Jy blaai in die argief vir 2009 Oktober.

Profile photo of Vloei

by Vloei

!

Oktober 30, 2009 in Sonder kategorie

Wie sal my glo as ek se dat ek nou net ‘n luiperd gesien het, nie 50 tree vanwaar ek nou in my tentjie le en blogs lees nie? Die paradoks van twee verskillende werelde!Dis so mooi, ek moet dit deel met iemand……..

Profile photo of Vloei

by Vloei

Death by a thousand cuts

Oktober 30, 2009 in Sonder kategorie

‘n Ou martel tegniek wat gewild was tydens die antieke Chinese beskawing was om jou vyand wat jy gevang het oor ‘n lang tydperk ‘n klomp klein snytjies regoor sy liggaam te gee sodat hy homself baie stadig doodgebloei het. Hierdie metode het as “death by a thousand cuts” bekend gestaan en was een van die mees gevreesde maniere gewees om ontslae te raak van ongewensdes.

Vandag word hierdie metode regoor die wêreld toegepas deur die ongebonde strewe na materieële welvaart en die voel-vere- vir- die-res houding wat die eersgenoemde ingesteldheid kweek. Vir díe aan die onderkant van die rangorde is dit in elk geval so ‘n oorlewingstryd dat daar nie oor díe “edele” kwesies soos omgewingsbewusdheid  gedink kan word nie. En so sny ons ons eie liggaam dag vir dag en bloei haar stadig leeg.

Hier so bietjie lugbesoedeling (heeltemal binne perke, natuurlik) daar weer ‘n beriggie oor ‘n vuil rivier. Hier word nog ‘n mynbou permit toegestaan (die “EIA”proses is deurloop) en daar is nog ‘n opvangsgebied besmet met uitheemse plante. Wat het die ontginning van die steenkool reserwes in die Waterberg nou eindelik te doen met die prys van eiers? Baie meer letterlik as wat ek en jy dalk besef!

Die “WORD FOKKEN WAKKER!” boodskap van ‘n swaar verwonde aarde aarde gaan verlore in die lugversorgde atmosfeer van ons  raadsale, karre  en huise, die vloei van mineraal water uit plastiek botteltjies, in die stryd op oorlewing en die afgestompte gewete van ons kollektiewe bewussyn. Weet dus maar dat die natuur  ‘n geduldige  “ou skoolse” leermeester is, maar wanneer dit by pakslae uitdeel kom, hy meedoeënloos is.

Profile photo of Vloei

by Vloei

En jy dink jy maak nie ‘n verskil nie!!!

Oktober 20, 2009 in Sonder kategorie

Ek het weer ‘n oomblik van waarheid beleef wat my aan die dink gesit het.

Die nietigste sameloop van omstandighede kan verreikende gevolge hê. Die geskiedenis is aanmekaar geweef deur gebeurtenisse wat gekoppel is. Nie in ‘n lang string nie maar eerder soos ‘n spinnerak, op baie plekke aan mekaar vas sonder om te kan sê waar is die begin en waar is die einde. Ons lewe en wat ons doen (of nie doen nie) is deel van die spinnerak.

Ek en my seuns is oppad terug van ‘n naweek in die bos en stop op Melmoth om iets te kry om te eet. Die garagewinkel is vol mense en ons staan tou en wag vir die kos. Die mannetjies is honger, die mense voor my besluitloos en díe agter die toonbank pynlik stadig. Na ‘n ewigheid is ons daaruit en weer oppad. Die mis lê laag en dit khiza soos net Zoeloeland se weer kan.

Om ‘n draai, so 20 kilometer verder, lê die wrakke in verskillende posisies oor die pad. Twee figure met baadjies toegegooi lê in’n plas bloed, beseerdes sit verwese langs die pad en ‘n spietkop probeer die verkeer beheer. Die eerste ambulans het net daar stil gehou. Dit kon nie langers as 15 minute te vore gebeur het nie.

