Profile photo of Vloei

by Vloei

Terug….

Oktober 28, 2017 in Uncategorized

Hallo Julle…..Na die afwesigheid van rwee en ‘n half jaar het ek weer teruggeloop op my spore en kom kyk wat gaan aan in hierdie spasie van die netwerk. Waar ek in 2009 begin blog het as ‘n soort terapie, werkloos en vuisvoos maar darem nie haweloos nie (ek het op my bootjie in Richardsbaai se hawe gebly..) sit ek nou in die Hindu Kush berge in sentraal Afghanistan en stuurt my storietjie via sateliet terug na my land en my mense.

Ek weet nie hoeveel van die ou garde is oor nie en hoeveel nuwe ridders, godinne, trolle, swerwers, wyses en grootbekke het bygekom nie maar ek sien uit om almal te lees en dalk so nou en dan ‘n stuiwer in die armbeurs te gooi.

Vrede

Brekfis sonder Jakaranda

Profile photo of Vloei

by Vloei

Om te berg…

Junie 7, 2014 in Uncategorized

Die sms boodskap was uit die bloute….ek het nie daarvoor gesoek nie. Haar aanbod het my verbeelding aangegryp. Party gedagtes koester ‘n mens in jou diepste binnestes as ‘n fantasie sonder die verwagting dat dit ooit sal  vergestalt. Die moontlikheid dat dit nou ‘n werklikheid mag word het my droogmond gelaat. Die keuse was myne, ja of nee. En soos met elke keuse gaan daar gevolge  wees waarvoor jy sal moet pa-staan.

 

Ons het saam as junior natuurbewaarders by die ou TPA Departement van Natuurbewaring begin werk. Ek is ‘n paar jaar gelede weg om my eie heil te gaan soek en sy het aangebly in navorsing. Ons het so dan en wan kontak gehou. Die presiese woorde van haar sms kan ek nie meer onthou nie maar die kort en lank daarvan was dat sy ‘n voet operasie moet ondergaan en dat haar plek  in ‘n Everest ekspedisie beskikbaar is. Stel ek belang om haar plek te vat?……!!

(Jy kry die idee?)

Nou is waarskynlik nie die beste tyd in my lewe vir so ‘n geleentheid nie. My nuwe besigheid is ‘n pasgebore babatjie en die vinnig kwynende neseier word nie so vinnig aangevul soos aanvanklik voor gehoop is nie. Aan die anderkant is dit ‘n geleentheid wat nie die gewoonte het om twee keer aan jou deur te kom klop nie Dalk is dit juis die heel beste tyd. Na ‘n week se interne worstel met myself het ek die besluit gemaak en dis waarom ek nou elke oggend vroeg opstaan en tekkies aantrek. Himalayas, hier kom ek!

 

Die berg as metafoor in ‘n verskydenheid van kontekse is welbekend in die woordkuns. Vir my was berge nog altyd  magies. Of dit te doen het met die fisiese teenwoordigheid van so ‘n landmassa of dalk die geheimsinnige aura wat ‘n berg uitstraal, is moeilik om te se maar my gees het nog altyd vry en groot gevoel in die berge. In die boek “Nanda Devi. Exploration and Ascent” het Shipton en Tilman die volgende aanhaling gemaak uit ‘n ou Hindu legende van Nepal: “and the earth asked”Why do you come in the form of a mountain and not in your own form?” and Vishnu answered :”The pleasure that exist in mountains is greater of that in animated beings, for they feel no heat nor cold, nor pain, nor anger, nor fear, nor pleasure. We three gods as mountains will reside in the earth for the benefit of mankind.”

Volgens Shipton het die bg. aanhaling genoeg gesag om die vraag, waarom ons berge wil gaan klim, die persoon wat die vraag stel die swye op te le sonder dat hy werklik beantwoord is!

