Jy blaai in die argief vir 2009 November.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Zero

November 29, 2009 in Sonder kategorie

Onthou jy die argumente van jou kinderdae wat beslis was wanneer  die eerste een aanspraak gemaak het op “ontelbaar”? Dit was daardie mistieke getal wat niemand kon klop nie. Vandag vra die oudste enetjie (Boesman) my hoeveel miljoene maak ontelbaar. Ek sê toe ontelbaar miljoen. Nie tevrede met díe antwoord nie, wou hy toe weet as hy nou begin tel, hoe oud sal hy wees as hy by ontelbaar uitkom? “Jy sal nooit daar uitkom nie, want dis ontelbaar!” sê ek. “En as ek ontelbaar oud kan word, hê Pappa?” Daar het hy my toe!

 

Dit het my laat dink aan ‘n soortgelyke onbegryplike begrip nl. nul. Zero of niks kan net daar wees (of nie wees nie) as daar iets is. Dit laat mens met die ou raaisel oor wat was eerste; die hoender of die eier? Die een kan nie sonder die ander bestaan nie. En hoe kom mens by nul uit? Mens vat een en deel dit in die helfte. Dan vat jy een van daardie helftes en deel dit weer in die helfte en so gaan jy aan totdat niks oorbly nie. Hoe klein kan jy gaan? Hoeveel kere moet jy die proses herhaal om nul te behaal? Oneindig kere? Indien wel, sal nul dan nie bestaan nie.

 

Nou sal jy seker vir my kan sê dat nie so ingewikkeld is as wat ek dit wil laat klink nie. Neem nou maar jou salaris. Dis eintlik heel eenvoudig om dit so te verminder dat daar niks oorbly nie (of minder as niks!). Dis ook nie te moeilik om zero vir ‘n toets te kry nie. Mooi julle! Maar verduidelik nou vir agtjarige as jy nul (niks of zero) agter ‘n tien sit, dit ‘n honderd word! Skielik is niks iets.

 

Wat probeer ek  dus nou sê met díe stukkie skrywe? Niks rêrig nie behalwe dat dit die aandag wegtrek van daardie aaklige  Sondagaandgevoel.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Stadiger!

November 28, 2009 in Sonder kategorie

Na ‘n week se koue, nat weer hier op die Noordkus was vandag  een van daardie sorgvrye sonskyn dae. Dis my naweek met die mannetjies en ons samesyn is ingewy met Boesman wat vanoggend deur ‘n “swemkrap” geknyp is. Mieliepit het met ‘n vaart by die boot aangekom en vir my geskreeu die krap het vir Boesman  en hy huil kwaai.

 

Daar aangekom het hy so tussen die trane deur beduie waar die krap ‘n duik in sy duim geknyp het en met die ander knyper die vel van sy handpalm afgehaal het. Op die vraag waarom hy nie die krap afgeskud of gekap het nie, het hy na my gekyk en gesê; “Dis mos nie nodig om hom dood te maak nie!”.

 

Ons het geswem, gaan seil en roomys ge-eet waarvan die bewyse netnou nog op die mannetjies se bakkies gesit het. Ons het verspring op die strand geoefen en Boesman het op sy kop geval  na ‘n boomklim sessie (gewoonlik is Mieliepit die ongeluksvoël). Dit is sulke tye wanneer ek stroop in die uurglas se sand wil gooi.

 

Lekker aand vir julle!

Profile photo of Vloei

by Vloei

Spel voute.

November 27, 2009 in Sonder kategorie

Sekere  dinge kan mens  baie meer pla as ander goed. My ma het so hekel aan spelfoute gehad. Sy was ‘n onderwyseres wat o.a. Afrikaans gegee het. Ek onthou in die tyd van diensplig wanneer ek op pas was en by die huis gekom het,  het my briewe aan my ouers op my kussing gelê met die spelfoute netjies onderstreep en reggemaak.

Aangesien ek die afgelope 3 jaar ‘n trekarbeider is en al my boeke iewers in bokse gestoor word, skryf ek nou sonder my HAT. Kan iemand asseblief net weer vir my sê waar kan ek daardie Afrikaanse spelcheck aflaai sodat ek met ‘n geruste hart kan skryf? Ek sal dit baja waardeur.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Die Slot.

