Jy blaai in die argief vir 2009 Desember.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Hoe nou?

Desember 17, 2009 in Sonder kategorie

 

 

Partykeer kan ‘n doodonskuldige vraag heeltemal verkeerd verstaan word, of die antwoord kan dalk heel aspris voor die verkeerde wa ingespan word! Dit laat my nou dink an ‘n insident wat so ruk terug plaasgevind het en wat my amper laat stik het in my lag.

 

Ons was besig met ‘n lugopname van uitheemse plantegroei en het so vlieg-vlieg deur die land beweeg. Uit die aard van die werk het ons gereeld op klein afgelee plekkies beland waar daar gewoonlik niks meer as ‘n grondaanloopbaan was nie met dalk ‘n ou geroeste hek wat weinig beteken het in terme van sekuriteit vir die kuikens (vliegmasjiene). Gewoonlik is daar gou gereel met die plaaslike gemeenskap en ‘n wag is gehuur vir die aand wat na die veiligheid van ons strydrosse moes omsien.

 

So beland ons toe een laat middag op Prins Albert se landingstrokie en na ons die kuikens behoorlik vasgemaak het teen moontlike stormwinde is ons na ons gastehuis om gou ons goedjies af te laai en die dorp te verken voor dit donker word. Dit was A se werk gewees om gou die wag te gaan organiseer vir die aand se oppaswerk. Sommer gou het hy ‘n man in die straat voorgekeer en ‘n ooreenkoms onderhandel

 

Net so ter wille van ‘n bietjie agtergrond moet ek nou noem dat A ‘n oud-SAP lugvleul vlieenier is en dat sy groot hart en ware mede-menslikheid partykeer deur sy taakmag styl van praat verskans word. Netvoor donker besluit hy om gou ‘n draai by die kuikens te gaan maak om te sien of die wag op sy plek is. Toe ek en hy daar by die vliegveldjie aankom, brand daar so klein gesellige vuurtjie en stuk of 4 of 5 kerels sit lekker en kuier met ‘n kan wyn. Ter wille van identifikasie en om gou ‘n woordjie met die oorspronklike wag te he vra A; “Wie’s die baas hierso?”.

 

Dit het stil geword om die vuurtjie tot een van die manne met so rasta haarstyl opkyk na A en terwyl hy hom so met die een oog korrel, se “Seke ma djy, menee!”

 

 

 

A besig om die kuiken te kniehalter op Prins Albert

Profile photo of Vloei

by Vloei

Gaan speel, dis vakansie!

Desember 12, 2009 in Sonder kategorie

Van more af het ek die mannetjies hier by my vir ‘n deel van die skoolvakansie. Aangesien tyd ‘n manier het om weg te hardloop, gaan ons die meeste daarvan maak. Daar gaan geseil word, gaan kamp word, geswem word en gespeel word. Ek het klaar vanoggend ‘n pakkie pleisters gaan koop vir die nerf-af kniee en elmboe!

 

Daar gaan nie nou getob word oor werk en geld en al daardie ernstige goed nie en vir ‘n paar dae gaan ek weer kind wees saam met my kinders! (Voordat hulle te oud word vir my).

 

Ek hoop julle ander kinders hier in blogland gaan ook tyd maak vir tjoklithande, roomysbekke, baie lag en boomklim (al is dit net vir ‘n rukkie).

 

 

Mieliepit en ‘n moeraskrap

 

 

 

 

 

 

Boesman en Mieliepit bou vlot

 

Vrede vir julle!

Profile photo of Vloei

by Vloei

Bulkhead?

Desember 8, 2009 in Sonder kategorie

Na al die koue en reen is temperature terug na Zoeloeland normaal. Ek het die stukkies mooiweer benut om die bul by die horings te pak en Gargantua se “bulkhead” uit te haal. Nou moet ek vir julle se dat dit nie grappies is om dit te doen wanneer die temperature in die dertigs draai en die humiditeit jou sweetende lyf versmorend in ‘n wolkombers toedraai nie! Maar dis uit en ek voel of ek ‘n veldslag gewen het. Dit het fyn saagwerk gekos om nie die romp te beskadig nie en tussen die twee oop luike het daar beswaarlik ‘n luggie deurgetrek.

 

Die laaste keer wat ek so gevoel het was toe ek vir die eerste keer in my lewe in ‘n sauna gesit het. Hoe de ongeluk kan mense dit vir hulle plesier doen!? Ek is seker die ouens wat dit gereeld doen, oefen vir die hiernamaals. In elkgeval, ek het dit oorleef en dit lyk ons volgende reenweer nie te ver is nie.

