Jy blaai in die argief vir 2011 Maart.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Ode aan ‘n boom

Maart 31, 2011 in Sonder kategorie

 

Ek het die boom daar gekry, teen die westehang van die rand. Dit was warm en die son het dooierus gevat op my. Ek het sy digte kroon op ‘n afstand gesien en aangestryk soontoe, tussen die sekelbosse en vervloekte knapse-kêrels deur. Sy skaduwee het my soos ‘n magneet aangetrek. Eerste indrukke is blywend. Sy dik, knoetserige stam het van ‘n ander, ouer tyd getuig. Tyd en die elemente het sy letsels gelaat. Karakter gevorm deur breek en hergoei, droogte, weerlig en tallose veldbrande.

 

Sy kroon was wyd gesprei en die blare welig. Die koelte was ‘n welkome lafenis en aan die omgedolwe grond kon ek aflei dat ek nie die eerste was wat hier kom skuiling soek het nie. Wildebees, koedoe en vlakvark se spore het daar gelê. Teen die stam was die naelmerke van ‘n groot ou spikkelkat. Op die naat van my rug het ek gelê en opgekyk na die takke wat die ou wildevy soos arms oor my gehou het. “Hoeveel honger het jy gestil met jou vrugte en lower? Hoeveel het skuiling in en onder jou gevind?” het ek gewonder. “Wat het jy alles in jou leeftyd gesien?”Die boom moes honderde jaar oud wees. Teen die hang is die grond vlak en arm. Niks groei vinnig hier nie!

 

Ek moes hom klim. Vanuit die boonste takke het ek met ontsag gekyk na die uitsig waaroor hierdie boom gewaak het. “Hoe anders moet dit nie wees om ‘n statiese organisme te wees nie.” Het ek gedink terwyl ek afgeklim het. Ek het my natgeswete hoed opgesit en weer begin aanstap onder die ongenaakbare son. Ek het terug gekyk en gesien die blare roer in ‘n sagte briesie.

 

 

 

 

 

 

 

Profile photo of Vloei

by Vloei

Droog

Maart 10, 2011 in Sonder kategorie

Wanneer die maroelas en wag-‘n-bietjies se blare hang kan jy maar weet dis warm en dit het lanklaas gereen, maar as ‘n gwarriebos verlepperig begin lyk is dit droog. Groen het begin om sy groen te verloor en die oggenddou het opgehou. Selfs die paar yl wolkies wat agtermiddae op die westewind aangedryf kom, bied min hoop. Vreemd hoe uiterstes in mekaar kan vervloei sodat mens skielik op ‘n dag opmerk dis nie meer soos gister nie.

Gister se reen het plek gemaak vir vandag se son wat alles probeer doodskroei. Die opdrifsels van Desember se vloed is die enigste herinnering van ‘n koeler, natter tyd waar daar nou nog net poele staande water groenerig le en verdamp in die rivierloop. Die olifante het begin om syfergate te grawe vir skoner water. Zoeloeland se groen is besig om weg te bak in die nasomer son.

My laaste slukkie water in my waterbottel is lou as ek dit in my keel afgooi. Het jy al geproe hoe hemels daai laaste bietjie water kan wees wanneer dit regtig droog is?