November 25, 2009 in Sonder kategorie

Van hier af het dinge vinnig gebeur. Sy het die deur oopgepluk en tussen die verbaasde trolle deur gestorm (so gly-gly deur die uitskytsels!) reguit na Veldkornet Lewies se opstal wat nie te ver daarvandaan was nie. Dat Anha sowaar met net haar nagkabaai, vrou alleen, die trolle getrotseer het, was merkwaardig! Gou het die veldkornet die ander burgers wakker gemeimer en ‘n teenaanval is geloods. Daar was trolle om elke hoek en draai en dit was duidelik dat die burgers in die minderheid was. Nie dat dit die helde afgeskrik het nie. Dit was nog altyd so! Die geveg het regdeur die nag gewoed en die reuk van swael het oor alles gehang. Onder leiding van Adjudant Angelor is een besonder groot trol van die ander geskei en in die straat afgejaag met die dapper burgers kort op sy hakke. By Liekie se linksdraai het die ding regs geswenk en ditself in ‘n wag-‘n-bietjiebos vasgehardloop waar dit dadelik gearresteer is.

 

‘n Ander trol het tussen die riete langs die rivier gaan wegkruip vir ‘n paar burgers wat die stopper groep was. En dis waar krokkedil haar kans gekry het en dit ‘n geweldige hap in die gat gegee. Nou moet julle weet dat trolle verskriklik, verskriklik sleg smaak en dit dan die rede  is waarom krokkedille vandag nog met hulle bekke ooplê, om van die smaak ontslae te raak.

 

 Met die nag op sy donkerste, net voor dagbreek, het ‘n onaardse gedreun die gevegsgeluide versteur wat almal vir ‘n oomblik laat opkyk het. Dit was Ysprins en Kammakazi (‘n minder bekende ridder van die ronde tafel) op hulle Harleys. Hulle het so vinnig gekom as wat hulle ysterperde se gladdebande hulle toegelaat het. Met hulle strydkreet “Iziphukuphuku samuhr!!!” wat losweg vertaal kan word as “Alle trolle se moere!!” het hulle hul swaarde uitgepluk en hulle self in die stryd gewerp. Dit was een te veel vir die vyand en hulle het die aftog geblaas. ‘n Klomp trolle wat gevang is, is na die dorpsplein geneem en in ‘n sirkel maak staan. Daar het almal saamgedrom om hulle te beskou maar die grootste straf vir die trolle was om hulle self te sien.

 

Die haasbek leier van die trolle, wat vermoedelik sy voortande op ‘n harde perskepit gebreek het, is behoorlik oor die kole gehaal deur die tweemanskap en daarna is die hele lot in hulle moere gestuur. Na dankbetuigings oor en weer het die ridders hulle Harleys omgedraai en Watookal vaarwel geroep. Die inwoners het hulle lank agterna gestaar.

 

“Het jy gesien hoe het die Ysprins gesweet?” het iemand gevra. “Nee man, Ysprinse kan nie sweet nie. Hulle smelt net!” het ‘n aardsfeetjie met stoute ogies ge-antwoord en weggevlieg.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Slaaptyd storie

November 25, 2009 in Sonder kategorie

Ek het die gistraand probeer stuur maar vir een of ander rede sukkel ek party aande om in te log.

 

Daar is patrollies gestap, wagposte uitgesit en op baie skaduwees geskiet, maar die trolle was geslepe goed. Hoe meer teenmaatreëls, hoe meer trol-aktiwiteit. Na die soveelste oes van een van die boerseuns flenters getrap is, het die krygsraad onder ‘n maroelaboom vergader. Nadat die naklanke van die volkslied “Ons vir Watookal” uit ge-eggo het, is die pype gestop met Jan se twak en tussen die blou dampe is die probleem druk bespreek. “Ons sal hierdie bedreiging onkonvensioneel moet benader ”,het die generaal gesê nadat daar hewig oor die voor en nadele van mostertgas, mynvelde en vlamwerpers geredeneer is. Die besluit is geneem om vir Aardmoeder te gaan sien. Sy het ‘n karavaanpark besit op die rand van die gemeenskap en was nog ‘n regte hippie in hart en siel.

 

Aardmoeder het aandagtig na hulle geluister terwyl sy so in die verte in tuur asof sy die toekoms kon lees op die horison waar die son besig was om te sak. “Ek weet van iemand wat ons sal kan help.” het sy gesê. “Ysprins, wat daar bo in die sneeubedekte pieke woon, sal raad hê. Hy het ‘n reputasie as ‘n bedrewe trolvegter! As daar iemand is wat die trolle kan troef, is dit hy.” Daar is toe besluit om so gou as moontlik vir hom ‘n SOS te stuur. ‘n Boodskapper is daar weg op die vinnigste perd terwyl die skemer soos ‘n kombers oor Watookal gaan lê het.