Kan iemand dalk vir my se wat is ‘n bulkhead in Afrikaans?

 

 

Dis nou klein Gargantua (met haar bulkhead nog in!)

Vrede.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Nog ‘n kampvuurstorie

Desember 6, 2009 in Sonder kategorie

 

Vannaand sit ons ver van die  vuur af. Party manne kan hout mors (veral as hulle dit nie self gesny of gedra het nie). Die vuur brand groot en die gesprek handel oor luiperd. Die ewige konflik tussen die mens en die natuur het ons vannaand om die vuur bymekaar gebring. Dis die staat se plig om sy probleemdiere te verwyder wanneer die veeboere skade ly en so het ons toe die luiperdhok gaan stel  op Oom So en so se plaas.

“Daai is nie ‘n katjie om sonder handskoene aangepak te word nie.  Trek sommer jou kopvel van jou skedel af!” reken een van die buurmanne.  “Daar’s nie tyd vir mik as hy jou storm nie. Jy moet jou skiet ken anders gaan jy sy skerpkante voel! Soos daardie een aand by ou Willie Geld se lande toe….” en hy mompel iets oor ‘n skadepermit en verander die onderwerp toe hy onthou een van Fauna en Flora se manne sit ook vannaand hier. Luiperd is per slot van rekening op Cites se lys!

 Daar word met kleur en geur vertel van ou Watsenaam wat met kaalhande ‘n geveg tot die dood toe gehad het met so kollekat. “Die vel met die kop hang daar oor sy sitkamerbank!”beaam iemand anders die storie. Ek is amper teleurgesteld toe ek hoor dis die luiperd en nie ou Watsenaam wat dood is nie. Ek ken ou Watsenaam en het ‘n goeie vermoede daar was vuilspel betrokke. Glad nie so gelykop stryd nie! 

Ek het myself later verskoon toe die geselskap lekker lawaaierig begin word het met die hulp van o.a. tiermelk.  “Ek moet nog ‘n draai of twee gaan ry vannaand, Oom.” Ek het die manne om die vuur gegroet en so met die wegstap gehoor een van ou Watsenaam se pelle praat kliphard oor hoe baie belasting hy moet betaal om hierdie staatsamptenare se salarisse te onderhou. ‘n Mens raak later dikvellig vir sulke aanmerkings, maar dit krap maar altyd so bietjie.  

Ek en Nduku het so ent met die bakkie die veld in gery en ons reggemaak vir die nag, so 2 km vanwaar ons die hok gestel het met die oorblyfsel van die Brahmankalfie as lokaas. Ek het ‘n klein vuurtjie gemaak terwyl Nduku gou ons slaapgoed agter die bakkie afgehaal het. Terwyl ek wag dat die water moet kook vir my laaste koppie rooibostee (ek is nie ‘n groot koffiedrinker nie) het ek gedink aan een van my ervarings met ‘n luiperd wat vir my bo die ander uitgestaan het.

Ons was besig met uitdunning van nyalas op die reservaat. Hulle is in die reservaat ingebring lank voordat wildhervestiging op ‘n behoorlike wetenskaplike manier plaasgevind het. Die gevolg was dat hulle vinnig aangeteel het in ‘n gebied waar daar histories nooit nyalas voorgekom het nie en nou besig was om die endemiese bosbokbevolking onder druk te plaas. Ons kon geen koste effektiewe manier kry om hulle lewendig te vang nie (klowe, dongas en toegegroeide rivieroewer !). Uitskiet was al raad en die vleis is dan herwin en verkoop.

Ek was besig om een laat middag windop met die rivieroewer langs te beweeg. Die wind was redelik sterk in my gesig en het enige geritsel van droë blare verbloem. My eie ou .303 was reg in my hande vir net optel en aanlê en terwyl ek stadig voorentoe beweeg het,het ek die ruie oewer gefynkam vir enige beweging. Hierdie is nyala habitat! ‘n Beweging uit die hoek an my linkeroog en ‘n sagte geritsel het my aandag getrek.

Nie vyf tree van my af nie het ‘n luiperd uit die boom gespring wat oor die wildspaadjie gehang het waarmee ek aangeloop gekom het. Tyd het vir ‘n oomblik gaan stilstaan terwyl ek en hy mekaar vol in die oog gekyk het. Dit kon nie langer as ‘n paar sekondes op die meeste gewees het nie maar dit was lank genoeg om dit in my geheue vas te gebrand het. Die volgende oomblik het hy omgedraai en weggeloop. Nie gehardloop nie, nie gestorm nie. Net weggeloop en onhoorbaar in die langras verdwyn. Hoe lank ek nog so gevries gestaan het daarna kan ek nie onthou nie maar my eerste gewaarwording was soos iemand wat uit ‘n droom wakker geword het.