 

Kortom, op 22 September 2014 vlieg ek en ‘n paar ander na Katmandu, Nepal om vir die volgende 3 weke Mera piek, 6478m bo seevlak uit te klim. Dat ons dit nie net terwille van die avontuur daarvan doen nie maar dat dit gekoppel is aan die situasie rakende renoster stropery, is ‘n storie vir die volgende bloginskrywing. Op my facebookblad “Perception Travel” verskyn die engelse weergawe van hierdie reeks. Ek gaan poog om julle deel te maak van hierdie ekspedisie.  Meer oor die RinoClimb in die vlg. “Om te berg”

Vrede

Profile photo of Vloei

by Vloei

Ou paaie en Nuwe paaie

Maart 24, 2014 in Uncategorized

Die pad  Tweefontein toe is weg. Die bos het dit terug gevat. Hoeveel jaar gelede is dit wat ek die rantsoene en veldwagters hier moes kom aflaai? Ek kriskras deur die sekelbos ruigtes maar daar het nie eers ‘n oopgetrapte wildspaadjie oorgebly nie. Agter my sukkel die uitlanders met die dorings. Die twee Hollandse knape moet koes-koes loop (dit het sy voordele om aan die kort kant te wees in die soort terrein!). Die twee Amerikaanse en Noorweegse dametjies volg ‘n entjie agter die langmanne, rooi in die gesig van die herfshitte en die ekstra gewig wat hulle saamdra.

 

Ek is nou veldgids en nie meer veldwagter nie. Die .375 is swaar in my regterhand ……. ek versit die geweer na die linkerhand en dink aan die ironie; voorheen het ek hier geloop met die R1 oor my skouer om die diere teen die mens te beskerm, nou’s dit andersom.

 

Die aand het ons om die vuur gesit. Ek het vir my groepie vleis gebraai en hulle gewys hoe om hulle eie stokbrood te maak. Die Hollanders het grappies gemaak en die draak gesteek met Duitse stereo tipes, die ander het oor een of ander tv-reeks gepraat en en nog een het probeer boodskappe stuur op sy i-phone. Dis hier waar ek nou veronderstel is om die klomp te vermaak met my bosstories en gevatte kwinkslae. Ek was net nie lus nie en gelukkig was die klomp moeg en het gou ingekruip. Vir ‘n ruk het ek terug geloop op ‘n paar ou paaie voor die sandman my ook gekry het.

 

Ons het heelwat grootwild gekry maar die renosters het ons ontwyk. Ek kon hulle spore vir die buitelanders wys en self vars mis maar daar was nie tyd om die spore te vat en te gaan soek nie, ons was op ‘n streng tydskedule! Oppad terug lughawe-toe om die Spanjaard te gaan aflaai moes ek mooi kyk waar om te ry. Dis ‘n nuwe pad vir my (in meer as een opsig).

Profile photo of Vloei

by Vloei

Berou

Januarie 13, 2014 in Uncategorized

Ek doen dit nie gewoonlik  so nie, maar hier is my probeerslag in ‘n rympie…….

 

Berou, wat ‘n bitter reaksie

op ‘n ondeurdagte aksie.

Gedryf deur die gewete

oor dade, swaar vergete

En netsoos nat en droog

hand aan hand moet loop,

staan Vergifnis verhewe en hoog

aan Berou vasgeknoop.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Hier’s ek nou!

Januarie 5, 2014 in Uncategorized

Ek het die berg met my oudste uitgeklim en ons het op die rand van die krans gaan sit om ons asems terug te kry. Links van my na die weste kant toe het Hartebeespoortdam gele, voor my het Johannesburg kop uitgesteek deur die dynserigheid en suidoos van ons af het Pretoria vir ons geloer (Voortrekkermonument en al!). “Pappa, gaan jy Mawana mis?” Daniel het my gedagtes gelees. Tog is hierdie uitsig ook vir my mooi, net op ‘n ander manier wat moeilik is om te verduidelik.