 

Dit was nog vyf dae voor donkermaan, maar ‘n gevoel van onheil was in die lug met sononder. Droomkind was op haar rondtes met haar sakkie vol drome. Sy het vir Klaasvakie so uur voorsprong gegee sodat haar kliënte goed kan slaap voor sy hulle drome deur hulle oop kamervensters gooi. ‘n Droom is nie soos slaapsand wat akkuraat in die oë gegooi moet word nie. As dit in die slaapkamer land dan los dit op en die slapende persoon asem dit in. Soms haal sy vir Klaasvakie in en dan is die mense nog nie vas aan die slaap nie. Dit kan dan gebeur dat die intensiteit van die droom jou wakker skud en dan vat dit ‘n ruk voor jy weer aan die slaap raak.

 

Droomkind was reg onder Anha se venster en het ‘n lekker droom raakgevat. Met ‘n geoefende swaai van die arm het sy die droom regdeur Anha se venster gegooi. Daar was ‘n geweldige slag en toe reën dit glasskerwe! Die wind het Anha se venster, wat gewoonlik wawyd oopstaan, toegedruk met die gevolg dat die droom nog in sy soliede vorm was toe dit die ruit tref. Droomkind het haar gat af geskrik en die hasepad gekies  soos ‘n vetgesmeerde blits. Sy was seker daar was drie trolle agter haar!

 

 Arme Anha het natuurlik gedink die einde breek aan en in een beweging haar teddie gegryp en laat spat kombuis-toe. Al wat sy in die hande kon kry was die broodmes en het met haar hart in haar keel onthou dat haar selfoon nog in die slaapkamer was. Na ‘n lang ruk, toe sy niks gehoor het nie, is sy baie versigtig terug kamer toe. Groot was haar verligting toe sy nog ‘n stukkie onopgeloste droom op haar bed sien lê het en afgelei het wat gebeur het. Sy’t ‘n verlore sigaret opgespoor en nadat sy die glasskerwe opgetel het, die lig afgeskakel en in die oop venster gaan sit en rook. Met haar hartklop terug na normaal het sy ‘n lang ghaap gegee en wou net in die bed terugklim toe sy dit sien….

 

Afge-ets teen die sterrelig het hulle aangeskuifel gekom. Drie groottes en ‘n kleintjie. Aan die Neadertaller manier van loop kon dit net een ding wees! Van vooraf lamgeskrik het sy irrasioneel gewonder waar klein trolle vandaan kom. Het iemand al ‘n steekproef oor díe onderwerp gedoen? Kan dit wees dat hulle ook soos ons……? Die gedagte het haar naar gemaak! Sy het kombuis toe gesluip en deur die venster geloer. “Lou en biehoult!” Dit was dieselfde anderkant…….. dit het gewemel van die trolle! Hulle voer iets in die mou. Sy moet die ander waarsku. “Bel vir Kelly of Nefertiti, hulle behoort nog wakker te wees” het sy vir haarself gesê. Tevergeefs het sy probeer. Network busy. Sy het die dag verwens dat sy ‘n kontrak by See Sel uitgeneem het. “Fokkit, julle is useless!” het sy geprewel en haar pantoffels aangetrek………..

 

Ek stuur die slot vannaand (as ek kan inkom!)

Profile photo of Vloei

by Vloei

‘n Slaaptyd storie.

November 24, 2009 in Sonder kategorie

Lank, lank gelede was daar ‘n stukkie wêreld wat Watookal geheet het. Hier was die lug skoon, die water helder en die dorings min sodat die wat wou nog kaalvoet kon rondloop. Die rivier wat daar deur gevloei het was so helder dat jy die gladde spoelklippies op die bodem kon tel. Die krokkodil wat daar gebly was ‘n vreedsame herbivoor. Dit was nog in die tyd voordat krokkodille kwaai geraak het en die mense bang.

 

Nie ver van die rivier af nie was daar ‘n immergroen woud teen die hang van ‘n groot ou berg. Die hoogste pieke was heeljaar onder sneeu bedek. Aan die anderkant, in die reënskadu van die berg was daar ‘n dorre woestyn wat nog ouer as die berg was. Soos mens dit sal verwag, was daar ‘n rykdom in spesie diversiteit wat deur hierdie uiteenlopende biome onderhou is.

