Jy blaai in die argief vir 2009 Augustus.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Son(de)dag

Augustus 31, 2009 in Sonder kategorie

Dit sit net hier iewers op die krop van jou maag, amper soos honger maar heeltemal anders. Dit kom saam met Sondae en dis soos ‘n ou skeet, so half in die agtergrond maar jy bly bewus daarvan. Ek kan nie regtig onthou wanneer die Sondaggevoel homself aan my voorgestel het nie, maar die laaste 3 jaar het hy ‘n nuwe betekenis  gekry…..dis wanneer ek die mannetjies moet terug vat na hulle ma toe.

Ek was een van daais wat selfvoldaan gesê het skei is nie die antwoord nie ensovoorts, ensovoorts! Nog ‘n slagoffer van die Engelse holruggeryde perdjie, Never say never. Ek kan dit nog nie waag om die gevoel te verwoord as ek hom eenkant kry hy waar hy oor die water staar in plaas van rond te hardloop en speel soos ‘n agtjarige seuntjie moet nie!

Ons maak grappies, vertel stories, vlieg ons papiervliegtuie en vang vis  en dan is dit Sondag middag. Oppad terug vra die jongste: “Pappa, waarom koop jy nie die huis langs Mamma s’n nie?”Dis dan dat ek wens vir die eenvoud van ‘n vyfjarige se wêreld………dan kan ons sommer Sondag ‘n “skip” gee!

Profile photo of Vloei

by Vloei

Onbenullig

Augustus 27, 2009 in Sonder kategorie

Oom Kaspaas (Breekwater) het altyd woorde in Nefie se mond gele as hy weer oor iets wou praat of spog, gewoonlik sommer so uit die bloute uit.

Met apologie teenoor Honiball wil ek net se: “Julle praat nou so oor die klein dingetjies van die lewe. Dit laat my nou dink aan daai more toe jou Omie, as’t ware, met oop………”

Al die groot veranderings in my kort bestaan het begin met klein dingetjies. ‘n Brief wat geskryf is of nie geskryf is nie, ‘n onbenullige sms, ‘n kopknik en ‘n glimlag of ‘n oorvertelde storie. Ek het vanoggend met die druk van ‘n knoppie my CV Kambodja toe gestuur. Ek het gistraand vergeet om my seuntjies te bel. Dit alles het geweldige potensieele energie…

“Gaats Omie, Omie kyk so vir die meisie met die klein rokkie dat Omie nooit daarie groot trok sien kom het nie…”

Profile photo of Vloei

by Vloei

Twee Outa’s in die Langpad

Augustus 26, 2009 in Sonder kategorie

Ons goeters agter in die kar en ‘n laaste vinnige loer of al die luike toe is en mooring lines vas is ingeval die suidwester deurkom terwyl ons nie daar is nie. Noordwes is die rigting, Pretoria die bestemming met ‘n oorslaapstop op die reservaat waar 15 jaar se sweet en spore van my lê.

“Wanneer kom jy terug, Sanbonani?”Ou Frans vra dit al ken hy die antwoord en gee ‘n wrang laggie as ek vra hoe loop die dinge nog en hy antwoord dit gaan ma’ aan. Hy’t oud geword (ek ook!). Ons braai daardie aand op die rivieroewer, drink te veel en lê soos ons lag oor storietjies wat vertel word ten koste van onsself. Ons is in ons eie wêreld…..’n oud-natuurbewaarder, ‘n oud-poliesman en ‘n seevaarder (sailor klink beter!).

Snaaks hoe ‘n mens jou eie identiteit beskryf as oud-watookal. Die gevasklou aan die verlede terwyl jy probeer om ‘n nuwe een te bou in ‘n wêreld wat elke dag verander.

Ek laai Japie by sy familie af in Silwerton en ry dan deur na ‘n Golf Estate in die ooste van Pta om ‘n konferensie oor waterbesoedeling by te woon . Netwerk is belangrik as jy werk soek. Een van die sprekers beduie aan ‘n mede-kongresganger hoedat hy nou geld maak vandat hy weg is by die staat en ek wonder…. Sonder uitsondering ry al díe fokkers Merc’s, BMW’s of blink 4×4’s!

Oppad terug kus toe gooi ek petrol in by die garage naby die reservaat. “Jy maak nou mooi geld, Sanbonani!” sê Maurene terwyl sy my geld vat en na my 2008 model karretjie kyk. Hoe kan ek nou vir haar verduidelik dat dit omtrent al is wat ek na die egskeiding gekry het en swaar afskeid geneem het van my opgebruikte bakkie. Japie sit hier langs my en grinnik. Sy oordeel my sowaar net op grond van wat ek ry!

“Twee Outa’s in die Langpad” merk Japie op toe ons weer padvat terug Noordkus-toe. Ek sit en dink oor die ironie van sy opmerking.

Terug van die langpad en die wind is besig om suidwes te draai. Die palmbome ruk rond tewyl ons uitlaai en kyk hoe die bote beur teen die ankertoue en die wind se krag. Hulle dryf darem nog! 

Vrede……

Profile photo of Vloei

by Vloei

Ekstase

Augustus 17, 2009 in Sonder kategorie

As jy jou oe toemaak en hard genoeg konsentreer, begin jy dit voel. Jy verloor gevoel in jou bene en dis ‘n sensasie wat stadig oor jou hele lyf versprei. Dan, as jy hard genoeg fokus, breek jy los van daardie kettings wat jou vasbind aan moeder aarde en jy begin gewigloos sweef. Partykeer kan jy hoog op gaan dat alles onder jou verklein en ander kere skeur jy rakelings oor boomtoppe, bergspitse of huisdakke. En dan verloor jy konsentrasie en jy sak af todat jy weer in die kloue van gravitasie is.