Ek is weg uit Zoeloeland uit en het myself nou herplant hier teen die suidhelling van die Magaliesberg. Groot was my verbasing toe ek die eerste nag die jakkals hoor roep het net agter die kliphuisie wat ek huur. Eers het ek gedink ek droom maar hy het weer geroep ek ek het met ‘n glimlag omgedraai en verder geslaap. Ek bly nou in ‘n vreemde ekotoon waar ontwikkeling en natuur oorvleuel in ‘n yin/yang patroon. Ek het selfs weer vinnige internet toegang!

Nou is ek aan die gang om my nuwe lewe op te start! Vandag ‘n facebook blad geskep om Perception Travel bekend te stel (die webwerf vat so bietjie langer as wat ek gedink het!). Na ure voor die skerm het ek vir Yster gevat om gou ‘n draai in die nuwe omgewing te gaan maak. Ek is amper twee keer van my fiets afgery! Dis gevaarliker hier as in die bos! Ek en die CRF is duidelik nie verkeer gewoond nie…

Ek wens julle almal ‘n baie mooi 2014 toe (al is dit ‘n bietjie laat) en sal nou meer aktief kan wees en meer van myself laat hoor (en julle meer kan lees!)

Vrede

 

 

 

 

Profile photo of Vloei

by Vloei

Trekpad

Desember 19, 2013 in Uncategorized

Vandag pak ek, more ry ek maar nie op vakansie nie….ek trek! Terug stad toe na vier jaar in Zoeloelandse bosveld. Ek het met my inskrywing Kruispad genoem ek slaan ‘n ander rigting in en ek voel ek skuld julle ‘n beter verduideliking. Die mannetjies is nou onderskeidelik 12 en 10 en die afstand was net te groot. Dis moeilik om mekaar net skoolvakansies te sien. Ek het ‘n groot deel van hulle opgroei gemis en gaan dit verander. Maar dis nie die enigste rede nie. …. ek begin my eie ding.

Die laaste jare in die formele bewaringsektor was frustrerend en dit was moeilik om te voel dat jy bydrae tot die beskerming en bewaring van ons natuurerfenis. Die opleiding met die studente hier op Kayalami het my laat besef dat jy kan help om die skille van die mense se oe te laat val. Mens kan die saad van omgewingsbewaring saai en iewers mag dit dalk in vrugbare teelaarde val en onvoorsiene vrugte dra. Kortom, ek begin my eie privaat gids en toer besigheid. Ek gaan klein groepies (nie meer as 3 persone op’n slag) bekendstel aan die plekke in ons land wat meeste van ons eie mense nie eers ken nie. My fokus gaan wees op interpretasie van die omgewing met sy spesifieke historiese agtergrond gekoppel met ‘n avontuur element. Die opsie om Suid Afrika te te leer ken te voet, te perd, kuslangs af te seil of die witwater van die Tugela aan te durf is daar. Ek wil die mense die grootsheid van die Karoo gaan wys voordat Shell dit opf..rack.

In 2009 het sy op ‘n houtboot by Zululand Yacht Club aangekom. ‘n Verdrinkskippie! Enige iemand wat al ‘n paar seemyle geseil het sal jou kan se dat wanneer jy in ‘n storm inseil op ‘n superjag, dit nag word! Op ‘n primitiewe houtboot in ‘n storm beleef jy ‘n nagmerrie oop oe! Sy het halfpad om die wereld op daai skippie geseil. Dit opsigself is besonders, wat dit nog meer besonders maak is dat sy Japanees is. Japanese doen nie sulke goed nie! Hulle toer in groot groepe en bly in hotelle. Maar miskien die mees besonderse feit is dat sy by een van die top mode maatskapye in Japan in beheer is vir hulle bemarking en advertensie veldtogte. Jy sal sukkel om twee groter teenpole te kry! Atsuko het aangebied om my webwerf  vir my te ontwerp en my bemarking vir my te doen!

