Profile photo of Vloei

by

Die Slot.

November 25, 2009 in Sonder kategorie

Van hier af het dinge vinnig gebeur. Sy het die deur oopgepluk en tussen die verbaasde trolle deur gestorm (so gly-gly deur die uitskytsels!) reguit na Veldkornet Lewies se opstal wat nie te ver daarvandaan was nie. Dat Anha sowaar met net haar nagkabaai, vrou alleen, die trolle getrotseer het, was merkwaardig! Gou het die veldkornet die ander burgers wakker gemeimer en ‘n teenaanval is geloods. Daar was trolle om elke hoek en draai en dit was duidelik dat die burgers in die minderheid was. Nie dat dit die helde afgeskrik het nie. Dit was nog altyd so! Die geveg het regdeur die nag gewoed en die reuk van swael het oor alles gehang. Onder leiding van Adjudant Angelor is een besonder groot trol van die ander geskei en in die straat afgejaag met die dapper burgers kort op sy hakke. By Liekie se linksdraai het die ding regs geswenk en ditself in ‘n wag-‘n-bietjiebos vasgehardloop waar dit dadelik gearresteer is.

 

‘n Ander trol het tussen die riete langs die rivier gaan wegkruip vir ‘n paar burgers wat die stopper groep was. En dis waar krokkedil haar kans gekry het en dit ‘n geweldige hap in die gat gegee. Nou moet julle weet dat trolle verskriklik, verskriklik sleg smaak en dit dan die rede  is waarom krokkedille vandag nog met hulle bekke ooplê, om van die smaak ontslae te raak.

 

 Met die nag op sy donkerste, net voor dagbreek, het ‘n onaardse gedreun die gevegsgeluide versteur wat almal vir ‘n oomblik laat opkyk het. Dit was Ysprins en Kammakazi (‘n minder bekende ridder van die ronde tafel) op hulle Harleys. Hulle het so vinnig gekom as wat hulle ysterperde se gladdebande hulle toegelaat het. Met hulle strydkreet “Iziphukuphuku samuhr!!!” wat losweg vertaal kan word as “Alle trolle se moere!!” het hulle hul swaarde uitgepluk en hulle self in die stryd gewerp. Dit was een te veel vir die vyand en hulle het die aftog geblaas. ‘n Klomp trolle wat gevang is, is na die dorpsplein geneem en in ‘n sirkel maak staan. Daar het almal saamgedrom om hulle te beskou maar die grootste straf vir die trolle was om hulle self te sien.

 

Die haasbek leier van die trolle, wat vermoedelik sy voortande op ‘n harde perskepit gebreek het, is behoorlik oor die kole gehaal deur die tweemanskap en daarna is die hele lot in hulle moere gestuur. Na dankbetuigings oor en weer het die ridders hulle Harleys omgedraai en Watookal vaarwel geroep. Die inwoners het hulle lank agterna gestaar.

 

“Het jy gesien hoe het die Ysprins gesweet?” het iemand gevra. “Nee man, Ysprinse kan nie sweet nie. Hulle smelt net!” het ‘n aardsfeetjie met stoute ogies ge-antwoord en weggevlieg.

4 antwoorde op Die Slot.

  1. Jinne maar jy het skryftalent.Ek het lekker gelees dankie.

  2. pasella het gesê op November 25, 2009

    Lekker gelees! Trol se moses!

  3. Lekker storie. Dankie

  4. aa3cher het gesê op November 26, 2009

    Sorrie Annemari. Omdat dit vir sensitiewe lesers geskryf is kon ek nie daai toneel beskryf het waar jy een van die trolle met jou klein boetie se krieketkolf bygekom het nie 🙂

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.