Jy blaai in die argief vir 2013 Desember.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Trekpad

Desember 19, 2013 in Uncategorized

Vandag pak ek, more ry ek maar nie op vakansie nie….ek trek! Terug stad toe na vier jaar in Zoeloelandse bosveld. Ek het met my inskrywing Kruispad genoem ek slaan ‘n ander rigting in en ek voel ek skuld julle ‘n beter verduideliking. Die mannetjies is nou onderskeidelik 12 en 10 en die afstand was net te groot. Dis moeilik om mekaar net skoolvakansies te sien. Ek het ‘n groot deel van hulle opgroei gemis en gaan dit verander. Maar dis nie die enigste rede nie. …. ek begin my eie ding.

Die laaste jare in die formele bewaringsektor was frustrerend en dit was moeilik om te voel dat jy bydrae tot die beskerming en bewaring van ons natuurerfenis. Die opleiding met die studente hier op Kayalami het my laat besef dat jy kan help om die skille van die mense se oe te laat val. Mens kan die saad van omgewingsbewaring saai en iewers mag dit dalk in vrugbare teelaarde val en onvoorsiene vrugte dra. Kortom, ek begin my eie privaat gids en toer besigheid. Ek gaan klein groepies (nie meer as 3 persone op’n slag) bekendstel aan die plekke in ons land wat meeste van ons eie mense nie eers ken nie. My fokus gaan wees op interpretasie van die omgewing met sy spesifieke historiese agtergrond gekoppel met ‘n avontuur element. Die opsie om Suid Afrika te te leer ken te voet, te perd, kuslangs af te seil of die witwater van die Tugela aan te durf is daar. Ek wil die mense die grootsheid van die Karoo gaan wys voordat Shell dit opf..rack.

In 2009 het sy op ‘n houtboot by Zululand Yacht Club aangekom. ‘n Verdrinkskippie! Enige iemand wat al ‘n paar seemyle geseil het sal jou kan se dat wanneer jy in ‘n storm inseil op ‘n superjag, dit nag word! Op ‘n primitiewe houtboot in ‘n storm beleef jy ‘n nagmerrie oop oe! Sy het halfpad om die wereld op daai skippie geseil. Dit opsigself is besonders, wat dit nog meer besonders maak is dat sy Japanees is. Japanese doen nie sulke goed nie! Hulle toer in groot groepe en bly in hotelle. Maar miskien die mees besonderse feit is dat sy by een van die top mode maatskapye in Japan in beheer is vir hulle bemarking en advertensie veldtogte. Jy sal sukkel om twee groter teenpole te kry! Atsuko het aangebied om my webwerf  vir my te ontwerp en my bemarking vir my te doen!

Perception Travels is in wording en die geboortepyne is sterk. Vroeg volgende jaar is die verwagte geboortedag. Die naam is ‘n direkte afleiding uit ‘n insident wat ‘n diep indruk op my gelaat het (sien “Vloei se roei” in een van my historiese inskrywings). Perception Travels is my houtskippie en Suid Afrika se see is berug om die minste te se! Daar is haaie, storms en seerowers…..Dus is ek besig om die seile in te kort, die losgoed vas te maak en die belt ‘n gaatjie stywer te trek. Daar le ‘n paar storms voor voordat ek anker sal kan gooi in ‘n beskutte baai. Vrede

Profile photo of Vloei

by Vloei

Khiza

Desember 18, 2013 in Uncategorized

Khiza is die Zoeloewoord vit motreen en die laaste paar weke het dit gekhiza. Die drukkende hitte is weg, die son is weg en die misvlae het rondom Mpakana gehang en die rivier gevolg. Die dorgebrande haakdoringbosse het oornag vergroen en die doodsreuk van ‘n rukkie terug se dooie nyalakarkasse het plek gemaak vir die soet van die Acacia bloeisels. Laasweek Woensdag het ons ‘n wolkbreuk gehad. Ek het ‘n haelkorrel in my mond gedruk en gevoel hoe die yswater in my keel afloop. In die Swart Mfolozi vallei hael dit nie maklik nie. Oom Karools het my gese dit die afgelope 25 jaar laas gehael.

 

Die rivier het bruin afgekom en ek het onrustig die riete en opdrifsels dopgehou naby die oewer waar Bliksem en Lolliepop halflyf in die water gestaan en drink het. Hier was nog nooit ‘n krokkedil nie maar mens weet nie wat die rivier met haar saam kan bring nie….. Vanoggend het ek olifantspore duskant die donga gekry. Ek het dit ‘n ent gevolg en onwillekerig aan PJ Schoeman se boek “Op die Grootspore” gedink. Die verhaal speel af in die einste omgewing, net amper ‘n honderd jaar vroeer! Met ‘n swaar hart het ek gewonder oor die toekoms van die ou bul, die familie trop en die laaste paar renosters.

 

Wietz het gister nog opgemerk dat ons verleer het om rerig te sien wat rondom ons aangaan. Ons het te haastig geword. Ons kyk maar ons sien nie. Alles is aanmekaar geheg. Alles is deel van ‘n groter geheel. Maar dit vat tyd om die patroon raak te sien.

Ek wou nog bietjie meer skryf maar ek het nie tyd nie. Ek moet nou eers gaan.