Jy blaai in die argief vir 2010 Januarie.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Luister

Januarie 24, 2010 in Sonder kategorie

Ek hou van musiek. Baie keer vul dit die leemtes wat woorde laat. Die kitaar is nog altyd my gunsteling gewees. Daar is tye wat niemand my gevoel beter kan beskryf as Led Zeplin, Hendrix of Garry Moore nie. Mark Knofler sal altyd vir my groen bly met sy eie soortige styl en stem en ou “Slow Hand”is vir my ‘n lewende legende! Blues, rock en metal is wat my hart vinniger laat klop en daar was ‘n tyd in my lewe wat ons vierman garageband die bure laat verlang het na ‘n ander woonbuurt. My kitaarloopbaan het nooit verder gestrek as my puberteit nie, maar die liefde vir ‘n aansteeklike ritme gemeng met rou-eerlike lirieke het gegroei.

Maar vannaand luister ek klavier. Om meer spesifiek te wees, Chopin. Sondagaande is nie die beste van tye nie en veral nie as ek weer die seuntjies moes terug vat na hulle ma toe nie. Vannaand is hierdie musiek salf vir my gemoed en ek gaan dit ‘n onreg aandoen om dit te probeer beskryf. Ek weet nie eers watter overtures of watookal dit genoem word is nie. Al wat ek weet is dat dit onuitspreeklik mooi is! Ek weet nou wat ek die volgende keer gaan opsit as die donker my weer in ‘n hoek probeer dryf. Vrede

Profile photo of Vloei

by Vloei

Ook ‘n bo-stuklose gebeurtenis

Januarie 23, 2010 in Sonder kategorie

Heelwat jare gelede toe die volksvaders nog gesorg het vir morele standaarde (deur wetgewing afgedwing) en ek nog ‘n “cadet-ranger”vir die ou Natalse Parkeraad was, het die volgende insident plaasgevind:

Op die Noordkus by een van die kusreservate het ek my laaste maand se prakties gedoen en dit was gedurende die Desember vakansie. Dit was nog laaaank voor Vali Moosa se tyd en die hele strand was vol 4×4’s, kinders, hengelaars en sonaanbidders. Ek was net klaar gewees om een (van vele) onervare strandryer uit die sagte sand te sleep, toe ek per radio dringend na die kantoor-toe ontbied is deur die reservaatbestuurder se vrou.

Daar aangekom het ek ‘n ontstelde groepie vroue en ‘n ongemaklike reservaatbestuurder aangetref. “Jy moet vir ons ‘n probleem gaan uitsorteer.” het hy my meegedeel met ‘n ietwat afgunstige blik in sy oe. Die rede vir die tannies se verontwaardiging was dat daar 3 buitelandse dames besig was om aan ‘n “all over tan” te werk ten aanskoue van kinders en ander minderjariges. Kan ek tog net gaan en aan hulle verduidelik dat dit teen wetgewing is en dat hulle van publieke onsedlikheid aangekla kan word!

Ek is terug strand toe in die groen Parkeraadbakkie met die tannies kort op my hakke in ‘n silwer Cressida. Dit was nie baie moeilik om die verdagtes op te spoor nie, jy kon maar net die rigting inslaan na waar die meeste koppe toe gedraai was! In my lewe het ek nog nooit so ongemaklik gevoel nie terwyl ek oor die warm sand aanstryk in my kakie uniform, lang Parkeraad sokkies en ‘n paar Grasshoppers. Nou was die meeste oe op my!

Ek kan eerlikwaar nie die detail onthou van daardie oomblik nie, maar sekere beelde is in my geheue vasgebrand. Hulle was jonk, baie mooi en daar was nie sterretjies op die strategiese plekke soos altyd in die Scope nie. My mond was verskriklik droog a.g.v. die versengende hitte en Engels en praat was nog nooit my sterkpunt nie. In my beste Brits met my oe ongemaklik na bo gekeer het ek vir hulle gese: “Good morning ladies. It is illegal to be breastless in public…….” Ek het nie veel verder gekom nie terwyl hulle met sulke duiweltjies in hulle oe, tergend stadig, hulle toppies oor hulle bolywe getrek het wat alles behalwe “borsloos” was.

Ek het daardie dag besef hoekom dit so belangrik is om goed voor te berei vir jou “English oral”.

Profile photo of Vloei

by Vloei

‘n Les in Oorlogvoering

Januarie 22, 2010 in Sonder kategorie

Zeppie se Oorlogskrywe het my nou laat dink aan die juffrou wat haar geskiedenisklas so bietjie kleur wou gee deur ‘n oorlogsveteraan te nooi om van sy wedervaringe gedurende die 2de wêreldoorlog te vertel.

 

“Kinders, dis nou Maj. Thomson en hy gaan julle vandag vertel van sy ervarings as vegvlieenier gedurende die “Battle of Britton”.” Met sy oë so op skrefies en teruggevoer in die verlede, trek hy daar weg en sê: “En daar was ek en my eskader op 20 000vt in ons Spitfires en Hurricans bo-kant London toe ek ‘n fokker  uit die hoek van my oog gewaar…….”

 

Juffrou val hom haastig in die rede; “Klas, soos julle almal weet, is ‘n Fokker ‘n Duitse gevegsvliegtuig!”

“Nee Juffie, “ hervat die major, “daai fokker was in ‘n Messershmidt.”