Profile photo of Vloei

by

Om lewe en dood.

November 8, 2013 in Uncategorized

In  die Zoeloelandse valleie lê die hitte vasgedruk tussen die koppies en die Acacia ruigtes. Dis die laaste maand van die lente maar hierdie jaar voel dit asof die lente oorgeslaan is en dit lankal somer is. Laas jaar het die reen vroeg gekom en sommer mildelik ook. Vanjaar is dit ‘n ander storie….

Dit was nog voor sonop toe ek in haar vasgeloop het waar sy aan ‘n nagblom se stam gevreet het in ‘n wanhopige poging om die honger te stil. Die koedoekoei het gestruikel en geval toe sy vir my probeer padgee het. Sommer net daar bly lê, te swak om op te staan. Die afgelope maand of twee het ons al hoe meer karkasse in die veld gekry. Meestal nyalas en koedoes. Einde winter is dit veral die blaarvreters wat swaar trek. Die doodsreuk hang swaar in die lug en brommers styg in sulke swart swerms op as ek by die soveelste karkas verby loop. Die walgreuk  gaan lê in my sinusse en ek dra die reuk saam lank nadat ek verby die patetiese hoop vel en been is.

Trevor het my op die radio geroep en ‘n dooie seekoei in die rivier gerapporteer. Ek sê vir hom om vir my te wag en stryk aan in die rigting van die rivier. Ek voel hoe die son besig is om die laaste vog uit my liggaam te trek en moet stry teen die tamheid wat dreig om my te oorompel. Daar aangekom beduie Trevor na die oorkantste oewer. Tussen die riete met sy kop op die sandbank lê die seekoei. “Are you sure it is dead?” vra ek die jong Amerikanertjie. “Doodseker”, verseker hy my. Hy en Fabiene hou hom nou al meer as ‘n halfuur dop. Hy roer nie en die visse vreet aan die oop wonde op sy rug. Ek vat ‘n klip en gooi dit langs die seekoei in die water. Geen beweging nie. Net om seker te maak doen ek dit weer met dieselfde resultaat.

“Let’s go around to have a proper look see. “ sê ek en stap stroomop waar die rivier nouer is en ons van klip tot klip kan oorspring. Met Trevor kort op my hakke volg ons die sandbank tot waar die seekoei tussen die riete lê. Ek was nog besig om die riete uit die pad te druk en af te buk na die seekoei toe, toe die dooie seekoei letterlik uit die dood verrys! Wat ons gered het is adrenalien, die sandbank en die wonde van die seekoei.Skielik was die dooie moegheid van so rukkie gelede iets van die verlede! Fabie wat so entjie agter my en Trevor was, het my dringende krete van “Get away! Get away! Get away!” letterlik opgeneem en ‘n hele ent die bos ingehôl. Dit het mooipraat gekos om haar te oortuig die bedreiging is verby!

Oppad terug Kayalami-toe is die storie weer en weer herleef met die tipiese uitbundigheid en humor van mense wat ‘n noue ontkoming oorleef het. Die storie is in detail oorvertel aan die ander studente en het selfs as ‘n facebook status veskyn. Later die aand het ek op die dek van my boskamp gesit en die koel naglug ingedrink. Die eerste Acacia bloeisels se reuk was soet in die naglug en ek het gesit en dink aan hoe naby die lewe en die dood regtig aan mekaar is.

12 antwoorde op Om lewe en dood.

  1. tina10 het gesê op November 8, 2013

    Welkom terug!

    Weer lekker gelees hier.

  2. vega het gesê op November 8, 2013

    Siestog die arme seekoei; was sy oraait?

    • Vloei het gesê op November 8, 2013

      Dis ‘n jong bul wat ‘n onderonsie met ‘n ouer bul gehad het. Hy sal dit maak, wonde nie te erg nie

  3. Dit was nou spannend!Die natuur is wreed.Jy was lanklaas hier.

  4. Elly het gesê op November 9, 2013

    Dis mooi geskryf. Ek kon dit self beleef ook.

  5. Die wreedheid van die natuur! Mooi beskryf!

  6. Vloei het gesê op November 9, 2013

    Ja, dit gee ‘n ander perspektief op die woord “natuurlik”. Dankie

  7. lora2me het gesê op November 11, 2013

    Goed beskryf, want ek het skoon hoendervleis gekry toe die seekoei opspring. Die natuur is wonderlik en misterieus.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.