Profile photo of Vloei

by

Nog ‘n kampvuurstorie

Desember 6, 2009 in Sonder kategorie

 

Vannaand sit ons ver van die  vuur af. Party manne kan hout mors (veral as hulle dit nie self gesny of gedra het nie). Die vuur brand groot en die gesprek handel oor luiperd. Die ewige konflik tussen die mens en die natuur het ons vannaand om die vuur bymekaar gebring. Dis die staat se plig om sy probleemdiere te verwyder wanneer die veeboere skade ly en so het ons toe die luiperdhok gaan stel  op Oom So en so se plaas.

“Daai is nie ‘n katjie om sonder handskoene aangepak te word nie.  Trek sommer jou kopvel van jou skedel af!” reken een van die buurmanne.  “Daar’s nie tyd vir mik as hy jou storm nie. Jy moet jou skiet ken anders gaan jy sy skerpkante voel! Soos daardie een aand by ou Willie Geld se lande toe….” en hy mompel iets oor ‘n skadepermit en verander die onderwerp toe hy onthou een van Fauna en Flora se manne sit ook vannaand hier. Luiperd is per slot van rekening op Cites se lys!

 Daar word met kleur en geur vertel van ou Watsenaam wat met kaalhande ‘n geveg tot die dood toe gehad het met so kollekat. “Die vel met die kop hang daar oor sy sitkamerbank!”beaam iemand anders die storie. Ek is amper teleurgesteld toe ek hoor dis die luiperd en nie ou Watsenaam wat dood is nie. Ek ken ou Watsenaam en het ‘n goeie vermoede daar was vuilspel betrokke. Glad nie so gelykop stryd nie! 

Ek het myself later verskoon toe die geselskap lekker lawaaierig begin word het met die hulp van o.a. tiermelk.  “Ek moet nog ‘n draai of twee gaan ry vannaand, Oom.” Ek het die manne om die vuur gegroet en so met die wegstap gehoor een van ou Watsenaam se pelle praat kliphard oor hoe baie belasting hy moet betaal om hierdie staatsamptenare se salarisse te onderhou. ‘n Mens raak later dikvellig vir sulke aanmerkings, maar dit krap maar altyd so bietjie.  

Ek en Nduku het so ent met die bakkie die veld in gery en ons reggemaak vir die nag, so 2 km vanwaar ons die hok gestel het met die oorblyfsel van die Brahmankalfie as lokaas. Ek het ‘n klein vuurtjie gemaak terwyl Nduku gou ons slaapgoed agter die bakkie afgehaal het. Terwyl ek wag dat die water moet kook vir my laaste koppie rooibostee (ek is nie ‘n groot koffiedrinker nie) het ek gedink aan een van my ervarings met ‘n luiperd wat vir my bo die ander uitgestaan het.

Ons was besig met uitdunning van nyalas op die reservaat. Hulle is in die reservaat ingebring lank voordat wildhervestiging op ‘n behoorlike wetenskaplike manier plaasgevind het. Die gevolg was dat hulle vinnig aangeteel het in ‘n gebied waar daar histories nooit nyalas voorgekom het nie en nou besig was om die endemiese bosbokbevolking onder druk te plaas. Ons kon geen koste effektiewe manier kry om hulle lewendig te vang nie (klowe, dongas en toegegroeide rivieroewer !). Uitskiet was al raad en die vleis is dan herwin en verkoop.

Ek was besig om een laat middag windop met die rivieroewer langs te beweeg. Die wind was redelik sterk in my gesig en het enige geritsel van droë blare verbloem. My eie ou .303 was reg in my hande vir net optel en aanlê en terwyl ek stadig voorentoe beweeg het,het ek die ruie oewer gefynkam vir enige beweging. Hierdie is nyala habitat! ‘n Beweging uit die hoek an my linkeroog en ‘n sagte geritsel het my aandag getrek.

Nie vyf tree van my af nie het ‘n luiperd uit die boom gespring wat oor die wildspaadjie gehang het waarmee ek aangeloop gekom het. Tyd het vir ‘n oomblik gaan stilstaan terwyl ek en hy mekaar vol in die oog gekyk het. Dit kon nie langer as ‘n paar sekondes op die meeste gewees het nie maar dit was lank genoeg om dit in my geheue vas te gebrand het. Die volgende oomblik het hy omgedraai en weggeloop. Nie gehardloop nie, nie gestorm nie. Net weggeloop en onhoorbaar in die langras verdwyn. Hoe lank ek nog so gevries gestaan het daarna kan ek nie onthou nie maar my eerste gewaarwording was soos iemand wat uit ‘n droom wakker geword het.

As dit nie was dat ek sy spore gesien het nie en die vars naelmerke aan die stam nie, sou ek kon sweer dit was ‘n droom! Dit het te vinnig gebeur om te skrik en alhoewel die geweer in my hande was met ‘n rondte in die kamer, het ek nie eers daaraan gedink om dit te gebruik nie. Ek is ‘n realistiese ou en vat baie stories met ‘n knippie (of ‘n sak!) sout. As iemand vir my vertel hy kon iets soos broederskap in ‘n luiperd se oë lees, sou ek gesê het dat perdedrolle nie vye kan wees nie! Wat dit ookal was, hierdie herinnering is een van daai mooies wat ek saam dra en op spesiale dae afstof.

Op die naat van my rug op my slaapsak het ek  daardie kenmekende rasperstem hoor roep en gewonder hoe lank ons nog hulle na ‘n veilige tuiste sal kan neem  voordat ons aangejaagde evolusie hulle van hul laaste vesting gaan beroof.

1 antwoord op Nog ‘n kampvuurstorie

  1. Hel dis ‘n goeie ding dit gebeur nie elke dag nie – om so na aan een te wees – te voet – is nie sports nie. Die goed is bleddie vinnig…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.