Jy blaai in die argief vir 2013 November.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Kayalami Kronieke: Kruispad

November 15, 2013 in Uncategorized

Diegene wat al baie rondgery of geloop het sal weet dat daar verskeie paaie is wat na jou bestemming lei en dit hang van die situasie af watter pad jy kies. Díe wat in die stad bly sal daarvan kan getuig wanneer daar een of ander verkeersprobleem is, kies jy gou ‘n alternatiewe roete. Wanneer die omgewing egter vreemd is vir jou, is dit ‘n perd van ‘n ander kleur. Nou moet jy op instink en inisiatief staatmaak (dis nou as jy nie ‘n tomtom het nie!). Nie almal het ingeboude rigting nie….

 ‘n Oefening wat ek met die nuwe studente en vrywilligers doen op hulle veldorienterings kursus is om aan die einde van die twee dae wat ons in die bos opleiding gedoen het, elkeen ‘n kans te gee om die groep terug te lei na Kayalami toe. Vir ‘n kwartier moet die persoon rigting inslaan wat hy/sy dink is terug huis-toe terwyl die ande glad mag kommentaar lewer nie en dan is dit weer die volgende een se beurt. Die gevolg is dat ons (onvermydelik) langer loop maar tog by die huis uitkom. Dis altyd interessant om te sien hoe daar gehuiwer word waar 2 wildpaadjies kruis of hoe die ander omtrent bars om kommentaar te lewer maar hulle mag nie!

 Ekself staan op die oomblik by die kruispad. Omstandighede het my voor ‘n keuse gebring en ek het besluit om ‘n ander rigting in te slaan. Soos met die studente was dit nie sonder huiwering van my kant af nie en daar is dalk ander wat bars om kommentaar te lewer maar weet dis my besluit. Die goeie nuus is dat dit darem nie die einde van die Kayalami Kronieke sal wees nie aangesien die universiteite steeds my sal gebruik op kontrakbasis om die nuwelinge veldgereed te kry. Daar lê ook nog ou stories wat wag om vertel te word soos die slag van Amajuba toe die poachers lood om ons ore laat sing het of die keer toe twee alleenloper bulle gedagtes uitgeruil het. Daar is nog ‘n paar ou  karakters wat beskryf moet word maar dan ook nuwe horisonne wat wag om verken te word en nuwe stories wat beleef en gedeel moet.

 

Tot dan, vrede.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Om lewe en dood.

November 8, 2013 in Uncategorized

In  die Zoeloelandse valleie lê die hitte vasgedruk tussen die koppies en die Acacia ruigtes. Dis die laaste maand van die lente maar hierdie jaar voel dit asof die lente oorgeslaan is en dit lankal somer is. Laas jaar het die reen vroeg gekom en sommer mildelik ook. Vanjaar is dit ‘n ander storie….

Dit was nog voor sonop toe ek in haar vasgeloop het waar sy aan ‘n nagblom se stam gevreet het in ‘n wanhopige poging om die honger te stil. Die koedoekoei het gestruikel en geval toe sy vir my probeer padgee het. Sommer net daar bly lê, te swak om op te staan. Die afgelope maand of twee het ons al hoe meer karkasse in die veld gekry. Meestal nyalas en koedoes. Einde winter is dit veral die blaarvreters wat swaar trek. Die doodsreuk hang swaar in die lug en brommers styg in sulke swart swerms op as ek by die soveelste karkas verby loop. Die walgreuk  gaan lê in my sinusse en ek dra die reuk saam lank nadat ek verby die patetiese hoop vel en been is.

Trevor het my op die radio geroep en ‘n dooie seekoei in die rivier gerapporteer. Ek sê vir hom om vir my te wag en stryk aan in die rigting van die rivier. Ek voel hoe die son besig is om die laaste vog uit my liggaam te trek en moet stry teen die tamheid wat dreig om my te oorompel. Daar aangekom beduie Trevor na die oorkantste oewer. Tussen die riete met sy kop op die sandbank lê die seekoei. “Are you sure it is dead?” vra ek die jong Amerikanertjie. “Doodseker”, verseker hy my. Hy en Fabiene hou hom nou al meer as ‘n halfuur dop. Hy roer nie en die visse vreet aan die oop wonde op sy rug. Ek vat ‘n klip en gooi dit langs die seekoei in die water. Geen beweging nie. Net om seker te maak doen ek dit weer met dieselfde resultaat.

“Let’s go around to have a proper look see. “ sê ek en stap stroomop waar die rivier nouer is en ons van klip tot klip kan oorspring. Met Trevor kort op my hakke volg ons die sandbank tot waar die seekoei tussen die riete lê. Ek was nog besig om die riete uit die pad te druk en af te buk na die seekoei toe, toe die dooie seekoei letterlik uit die dood verrys! Wat ons gered het is adrenalien, die sandbank en die wonde van die seekoei.Skielik was die dooie moegheid van so rukkie gelede iets van die verlede! Fabie wat so entjie agter my en Trevor was, het my dringende krete van “Get away! Get away! Get away!” letterlik opgeneem en ‘n hele ent die bos ingehôl. Dit het mooipraat gekos om haar te oortuig die bedreiging is verby!

Oppad terug Kayalami-toe is die storie weer en weer herleef met die tipiese uitbundigheid en humor van mense wat ‘n noue ontkoming oorleef het. Die storie is in detail oorvertel aan die ander studente en het selfs as ‘n facebook status veskyn. Later die aand het ek op die dek van my boskamp gesit en die koel naglug ingedrink. Die eerste Acacia bloeisels se reuk was soet in die naglug en ek het gesit en dink aan hoe naby die lewe en die dood regtig aan mekaar is.