 

As jy gelukkig was kon jy in die nag vir Droomkind , Klaasvakie se vrou, gewaar waar sy ligvoets tussen die wonings en opstalle deurgedans het en drome uitgedeel het. Met volmaan het MaanKind en ‘n paar aardsfeetjies saam modderkoekies gebak op die rivieroewer en die boerseuns het gereeld op Ouboet se stoep bymekaargekom vir ietsie kouds en dan gepraat oor wat ook al. Om die hele ekositeem te balanseer was daar dan ook ander kreature met seker slegte maniere. Die trolle van die woestyn het die nare gewoonte gehad om hulle uitskytsels sommer op enige plek te maak en hulle self te help aan die vrugte in die boorde en plante in die tuine. Hulle het net op donkermaan rondgesluip sodat hulle nie vir mekaar sou skrik nie aangesien hulle absoluut afskuwelik was. Net voor dagbreek gaan hulle terug na hulle gate in die woestyn waar hulle vir die son wegkruip. Daar ry hulle dan sluimerend hulle dagmêrries wat die man met die sens vir hulle gelos het.

 

Vroeg een oggend, na ‘n moordende oefensessie, is Liani oppad na die rivier, sjampoo en zeppie  in die hand om haarself te gaan reinig. Wat toe gebeur het, het ‘n kettingreaksie aan die gang gesit wat Watookal op sy kop gekeer het en verreikende gevolge gehad het. Dat Anha sowaar met ….. Maar laat ek myself nou nie vooruit loop nie en probeer om hierdie gebeure “stap vir stap te verduidelik”.

 

Sy moes diep ingedagte gewees het  dat sy dit nie raak gesien het nie en toe sy daarvan bewus word, was dit klaar te laat!

Eers toe die slap troldrol tussen haar tone deur peul en die walglike  walm versmorend op haar reuksintuie kom lê, word sy ru na die werklikheid terug geruk. Sy staar na groen slymerigheid wat stadig teen die kant van haar voet afloop en beveg die impuls om haar maag te verloor. “Murhy’s law! Die enigste oggend wat ek sonder my plakkies rivier-toe loop…….”, sê sy vir haarself terwyl sy haar voet probeer skoonvee aan ‘n pol gras (sy het iets anders voor dit gesê, maar ek kon nie mooi hoor nie). “So kan dit nie aangaan nie”, dink sy en draai net daar in haar spore om en sit af na Elza se huisie.

 

Elza en Anha was in die kombuis besig om koeksusters vir die kerkbasaar te bak toe Liani daar instorm. Die storie is driftig oorvertel en bevestig deur ‘n afgryslike reuk wat met die aroma van vars gebak gemeng het. Terwyl hulle besig was om haar voet te ontsmet, het Anha vertel hoedat haar pragtige tuin onlangs deur trol aktiwiteite verniel is. Die plate vygies is vertrap en die rosies is almal opgevreet. Net haar Sanseverias was ongedeerd aangesien hulle baie taai en veselrig is en dus deur trolle vermy word. “Ekke myself is nie gespaar nie.”, het Elza laat hoor en vertel van die keer toe sy die wasgoed buite vergeet het met donkermaan en ‘n lomp trol daarteen geskuur het in die verbygaan. Sy moes daai klere maar weggooi!

 

Die burgers van Watookal het besluit dat daar tot aksie oorgegaan moet word en oproepinstruksies is uitgestuur aan alle weerbare manne. Die browns is agter uit die kas opgegrawe en dit het meer sweet en durf gekos om weer in hulle te pas as wat nodig was vir die hele Ops Protea. “Rrrig op die regterflank,….voorwaarts …..MARS!!!  Liek, Ja, Liek, Ja, Liek, Ja, Hei!!  ‘n Ou top met ‘n weglê snor was Sammajoor en hy het die kêrels nie gespaar nie! Met die skietoefeninge is die grootbekke, wat daar op Ouboet se stoep so gespog het oor die kopskote op 500 meter, se monde gesnoer. Hier en daar is gemompel oor ou ammunisie of visiere wat uit is. Gedurende die pt sessies is daar baie keer gewonder wie nou eintlik die bedreiging was, die trolle of die instrukteurs? Per slot van rekening was dit wat uit die monde van die korporale gekom het baie vergelykbaar met wat uit die anusse van die trolle gekom het!

 

 

Word vervolg…….