Ek kyk na my kinders en is skielik dankbaar vir stadige diens, besluitlose mense en ‘n besige winkel!

Profile photo of Vloei

by Vloei

Drie Vrae.

Oktober 13, 2009 in Sonder kategorie

– Is daar nog vrouens oor wat nie metro males verkies nie?

– Is alle drome soos die reenboog…..hoe harder gejaag word , hoe vinniger ontwyk dit jou?

– Hoekom draai die maan nie ook om sy eie as nie?

Profile photo of Vloei

by Vloei

Aqua-Kultuur

Oktober 12, 2009 in Sonder kategorie

As ‘n natuurmens  met ‘n waardering vir diversiteit of verskeidenheid, is dit altyd iets waarna ek oplet. My habitat waar ek nou in leef het geen tekort aan verskeidenheid nie. Die abiotiese gedeelte bestaan uit ‘n verskeidenheid van  drywende strukture wat wissel van die mees moderne tot pre-sondvloed vaartuie.

Bote het karakter wat bepaal word deur vorm, ouderdom, ervaring (waar hulle al was) en hulle eienaars. En hulle het name! Watter prentjie sien jy wanneer jy die volgende name hoor; Ferocia, Salty Dog, Ethereal, Kla Gelag, Adios of Gargantua? Daar is spoedvrate, verdrinkskippies, drywende paleise, statige ou dames, klein eendjies, lelike eendjies, pragtige swane en nog baie, baie meer om op te noem. Omtrent meer kategorieë as waarin jy Afrikaners kan plaas!

Die eienaars (die biotiese gedeelte van my habitat) is net so kleurryk soos hul bote. Daar is die brag- gatte, die kantlyn/kroeg seevaarders, die boat yard rotte, die internationals, die ou gesoutes, die nat- agter- die- ore klomp, die kompetisie klomp, die cruiser klomp en so kan ek aangaan. Natuurlik kan jy van die een groep na die ander groep migreer maar dit hang dikwels af van omstandighede wat baie keer met jou bank balans te doen het.

Wanneer die genoa styf ingetrek is en sy hel 45 grade na bakboord oor, die kiel sny deur die deinings en soutsproei sit op jou lippe, dan lewe jy! Wanneer ‘n 50 knope wind die water in berge verander en jy rondgegooi word soos ‘n kurkproppie, dan wonder jy hoe lank jy nog gaan lewe? Daar is baie vergelykings tussen seil en die lewe. Daar is min dinge wat die mens se nietigheid so beklemtoon as ‘n kwaai, oop see en jou klein bootjie daarop! Daar is ‘n paar selfvoldane karakters wat wat ‘n trippie nodig het langs ons ou Wilde Kus…….net om weer op hulle plek gesit te word! Om nederigheid te ervaar.

Maar hier moet ek nou ophou want ek het so pas my beet verbrand!

Profile photo of Vloei

by Vloei

Lego

Oktober 5, 2009 in Sonder kategorie

Snaaks hoe ‘n eenvoudige insident ‘n geykte lewenslessie by jou kan inhammer dat dit voel of jy ‘n openbaring van insig ontvang het. Gister het ek en my twee mannetjies met hulle lego blokkies gespeel. Mieliepit was besig om ‘n 4×4 te bou en Boesman het ‘n reddingshelikopter gemaak. Met my gedagtes afwesig het ek blokkies op mekaar gedruk totdat Mieliepit met ‘n groot vraagteken op sy gesig wou weet watse ding is ek  nou besig om te bou? Ek het nie die vaagste benul gehad nie!

As jy iets doen, moet jy eers weet wat dit is wat jy wil doen. Basies, eenvoudig maar waar. Hoeveel goed is gedoen sonder dat die wat dit gedoen het dit wou doen?

Op ‘n minder filosofiese noot: ‘n Fransman het my eendag gevra wat die verskil tussen seks en lego is?”Nee, wat?” het ek teruggevra. Hy het my bejammerend aangekyk en gese: “No, you just keep on playing with your lego,ok!”