Profile photo of Vloei

by Vloei

Kayalami Kronieke: Slang Stories

Julie 22, 2013 in Uncategorized

Van die oudste geskrifte praat van die slang in die paradys. Die slang versinnebeeld die bose. Dis moeilik om nie onwillekeurig te gril wanneer jy daardie koue glimlag van ‘n mamba sien nie. In die diepste groewe van ons grysstof is die oervrees neergelê vir Satan se kind. Die vrees vir die slang is ‘n natuurlike oorlewingsdrang wat deur tyd in ons wese ingebrand is. Kyk maar na ‘n bobbejaan se reaksie wanneer hy ‘n slang gewaar. Miskien is dit sy anderssoortigheid wat wat hom so gevrees maak maar tog is die slang ‘n belangrike skakel in die ekologiese ketting en is dit ‘n fasinerende dier.

Maar die storie wat ek eintlik wil vertel gaan oor die sondeval in Kayalami paradys. Ou-Kersaand van 2010 het ons gaan braai  by die klipplaat. Om vir die gemis aan ons vriende en familie op te maak het ons ‘n lekker groot vuur gemaak op ‘n deel van Oom Karools se plaas waar die spruit oor ‘n groot klipplaat loop met ‘n uitsig op die berg en daar gebraai. Die meisiekinders het soetgoed gemaak en ons het ‘n paar bottels wyn ook saam genooi. So teen 11uur die aand is ons terug by die huis en Francesca is na haar kamer toe om ‘n warmding te gaan aantrek.

Ons klomp was in die kombuis besig om die teramiso vinnig minder te maak toe sy grootoog daar aankom en sê daar is iets in haar kas wat raas. Ek het gespot en gesê dis waarskynlik net nog ‘n padda (ons het juis op daardie stadium ‘n plaag van skurwe paddas beleef) maar het nietemin gaan kyk. Gewapen met ‘n stok (net vir die wis en die onwis) is ek na haar kamer toe. Sy het my beduie waar sy ‘n geritsel gehoor het.  Ek het die sak versigtig met die stok opgelig en daar opgekrul in haar kas het ‘n mamba met ‘n koue smaail op sy smoel gelê! Ek het die kamer vinnig ontruim en myself gaan herbewapen met ‘n .22 geweertjie en is toe terug om die gevaar te neutraliseer.

Die resultaat was ‘n dooie mamaba net kort van 3 meter. Ek gril nou nog as ek dink hoe anders díe storie kon verloop het.Dis nou drie jaar later en ons het nooit weer ‘n mamba in die huis gehad nie. Miskien het dit iets te doen met die feit dat hy na ‘n noukeurige nadoodse ondersoek in die pot beland het en toe in ons mae.

Dit het beslis  aan ons ‘n sekere reputasie toegeken onder die plaaslike omgewing se mense wat hulle vermoede bevestig het dat die klomp apie navorsers wel die kluts kwyt is!

Aangeheg is ‘n paar fotos wat my storie dalk meer geloofwaardig sal maak. Vrede.

 

Braaf na die tyd

Profile photo of Vloei

by Vloei

Kayalami Kronieke: Makmaak

Junie 26, 2013 in Uncategorized

“Habituation” is ‘n term wat beteken om “gewoond gemaak” te word. Dit is die kruks van die navorsing wat hier by Kayalami gedoen word. Wat díe projek uniek maak is dat ons eksperimentele navorsing op primate doen wat nie in gevangeniskap leef nie. Om dit reg te kry moet die diere se vertroue gewen word deur middel van bogenoemde proses.

Elke oggend voor sonsopkoms is jy uit om die blou apies te soek waar hulle in die boomtoppe sit en opwarm in die son se eerste strale. Daarna volg jy hulle so naby as wat jy hulle jou toelaat  gedurende hulle daaglikse roetine tot hulle weer bome opsoek om te gaan slaap. So word die proses herhaal totdat jou volgafstand so gekrimp het dat jy op die ou ent tussen hulle kan rondloop sonder dat hulle jou as ‘n bedreiging beskou. Dit kan maande en selfs jare neem en verg ‘n sonderlinge tipe persoon met die nodige passie en geduld om die proses suksesvol uit te voer.