 

Profile photo of Vloei

by Vloei

Konsert

November 19, 2009 in Sonder kategorie

Ek was vanaand by ‘n konsert.Alle kaartjies was uitverkoop en daar was meer mense as sitplekke.Die reen het nog steeds neergekom na ‘n laatmiddag storm wat bome ontwortel het, maar dit het niemand gekeer nie.

Die toneelspelers het plek-plek hulle woorde vergeet, meestal heel van die wysie af gesing en hier en daar het een sommer openlik vir bekendes in die gehoor gewaai. Tog was die gehoor in vervoering. Kameras het geflits en die aplous was oorverdowend.Vir ‘n paar oomblike is die gehoor meegvoer deur ‘n atmosfeer van suiwer onskuld.Na afloop van die konsert het die ouers hulle toneelspelertjies bymekaar gemaak om in die bed te prop.

Ek is alleen terug en buite was die nag stil en helder.

Profile photo of Vloei

by Vloei

‘n Storietjie hervat

November 13, 2009 in Sonder kategorie

Die lewe het ‘n manier om jou partykeer hard uit jou gemaksone te skud. My huwelik van amper  nege jaar was oor, my vaste werk van die laaste vyftien jaar  het ek gelos vir kontrakwerk en die veiligheid van die bos en die berge van die natuurreservaat het ek geruil vir ‘n harde sitplek in ‘n klein vliegtuigie. Ek het deel geword van ‘n span wat vir ‘n jaar die hele Suid Afrika gevlieg het om d.m.v.  ‘n lugsensus die verspreiding van uitheemse plante te bepaal. Ek was bitter, ek was seer en ek was kwaad. Min het vir my sin gemaak en die verlange na my seuntjies het gegrens aan ‘n fisiese pyn wat so seer is maar jy weet nie mooi waar nie! Behalwe dat ek vrek oor vlieg en dit ‘n geleentheid was wat eenmaal in ‘n leeftyd verby kom, het die feit dat dit ‘n hoë risiko projek was my getrek soos ‘n magneet. Ek wou dood…..

Daar is baie fasette waaroor ek kan uitbrei. Elkeen ‘n storie in sy eie reg, maar wat ek hier vir julle wil vertel het begin met die plaas van die fototjie met die titel “My Engel” op die blogs. Maankind het ‘n opmerking gemaak wat my laat besluit het om die storie in woorde te probeer om sit.

Ek en Eben was besig om naby Weppener in die Oos Vrystaat  te vlieg. Die ander vliegtuig het na Koffiefontein se kant gewerk en die derde kuiken was op die grond, een of ander probleem, kan nie meer onthou nie. Die wolke het begin saampak maar dit was nie ‘n krisis nie aangesien ons ver onder hulle moes werk. Eben het nog ‘n opmerking gemaak oor die vorm van die wolke en ek was besig om fotos te neem toe die eerste vlaag wind ons kuiken skud. “Ek gaan omdraai….” het Eben gesê en toe kantel die horison! Wat daarna gebeur het, kan ek net in flitsende prentjiegrepe onthou. ‘n Groot hand het ons kuiken gegryp en hom op sy rug probeer gooi. Eben het met die stok gestoei en toe’s ons weer regop maar heelwat laer. Ek onthou hoe hy die skroef se pitch opgestoot het ,die stok terug getrek het en die enjin volkrag gegee het in ‘n desperate poging vir hoogte en hoe ons, neus in die lug, geval het. “Soek ‘n pad, soek ‘n pad!!” het hy geskree oor die enjingeraas en onder ons was net berge, rotsblokke en slote. In ‘n laaste desperate poging het hy windaf gedraai, die stok voorentoe gestoot om spoed te kry en uitgetrek net voor ons statistiek sou word. Ons het in stilte terug gevlieg en, om alles te kroon,  op landing ‘n band gebars wat ons so skuins oor die vliegveld laat hardloop het tot in die veld. Daar het ek uitgeklim op bewerige bene en met my eie gedagtes terug geloop terwyl Eben vir ‘n lang tyd in die vliegtuig bly sit het.

Ek het my selfoon aangesit om op drie missed calls te antwoord. Skaars oor my eie skok kry ek die boodskap dat James en Jaco in kragdrade vasgevlieg het naby Koffiefontein. Hulle is veilig hoor ons tot ons groot verligting. Jaco het ‘n noodlanding gedoen op ‘n plaaspad maar die vliegtuig gaan nie meer verder vlieg nie! Nou moes ons weer terug vlieg na Tempe toe. Na ons die wiel herstel het, het ons huiwerig opgestyg met die laatmiddag son skuins agter ons vlerk. Ons het nie baie gepraat terug nie en toe ek oor my skouer kyk het ek die mees perfekte reenboog gesien. Het my ‘n ruk daaraan verwonder en ‘n paar foto’s geneem (het dit ongelukkig nie hier op my skootrekenaar nie!). Veilig op die grond aangekom het ons gerook, gedrink en gedebrief!

