by

En jy dink jy maak nie ‘n verskil nie!!!

Oktober 20, 2009 in Sonder kategorie

Ek het weer ‘n oomblik van waarheid beleef wat my aan die dink gesit het.

Die nietigste sameloop van omstandighede kan verreikende gevolge hê. Die geskiedenis is aanmekaar geweef deur gebeurtenisse wat gekoppel is. Nie in ‘n lang string nie maar eerder soos ‘n spinnerak, op baie plekke aan mekaar vas sonder om te kan sê waar is die begin en waar is die einde. Ons lewe en wat ons doen (of nie doen nie) is deel van die spinnerak.

Ek en my seuns is oppad terug van ‘n naweek in die bos en stop op Melmoth om iets te kry om te eet. Die garagewinkel is vol mense en ons staan tou en wag vir die kos. Die mannetjies is honger, die mense voor my besluitloos en díe agter die toonbank pynlik stadig. Na ‘n ewigheid is ons daaruit en weer oppad. Die mis lê laag en dit khiza soos net Zoeloeland se weer kan.

Om ‘n draai, so 20 kilometer verder, lê die wrakke in verskillende posisies oor die pad. Twee figure met baadjies toegegooi lê in’n plas bloed, beseerdes sit verwese langs die pad en ‘n spietkop probeer die verkeer beheer. Die eerste ambulans het net daar stil gehou. Dit kon nie langers as 15 minute te vore gebeur het nie.

Ek kyk na my kinders en is skielik dankbaar vir stadige diens, besluitlose mense en ‘n besige winkel!

3 antwoorde op En jy dink jy maak nie ‘n verskil nie!!!

  1. Chieppa het gesê op Oktober 20, 2009

    ‘Sameloop van omstandighede…’Elkeen van ons ervaar dit, maar is dikwels te besig om dit waar te neem.

  2. zephur het gesê op Oktober 20, 2009

    Ja alles het ‘n doel…iewers word jy opgehou sodat jy nie deel is van statistiek nie.

  3. Soms weet mens weer so duidelik wat nietig is en wat belangrik is!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.