Jy blaai in die argief vir 2010 Februarie.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Om deur te druk

Februarie 19, 2010 in Sonder kategorie

 

Hierdie, normaalweg klein, droe driffie het na ‘n goeie bui reen in ‘n druisende rivier ontaard. Dit was ‘n gesig om een van die natuurkragte in aksie te sien. Alhoewel die water nie so diep oor die drif vloei nie ( tussen die knie en die heup) het die geweldige krag van die water byna my voete onder my uit gespoel toe ek so klein entjie ingestap het om te voel hoe sterk dit is!

 

Ons het gewag dat die water sak en is toe met die bakkie deur na ‘n benoude oomblik of twee! Die 60 mm wat geval het gaan ‘n welkome verligting wees en oor ‘n paar dae gaan dit GROEN wees.

 

 

Profile photo of Vloei

by Vloei

Om die volgende draai

Februarie 13, 2010 in Sonder kategorie

 

Wat wag vir jou om die volgende draai? As ons dit geweet het sou dit maar ‘n bitter saai wereld gewees het of ons sou net daar gestop het en geweier het om verder te gaan. Hoe dit ook al sy, ‘n insident vanmiddag het my aan die dink gesit. Ek was besig om my fiets in ‘n tweespoor paadjie af te trap in my nuwe habitat toe ek om ‘n draai kom en amper agter in ‘n seekoei se gat vasry (letterlik)! Twee dinge het in my guns getel, ek was windaf en hy was baie besig om te wei. Ek het tyd gehad om hierdie kiekie te neem met my selfoon voor ek in my spore omgedraai het. Die perspektief op die foto laat nie reg geskied aan die situasie nie (of miskien het hy vir my nader gelyk deur my oopgerekte oe).

 

Ek is nou weg van die kus en terug in die bos (nog steeds Zoeloeland). Die geleentheid om gereeld die blogs te besoek gaan homself nie so dikwels voordoen nie maar ek sal nog so elke nou en dan inloer. Daar sal meer hout vir my kampvuur wees. Hoop julle mis ook die seekoei om die volgende draai.  Vrede

Profile photo of Vloei

by Vloei

Geskiedenis op water

Februarie 4, 2010 in Sonder kategorie

 

Die boot hiebo het ‘n week gelede reguit vanuit ‘n Asterixboek uit in Richardsbaai in geseil. Die replika van ‘n antieke Phoeniese seilskip is besig om rondom Afrika te seil in ‘n poging om te bewys dat dit wel moontlik was vir die mense van ouds om dit te doen en dat die Portugese dalk nie die eerstes is wat dit reggekry het nie. As julle “Phoenicia” gaan google sal julle al die inligting omtrent die ekspidisie kry en vir die meer avontuurlikes van ons blogmaters….hulle soek nog bemanning vir die volgende been van die reis af Kaap-toe!

Die huidige bemanning is soos die Engelse sê, ‘n “motley crew” (daar was so metalband ook gewees, lank terug). Twee Brasiliane, drie Indonisieers, een Japanees, twee Britte, twee Amerikaners en ‘n Sweed. Ons het hulle laasweek tegemoed geseil met hulle aankoms van Beira af en dit was ‘n gesig om te sien. Ek het net my selfoon gehad om die fotos te neem so verskoon maar die kwaliteit!

Die volgende been gaan seker een van die mees uitdagendste wees. Tussen Durban en Oos-London lê daar 600 seemyl van die mees  berugte kuslyn en weerstoestande. Die karakters op die boot is iets om ‘n storie oor te skryf en het ek nie dringende ander verpligtinge gehad (soos ‘n werksaanbod nie!) was ek op daai skip! Sal julle op hoogte hou en dalk later ‘n paar stories vertel.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Wat het rekenaars met die prys van paaseiers te doen?

Februarie 4, 2010 in Sonder kategorie

Die ding met rekenaars is dat hulle breek (soos baie ander goed) en dat mens afhanklik raak van dit hoe meer jy dit gebruik (soos ook met baie ander goed). Ek is op geleende tyd wat betref internet toeganklikheid voor ek weer die bosse invaar. Ek wou my tyd gebruik om blogs te lees en nog ‘n paar stories te vertel en toe breek my rekenaar…….

 

My waarborg het net verstryk toe hy/sy/dit die gees gegee het! Hoe die vervaardigers weet hoe om die goed te bou sodat hulle breek net na die waarborg oor is, gaan my verstand te bowe! Dit het seker maar iets te doen met ondervinding, finasieele oppertunisme of , in my opinie, ‘n gebrek aan integriteit. Noodgedwonge moes ek toe nou maar ‘n nuwe een gaan koop met geld wat elders benodig word.

 

Die agent sê my toe dat my ou (nuwe!) rekenaar niks werd is nie. Hulle gooi die goed weg en ek dink toe hoeveel duisende gevall soos myne daar oor die wêreld plaasvind. Dit grens aan misdaad as jy bietjie dink aan die impak op grondstowwe en die besoedeling wat gepaard gaan met vervaardiging. Om nie eers te praat van wat word van die stukkende “nikswerd” produkte nie! ‘n Dooie rekenaar ontbind nogal stadig.

 

Hierdie growwe voorbeeld van “consumerism” laat my nou dink aan nou die dag in die winkel. Met Kersfees agter ons is die rakke al klaar gelaai met…….paaseiers! Ek moet nou eers bieg dat ek ‘n soettand het wat my elke nou en dan in die versoeking lei en ‘n swak het vir daai simpel marshmellow en tjoklit paaseiers wat hulle altyd daar by die til sit vir die klein kindertjies wat saam met Mammie inkopies kom doen (en grootmense soos ek!). Ek koop vir my twee maar iets voel nie reg nie. Toe ek hulle oopmaak sien ek hulle het kleiner geword! Ek weet dit want ek het nie grootter geword van laas jaar af nie. Blikkies koeldrank het altyd 340 ml gewees en nou is hulle 330ml. Gaan kyk maar. Ons betaal duurder vir minder sodat die groot maatskapye se winsgrens kan rek.

 

Dink hulle ons is stupid om so blatant die verbruiker te melk. Dink hulle niemand kom dit agter nie! Maar dalk is hulle reg want ek het my nou klaar lus geskryf vir een van daai paaseiertjies en saam met die melk en brood en ander lewens noodsaaklikhede wat ek later vandag gaan moet koop.

Vrede vir julle.