by

Zero

November 29, 2009 in Sonder kategorie

Onthou jy die argumente van jou kinderdae wat beslis was wanneer  die eerste een aanspraak gemaak het op “ontelbaar”? Dit was daardie mistieke getal wat niemand kon klop nie. Vandag vra die oudste enetjie (Boesman) my hoeveel miljoene maak ontelbaar. Ek sê toe ontelbaar miljoen. Nie tevrede met díe antwoord nie, wou hy toe weet as hy nou begin tel, hoe oud sal hy wees as hy by ontelbaar uitkom? “Jy sal nooit daar uitkom nie, want dis ontelbaar!” sê ek. “En as ek ontelbaar oud kan word, hê Pappa?” Daar het hy my toe!

 

Dit het my laat dink aan ‘n soortgelyke onbegryplike begrip nl. nul. Zero of niks kan net daar wees (of nie wees nie) as daar iets is. Dit laat mens met die ou raaisel oor wat was eerste; die hoender of die eier? Die een kan nie sonder die ander bestaan nie. En hoe kom mens by nul uit? Mens vat een en deel dit in die helfte. Dan vat jy een van daardie helftes en deel dit weer in die helfte en so gaan jy aan totdat niks oorbly nie. Hoe klein kan jy gaan? Hoeveel kere moet jy die proses herhaal om nul te behaal? Oneindig kere? Indien wel, sal nul dan nie bestaan nie.

 

Nou sal jy seker vir my kan sê dat nie so ingewikkeld is as wat ek dit wil laat klink nie. Neem nou maar jou salaris. Dis eintlik heel eenvoudig om dit so te verminder dat daar niks oorbly nie (of minder as niks!). Dis ook nie te moeilik om zero vir ‘n toets te kry nie. Mooi julle! Maar verduidelik nou vir agtjarige as jy nul (niks of zero) agter ‘n tien sit, dit ‘n honderd word! Skielik is niks iets.

 

Wat probeer ek  dus nou sê met díe stukkie skrywe? Niks rêrig nie behalwe dat dit die aandag wegtrek van daardie aaklige  Sondagaandgevoel.

1 antwoord op Zero

  1. Hene tog, dit le sekerlik vir my ook voor!
    Ek meen die vrae van ‘n denkende kind.

    Hulle vrae laat mens dink – en soms dink mens te veel…soos jou redenasie oor nul.

    Lekker dag!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.