As dit nie was dat ek sy spore gesien het nie en die vars naelmerke aan die stam nie, sou ek kon sweer dit was ‘n droom! Dit het te vinnig gebeur om te skrik en alhoewel die geweer in my hande was met ‘n rondte in die kamer, het ek nie eers daaraan gedink om dit te gebruik nie. Ek is ‘n realistiese ou en vat baie stories met ‘n knippie (of ‘n sak!) sout. As iemand vir my vertel hy kon iets soos broederskap in ‘n luiperd se oë lees, sou ek gesê het dat perdedrolle nie vye kan wees nie! Wat dit ookal was, hierdie herinnering is een van daai mooies wat ek saam dra en op spesiale dae afstof.

Op die naat van my rug op my slaapsak het ek  daardie kenmekende rasperstem hoor roep en gewonder hoe lank ons nog hulle na ‘n veilige tuiste sal kan neem  voordat ons aangejaagde evolusie hulle van hul laaste vesting gaan beroof.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Los af

Desember 6, 2009 in Sonder kategorie

Ek het vanoggend LOS AF! van Cobus Bothma klaar gelees. ‘n Uitstekende boek wat  net byval sal vind by ‘n sekere era se mense. Ek praat nie soseer oor die nostalgie wat die skrywer by die lesers mag opwek nie of oor die tragedie wat met humor geverf word nie. Ek praat van dit wat ek hier op die blogs ook sien. Oor hoe ‘n mens jou siel skoonskryf. Oor ou wonde wat oopgekrap word sodat die etter kan uit.

 

Daar is sekere aspekte waaraan hy raak waaroor boeke geskryf kan word (al geskryf is). In die huidige Suid-Afrika met sy politiese korrektheid, is die Bosoorlog nie meer ‘n onderwerp waaroor graag gepraat word nie. En om hierdie rede loop daar baie mans, wat vinnig hulle seunsskoene moes ontgroei, rond met swere (en so ook die sulkes se geliefdes en familie ). Miskien moet meer mense díe tipe boek lees om so bietjie te kan probeer verstaan.

 

In elk geval, ek gaan nou maar swem aangesien sonskynweer ‘n skaars ding geword het hier aan die Noordkus! Nee Ghaap, ek is nie so gelukkig soos jy nie!

Profile photo of Vloei

by Vloei

10 goeters oor myself

Desember 4, 2009 in Sonder kategorie

  • Ek gril my dood as iemand naels vyl
  • Ek tel hoeveel kere die telefoon lui voor iemand optel
  • Ek vermy groot sosiale groepe
  • Musiek is ‘n moet: Blues, Pink Floyd,Spaanse kitaar, Bach, Rachmaninov, Jan Blom ens.
  • Bly op ‘n boot
  • Eet als behalwe Brusselspruite
  • Besit nie ‘n das nie
  • Word baie kwaad oor swak diens
  • ‘n kompulsiewe tweedehandse boekkoper
  • lag my gat af vir snaakse mense wat nie probeer snaaks wees nie, maar wel is
Profile photo of Vloei

by Vloei

Kampvuurstories

Desember 3, 2009 in Sonder kategorie

 

 

Dit was ‘n koue donker nag en ons kampvuur was groter as gewoonlik, deels oor daar ‘n oorvloed sekelbos in díe deel van die reservaat was en deels oor die koue. Mazibuko het die pot se deksel afgehaal en die pap ‘n vinnige roer gegee. Die geur van die pap het met die rook gemeng  en die hongerpyne in my maag  wakker gemaak. Daar het ‘n gemoedelikheid geheers rondom die vuur en Majola was besig om met al die nodige bygeluide en gebare die een of ander storie te vertel.  Mphaga het diep in die vuur gestaar en op die oog af hom min gesteur aan die jongmanne se uitbundigheid.

 

Vroeër die dag, terwyl ons oppad was na ons kampplek, het ek en Jannie op ‘n jong likkewaantjie afgekom. Die koue het hom stadig gemaak en en Jannie het hom behendig agter die kop gevang. Ek en Jannie het na mekaar gekyk en dieselfde gedagte het woorde onnodig gemaak. Ek het die groot ou driebeenpot gedra en gou die deksel oopgemaak sodat Jannie ongemerk die likkewaan kon insit. Die ander veldwagters was besig om vuurmaakhout te soek en wis van niks.