Die eerste jaar van die projek was spesifiek gefokus op die gewoondmaak proses en ons het op ses veskillende troppe gewerk wat binne ons navorsingsgebied van ongeveer 3000ha geval het. Daagliks het ons twee-twee uitgegaan agter die verskillende aaptroppe aan en teen die einde van die dag met gemengde gevoelens en stukkende klere terug gekeer na Kayalami. Zoeloeland het min genade met sy sekelbos en Acacia tortillis boskasies, bosluise en bloedige hitte.Dis die klein beloninkies wat jy jouself gun wat die lewe die moeite werd maak. Daardie koue bier wat gedeel is saam met ‘n snaakse storie of twee teen sononder, was salf op die krapmerke, bytplekke en gekneusde gemoedstoestand.

Na amper twintig jaar se diens in die formele bewaringsektor en ‘n huwelik van amper tien jaar wat op die rotse geloop het, het ek alle standvastigheid verruil vir die onsekere bestaan van selfbekikkingsreg (elke Afrikaner se droom of nagmerrie) of soos die Engelsman sê: “self employment”. Vir ‘n jaar het ek regoor Suid Afrika lugopnames gedoen op uitheemse/indringer plante vir die Lanbou Navorsingsraad. Toe die fondse opdroog vir die projek, het ek na Richardsbaai verskuif en vir twee jaar op ‘n klein seilbootjie gebly terwyl ek werk gesoek het, my studies voltooi het en los werkies gedoen het om my spaargeld wat vinnig besig was om uit te loop, aan te vul.

Dit was gedurende díe tyd dat ek tot die besef gekom het dat ek vir my eie heil moet sorg en so is die huidige projek verwek en ‘n jaar later gebore. Hoe ek op Oom Karools en sy plaas afgekom het is ‘n storie vir ‘n ander keer, maar wat ek wel kan byvoeg is dat ek teen daardie tyd goed gekneus was deur die lewe se stampe en stote. Die proses van “habituation” is, soos ek reeds gesê het, ‘n stadige een maar juis daarom so effektief. As jy weer kyk, dan speel die klomp klein apies rondom jou en die ou mannetjie blaf nie meer sy waarskuroep as hy jou gewaar nie.

Waar ek gesit het by die vuurmaakplek so entjie van die huis af, was ek moeg na ‘n dag se harde loop, en hartseer in my verlange na my seuntjies daar ver in Pretoria. Sy het langs my kom sit en sonder woorde haar sigaret vir my aangegee. Vir ‘n rukkie het ons woordeloos gesit en rook en toe oor die dag se gebeure gesels. Sonder dat ek dit besef het, was daar ‘n andersoortige  « habituation »  proses besig om te gebeur.

 

Profile photo of Vloei

by Vloei

Kayalami Kronieke: Metamorfose

Junie 16, 2013 in Uncategorized

‘n Landskap word gevorm deur verwering. Water, wind, temperatuur en pote kerf gedurig aan die omgewing om dit die unieke voorkoms te gee wat ons op ‘n gegewe tydstip waarneem. Op die oog af lyk dit staties, tydloos, maar wat jy sien is gevorm oor eeue heen en is daagliks besig om te verander. Ons leef eenvoudig net nie lank genoeg om die verandering waar te neem nie.

Voorkoms en karakter is twee eienskappe wat hand aan hand loop. Dis nie dieselfde ding nie maar die een beinvloed die ander dat dit so onafskeidbaar is soos ‘n siamese tweeling. Vat nou maar twee uiterstes; ‘n wit sandstrand iewers tussen Knysna en Natures Valley met die groen inheemse bos aan die een kant en die blou Indiese osean aan die aan die anderkant en vergelyk dit met die dorre onherbergsaamheid van die Richtersveld. Die uniekheid van díe twee biome se voorkoms en karakter stel hulle juis gelyk aan mekaar.

Dis amper soos twee vroue.  Die een smeulend, donker met die misterie van ‘n sigeunervrou en die ander blond met die energieke speelsheid wat jou uitdaag en terg.

