ou woord maar dis wat ek gedoen het voordat Slaap so ongemerk soos ‘n seisoenwisseling Koue se plek weer oorgeneem het en my gedagtes soos verf deurmekaar laat vloei het.

 

Later die oggend met die terugstap, het ons die Grootpote se spore bo-oor ons eie spore van die vorige dag gekry en vir ‘n oomblik was die lewe soos dit moes wees.

by Vloei

Ver paaie

Februarie 23, 2012 in Sonder kategorie

Hierdie was een van daardie ver paaie wat in die niet verdwyn. Iewers in die Karoo het ons oor hom gevlieg, kan nie meer onthou waar nie. Dit maak die reiseger los in my………….

by Vloei

Vloei se roei

Desember 17, 2011 in Sonder kategorie

Jy kan nie onderwater asemhaal nie. In elkgeval nie op die konvensionele manier nie ( dis nou sonder duiktoerusting en sulke goed). Ek het teen wil en dank dit probeer met amperse noodlottige gevolge en in die proses ‘n waardevolle les geleer.

 

Die Bivane en Pongola se samevloeing vorm die noordelike grens van Itala natuurreservaat. Veertig kilometer stroom-op het ons ingeklim onder die Bivane damwal. Ons het verkenning gaan doen vir die Itala Chalange kanoe marathon wat 2 weke later daar sou plaasvind. Die water was hoog maar nie hoog genoeg nie. Dit het die roete baie tegnies gemaak en jy moes jou pad mooi kies in die stroomversnellings.

 

Die 1ste paar stroomversnellings het dit goed gegaan. By die vlg. stroomversnelling het die rivier ‘n paar meter geval en skerp na links gedraai. Ek het ‘n rots geslaan wat my omgedop het en die volgende oomblik is ek kayak en al onder die water ingedruk teen die oewer op die draai. In plaas daar van om my splash cover te trek en uit te kom het ek probeer rol en opkom, teen die geweld van die rivier in. Ek het water gesluk en toe het paniek toegeslaan….. Ek het gevoel hoe iemand my aan die hand beetkry en toe trek ek vir Steve skoon uit sy boot onder die water in. Meer water gesluk, kry nie asem nie, waar’s die ouens,help my, help my!!!!!!!

 

Ek was besig om te verdrink en ek kan jou verseker dis nie baie lekker nie. Ek kon nie meer nie toe dit deur my benewelde brein dring; “ Trek jou splash cover!” Die volgende oomblik was ek uit en soet lug gedrink tussen die geproes om my lugweg oop te kry. Dit was amper. Baie amper……..

 

Op die sandbank waar ons daardie aand gekamp het, het ons die dag se insidente ontleed en bespreek. Toe sê Nils (alias Kapt. Barbosa) iets wat my tussen die oë tref: “ Moenie wag dat iemand jou kom red nie, red jouself!” Dit was natuurlik binne die konteks van my insident gesê maar wat my getref het is hoe waar dit is in die lewe oor die algemeen.

 

Moenie in selfbejammering wag dat iemand jou moet help en in die proses verdrink nie ……trek jou splas cover!!!! 

 

by Vloei

Weer

Junie 6, 2011 in Sonder kategorie

Die vlieswolkies was vir twee dae uitgestreep teen die blou en vanoggend is die front hier in al sy mistroostigheid. Dit was Eric wat my geleer het van die voortyding wat daardie cirrus wolke bring….binne 48 uur volg die suidwester soos ‘n hond op die spoor.

 

Ons het in Richardsbaai se hawe gewag dat die wind moet draai. Tavana Kiki het onder haar waterlyn gelê met vars water en kos vir ‘n reis wat twee maande sou duur en vir my by Reunion Eiland sou eindig. Gedurende daardie twee maande het ek besef wat dit is om aan die elemente uitgelewer te wees. As die barometer begin val nog lank voor daar wolke op die horison is en die wind gaan lê, kon jy maar weet ‘n kwaad see was oppad. Dan was daar die koorsagtige haas om die genoa te laat sak, die stormseil in sy plek te span en die hoofseil in te kort. Alles los op die dek is vasgebind en die luike toegetrek en dan die benoude wag vir die onvermydelike.