 Hierdie is ‘n droom wat ek gereeld gedroom het toe ek nog klein was en later minder, maar ek het nog altyd met ‘n gevoel van ekstase wakker geword wat my hunkerend laat opkyk het na die blou lug bokant my. Iewers in die laat 70’s was daar ‘n Blue Stratos advertensie op tv waar ‘n ou met ‘n “hangglider” van ‘n berg af gespring het en begin sweef het soos ek in my drome. Dit het my verbeelding so aangegryp dat ek jare later ook my vlerke gaan sprei het.

Om die gevoel te beskryf van ‘n “10 up thermal” gaan my nog lang ure se taaloefening op hierdie blog kos! Maar daar is suiwer ekstase wanneer daardie groot hand jou gryp en jou vlerk spring rond hierbo jou kop en as jy hom reggehaak het, alles te sien verklein soos in my droom! Dis dan moeilik om nie die werlikheid vir ‘n droom aan te sien nie……..

Ek wonder dikwels oor drome se betekenis in die werkliheid en andersom? Vrede.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Bitterbek

Augustus 14, 2009 in Sonder kategorie

In Zoeloeland, iewers tussen Vryheid en Ulundi, is daar ‘n stukkie bosveld waar jy nie ander liggies kan sien as die son gesak het nie. Dis op ‘n Oom se plaas wat beesboerdery verruil het vir die wildbedryf as gevolg van die feit dat sy beeste altyd na ander krale toe geloop het.

Van so ver terug as wat die mens kan onthou (en nog voor dit!) was konflik deel van díe kontrei se storie. Tussen die Boesman  en die vroë Nguni stamme, Shaka wat sy bloedige empaaier daar begin bou het, tussen die Boere en die Zoeloes, tussen die Boere en die Engelse, tussen die Engelse en die Zoeloes en later tussen die Comrades en Inkatha.

My bitterbek vandag kom van ‘n nietige voorval wat my warm onder die kraag gemaak het. Onder ‘n sekelbos net langs die tweespoor pad, op die Oom se plaas, lê ‘n leë blikkie Amstel. Dit spel vir my dieselfde as kru graffiti op jou tuinmuur gespuitverf! Waar is die respek teenoor ons omgewing? Meer as ooit te vore is ons nou in konflik met dit wat ons aan die lewe hou. Ons omgewing.

O, maar ons kan praat en daar was nog nooit voorheen so baie tv programme oor die omgewing nie (van hulle ook maar lekker sensasioneel!). Ons het bietjie minder praters en meer doeners nodig. As daar nou een konflik is wat ons nie kan bekostig nie dan is dit díe een……

Gee my tog net ‘n bietjie skoon water om my mond mee uit te spoel…….asseblief!

(Ek weet daar is baie erger besoedelgoed as ‘n bierblikkie maar vir my gaan dit oor die vermetelheid van die daad.)

Profile photo of Vloei

by Vloei

Mikstok

Augustus 13, 2009 in Sonder kategorie

Dit voel nie so lank terug nie  toe ek en sy  nog vir mekaar geskryf het (pen, papier, koevert en seël!). Sy iewers in Europa en ek ‘n uur se ry van die naaste poskantoor iewers op die platteland. Twee weke se verloop tussen emosies wat vasgepen is op ‘n sekere oomblik en ‘n reaksie daarop. So ‘n geheen en weer tussen die hede en die verlede. Dit was in ’95, die deurmekaar oorgangstydperk tussen die ou en nuwe  Suid Afrika.

Die manier van hoe ons vandag kommunikeer is verbysterend as jy die moeite doen  om so 15 jaar in die verlede terug te dink. Nou kan ons sms, e-pos, facebook, skype en blog! Tog was daar ‘n sekere afwagting vir daai brief met die kenmerkende handskrif. Maar ek wil nie nou vir of teen die ou  of die nuwe manier argumenteer nie. My punt is dat ek  (soos enige ander ou wat wil) nou ook  ‘n seepkis het vanwaar ek my opinie kan lug. Nogal ‘n groot stap vir ‘n ou wat homself as outyds beskou!

Wat my laat dink aan die Engelse offisier wat ‘n les in moderne oorlogvoering gekry het van ‘n ou Boere omie wat na ‘n skermutseling gevang is. Op die offisier se vraag aan die oom waarom die Boere altyd agter die klippe lê en skiet tydens ‘n geveg was sy antwoord: “ Sodat julle ons nie kan raakskiet nie, boetie.”Waarop die offisier, uit die hoogte wou weet dat , siende die Engelse  die hoogste ontwikkelde ras ter wêreld is, wat die Boere gaan doen as hulle ‘n geweer uitvind wat agter die klippe kan skiet?Die oom het hom vol in die oë gekyk en gesê: “Dan lê ons maar voor die klippe en skiet julle!”

So beweeg ons maar met die tye. Vrede,  soos my vriend Charlie altyd sê.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Augustus 12, 2009 in Sonder kategorie

Het twee dae gelede water in die veld gedrink sonder om te wonder of ek gaan siek word. Ek wonder hoe lank ons nog daai voorreg sal smaak?

Profile photo of Vloei

by Vloei

Hallo wêreld!

Augustus 12, 2009 in Sonder kategorie

Hierdie is ‘n voorbeeld-pos op jou splinternuwe blog. Jy kan hierdie pos redigeer deur die REDIGEER knoppie hierbo te kliek, of verwyder dit deur SKRAP te kliek. Waarom skep jy nie nou sommer jou eerste pos nie? Kliek op die SKEP ‘N POS knoppie aan die regterkant van dié bladsy.

Geniet jou nuwe blog-wêreld!