Heelwat later in die projek styg ek en Johan in Porterville op vir die dag se opnames. Ons vlieg in ‘n valei in wat ‘n groot kom maak. Ons is laag en volg die topografie. Regvoor ‘n paar loodregte kranse kry die elektriese trims ‘n fout en trim die kuiken  in ‘n stol in! Johan voer ‘n teksboek chandelle uit en netsoos met my en Eben begin ons weer vlieg terwyl die rotse amper die kuiken se pens kielie. Dit was ons nie toe beskore om as boesmantekening onself teen die kranse te verewig nie. Daardie middag het ek gaan draf na ‘n waterval so ent weg vanwaar ons oorgebly het en terwyl ek kaalgat onder die stroom gesit het, het die sproei ‘n reenboog rondom my gevorm. Skielik het ek die reenboog naby Bloemfontein weer onthou.

In Robertson styg Charlie en Ryno op. Ek is op grond diens díe dag en ‘n uur later bel hulle om te sê ek moet kom help. Hulle het ‘n noodlanding gedoen in ‘n lusernland. Daar aangekom het ons gekyk wat ons kan doen en ek het ‘n paar foto’s geneem. Die aand toe ek die foto’s aflaai was daar ‘n reenboog  op een van die foto’s (gaan dit nou probeer plak vir julle).

Wat ek wil sê met die storietjie is dat daar ‘n wetenskaplike verklaring is vir al die reenboë. Daar is heelwaarskynlik ‘n sielkundige verklaring waarom ek dit elke keer raakgesien het  onder die spesifieke omstandighede, maar vir my is daar ‘n dieper betekenis. In ‘n lewe wat nie meer vir my sin gemaak het nie en waar ek alles bevraagteken het (God se bestaan inkluis) het ek ‘n teken gekry. Dit het nie my vra laat ophou nie en dit het nie die seer weggevat nie maar dit het vir my op ‘n snaakse manier hoop gegee om aan te hou soek.

Profile photo of Vloei

by Vloei

‘n Storietjie

November 13, 2009 in Sonder kategorie

Op 30 vt teen so 60 knope kan jy duidelik sien wat op die grond aangaan. Jy kan onderskei tussen ‘n suidwesdoring en ‘n soetdoringboom, jy kan die oumansoutbosse se vaal mooi  raaksien en ‘n litjieskaktus sukkel om vir jou weg te kruip.  Maar jy word netso maklik bekruip deut telefoondrade, windpompe, kraglyne of enige ander “widowmaker” soos Thys dit eendag skertsend genoem het. Op daardie hoogte is jy net oë en jou konsentrasie absoluut.

Tot op daardie tydstip was daar nog nie enige merkwaardige insidente nie. Onstabiele lug en ‘n stamperige vlug is aanvaar as ‘n gegewe en dit was nie meer so snaaks soos die eerste keer nie as die rekenaar  hier voor jou rond swewe wanneer daar in ‘n groot “air pocket” geval word nie. Jy trek maar daai gordels styf vas as jy die belofte van ‘n bloedige warm dag in die wasigheid van die oggendlug lees! Die kuikens (soos ek hulle genoem het) is in Duitsland ontwerp hoofsaaklik vir die plesiervlieënier en hier op die suidpunt van Afrika het ons hulle ons werksesels gemaak. Elke vliegtuig het sekere veiligheidsgrense waarbinne die voorgeskrewe beperkinge neergelê is en sonder om te oordryf kan ek sê dat ons daardie grense behoorlik verskuif het.

Maar die storie wat ek wil vertel het meer te doen met die turbulensie in my gemoed en die onstabiele verloop van my gedagtegang as die tegniese veiligheidsaspekte van daardie wonderlike klein vliegtuigies. Hier moet ek dalk nou eers stop en vir my geagte leser ‘n fototjie plak van hoe die kuiken lyk voordat ek verder gaan.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Stop vir ‘n drankie

November 12, 2009 in Sonder kategorie

 

 

Iewers naby Hofmeier het ons mobiele kantoor dors geword. Oppad terug verby Teebus en Koffiebus.