Jy blaai in die argief vir 2013 Junie.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Kayalami Kronieke: Makmaak

Junie 26, 2013 in Uncategorized

“Habituation” is ‘n term wat beteken om “gewoond gemaak” te word. Dit is die kruks van die navorsing wat hier by Kayalami gedoen word. Wat díe projek uniek maak is dat ons eksperimentele navorsing op primate doen wat nie in gevangeniskap leef nie. Om dit reg te kry moet die diere se vertroue gewen word deur middel van bogenoemde proses.

Elke oggend voor sonsopkoms is jy uit om die blou apies te soek waar hulle in die boomtoppe sit en opwarm in die son se eerste strale. Daarna volg jy hulle so naby as wat jy hulle jou toelaat  gedurende hulle daaglikse roetine tot hulle weer bome opsoek om te gaan slaap. So word die proses herhaal totdat jou volgafstand so gekrimp het dat jy op die ou ent tussen hulle kan rondloop sonder dat hulle jou as ‘n bedreiging beskou. Dit kan maande en selfs jare neem en verg ‘n sonderlinge tipe persoon met die nodige passie en geduld om die proses suksesvol uit te voer.

Die eerste jaar van die projek was spesifiek gefokus op die gewoondmaak proses en ons het op ses veskillende troppe gewerk wat binne ons navorsingsgebied van ongeveer 3000ha geval het. Daagliks het ons twee-twee uitgegaan agter die verskillende aaptroppe aan en teen die einde van die dag met gemengde gevoelens en stukkende klere terug gekeer na Kayalami. Zoeloeland het min genade met sy sekelbos en Acacia tortillis boskasies, bosluise en bloedige hitte.Dis die klein beloninkies wat jy jouself gun wat die lewe die moeite werd maak. Daardie koue bier wat gedeel is saam met ‘n snaakse storie of twee teen sononder, was salf op die krapmerke, bytplekke en gekneusde gemoedstoestand.

Na amper twintig jaar se diens in die formele bewaringsektor en ‘n huwelik van amper tien jaar wat op die rotse geloop het, het ek alle standvastigheid verruil vir die onsekere bestaan van selfbekikkingsreg (elke Afrikaner se droom of nagmerrie) of soos die Engelsman sê: “self employment”. Vir ‘n jaar het ek regoor Suid Afrika lugopnames gedoen op uitheemse/indringer plante vir die Lanbou Navorsingsraad. Toe die fondse opdroog vir die projek, het ek na Richardsbaai verskuif en vir twee jaar op ‘n klein seilbootjie gebly terwyl ek werk gesoek het, my studies voltooi het en los werkies gedoen het om my spaargeld wat vinnig besig was om uit te loop, aan te vul.

Dit was gedurende díe tyd dat ek tot die besef gekom het dat ek vir my eie heil moet sorg en so is die huidige projek verwek en ‘n jaar later gebore. Hoe ek op Oom Karools en sy plaas afgekom het is ‘n storie vir ‘n ander keer, maar wat ek wel kan byvoeg is dat ek teen daardie tyd goed gekneus was deur die lewe se stampe en stote. Die proses van “habituation” is, soos ek reeds gesê het, ‘n stadige een maar juis daarom so effektief. As jy weer kyk, dan speel die klomp klein apies rondom jou en die ou mannetjie blaf nie meer sy waarskuroep as hy jou gewaar nie.

Waar ek gesit het by die vuurmaakplek so entjie van die huis af, was ek moeg na ‘n dag se harde loop, en hartseer in my verlange na my seuntjies daar ver in Pretoria. Sy het langs my kom sit en sonder woorde haar sigaret vir my aangegee. Vir ‘n rukkie het ons woordeloos gesit en rook en toe oor die dag se gebeure gesels. Sonder dat ek dit besef het, was daar ‘n andersoortige  « habituation »  proses besig om te gebeur.

 

Profile photo of Vloei

by Vloei

Kayalami Kronieke: Metamorfose

Junie 16, 2013 in Uncategorized

‘n Landskap word gevorm deur verwering. Water, wind, temperatuur en pote kerf gedurig aan die omgewing om dit die unieke voorkoms te gee wat ons op ‘n gegewe tydstip waarneem. Op die oog af lyk dit staties, tydloos, maar wat jy sien is gevorm oor eeue heen en is daagliks besig om te verander. Ons leef eenvoudig net nie lank genoeg om die verandering waar te neem nie.

Voorkoms en karakter is twee eienskappe wat hand aan hand loop. Dis nie dieselfde ding nie maar die een beinvloed die ander dat dit so onafskeidbaar is soos ‘n siamese tweeling. Vat nou maar twee uiterstes; ‘n wit sandstrand iewers tussen Knysna en Natures Valley met die groen inheemse bos aan die een kant en die blou Indiese osean aan die aan die anderkant en vergelyk dit met die dorre onherbergsaamheid van die Richtersveld. Die uniekheid van díe twee biome se voorkoms en karakter stel hulle juis gelyk aan mekaar.

Dis amper soos twee vroue.  Die een smeulend, donker met die misterie van ‘n sigeunervrou en die ander blond met die energieke speelsheid wat jou uitdaag en terg.