So staan ek nou die dag en skeer voor die spieel en kan nie help om op te merk dat daar sigbare erosie skade is op die gesig wat terugkyk nie. Die son en die wind van jare se buite werk het hulle merke gelaat maar daar is ook ander spore van interne storms wat kepe uitgekerf het. Die uitgelate Sanboni van twintig jaar gelede het in ‘n oom verander.

En so van ‘n oom gepraat, die eerste keer toe ons ‘n Suid Afrikaanse vrywilliger op die projek kry het ek die jong mannetjie behoorlik laat verstaan dat hy my op my naam moet noem en dat die titel “Oom” slegs aan Oom Karools behoort. Toe hy vir my sê; “Nee goed Oom. Dit gaan moeilik wees maar ek sal probeer, Oom” het ek geweet daar lê ‘n opdraende pad vir my voor! Dit het ook nie baie lank gevat voordat hy my Oom genoem het voor die buitelanders nie. Die klomp het omtrent gelê soos hulle lag en Tina het sout in die wonde gevryf toe sy vir my sê, “Don’t worry Zio, we still love you!” met duiweltjies wat dans in haar donker oë. “Zio” het ek later uitgevind beteken “oom” in Italiaans.

En so heet ek nog steeds. Vrede.

 

 

Profile photo of Vloei

by Vloei

Kayalami Kronieke: Konflik

Junie 12, 2013 in Uncategorized

Vrede is ‘n toestand met ‘n kort lewensduur.  As dit te lank aanhou  is dit geneig om oor te gaan in eentonigheid of verveling. Daarteenoor staan konflik as vrede se teenpool  en dit het gewoonlik ‘n baie langer lewensduur met die verskil dat dit selde geklasifiseer kan word as eentonig!

In Kayalami is vrede ook ‘n relatiewe begrip en hang dit af van hoe dik jou vel is en hoe dik die mense se velle rondom jou is. Met die diversiteit wat hier aangetref word, is dit baie maklik om op tone te trap waar jy nie eers gedink het daar tone is nie! My raad aan voornemende vrywilligers of studente is dat hulle ‘n goeie dosis humorsin moet saambring maar selfs dit help nie altyd nie aangesien “snaaks” verskil van kutuur tot kultuur. Het jy al ooit ‘n grappie vertel en dit dan moes verduidelik aan jou gehoor? Dis nie snaaks nie.

Maar terug by die konflik onderwerp……Heel aan die begin van die projek is ons verveeld en besluit een aand om vir ‘n nagrit te gaan. Ek bestuur en Tina is langs my met die lig. Agterop die bakkie is ‘n Engelsman, ‘n Switserse paartjie, ‘n Franse meisie  nog twee Fransprekende Switserse meisies. Ons ry rond en lig ooral en sien ‘n paar oë van koedoes en rooibokke en hier en daar ‘n haas maar verder nie veel nie. Die verwagting van luiperd  word vinnig afgekoel deur die winterluggie wat deur  murg en been sny en ons besluit om om te draai en ons warm beddens te gaan opsoek.

Met die omdraaislag hoor ek takke kraak in die sekelboskasie aan ons linkerkant en ek skakel die enjin af om te luister. Eers is dit doodstil maar net toe ek weer die bakkie wil aanskakel, sien ons die bome roer. Olifante! Ons sit nog so grootoog en luister hoe hulle die takke breek toe ek die ets van ‘n groot ou bul teen die sterlig sien wat reg van voor op ons afgeloop kom. Hierna het dinge vinnig gebeur…….”Kikatso!” het Tina in Italiaans geprewel terwyl ek gesukkel het om die bakkie aan te skakel  om so gou as moontlik afstand te skep tussen ons en ou Grootpoot.  Met díe storm die bul met ‘n onaardse getrompetter en ek druk die bakkie in trurat. Ek kan nie onthou of Tina weer lelik in Italiaans  gepraat het nie maar ek kan wel onthou dat  sy die lig in my oë geskyn het en ek in die boskasie vasgery het en iewers lelik in Afrikaans gepraat het en toe maar die olifant met die bakkie gestorm het omdat ek uit ander opsies was. Dit het het die bul regs in die bosse in laat swenk.  Met die verby ry het hy ons weer geskraap maar toe was die pad oop voor my en Tina het beheer oor die soeklig gehad.

