Profile photo of Vloei

by

Hoe nou?

Desember 17, 2009 in Sonder kategorie

 

 

Partykeer kan ‘n doodonskuldige vraag heeltemal verkeerd verstaan word, of die antwoord kan dalk heel aspris voor die verkeerde wa ingespan word! Dit laat my nou dink an ‘n insident wat so ruk terug plaasgevind het en wat my amper laat stik het in my lag.

 

Ons was besig met ‘n lugopname van uitheemse plantegroei en het so vlieg-vlieg deur die land beweeg. Uit die aard van die werk het ons gereeld op klein afgelee plekkies beland waar daar gewoonlik niks meer as ‘n grondaanloopbaan was nie met dalk ‘n ou geroeste hek wat weinig beteken het in terme van sekuriteit vir die kuikens (vliegmasjiene). Gewoonlik is daar gou gereel met die plaaslike gemeenskap en ‘n wag is gehuur vir die aand wat na die veiligheid van ons strydrosse moes omsien.

 

So beland ons toe een laat middag op Prins Albert se landingstrokie en na ons die kuikens behoorlik vasgemaak het teen moontlike stormwinde is ons na ons gastehuis om gou ons goedjies af te laai en die dorp te verken voor dit donker word. Dit was A se werk gewees om gou die wag te gaan organiseer vir die aand se oppaswerk. Sommer gou het hy ‘n man in die straat voorgekeer en ‘n ooreenkoms onderhandel

 

Net so ter wille van ‘n bietjie agtergrond moet ek nou noem dat A ‘n oud-SAP lugvleul vlieenier is en dat sy groot hart en ware mede-menslikheid partykeer deur sy taakmag styl van praat verskans word. Netvoor donker besluit hy om gou ‘n draai by die kuikens te gaan maak om te sien of die wag op sy plek is. Toe ek en hy daar by die vliegveldjie aankom, brand daar so klein gesellige vuurtjie en stuk of 4 of 5 kerels sit lekker en kuier met ‘n kan wyn. Ter wille van identifikasie en om gou ‘n woordjie met die oorspronklike wag te he vra A; “Wie’s die baas hierso?”.

 

Dit het stil geword om die vuurtjie tot een van die manne met so rasta haarstyl opkyk na A en terwyl hy hom so met die een oog korrel, se “Seke ma djy, menee!”

 

 

 

A besig om die kuiken te kniehalter op Prins Albert

4 antwoorde op Hoe nou?

  1. Berwick het gesê op Desember 17, 2009

    :-))

  2. Kyk nou net hoe mooi is die Karooveld! Daar is sulke vliegtuie wat pasiënte van die plaaslike hospitaal kom oplaai Georgehospitaal toe en elke keer as ‘n vliegtuigie inkom weet ‘n ieder en ‘n elk wie nou weer so ernstig siek is.

  3. Vertel meer oor die opnames van die uitheemse plantegroei? Dink julle het oor ons plasie ook gevlieg– die dat die bobbejane nou so versigtig is en ek nie meer heeldag en aldag met die windbuks hoef rond te loop nie…
    Neem vir ons n paar fouties van bo af asseblief…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.