 

Maar dit was lank gelede en ek is weer terug in die bos met my voete op vaste grond. Ek lees nog steeds die weer daagliks en vind dit ‘n fasinerende onderwerp. Daar is soveel veranderlikes wat ‘n rol speel en mikro klimaat is ‘n wetenskap op sy eie. Is dit nie verbasend oor watter groot invloed die weer op ons gemoedstoestand uitoefen nie? As ons nie weet wat om te sê nie praat ons gewoonlik oor die weer. Blykbaar is die Britte meesters op daai gebied!

 

Was dit een van die groot Sjinese wysgere wat kwansuis sou sê: “If you want to be known as a credible man, never speak about the weather.”? Nou wonder ek hoekom ek díe onderwerp aangehaal het?

by Vloei

Waar’s jy die 15de?

Junie 2, 2011 in Sonder kategorie

Waar gaan jy wees op die aand van die 15de Junie? As niks onvoorsiens gaan gebeur nie sal julle my kry met my verkyker en ‘n fles polisiekoffie iewers tussen Mawana en Mphakana. Hopelik gaan dit ‘n wolklose aand wees want sien…….dis ‘n volle maansverduistering. Dis die moeite werd om dit te beleef. Selfs in die stad sal dit ‘n ervaring wees. Hoop julle kan dit ook maak.

by Vloei

‘n Haiku aan my seuns

Mei 22, 2011 in Sonder kategorie

 

Net ‘n rukkie gespaar van die pyn van ou wonde,

twee seunskinders, die bos en hul honde

met die bitter wete in my

die tyd gaan verby

 

by Vloei

Tydsberekening

Mei 10, 2011 in Sonder kategorie

 

 

Twee honderd kilometer per uur reguit onder-toe, vlerke teruggevou vir maksimum spoed, kloue teruggetrek, fokus absoluut. Breukdele voor impak, vlerke oop, stertvere uitgesprei en af, kloue uit en spiere gestaal vir die trefslag. Hard genoeg om die dassie se rug te breek maar berekend genoeg om homself nie te pletter teen die kranse te vlieg nie. Tydsberekening bepaal lewe en dood vir beide dassie en witkruisarend.

 

Jou voorbereiding en beplanning mag foutloos wees, maar as jou tydsberekening uit is, is jy,kan ek maar sê, in jou moer in. Of jy nou dans, musiek maak, liefde maak of dood maak, tydsberekening is die laaste bepalende faktor tussen sukses en mislukking.

 

Ons was nie meer as 900 voet bokant die grond nie. Die wind het die Icarus rondgepluk en Eben het net besluit om om te draai toe ons begin val. Tyd word in filmraampies in jou geheue vasgebrand. “Soek ‘n pad om te land!” het hy bokant die enjin se huil geskree terwyl hy die petrol oopgestoot het, stok teruggtrek het met die skroef op vol pitch.

 

Die neus was op maar die hoogtemeter het agteruit geloop. Onder ons het die gebroke landskap van die Oos-Vrystaat te vinnig nader gekom. Daar was ‘n swaar loodgevoel op die krop van my maag. Die volgende oomblik het hy die stok links en af gedruk en ons was neus af oppad grond toe met die wind van agter. Langs Eben het ek in ‘n emosielose waarnemer verander. Op ‘n honderd voet was dit vol flappe en stok terug. In grondeffek het die Icarus die saamgepersde lugkussings onder sy vlerke gevoel en ons het meters bokant die koue rotsblokke verby geflits. Voet vir voet het ons ons hoogte weer terug geworstel.

 

Ek kon jou ‘n ander storie vertel het waar tydsberekening ook die hoofrol gespeel het met ‘n donkerkop meisiekind wat ‘n deel van my hart gesteel het, ‘n telefoon oproep en ‘n self-gekomponeerde liedjie maar daardie storie was meer rampspoedig as bogenoemde! Natuurlik mag dit, gesien uit ‘n ander hoek, uiters komies wees maar ek lek nog steeds my wonde. Ek sal dus volstaan met my vliegstorie sonder om enige gevolgtrekking te waag, want sien ….. ek leer nog.

by Vloei

Spore

April 15, 2011 in Sonder kategorie

Spikkelkat was naby ons vuur gewees. Ons het sy rasperstem vroeg die vorige nag gehoor. Die volgende oggend het sy spore in die rivierloop onder ons kampplek gele. In riviersand kan spore bedrieglik groot voorkom, maar hierdie een was regtig groot! Meeste van die tyd is dit al wat jy sal sien van luiperd se kind…. sy spore. Later die dag het ons op die groot spore afgekom. Seb het met ontsag sy voet binne-in die olifantspoor gesit en sy kop geskud. In Switserland is daar nie iets wat daarmee vergelyk kan word nie!