Perception Travels is in wording en die geboortepyne is sterk. Vroeg volgende jaar is die verwagte geboortedag. Die naam is ‘n direkte afleiding uit ‘n insident wat ‘n diep indruk op my gelaat het (sien “Vloei se roei” in een van my historiese inskrywings). Perception Travels is my houtskippie en Suid Afrika se see is berug om die minste te se! Daar is haaie, storms en seerowers…..Dus is ek besig om die seile in te kort, die losgoed vas te maak en die belt ‘n gaatjie stywer te trek. Daar le ‘n paar storms voor voordat ek anker sal kan gooi in ‘n beskutte baai. Vrede

Profile photo of Vloei

by Vloei

Khiza

Desember 18, 2013 in Uncategorized

Khiza is die Zoeloewoord vit motreen en die laaste paar weke het dit gekhiza. Die drukkende hitte is weg, die son is weg en die misvlae het rondom Mpakana gehang en die rivier gevolg. Die dorgebrande haakdoringbosse het oornag vergroen en die doodsreuk van ‘n rukkie terug se dooie nyalakarkasse het plek gemaak vir die soet van die Acacia bloeisels. Laasweek Woensdag het ons ‘n wolkbreuk gehad. Ek het ‘n haelkorrel in my mond gedruk en gevoel hoe die yswater in my keel afloop. In die Swart Mfolozi vallei hael dit nie maklik nie. Oom Karools het my gese dit die afgelope 25 jaar laas gehael.

 

Die rivier het bruin afgekom en ek het onrustig die riete en opdrifsels dopgehou naby die oewer waar Bliksem en Lolliepop halflyf in die water gestaan en drink het. Hier was nog nooit ‘n krokkedil nie maar mens weet nie wat die rivier met haar saam kan bring nie….. Vanoggend het ek olifantspore duskant die donga gekry. Ek het dit ‘n ent gevolg en onwillekerig aan PJ Schoeman se boek “Op die Grootspore” gedink. Die verhaal speel af in die einste omgewing, net amper ‘n honderd jaar vroeer! Met ‘n swaar hart het ek gewonder oor die toekoms van die ou bul, die familie trop en die laaste paar renosters.

 

Wietz het gister nog opgemerk dat ons verleer het om rerig te sien wat rondom ons aangaan. Ons het te haastig geword. Ons kyk maar ons sien nie. Alles is aanmekaar geheg. Alles is deel van ‘n groter geheel. Maar dit vat tyd om die patroon raak te sien.

Ek wou nog bietjie meer skryf maar ek het nie tyd nie. Ek moet nou eers gaan.

 

 

 

 

Profile photo of Vloei

by Vloei

Kayalami Kronieke: Kruispad

November 15, 2013 in Uncategorized

Diegene wat al baie rondgery of geloop het sal weet dat daar verskeie paaie is wat na jou bestemming lei en dit hang van die situasie af watter pad jy kies. Díe wat in die stad bly sal daarvan kan getuig wanneer daar een of ander verkeersprobleem is, kies jy gou ‘n alternatiewe roete. Wanneer die omgewing egter vreemd is vir jou, is dit ‘n perd van ‘n ander kleur. Nou moet jy op instink en inisiatief staatmaak (dis nou as jy nie ‘n tomtom het nie!). Nie almal het ingeboude rigting nie….

 ‘n Oefening wat ek met die nuwe studente en vrywilligers doen op hulle veldorienterings kursus is om aan die einde van die twee dae wat ons in die bos opleiding gedoen het, elkeen ‘n kans te gee om die groep terug te lei na Kayalami toe. Vir ‘n kwartier moet die persoon rigting inslaan wat hy/sy dink is terug huis-toe terwyl die ande glad mag kommentaar lewer nie en dan is dit weer die volgende een se beurt. Die gevolg is dat ons (onvermydelik) langer loop maar tog by die huis uitkom. Dis altyd interessant om te sien hoe daar gehuiwer word waar 2 wildpaadjies kruis of hoe die ander omtrent bars om kommentaar te lewer maar hulle mag nie!

