Profile photo of Vloei

by

‘n Slaaptyd storie.

November 24, 2009 in Sonder kategorie

Lank, lank gelede was daar ‘n stukkie wêreld wat Watookal geheet het. Hier was die lug skoon, die water helder en die dorings min sodat die wat wou nog kaalvoet kon rondloop. Die rivier wat daar deur gevloei het was so helder dat jy die gladde spoelklippies op die bodem kon tel. Die krokkodil wat daar gebly was ‘n vreedsame herbivoor. Dit was nog in die tyd voordat krokkodille kwaai geraak het en die mense bang.

 

Nie ver van die rivier af nie was daar ‘n immergroen woud teen die hang van ‘n groot ou berg. Die hoogste pieke was heeljaar onder sneeu bedek. Aan die anderkant, in die reënskadu van die berg was daar ‘n dorre woestyn wat nog ouer as die berg was. Soos mens dit sal verwag, was daar ‘n rykdom in spesie diversiteit wat deur hierdie uiteenlopende biome onderhou is.

 

As jy gelukkig was kon jy in die nag vir Droomkind , Klaasvakie se vrou, gewaar waar sy ligvoets tussen die wonings en opstalle deurgedans het en drome uitgedeel het. Met volmaan het MaanKind en ‘n paar aardsfeetjies saam modderkoekies gebak op die rivieroewer en die boerseuns het gereeld op Ouboet se stoep bymekaargekom vir ietsie kouds en dan gepraat oor wat ook al. Om die hele ekositeem te balanseer was daar dan ook ander kreature met seker slegte maniere. Die trolle van die woestyn het die nare gewoonte gehad om hulle uitskytsels sommer op enige plek te maak en hulle self te help aan die vrugte in die boorde en plante in die tuine. Hulle het net op donkermaan rondgesluip sodat hulle nie vir mekaar sou skrik nie aangesien hulle absoluut afskuwelik was. Net voor dagbreek gaan hulle terug na hulle gate in die woestyn waar hulle vir die son wegkruip. Daar ry hulle dan sluimerend hulle dagmêrries wat die man met die sens vir hulle gelos het.

 

Vroeg een oggend, na ‘n moordende oefensessie, is Liani oppad na die rivier, sjampoo en zeppie  in die hand om haarself te gaan reinig. Wat toe gebeur het, het ‘n kettingreaksie aan die gang gesit wat Watookal op sy kop gekeer het en verreikende gevolge gehad het. Dat Anha sowaar met ….. Maar laat ek myself nou nie vooruit loop nie en probeer om hierdie gebeure “stap vir stap te verduidelik”.

 

Sy moes diep ingedagte gewees het  dat sy dit nie raak gesien het nie en toe sy daarvan bewus word, was dit klaar te laat!

Eers toe die slap troldrol tussen haar tone deur peul en die walglike  walm versmorend op haar reuksintuie kom lê, word sy ru na die werklikheid terug geruk. Sy staar na groen slymerigheid wat stadig teen die kant van haar voet afloop en beveg die impuls om haar maag te verloor. “Murhy’s law! Die enigste oggend wat ek sonder my plakkies rivier-toe loop…….”, sê sy vir haarself terwyl sy haar voet probeer skoonvee aan ‘n pol gras (sy het iets anders voor dit gesê, maar ek kon nie mooi hoor nie). “So kan dit nie aangaan nie”, dink sy en draai net daar in haar spore om en sit af na Elza se huisie.

 

Elza en Anha was in die kombuis besig om koeksusters vir die kerkbasaar te bak toe Liani daar instorm. Die storie is driftig oorvertel en bevestig deur ‘n afgryslike reuk wat met die aroma van vars gebak gemeng het. Terwyl hulle besig was om haar voet te ontsmet, het Anha vertel hoedat haar pragtige tuin onlangs deur trol aktiwiteite verniel is. Die plate vygies is vertrap en die rosies is almal opgevreet. Net haar Sanseverias was ongedeerd aangesien hulle baie taai en veselrig is en dus deur trolle vermy word. “Ekke myself is nie gespaar nie.”, het Elza laat hoor en vertel van die keer toe sy die wasgoed buite vergeet het met donkermaan en ‘n lomp trol daarteen geskuur het in die verbygaan. Sy moes daai klere maar weggooi!

 

Die burgers van Watookal het besluit dat daar tot aksie oorgegaan moet word en oproepinstruksies is uitgestuur aan alle weerbare manne. Die browns is agter uit die kas opgegrawe en dit het meer sweet en durf gekos om weer in hulle te pas as wat nodig was vir die hele Ops Protea. “Rrrig op die regterflank,….voorwaarts …..MARS!!!  Liek, Ja, Liek, Ja, Liek, Ja, Hei!!  ‘n Ou top met ‘n weglê snor was Sammajoor en hy het die kêrels nie gespaar nie! Met die skietoefeninge is die grootbekke, wat daar op Ouboet se stoep so gespog het oor die kopskote op 500 meter, se monde gesnoer. Hier en daar is gemompel oor ou ammunisie of visiere wat uit is. Gedurende die pt sessies is daar baie keer gewonder wie nou eintlik die bedreiging was, die trolle of die instrukteurs? Per slot van rekening was dit wat uit die monde van die korporale gekom het baie vergelykbaar met wat uit die anusse van die trolle gekom het!

 

 

Word vervolg…….

 

3 antwoorde op ‘n Slaaptyd storie.

  1. Agge nee! Nou wil ek nie meer ‘n sanseveria wees nie!

  2. Cool storie :0),sien uit na die opvolg.

  3. aa3cher het gesê op November 25, 2009

    Nee man, dis ‘n kompliment 🙂

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.