‘n Hele ent verder het ons stilgehou toe ons seker was dat ons die bul afgeskud het en tot ons ontsteltenis ontdek dat daar niemand agterop die bakkie was nie! Groot was die verligting toe ons mooi kyk en sien die hele spul het platgeval en as te ware deel geword van die bakkie se vloer! Ons het geskree van die lag maar nie almal het gedink dis snaaks nie.

Die konflik met die olifant het later ‘n legende geword wat aan die nuwe studente oorvertel is en sekerlik nog ‘n paar stertjies bygekry het met elke oorvertelling  iewers terug in Europa! Wat ek egter graag sou wou hoor is die ou bul se slaaptydstorie vir sy kalfie oor die keer toe hy een donker nag ‘n bakkie vol heidene tot bekering toe gejaag het.

 

Profile photo of Vloei

by Vloei

Die ds. en die bordeel

Mei 30, 2013 in Uncategorized

Die beste vergelyking vir Kayalami waaraan ek kan dink is ‘n pot vol potjiekos. Netsoos die verskillende groentes en vleis in die pot, is daar die rasse, tale en persoonlikhede in die huis. Die speserye is die uiteenlopende karaktertrekke. Daar is rissies, koljander,asyn, suiker,sout peper, naaldjies kerrie en so meer. As die vuur te warm is, brand die pot aan. Te ver van die vuur en die vleis is taai, te veel rissies en jou bek is aan die brand, te min sout en die kos is laf .

Kayalami is ‘n kolossale ou plaashuis, nie jou gewone plaashuis nie. Dubbelverdieping  met sewe slaapkamers, drie badkamers en ‘n binnehof. Klink nogal grênd, né! Maar toe Oom Karools my die eerstekeer ons toekomstige woning gaan wys het, was dit maar ‘n teurige gesig wat my begroet het. Na meer as tien jaar se leegstaan het die elemente se verweering dieselfde effek op die huis gehad as op ‘n boesman se gesig. Nie net die elemente het gehelp met die aftakelingsproses nie, die bromvoëls het die vensters stukkend gepik en die dak se sinkplate het ander eienaars gekry. Selfs die groot ou wildevyeboom is deur die olifante tot in die grond afgebreek. Net die bougenvilla wat oor ‘n acacia gerank het, het van ‘n vroeër glorie getuig.

Die restourasie is oor ‘n tydperk van twee jaar min of meer klaar gemaak later meer oor die min of meer) en in die winter van 2010 het die eerste studente hulle intrek geneem.Die Inkawo Vervet Project se wiele het amptelik begin rol.

Maar ek wil nou eers die storie terugdraai tot ‘n hele paar jaar voor die Kayalami Kronieke se geboorte. Oom Karools ry in sy Hilux bakkie en langs hom sit domminee So en So van een van die drie susterskerke van die naaste groot dorp. Soos ek alreeds genoem het is Oom nie ‘n groot kerkmens nie, maar met die basaar was daar altyd van sy beeste op die vleistafel. Ook het domminee So en So Oom se afgeleë plaas gebruik as uitvlug wanneer dinge bietjie warm in die gemeente geraak het. ‘n Retreat is deesdae se term.

Daar was juis ‘n storm wat gewoed het oor Ds. So en So se kollega wat hom glo aan ontug skuldig gemaak het en onder sensuur geplaas is maar geweier het om die pastorie te ontruim.

Oppad na die beeste ry hulle verby Kayalami en Oom Karools vra aan die predikant; “Dink Domminee dit sal sonde wees as ek ‘n bordeel hier begin bedryf?” Uit sy mymering geruk vra die leraar, “Hoe nou, broer?”. “’n Hoerhuis, Domminee! Sal dit verkeerd wees as die huis daarin verander word?”vra Oom weer en begin toe sommer uitwei oor die voordele bo beesboer. Ds. So en So het toe lank en mooi met Oom Karools gepraat. Toe hy klaar is sê Oom vir hom; “Eintlik het ek gedink ons kan Domminee se kollega kry om die plek te bestuur. Dan sal hy mos vrywillig uit die pastorie trek.”

