Jy blaai in die argief vir 2009 November.

by Vloei

Droom

November 11, 2009 in Sonder kategorie

Ek het die vreemdste droom vanoggend gehad. Om dit in detail te beskryf sal my oop laat vir sielkundige evaluering, maar dan weer ….ek skryf as Vloei en nie as A… nie, so wat maak dit saak? En tog het ek nog nie rerig dinge geskryf wat ek nie onder my eie naam sou se nie! So wat se dit eindelik? Maar ek was besig om van my droom te skryf……Daar was ‘n partytjie of so iets en almal daar het maskers gedra en dit was maar hoe dit moes wees en dit was nie goed of slegs nie en toe het my alarm my wakker geruk voordat die droom na ‘n punt toe beweeg het en ek weer moes fokus op wat gedoen moet word as om verder oor die betekenis te dink.

So, nou wonder ek of Zorro nog Zorro sal wees as hy sy masker afhaal? Dieselde trant is in van die vorige blogs deur ander bloggers geopper en dit laat my wonder oor presies hoe groot invloed litnet se blogs op my onderbewussyn het? Tog sien ek hier ‘n oop en eerlikheid wat ek nie altyd ervaar in my daaglikse omgang nie. En dit is verslawend…..

by Vloei

Wat’s dit?

November 9, 2009 in Sonder kategorie

 

 

Ek wil baie graag weet of iemand in blogland my kan se watter monument hierdie is. Die foto is in die Oos-Kaap geneem in die Bisho omgewing. Ek stel baie belang in die geskiedenis maar kon nie inligting oor die een opspoor nie. Die terrein is erg verwaardloos en dis duidelik dat niemand meer die terrein besoek nie. Al wat ek kan dink is dat dit iets te doen moet he oor die grensoorloe van toentertyd. Dis in die hartjie van die ou Transkei (of was dit nou die Ciskei?).

by Vloei

Vloek 2

November 9, 2009 in Sonder kategorie

Na aanleiding van Anha se blog vanoggend, wil ek ‘n soortgelyke storie met julle deel om die Maandag se blou te verdun.

Die twee boeties besluit  een oggend hulle is nou oud genoeg om te vloek en stap saam die kombuis in waar ma doenig is. “more julle twee, wat wil julle eet vanoggend?” Die oudste enetjie hak af en se; “shit ma, ek weet nie, miskien bietjie cocopops!” Ma kan nie glo wat sy hoor nie en sleep hom kamer toe waar hy goed uitgelooi word met die houtlepel!

Terug in die kombuis vra sy aan die kleintjie; “En jy, wat wil jy eet?”. Grootoog stotter kleinboet; ” N, n, net nie van daai fokken coccopops nie!”

by Vloei

Uit ‘n ander hoek.

November 7, 2009 in Sonder kategorie

 

Aangesien daar ‘n paar is wat van my vorige prentjie gehou het, het ek nog een gepos om vir julle wat nie weet nie, te wys hoe lyk Zoeloeland se kus. Dis Black Rock naby Sodwana en is ook tydens dieselfde projek afgeneem.

 

Wat dit besonders gemaak het vir my is dat ek op die dag dolfyne, ‘n walvishaai, olifante en ‘n renoster gesien het gedurende die sensus. “n Voorreg wat min mense al kon smaak het.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

by Vloei

My Engel

November 6, 2009 in Sonder kategorie

Die sirkel reenboog in die wolk op die foto staan bekend as ‘n “pilot’s halo”. Dis wanneer die son reg van agter die vliegtuig (helikopter, in die geval) skyn en in die wolk in die kleurspektrum opgebreek word. Hierdie foto is net anderkant Hogsback in die Oos Kaap geneem terwyl ons besig was met ‘n lugsensus op uitheemse plante.