So staan ek nou die dag en skeer voor die spieel en kan nie help om op te merk dat daar sigbare erosie skade is op die gesig wat terugkyk nie. Die son en die wind van jare se buite werk het hulle merke gelaat maar daar is ook ander spore van interne storms wat kepe uitgekerf het. Die uitgelate Sanboni van twintig jaar gelede het in ‘n oom verander.

En so van ‘n oom gepraat, die eerste keer toe ons ‘n Suid Afrikaanse vrywilliger op die projek kry het ek die jong mannetjie behoorlik laat verstaan dat hy my op my naam moet noem en dat die titel “Oom” slegs aan Oom Karools behoort. Toe hy vir my sê; “Nee goed Oom. Dit gaan moeilik wees maar ek sal probeer, Oom” het ek geweet daar lê ‘n opdraende pad vir my voor! Dit het ook nie baie lank gevat voordat hy my Oom genoem het voor die buitelanders nie. Die klomp het omtrent gelê soos hulle lag en Tina het sout in die wonde gevryf toe sy vir my sê, “Don’t worry Zio, we still love you!” met duiweltjies wat dans in haar donker oë. “Zio” het ek later uitgevind beteken “oom” in Italiaans.

En so heet ek nog steeds. Vrede.

 

 

Profile photo of Vloei

by Vloei

Kayalami Kronieke: Konflik

Junie 12, 2013 in Uncategorized

Vrede is ‘n toestand met ‘n kort lewensduur.  As dit te lank aanhou  is dit geneig om oor te gaan in eentonigheid of verveling. Daarteenoor staan konflik as vrede se teenpool  en dit het gewoonlik ‘n baie langer lewensduur met die verskil dat dit selde geklasifiseer kan word as eentonig!

In Kayalami is vrede ook ‘n relatiewe begrip en hang dit af van hoe dik jou vel is en hoe dik die mense se velle rondom jou is. Met die diversiteit wat hier aangetref word, is dit baie maklik om op tone te trap waar jy nie eers gedink het daar tone is nie! My raad aan voornemende vrywilligers of studente is dat hulle ‘n goeie dosis humorsin moet saambring maar selfs dit help nie altyd nie aangesien “snaaks” verskil van kutuur tot kultuur. Het jy al ooit ‘n grappie vertel en dit dan moes verduidelik aan jou gehoor? Dis nie snaaks nie.

Maar terug by die konflik onderwerp……Heel aan die begin van die projek is ons verveeld en besluit een aand om vir ‘n nagrit te gaan. Ek bestuur en Tina is langs my met die lig. Agterop die bakkie is ‘n Engelsman, ‘n Switserse paartjie, ‘n Franse meisie  nog twee Fransprekende Switserse meisies. Ons ry rond en lig ooral en sien ‘n paar oë van koedoes en rooibokke en hier en daar ‘n haas maar verder nie veel nie. Die verwagting van luiperd  word vinnig afgekoel deur die winterluggie wat deur  murg en been sny en ons besluit om om te draai en ons warm beddens te gaan opsoek.

Met die omdraaislag hoor ek takke kraak in die sekelboskasie aan ons linkerkant en ek skakel die enjin af om te luister. Eers is dit doodstil maar net toe ek weer die bakkie wil aanskakel, sien ons die bome roer. Olifante! Ons sit nog so grootoog en luister hoe hulle die takke breek toe ek die ets van ‘n groot ou bul teen die sterlig sien wat reg van voor op ons afgeloop kom. Hierna het dinge vinnig gebeur…….”Kikatso!” het Tina in Italiaans geprewel terwyl ek gesukkel het om die bakkie aan te skakel  om so gou as moontlik afstand te skep tussen ons en ou Grootpoot.  Met díe storm die bul met ‘n onaardse getrompetter en ek druk die bakkie in trurat. Ek kan nie onthou of Tina weer lelik in Italiaans  gepraat het nie maar ek kan wel onthou dat  sy die lig in my oë geskyn het en ek in die boskasie vasgery het en iewers lelik in Afrikaans gepraat het en toe maar die olifant met die bakkie gestorm het omdat ek uit ander opsies was. Dit het het die bul regs in die bosse in laat swenk.  Met die verby ry het hy ons weer geskraap maar toe was die pad oop voor my en Tina het beheer oor die soeklig gehad.

‘n Hele ent verder het ons stilgehou toe ons seker was dat ons die bul afgeskud het en tot ons ontsteltenis ontdek dat daar niemand agterop die bakkie was nie! Groot was die verligting toe ons mooi kyk en sien die hele spul het platgeval en as te ware deel geword van die bakkie se vloer! Ons het geskree van die lag maar nie almal het gedink dis snaaks nie.

Die konflik met die olifant het later ‘n legende geword wat aan die nuwe studente oorvertel is en sekerlik nog ‘n paar stertjies bygekry het met elke oorvertelling  iewers terug in Europa! Wat ek egter graag sou wou hoor is die ou bul se slaaptydstorie vir sy kalfie oor die keer toe hy een donker nag ‘n bakkie vol heidene tot bekering toe gejaag het.