Profile photo of Vloei

by

Kayalami Kronieke: Die aarde is ‘n sy.

Julie 29, 2013 in Uncategorized

Die aarde is ‘n sy. Vandag het die openbaring my  so hard getref dat ek ‘n Newton-ervaring beleef het. Nadat ek die stof van myself afgeskud  het  waar ek, kan ek maar sê, my gat afgeval het en verleë terug gekyk het na waar sy op die rivier oewer half geskok  toegekyk het, het ek aanhou draf en gemaak asof ek nie die pyn in my lyf voel nie. Net soos met die val van die appel op Sir Isak se kop het my val van vanoggend vir ‘n verheldering gesorg wat my vermoede bevestig het dat gravitasie nie ‘n konstante is nie en dat die aarde definitief vroulik van aard is.

‘n Wetenskaplike teorie begin as ‘n hipotese wat dan as jy genoeg bewyse kan lewer, aanvaar word as die waarheid totdat ‘n ander slimjan jou teorie met ‘n teorie van sy eie wat deur nuwe navorsing joune tot dwaalleer kan bewys. Om ‘n hipotese tot op die vlak van ‘n teorie te verhef gaan gepaard met jare se noukeurige navorsing, waarnemings en logiese afleidings. Daar word ‘n tesis geskryf en jou standpunt verkondig en vededig jy op kongresse en in akademiese publikasies. Om my leser die verveling te spaar gaan ek die bewys van my stelling tot ‘n abstrak beperk.

Om te val is nie ‘n ongewone verskynsel nie. Ons het al almal geval, inteendeel ek glo nie dat ‘n mens kan leer loop of leer fietsry sonder om te val nie. Tog het ek deur jarelange se waarneming en ervaring geleer dat die term “val” heeltemal te wyd is en dat dit nodig is vir onderverdelings nl. ‘n eksterne val en ‘n interne val (díe twee hoofgroepe kan natuurlik weer onderverdeel word op hulle beurt). Eksterne val beteken gewoon ‘n val wat deur iemand of iets buite jouself veroorsaak word en ‘n interne val is jy die oorsaak van jou eie val (soos oor jou eie voete struikel as eenvoudige voorbeeld of die val van Julius Malema as ‘n meer gekompliseerde voorbeeld).

Die tipe val waarvan ek my gevolgtrekkings gemaak het is ekstern van aard en kom in ‘n oorweldigende meerderheid onder mans voor. Dit het begin met Tarzan wat die tak gemis het voor Jane en herhaal ditself in verskillende vorms soos die laaitjie wat van sy bmx afbli….val na hy ‘n wheelie probeer pop het voor ‘n paar giggelende bakvissies of die ou wat die sypaadjie mistrap as daar ‘n atletiese nooi in ‘n eina-drafbroekie verby hardloop.

Ekself wat gewoonlik soos ‘n spikkelkat deur die digste bos kan beweeg of so rats soos ‘n klipspringertjie teen ‘n kliprant kan opdraf, word deur die teenwoordigheid van die skoner geslag gereduseer tot ‘n lompe lummel wat oor elke tweede tak struikel en elke los klip raaktrap. Die oortreffende trap van bg. verskynsel word treffend geillustreer deur Marius Weyers in The Gods Must Be Crazy! Die dag toe ek en Tina, met die wilgerlatlyfie, die vanghokke vir die apies oor die rivier moes skuif en ek die klip misgespring het en plat op my maag in die rivier te lande gekom het was maar een voorbeeld van baie.

Dit het my laat besef dat die aarde regtig ‘n sy is wat jaloers is op die aandag wat enige ander vrou van ‘n man kry en op díe manier die man herhinder van wie hy af kom en na wie hy sal terug gaan!

Uit die vrou se oogpunt kan seker geredeneer word dat die tipe van val intern is maar dit daar gelaat vir ‘n ander keer. Vrede.

6 antwoorde op Kayalami Kronieke: Die aarde is ‘n sy.

  1. tina10 het gesê op Julie 30, 2013

    Ek wil met jou saamstem… soms moet die manne se egos gelyk gemaak word om die ewewig te behou

  2. Jy het dalk ‘n punt beet, maar die aarde het haar gat goed gesien die dag toe my vrou vir my geval het.

  3. ‘n paar los gedagtes \\ ek val vir die ene :

    jy het ‘n heerlike onderhoudende skryfstyl.

    hoekom praat ons dan nog van vaderlande op hierdie moedertjie aarde tog ?

    en dan is taal ook nog vroulik .

    dis nie meer ‘n man se wereld nie – ons moet maar net aanhou om die vrugte wat die eva’s ons voer te geniet …

    🙂

  4. Vloei het gesê op Julie 30, 2013

    Dankie….ja dis al lankal nie meer nie!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.