So sou ons ook nog baie van oom se strikke moes ontduik.

 

Profile photo of Vloei

by Vloei

Kayalami Kronieke: Oom Karools

Mei 29, 2013 in Uncategorized

Om die Kayalami Kronieke in perspektief te stel, is dit nodig vir die leser om Oom Karools so goed as moontlik te verstaan. In voorkoms is Oom GROOT. By ‘n gewone deur moet hy buk om nie sy kop te stamp nie. So ses voet agt in die ou taal. Hy’s nou nader aan die sewentigs as die sestigs en sy ylerige grys hare is gewoonlik borselkop gesny. Hy loop maar swaar, so half stywe knieg. Met ons eerste ontmoeting het hy my sterk aan Shrek herhinder (om die waarheid te sê, daar is nogal baie ooreenkomste tussen hom en díe strokieskarakter, nou dat ek daaraan dink!)

Oom Karools het afgestig. Van die samelewing, die kerk en sy tweede vrou. Op sy plaas bly hy stoksiel alleen. In die pollitieke spektrum sal jy hom waarskynlik regs van die regse groepering plaas maar selfs daar wil hy nie so lekker inpas nie. Hy laat homself nie so maklik in ‘n boksie (boks) plaas nie.

Gedurende die ou bedeling het die NP regering sy plase twee keer onteien (darem teen vergoeding) vir die ontwikkeling van sy tuisdlandbeleid. Hy het sy saaiplase verkoop en hom hier kom vestig in Zoeloeland om bees te boer (so dertig jaar gelede). Maar Oom Karools se beeste wou nie op sy eie grond bly nie. Gedurig het sy vee hulle pad gevind na die een of ander kraal (waarvan daar baie was/is) in die onherbersaamheid van Zoeloeland.

Na baie baklei en die sluit van die SAP se spesialiseenhede (waarvan die veediefstaleenheid een was) het Oom besluit om met wild te boer. Dis per slot van rekening nie so maklik om ‘n klomp koedoes, rooibokke en ‘n paar olifante aan te jaag en te kraal nie! Nou was jag die bron van inkomste en die jagters het gekom……die betalendes en die nie-betalendes. En so het die konflik maar voortgeduur.

Met die toenemende grondeise en die boere wat net nie meer hulle weg oopgesien het om aan te gaan nie, het Oom Karools stroom-op geroei. Waar baie boere besluit het om te verkoop het Oom hakke in gekap. Prokureurs en die grondeisehof het hom goed leer ken en sy saak teen die staat het hy suksevol verdedig. Meer as een keer. Maar daar was ander hofsake ook. Teen sy buurman byvoorbeeld, oor die steel van wild,aanranding en poging tot moord! Oom Karools lewe op konflik en dis bevestig deur een van sy seuns wat ‘n paar jaar saam met hom probeer boer het.

In 2009 is dit met die einte Oom Karools op wie se stoep ek gesit het en onderhandel het om die navorsingsprojek op sy grond te huisves. Natuurlik sonder bogenoemde insig. Voor my het die plaas uitgestrek gelê en langs my het Judith, ‘n aanvallige Switzertjie gesit en aan Oom verduidelik nou wat presies ons eindelik wou kom maak hier op die plaas. Eers later sou ek besef dat sy ‘n sleutelrol gespeel het in die verkryging van die ou korrelkop se goedkeuring vir die projek. Maar in 2009 was my kop vol planne en drome, genadiglik uitgespaar van die beproewinge wat nog sou voorgelê.

Tot ‘n volgende keer, liewe leser.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Kayalami Kronieke: Kayalami

Mei 28, 2013 in Uncategorized

Díe Zoeloe woord beteken “my huis” in Afrikaans en dis wat ons die groot ou plaashuis gedoop het wat as navorsingsbasis dien. Die studieveld van genoemde navorsing is etnologie of dieregedrag studies en die universiteite van Zurich, Neuchatel en St. Andrews is hierby betrokke.

