Jy blaai in die argief vir 2013 Julie.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Kayalami Kronieke: Die aarde is ‘n sy.

Julie 29, 2013 in Uncategorized

Die aarde is ‘n sy. Vandag het die openbaring my  so hard getref dat ek ‘n Newton-ervaring beleef het. Nadat ek die stof van myself afgeskud  het  waar ek, kan ek maar sê, my gat afgeval het en verleë terug gekyk het na waar sy op die rivier oewer half geskok  toegekyk het, het ek aanhou draf en gemaak asof ek nie die pyn in my lyf voel nie. Net soos met die val van die appel op Sir Isak se kop het my val van vanoggend vir ‘n verheldering gesorg wat my vermoede bevestig het dat gravitasie nie ‘n konstante is nie en dat die aarde definitief vroulik van aard is.

‘n Wetenskaplike teorie begin as ‘n hipotese wat dan as jy genoeg bewyse kan lewer, aanvaar word as die waarheid totdat ‘n ander slimjan jou teorie met ‘n teorie van sy eie wat deur nuwe navorsing joune tot dwaalleer kan bewys. Om ‘n hipotese tot op die vlak van ‘n teorie te verhef gaan gepaard met jare se noukeurige navorsing, waarnemings en logiese afleidings. Daar word ‘n tesis geskryf en jou standpunt verkondig en vededig jy op kongresse en in akademiese publikasies. Om my leser die verveling te spaar gaan ek die bewys van my stelling tot ‘n abstrak beperk.

Om te val is nie ‘n ongewone verskynsel nie. Ons het al almal geval, inteendeel ek glo nie dat ‘n mens kan leer loop of leer fietsry sonder om te val nie. Tog het ek deur jarelange se waarneming en ervaring geleer dat die term “val” heeltemal te wyd is en dat dit nodig is vir onderverdelings nl. ‘n eksterne val en ‘n interne val (díe twee hoofgroepe kan natuurlik weer onderverdeel word op hulle beurt). Eksterne val beteken gewoon ‘n val wat deur iemand of iets buite jouself veroorsaak word en ‘n interne val is jy die oorsaak van jou eie val (soos oor jou eie voete struikel as eenvoudige voorbeeld of die val van Julius Malema as ‘n meer gekompliseerde voorbeeld).

Die tipe val waarvan ek my gevolgtrekkings gemaak het is ekstern van aard en kom in ‘n oorweldigende meerderheid onder mans voor. Dit het begin met Tarzan wat die tak gemis het voor Jane en herhaal ditself in verskillende vorms soos die laaitjie wat van sy bmx afbli….val na hy ‘n wheelie probeer pop het voor ‘n paar giggelende bakvissies of die ou wat die sypaadjie mistrap as daar ‘n atletiese nooi in ‘n eina-drafbroekie verby hardloop.

Ekself wat gewoonlik soos ‘n spikkelkat deur die digste bos kan beweeg of so rats soos ‘n klipspringertjie teen ‘n kliprant kan opdraf, word deur die teenwoordigheid van die skoner geslag gereduseer tot ‘n lompe lummel wat oor elke tweede tak struikel en elke los klip raaktrap. Die oortreffende trap van bg. verskynsel word treffend geillustreer deur Marius Weyers in The Gods Must Be Crazy! Die dag toe ek en Tina, met die wilgerlatlyfie, die vanghokke vir die apies oor die rivier moes skuif en ek die klip misgespring het en plat op my maag in die rivier te lande gekom het was maar een voorbeeld van baie.

Dit het my laat besef dat die aarde regtig ‘n sy is wat jaloers is op die aandag wat enige ander vrou van ‘n man kry en op díe manier die man herhinder van wie hy af kom en na wie hy sal terug gaan!

Uit die vrou se oogpunt kan seker geredeneer word dat die tipe van val intern is maar dit daar gelaat vir ‘n ander keer. Vrede.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Kayalami Kronieke: Slang Stories

Julie 22, 2013 in Uncategorized

Van die oudste geskrifte praat van die slang in die paradys. Die slang versinnebeeld die bose. Dis moeilik om nie onwillekeurig te gril wanneer jy daardie koue glimlag van ‘n mamba sien nie. In die diepste groewe van ons grysstof is die oervrees neergelê vir Satan se kind. Die vrees vir die slang is ‘n natuurlike oorlewingsdrang wat deur tyd in ons wese ingebrand is. Kyk maar na ‘n bobbejaan se reaksie wanneer hy ‘n slang gewaar. Miskien is dit sy anderssoortigheid wat wat hom so gevrees maak maar tog is die slang ‘n belangrike skakel in die ekologiese ketting en is dit ‘n fasinerende dier.

Maar die storie wat ek eintlik wil vertel gaan oor die sondeval in Kayalami paradys. Ou-Kersaand van 2010 het ons gaan braai  by die klipplaat. Om vir die gemis aan ons vriende en familie op te maak het ons ‘n lekker groot vuur gemaak op ‘n deel van Oom Karools se plaas waar die spruit oor ‘n groot klipplaat loop met ‘n uitsig op die berg en daar gebraai. Die meisiekinders het soetgoed gemaak en ons het ‘n paar bottels wyn ook saam genooi. So teen 11uur die aand is ons terug by die huis en Francesca is na haar kamer toe om ‘n warmding te gaan aantrek.

Ons klomp was in die kombuis besig om die teramiso vinnig minder te maak toe sy grootoog daar aankom en sê daar is iets in haar kas wat raas. Ek het gespot en gesê dis waarskynlik net nog ‘n padda (ons het juis op daardie stadium ‘n plaag van skurwe paddas beleef) maar het nietemin gaan kyk. Gewapen met ‘n stok (net vir die wis en die onwis) is ek na haar kamer toe. Sy het my beduie waar sy ‘n geritsel gehoor het.  Ek het die sak versigtig met die stok opgelig en daar opgekrul in haar kas het ‘n mamba met ‘n koue smaail op sy smoel gelê! Ek het die kamer vinnig ontruim en myself gaan herbewapen met ‘n .22 geweertjie en is toe terug om die gevaar te neutraliseer.

Die resultaat was ‘n dooie mamaba net kort van 3 meter. Ek gril nou nog as ek dink hoe anders díe storie kon verloop het.Dis nou drie jaar later en ons het nooit weer ‘n mamba in die huis gehad nie. Miskien het dit iets te doen met die feit dat hy na ‘n noukeurige nadoodse ondersoek in die pot beland het en toe in ons mae.

Dit het beslis  aan ons ‘n sekere reputasie toegeken onder die plaaslike omgewing se mense wat hulle vermoede bevestig het dat die klomp apie navorsers wel die kluts kwyt is!

Aangeheg is ‘n paar fotos wat my storie dalk meer geloofwaardig sal maak. Vrede.

 

Braaf na die tyd