Spore vertel hulle eie storie maar dit vat ervaring om dit te kan lees en om die spoor te lees moet jy die omgewing ken. Dis onnosel om spore op sigwaarde te probeer uitle!

 

Hy’t diep spore getrap, sy het spoorloos verdwyn, iemand het die spoor byster geraak….en so kan ons aangaan. Afrikaans is vol idiomatiese uitdrukkings waarin die woord “spoor” voorkom. Hoe dan anders? Ons voorbestaan en oorlewing het tot ‘n groot mate daarvan afgehang. Ek se “het”, maar vandag is dit nog netso belangrik, net op ‘n ander manier.

 

Maar nou moet ek spore maak voor ek meer filosofies raak as wat ek wou!!

 

 

 

 

by Vloei

Ode aan ‘n boom

Maart 31, 2011 in Sonder kategorie

 

Ek het die boom daar gekry, teen die westehang van die rand. Dit was warm en die son het dooierus gevat op my. Ek het sy digte kroon op ‘n afstand gesien en aangestryk soontoe, tussen die sekelbosse en vervloekte knapse-kêrels deur. Sy skaduwee het my soos ‘n magneet aangetrek. Eerste indrukke is blywend. Sy dik, knoetserige stam het van ‘n ander, ouer tyd getuig. Tyd en die elemente het sy letsels gelaat. Karakter gevorm deur breek en hergoei, droogte, weerlig en tallose veldbrande.

 

Sy kroon was wyd gesprei en die blare welig. Die koelte was ‘n welkome lafenis en aan die omgedolwe grond kon ek aflei dat ek nie die eerste was wat hier kom skuiling soek het nie. Wildebees, koedoe en vlakvark se spore het daar gelê. Teen die stam was die naelmerke van ‘n groot ou spikkelkat. Op die naat van my rug het ek gelê en opgekyk na die takke wat die ou wildevy soos arms oor my gehou het. “Hoeveel honger het jy gestil met jou vrugte en lower? Hoeveel het skuiling in en onder jou gevind?” het ek gewonder. “Wat het jy alles in jou leeftyd gesien?”Die boom moes honderde jaar oud wees. Teen die hang is die grond vlak en arm. Niks groei vinnig hier nie!

 

Ek moes hom klim. Vanuit die boonste takke het ek met ontsag gekyk na die uitsig waaroor hierdie boom gewaak het. “Hoe anders moet dit nie wees om ‘n statiese organisme te wees nie.” Het ek gedink terwyl ek afgeklim het. Ek het my natgeswete hoed opgesit en weer begin aanstap onder die ongenaakbare son. Ek het terug gekyk en gesien die blare roer in ‘n sagte briesie.

 

 

 

 

 

 

 

by Vloei

Droog

Maart 10, 2011 in Sonder kategorie

Wanneer die maroelas en wag-‘n-bietjies se blare hang kan jy maar weet dis warm en dit het lanklaas gereen, maar as ‘n gwarriebos verlepperig begin lyk is dit droog. Groen het begin om sy groen te verloor en die oggenddou het opgehou. Selfs die paar yl wolkies wat agtermiddae op die westewind aangedryf kom, bied min hoop. Vreemd hoe uiterstes in mekaar kan vervloei sodat mens skielik op ‘n dag opmerk dis nie meer soos gister nie.

Gister se reen het plek gemaak vir vandag se son wat alles probeer doodskroei. Die opdrifsels van Desember se vloed is die enigste herinnering van ‘n koeler, natter tyd waar daar nou nog net poele staande water groenerig le en verdamp in die rivierloop. Die olifante het begin om syfergate te grawe vir skoner water. Zoeloeland se groen is besig om weg te bak in die nasomer son.

My laaste slukkie water in my waterbottel is lou as ek dit in my keel afgooi. Het jy al geproe hoe hemels daai laaste bietjie water kan wees wanneer dit regtig droog is?