Kayalami huisves so tussen 8 tot 18 studente en vrywilligers wat almal ‘n gedeelte van hulle lewe daaraan wy om agter blou apies aan te loop om te sien wat maak hulle. Hulle skryf dan ‘n skripsie daaroor wat aan hulle ‘n meesters of doktorsgraad besorg en word dan later ‘n proffesor wat met groot gesag kan praat oor die verskil van sosiale en nie-sosiale inteligensie op ‘n kongres in Tokio.

Kayalami huisves ook die armsalige drommel wat moet keer dat die olifante nie op die studente trap nie ,die studente nie op die mambas trap nie en in die proses self op ‘n paar tone trap. Hy het die imposante titel van ‘’site manager’’wat beteken dat hy drywer, tuinier, asbooi, biegvader en sieketrooster moet speel en dan ook moet optree as vrederegter.

In Kayalami wissel die ouderdomme tussen die twintigs, ‘n groot gaping en dan middel veertigs. Soms kom kyk die proffies wat aangaan op die projek en dan styg die ouderdom se boonste skaal na die sestigs toe (tot verligting van die’s in die veertig!). Die geslagsverhouding is gewoonlik 90% vroulik en 10 % manlik. Dan is daar nog drie honde, een kat, ‘n swerm vlermuise in die plafon en so nou en dan ‘n mosambiekse spoegkobra om dinge op te vrolik.

Hiermee dan, liewe leser, ‘n deel van die agtergrond waarteen toekomstige kort sketse gaan afspeel

 

Profile photo of Vloei

by Vloei

Kayalami Kronieke

Mei 28, 2013 in Uncategorized

In die hartjie van Zoeloeland is daar ‘n plaas en op die plaas is daar ‘n huis. Dis die huis op die plaas en plaas in Zoeloeland en die groen gras groei daarom. Maar nes die ou liedjie oor die boom in die gat, is hierdie die inleiding van ‘n storie wat se beginpunt moeilik is om te kry en se eindpunt maar net weer die beginpunt is van ‘n volgende verhaal. Amper soos ‘n hoop opgebondelde skeepstou.

My storie of storietjies speel af op ‘n groot ou wildsplaas iewers tussen Nongoma, Swart Mfolozi en Gluckstadt. My karakters is ‘n uiteenlopende spul;  van die klomp  nagraadse studente, Oom Karools, die reusagtige grondeienaar, die bure, die poachers (‘skuus…wildstropers) tot Frans die trekkerdrywer.

Daar gaan baie diere se voetspore in hierdie storie lê. Van olifante s’n  totdie klein blou apies en dan natuurlik die huisdiere nog. Lollipop, Chimey, Jabu, Blixem en Fifty die kat wat dink hy is ‘n hond.

En jy, my gewaardeerde leser, gaan my skryftrant help slyp met jou kommentaar. Ek sit hier op’n goudmyn van onontginde sketse wat wag om geskryf te word. Hoe suiwer die goud gaan wees, gaan bepaal word deur die hitte van die smeltkroes.

Eina, hier gaan ons………………

Profile photo of Vloei

by Vloei

Ek bly in my huis.

Mei 27, 2013 in Uncategorized

Miskien nie heeltemal klaar nie maar klaar ingetrek. Die behae om te kan leef in ‘n ruimte wat ek geskep het. Die terugstaan en so half verwonderd te kan se: “Ek het dit gemaak!”. ‘n Plek waar ek kan tuisvoel, waar ek naby die omgewing kan lewe. Miskien nie “huis” in die algemene opvatting van die woord nie maar huis vir my. Vrede.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Ek bou huis

Augustus 2, 2012 in Sonder kategorie

Ek bou my huis al is dit laat. Ek bou my huis al is ek nie ‘n bouer nie. Ek bou my huis op ‘n ander man se grond. Ek breek die grond oop, ek saag die bome af en skuif klippe rond.  Ek korrel en meet en stamp vas. Partykeer vat en los ek, anderkeer vat ek vas. Partykeer twyfel ek, anderkeer  beur ek voorentoe. Maar ek bou my huis! Wanneer Augustus se winde klaar gewaai het, moet my huis se dak op wees. Dan sal daar ‘n groot vuur van dankbaarheid aangeslaan word en ek sal die ruimte wat ek geskep het vul met wat saak maak vir my.

 

Maar tot dan bou ek nog my huis.