Dis nie ‘n algemene gesig nie en die foto laat nie reg geskiet aan die verskynsel nie. Julle moes self daar gewees het om dit te beleef!Behalwe vir die mooi, het dit vir my ‘n spirituele waarde wat ek dalk eendag oor sal blog.

by Vloei

Vloek

November 6, 2009 in Sonder kategorie

Dit was weer ek, die Miskruier en die langpad terug na…, durf ek dit huis noem? ’n Week weg om met mense te praat (ek haat die woord “vergaderings”), ‘n troue van ‘n vriend se dogter by te woon en my versuim met die familie te probeer regmaak. Chris Rea se “Curse of the Traveller” iewers naby Gluckstad ,het my gedagtes in ‘n rigting laat vloei. Is daar nog mense wat Chris Rea luister?

Dit begin so:

“‘On the restless road to nowhere

There’s no certain peace it seems

Desire to keep on moving

‘till the river of dreams

Is it just ’cause someone told you

Is it just because you found

Old freedom feels uneasy

When duty is around”

Vars uit Pretoria se geblokte paaie met verstreerde motoriste, het díe woorde met my gepraat. Die eindlose gemaal in die mall, oë verskuil agter donkerbrille en, glo dit as julle wil, die honde wat vinniger blaf as  kleindorpshonde! Die gejaag na drome al is ons nie altyd seker wat ons droom is nie. Droë, dors, naamlose hunkeringe……

 Twee dae voor Pretoria was ek vir ‘n paar dae op ‘n  reservaat waar ek 15 jaar lank gewerk het. Ek het my tentjie langs die as van een van my ou kampvure opgeslaan en die bos ingedrink. Een aand op pad na my tentjie toe  het ‘n luiperd voor die Miskruier se ligte in die gras, nie 50 meter van my tentjie af nie, verskyn! Daar was sterre, daar was stilte en daar was vrede, net buite bereik.

En Chris Rea sing verder;

and you cry for the harbour lights

But you’ll never be free

Of the craving for refuge

And the call of the sea

Always wanting to sell up but always needing to buy

So ‘till the road leads to somewhere and that river runs dry

‘n Jaar gelede het ek van Richardsbaai af na Port Elizabeth geseil. Dertig seemyl suid van Durban het ons in ‘n laagdruk sel vasgeseil wat wat die see opstandig gemaak het soos net die Wildekus kan. Ons het omgedraai en gehardloop vir Durban hawe en vir ses ure is die 38 vt boot wat maklik sewe ton weeg rondgegooi soos ‘n kurkprop. Ons het in deinings van 8 meter of meer  soos ‘n branderplank afgeskiet en vreesbevange gesien hoe die golf onder ons deur rol net voor ons ‘n wawiel onder in die trog sou maak. My verligting was nog nooit so groot soos daardie oggend om twee uur toe ons Durban se haweligte sien wink het nie! Na ‘n week in die hawe met die storm verby, kon ons nie wag om weer op die oop see te wees nie.

Dis die letterlike vertolking van Chris Rea se woorde. Voorbeelde van die figuurlike vertolking is legio. ( Ek is seker Chris moes self geseil het om daardie woorde te kon skryf.) Ek word altyd aangegryp deur die teenoorstaandes (paradoks is ‘n snaakse woord) in die lewe en hoe dikwels dit voorkom. Hoe naby haat aan liefde is of hoe naby ver aan naby kan wees.

Hoop julle het ‘n lekker naweek. Vrede!

by Vloei

Hoop

November 1, 2009 in Sonder kategorie

Met malende gedagtes verwoord op ‘n blaar

het ek na jou gekom

hoe dikwels my woorde lomp en swaar

soos ‘n watermeul om en om

‘n Skatkis vol goue herinneringe

staan toegewaai onder die stof

weggesteek in ‘n koue diep put

waar blink vervang is met dof

Met bloeiende naels gebreek tot in die lewe

beur ek op teen die gladde wand

die glim van hoop, dit rig my strewe

om bo in die sonlig te reik na jou hand

en om dan saam met jou

ons skatkis na boontoe te bring

waar die lentewind dit skoon sal waai

en die sonstrale ‘n toekomsverwagting sal sing