Profile photo of Vloei

by

‘n Storietjie hervat

November 13, 2009 in Sonder kategorie

Die lewe het ‘n manier om jou partykeer hard uit jou gemaksone te skud. My huwelik van amper  nege jaar was oor, my vaste werk van die laaste vyftien jaar  het ek gelos vir kontrakwerk en die veiligheid van die bos en die berge van die natuurreservaat het ek geruil vir ‘n harde sitplek in ‘n klein vliegtuigie. Ek het deel geword van ‘n span wat vir ‘n jaar die hele Suid Afrika gevlieg het om d.m.v.  ‘n lugsensus die verspreiding van uitheemse plante te bepaal. Ek was bitter, ek was seer en ek was kwaad. Min het vir my sin gemaak en die verlange na my seuntjies het gegrens aan ‘n fisiese pyn wat so seer is maar jy weet nie mooi waar nie! Behalwe dat ek vrek oor vlieg en dit ‘n geleentheid was wat eenmaal in ‘n leeftyd verby kom, het die feit dat dit ‘n hoë risiko projek was my getrek soos ‘n magneet. Ek wou dood…..

Daar is baie fasette waaroor ek kan uitbrei. Elkeen ‘n storie in sy eie reg, maar wat ek hier vir julle wil vertel het begin met die plaas van die fototjie met die titel “My Engel” op die blogs. Maankind het ‘n opmerking gemaak wat my laat besluit het om die storie in woorde te probeer om sit.

Ek en Eben was besig om naby Weppener in die Oos Vrystaat  te vlieg. Die ander vliegtuig het na Koffiefontein se kant gewerk en die derde kuiken was op die grond, een of ander probleem, kan nie meer onthou nie. Die wolke het begin saampak maar dit was nie ‘n krisis nie aangesien ons ver onder hulle moes werk. Eben het nog ‘n opmerking gemaak oor die vorm van die wolke en ek was besig om fotos te neem toe die eerste vlaag wind ons kuiken skud. “Ek gaan omdraai….” het Eben gesê en toe kantel die horison! Wat daarna gebeur het, kan ek net in flitsende prentjiegrepe onthou. ‘n Groot hand het ons kuiken gegryp en hom op sy rug probeer gooi. Eben het met die stok gestoei en toe’s ons weer regop maar heelwat laer. Ek onthou hoe hy die skroef se pitch opgestoot het ,die stok terug getrek het en die enjin volkrag gegee het in ‘n desperate poging vir hoogte en hoe ons, neus in die lug, geval het. “Soek ‘n pad, soek ‘n pad!!” het hy geskree oor die enjingeraas en onder ons was net berge, rotsblokke en slote. In ‘n laaste desperate poging het hy windaf gedraai, die stok voorentoe gestoot om spoed te kry en uitgetrek net voor ons statistiek sou word. Ons het in stilte terug gevlieg en, om alles te kroon,  op landing ‘n band gebars wat ons so skuins oor die vliegveld laat hardloop het tot in die veld. Daar het ek uitgeklim op bewerige bene en met my eie gedagtes terug geloop terwyl Eben vir ‘n lang tyd in die vliegtuig bly sit het.

Ek het my selfoon aangesit om op drie missed calls te antwoord. Skaars oor my eie skok kry ek die boodskap dat James en Jaco in kragdrade vasgevlieg het naby Koffiefontein. Hulle is veilig hoor ons tot ons groot verligting. Jaco het ‘n noodlanding gedoen op ‘n plaaspad maar die vliegtuig gaan nie meer verder vlieg nie! Nou moes ons weer terug vlieg na Tempe toe. Na ons die wiel herstel het, het ons huiwerig opgestyg met die laatmiddag son skuins agter ons vlerk. Ons het nie baie gepraat terug nie en toe ek oor my skouer kyk het ek die mees perfekte reenboog gesien. Het my ‘n ruk daaraan verwonder en ‘n paar foto’s geneem (het dit ongelukkig nie hier op my skootrekenaar nie!). Veilig op die grond aangekom het ons gerook, gedrink en gedebrief!

Heelwat later in die projek styg ek en Johan in Porterville op vir die dag se opnames. Ons vlieg in ‘n valei in wat ‘n groot kom maak. Ons is laag en volg die topografie. Regvoor ‘n paar loodregte kranse kry die elektriese trims ‘n fout en trim die kuiken  in ‘n stol in! Johan voer ‘n teksboek chandelle uit en netsoos met my en Eben begin ons weer vlieg terwyl die rotse amper die kuiken se pens kielie. Dit was ons nie toe beskore om as boesmantekening onself teen die kranse te verewig nie. Daardie middag het ek gaan draf na ‘n waterval so ent weg vanwaar ons oorgebly het en terwyl ek kaalgat onder die stroom gesit het, het die sproei ‘n reenboog rondom my gevorm. Skielik het ek die reenboog naby Bloemfontein weer onthou.

In Robertson styg Charlie en Ryno op. Ek is op grond diens díe dag en ‘n uur later bel hulle om te sê ek moet kom help. Hulle het ‘n noodlanding gedoen in ‘n lusernland. Daar aangekom het ons gekyk wat ons kan doen en ek het ‘n paar foto’s geneem. Die aand toe ek die foto’s aflaai was daar ‘n reenboog  op een van die foto’s (gaan dit nou probeer plak vir julle).

Wat ek wil sê met die storietjie is dat daar ‘n wetenskaplike verklaring is vir al die reenboë. Daar is heelwaarskynlik ‘n sielkundige verklaring waarom ek dit elke keer raakgesien het  onder die spesifieke omstandighede, maar vir my is daar ‘n dieper betekenis. In ‘n lewe wat nie meer vir my sin gemaak het nie en waar ek alles bevraagteken het (God se bestaan inkluis) het ek ‘n teken gekry. Dit het nie my vra laat ophou nie en dit het nie die seer weggevat nie maar dit het vir my op ‘n snaakse manier hoop gegee om aan te hou soek.

6 antwoorde op ‘n Storietjie hervat

  1. aa3cher het gesê op November 13, 2009

    Dankie julle

  2. aa3cher het gesê op November 13, 2009

    Baie dankie. Die foto wou net nie plak nie..

  3. Sjoe! Dankie.

  4. Oor die ‘lewe wat jou uit jou gemaksone vat’… dis die COSMIC BOOT. En die hoop om aan te hou soek laat nie altyd ‘n glas oorloop nie, maar dis altyd net genoeg.

  5. aa3cher het gesê op November 13, 2009

    Jy laat my weer dink….Dis so waar

  6. aa3cher het gesê op November 13, 2009

    Sal graag wil hoor

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.