Profile photo of Vloei

by

Kampvuurstories

Desember 3, 2009 in Sonder kategorie

 

 

Dit was ‘n koue donker nag en ons kampvuur was groter as gewoonlik, deels oor daar ‘n oorvloed sekelbos in díe deel van die reservaat was en deels oor die koue. Mazibuko het die pot se deksel afgehaal en die pap ‘n vinnige roer gegee. Die geur van die pap het met die rook gemeng  en die hongerpyne in my maag  wakker gemaak. Daar het ‘n gemoedelikheid geheers rondom die vuur en Majola was besig om met al die nodige bygeluide en gebare die een of ander storie te vertel.  Mphaga het diep in die vuur gestaar en op die oog af hom min gesteur aan die jongmanne se uitbundigheid.

 

Vroeër die dag, terwyl ons oppad was na ons kampplek, het ek en Jannie op ‘n jong likkewaantjie afgekom. Die koue het hom stadig gemaak en en Jannie het hom behendig agter die kop gevang. Ek en Jannie het na mekaar gekyk en dieselfde gedagte het woorde onnodig gemaak. Ek het die groot ou driebeenpot gedra en gou die deksel oopgemaak sodat Jannie ongemerk die likkewaan kon insit. Die ander veldwagters was besig om vuurmaakhout te soek en wis van niks.

 

Die vuur was al lekker aan die gang en die manne het nader gestaan om die hitte in te drink. “Mazibuko! Spoel gou vir ons daai pot uit sodat ons die pap kan maak”, het Jannie met ‘n sedige gesig gesê. Mazibuko was ‘n ouerige Swazi met ‘n vinnige  humeur en ‘n geniepsige kierie. Van die jonger veldwagters het al deurgeloop en was maar versigtig rondom hom. Niksvermoedend het hy na die pot geloop wat ‘n entjie van die vuur onder die wilde vyeboom gestaan het  en die deksel afgehaal om water in te gooi.

 

Wat daarop gevolg het moes agterna onder ‘n groot gelag deur verskillende waarnemers uitgelê word aangesien dit so vinnig plaasgevind het. Die likkewaantjie het met ‘n onaardige geblaas sy misnoeë te kenne gegee, Mazibuko het reguit die lug in geskiet met ‘n “Inyoga!!” en nog voor sy voete die grond geraak het, die deksel terug gesit en in ‘n stofwolk verdwyn. Die ander veldwagters het soos ‘n handgranaat uitmekaar gespat. Eers toe die stof gaan lê het en ek en Jannie, kruipend van die lag, die verontwaardige likkewaantjie laat gaan het, het almal tot verhaal gekom. “Uxhamo!” het hulle uitgeroep en aan die lag geraak.

 

Sebasa wat naby Mazibuko gestaan het moes haastig koes toe Mazibuko sy gekreukelde eer op hom wou uitstryk! Majola het heelwat stadiger uit die Swart Apiesdoringboom geklim as daarin en die ander het versigtig uit die bos terug gekom. Dit het Mazibuko ‘n rukkie gevat maar hy het wel later die humor in die situasie gesien en darem met ‘n glimlag aan ons beduie ons moet nie die uxhamo in die pappot sit nie, dit kan die ander mense laat skrik! Ek het die pot gaan was en vol water op die vuur gesit. Die situasie is ‘n paar keer herbeleef en oorvertel deur verskillende waarnemers met Mazibuko wat elke keer heftig ontken het dat hy geskrik het. Mphaga het net een keer, met sy oë nog in die dansende vlamme, droog opgemerk; “Daai Mazibuko, hy kan darem vinnag toemaak daai pot!”

 

Die vuur het laag gebrand en ‘n Skopsuiltjie se eensame “Krrrr” het die winterstilte verbreek. Die koue het sy ysige vingers in my nek probeer druk en ek het die slaapsak stywer vasgetrek. In daardie oomblik voor slaap jou wegvoer en jou gedagtes inmekaar vervloei, het ek my verbeel die likkewaan staar na my soos Mphaga na die vuur gestaar het.

3 antwoorde op Kampvuurstories

  1. adoonsie het gesê op Desember 3, 2009

    Dankie vir jou lekker lees storie. Ek gaan nou terug gaan op jou blog en van bladsy een af begin lees.

  2. lol..dis oulik..ek wens ek kon my ma se gesig sien vandag met dai slang

  3. Dit is van my gunsteling tipe lekkerlees stories die,Vloei.
    Jy laat my nou terugdink aan hoeveel kere ek al net so in ‘n slaapsak in die veld gelê en wonder het oor dinge onder die sterrehemel.Dankie vir die lekker verteling.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.