Profile photo of Vloei

by

My naamloses

September 2, 2009 in Sonder kategorie

Jy kry hulle ooral in ons samelewing. Hulle werk vir ons, van die kombuis af tot in die duurste restaurante. Jy kry hulle by die rykes en die armes. Party het tande, die meeste daarsonder. Hulle was al gebruik om die grotes te laat val (Julius Caesar, Hendrik Verwoerd en so aan) maar hulle het ook al tallose lewens gered.

My ode vandag is aan die mes. Toe ek die eerste keer saam met argeoloë na klipwerktuie gesoek het en ‘n klipmes uitgewys is, was ek aangegryp. Ek was nog maar altyd lief vir ‘n mooi mes. Mooi is natuurlik ‘n relatiewe (en persoonlike) begrip. Vir my lê die definisie van mooi in ‘n mes by die kombinasie van sy lyne, die staal van die lem en die materiaal van die hef.

Netsoos mense kry jy baie tipes messe. Jagmesse, knipmesse, kapmesse, kombuismesse en so kan ek aangaan. Die stoffasie waarvan die lem gemaak is bepaal die karakter. Hoë koolstofstaal is hard en behou sy snyvlak lank maar roes maklik. Vlekvrye staal werk lekker by die see en blink mooi maar stomp vinnig af.

Eric, ‘n Fransman, het my vertel van die gebruik dat wanneer iemand vir jou ‘n mes gee, jy hom ‘n muntstuk moet teruggee as ‘n simboliese koopooreenkoms. Doen jy dit nie gaan die vriendskapsbande gesny word. Jy lag! Ek kan jou ‘n storie vertel van twee boesemvriende, ‘n Toearegdolk en ‘n meisie. Later….dalk eendag sal ek, maar nie nou nie.

Die mes en in sy groter vorm, die swaard, het deur die eeue heen geskiedenis help vorm. Van Abraham en Isak tot in die loopgrawe waar die bevel, “Fix bayonets!” uitgeskreeu is. ‘n Mes kan oopvlek, ‘n mes kan tot op die been sny, ‘n mes kan afskil, ‘n mes kan die vrot uitsny. In die hande van ‘n moordenaar het hy ‘n sekere betekenis, in die hande van ‘n dokter ‘n heeltemal ander betekenis.

In die mitologie lees ons van die helde se lemme wat hulle eie name gehad het. Koning Athur se Excalibur, Beowulf se Hrunting en Frodo se Sting. Die samurai se swaard was deel van sy wese. Mense se bestaan en leefwyse is beskerm en vernietig deur die lem. Self Petrus het ‘n swaard gedra (en gebruik)!

My messe het nie name nie maar dat elkeen sy eie karakter het is so. Van my Okapi, swissmessie, Leatherman en Joseph Rodgers tot by my handgemaakte skedemes het ons baie dinge saam deurgemaak. Hulle is vir my soos ou vriende, staatmakers. Die karakter wat hulle het was net deels daar met die giet en ontwerp. Die res is gesmee in werkverrigting, ervarings en emosies. Ja, so nou en dan wil daar nog iets misties uit die glim van my lem blits……

3 antwoorde op My naamloses

  1. Messe het vir my ook ‘n besondere bekoring. Hou daarvan om een te koop in die land waar dit vervaardig word. Maar hoekom skryf jy nie vir ons ‘n “Die Filosofie van die mes” nie. Of “Die rol van die mes in die ontstaan en ondergang van beskawings.” Wat messe simboliseer en die rol wat messe in die geskiedenis gespeel het. Min of meer soos jy hierbo begin het. Dit behoort boeiende leesstof te wees.

  2. aa3cher het gesê op September 2, 2009

    Genade, nou sit jy my aan die dink!

  3. aa3cher het gesê op September 2, 2009

    Ek dink dis maar ‘n mansmens ding

Los ’n antwoord vir aa3cher. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.