by

Aqua-Kultuur

Oktober 12, 2009 in Sonder kategorie

As ‘n natuurmens  met ‘n waardering vir diversiteit of verskeidenheid, is dit altyd iets waarna ek oplet. My habitat waar ek nou in leef het geen tekort aan verskeidenheid nie. Die abiotiese gedeelte bestaan uit ‘n verskeidenheid van  drywende strukture wat wissel van die mees moderne tot pre-sondvloed vaartuie.

Bote het karakter wat bepaal word deur vorm, ouderdom, ervaring (waar hulle al was) en hulle eienaars. En hulle het name! Watter prentjie sien jy wanneer jy die volgende name hoor; Ferocia, Salty Dog, Ethereal, Kla Gelag, Adios of Gargantua? Daar is spoedvrate, verdrinkskippies, drywende paleise, statige ou dames, klein eendjies, lelike eendjies, pragtige swane en nog baie, baie meer om op te noem. Omtrent meer kategorieë as waarin jy Afrikaners kan plaas!

Die eienaars (die biotiese gedeelte van my habitat) is net so kleurryk soos hul bote. Daar is die brag- gatte, die kantlyn/kroeg seevaarders, die boat yard rotte, die internationals, die ou gesoutes, die nat- agter- die- ore klomp, die kompetisie klomp, die cruiser klomp en so kan ek aangaan. Natuurlik kan jy van die een groep na die ander groep migreer maar dit hang dikwels af van omstandighede wat baie keer met jou bank balans te doen het.

Wanneer die genoa styf ingetrek is en sy hel 45 grade na bakboord oor, die kiel sny deur die deinings en soutsproei sit op jou lippe, dan lewe jy! Wanneer ‘n 50 knope wind die water in berge verander en jy rondgegooi word soos ‘n kurkproppie, dan wonder jy hoe lank jy nog gaan lewe? Daar is baie vergelykings tussen seil en die lewe. Daar is min dinge wat die mens se nietigheid so beklemtoon as ‘n kwaai, oop see en jou klein bootjie daarop! Daar is ‘n paar selfvoldane karakters wat wat ‘n trippie nodig het langs ons ou Wilde Kus…….net om weer op hulle plek gesit te word! Om nederigheid te ervaar.

Maar hier moet ek nou ophou want ek het so pas my beet verbrand!

2 antwoorde op Aqua-Kultuur

  1. pasella het gesê op Oktober 12, 2009

    So is party mense ook verdrinkskippies.

  2. aa3cher het gesê op Oktober 12, 2009

    Baie waar

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.