 

Die vuur was al lekker aan die gang en die manne het nader gestaan om die hitte in te drink. “Mazibuko! Spoel gou vir ons daai pot uit sodat ons die pap kan maak”, het Jannie met ‘n sedige gesig gesê. Mazibuko was ‘n ouerige Swazi met ‘n vinnige  humeur en ‘n geniepsige kierie. Van die jonger veldwagters het al deurgeloop en was maar versigtig rondom hom. Niksvermoedend het hy na die pot geloop wat ‘n entjie van die vuur onder die wilde vyeboom gestaan het  en die deksel afgehaal om water in te gooi.

 

Wat daarop gevolg het moes agterna onder ‘n groot gelag deur verskillende waarnemers uitgelê word aangesien dit so vinnig plaasgevind het. Die likkewaantjie het met ‘n onaardige geblaas sy misnoeë te kenne gegee, Mazibuko het reguit die lug in geskiet met ‘n “Inyoga!!” en nog voor sy voete die grond geraak het, die deksel terug gesit en in ‘n stofwolk verdwyn. Die ander veldwagters het soos ‘n handgranaat uitmekaar gespat. Eers toe die stof gaan lê het en ek en Jannie, kruipend van die lag, die verontwaardige likkewaantjie laat gaan het, het almal tot verhaal gekom. “Uxhamo!” het hulle uitgeroep en aan die lag geraak.

 

Sebasa wat naby Mazibuko gestaan het moes haastig koes toe Mazibuko sy gekreukelde eer op hom wou uitstryk! Majola het heelwat stadiger uit die Swart Apiesdoringboom geklim as daarin en die ander het versigtig uit die bos terug gekom. Dit het Mazibuko ‘n rukkie gevat maar hy het wel later die humor in die situasie gesien en darem met ‘n glimlag aan ons beduie ons moet nie die uxhamo in die pappot sit nie, dit kan die ander mense laat skrik! Ek het die pot gaan was en vol water op die vuur gesit. Die situasie is ‘n paar keer herbeleef en oorvertel deur verskillende waarnemers met Mazibuko wat elke keer heftig ontken het dat hy geskrik het. Mphaga het net een keer, met sy oë nog in die dansende vlamme, droog opgemerk; “Daai Mazibuko, hy kan darem vinnag toemaak daai pot!”

 

Die vuur het laag gebrand en ‘n Skopsuiltjie se eensame “Krrrr” het die winterstilte verbreek. Die koue het sy ysige vingers in my nek probeer druk en ek het die slaapsak stywer vasgetrek. In daardie oomblik voor slaap jou wegvoer en jou gedagtes inmekaar vervloei, het ek my verbeel die likkewaan staar na my soos Mphaga na die vuur gestaar het.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Wit en swart

Desember 3, 2009 in Sonder kategorie

Twee goeie vriende kry stry en besluit toe om na die wyseman op die berg te gaan vir uitklaring. Bo by die wyseman se grot aangekom stamp Palat vir Mohamed so met die elmboog; “Go on, go on. Ask him, ask him now!”

Mohamed stap voorentoe en vra eerbiedig; “Oh Great Wiseman, is white a colour?”

Die wyseman maak sy oe oop en se; “My son this question need some pondering!” Na so 2 ure se meditasie antwoord die wyseman hom;” My son, white must truly be a colour.”

Weereens  kry Palat vir Mohamed ongeduldig met die elmboog by; “Go on, man. Ask him again. Ask him!!”

Mohamed staan weer voorentoe en vra; “Oh Great Man of Wisdom, is black a colour?”

“My son, I shall need to ponder on this question!” Na 4 ure se gedink maak hy sy oe oop en se: “After much pondering, I have discovered that black is indeed a colour.”

Waarop Palat triomfanklik na Mohamed draai en se: “You see, I told you I sold you a colour tv!”

Profile photo of Vloei

by Vloei

Ver in die ou Kalahari

Desember 2, 2009 in Sonder kategorie

 

Hierdie foto is tussen Hotazel en Van Zylsrus geneem. Ons was vroeer die jaar in daardie omgewing om na die meerkat navorsingsprojek te gaan kyk. Die Kalahari het ‘n goeie reenjaar gehad en die gras het plate gestaan. Daar is iets omtrent die lug (uitspansel) daar, dis net anders as op ander plekke! Groots of so iets – moeilik om dit te omskryf.

 

Spesiaal gepos vir julle wat daar ver in die vreemdes bly. Hoop dat hierdie foto julle nader aan die huis laat voel!