 Ekself staan op die oomblik by die kruispad. Omstandighede het my voor ‘n keuse gebring en ek het besluit om ‘n ander rigting in te slaan. Soos met die studente was dit nie sonder huiwering van my kant af nie en daar is dalk ander wat bars om kommentaar te lewer maar weet dis my besluit. Die goeie nuus is dat dit darem nie die einde van die Kayalami Kronieke sal wees nie aangesien die universiteite steeds my sal gebruik op kontrakbasis om die nuwelinge veldgereed te kry. Daar lê ook nog ou stories wat wag om vertel te word soos die slag van Amajuba toe die poachers lood om ons ore laat sing het of die keer toe twee alleenloper bulle gedagtes uitgeruil het. Daar is nog ‘n paar ou  karakters wat beskryf moet word maar dan ook nuwe horisonne wat wag om verken te word en nuwe stories wat beleef en gedeel moet.

 

Tot dan, vrede.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Om lewe en dood.

November 8, 2013 in Uncategorized

In  die Zoeloelandse valleie lê die hitte vasgedruk tussen die koppies en die Acacia ruigtes. Dis die laaste maand van die lente maar hierdie jaar voel dit asof die lente oorgeslaan is en dit lankal somer is. Laas jaar het die reen vroeg gekom en sommer mildelik ook. Vanjaar is dit ‘n ander storie….

Dit was nog voor sonop toe ek in haar vasgeloop het waar sy aan ‘n nagblom se stam gevreet het in ‘n wanhopige poging om die honger te stil. Die koedoekoei het gestruikel en geval toe sy vir my probeer padgee het. Sommer net daar bly lê, te swak om op te staan. Die afgelope maand of twee het ons al hoe meer karkasse in die veld gekry. Meestal nyalas en koedoes. Einde winter is dit veral die blaarvreters wat swaar trek. Die doodsreuk hang swaar in die lug en brommers styg in sulke swart swerms op as ek by die soveelste karkas verby loop. Die walgreuk  gaan lê in my sinusse en ek dra die reuk saam lank nadat ek verby die patetiese hoop vel en been is.

Trevor het my op die radio geroep en ‘n dooie seekoei in die rivier gerapporteer. Ek sê vir hom om vir my te wag en stryk aan in die rigting van die rivier. Ek voel hoe die son besig is om die laaste vog uit my liggaam te trek en moet stry teen die tamheid wat dreig om my te oorompel. Daar aangekom beduie Trevor na die oorkantste oewer. Tussen die riete met sy kop op die sandbank lê die seekoei. “Are you sure it is dead?” vra ek die jong Amerikanertjie. “Doodseker”, verseker hy my. Hy en Fabiene hou hom nou al meer as ‘n halfuur dop. Hy roer nie en die visse vreet aan die oop wonde op sy rug. Ek vat ‘n klip en gooi dit langs die seekoei in die water. Geen beweging nie. Net om seker te maak doen ek dit weer met dieselfde resultaat.

“Let’s go around to have a proper look see. “ sê ek en stap stroomop waar die rivier nouer is en ons van klip tot klip kan oorspring. Met Trevor kort op my hakke volg ons die sandbank tot waar die seekoei tussen die riete lê. Ek was nog besig om die riete uit die pad te druk en af te buk na die seekoei toe, toe die dooie seekoei letterlik uit die dood verrys! Wat ons gered het is adrenalien, die sandbank en die wonde van die seekoei.Skielik was die dooie moegheid van so rukkie gelede iets van die verlede! Fabie wat so entjie agter my en Trevor was, het my dringende krete van “Get away! Get away! Get away!” letterlik opgeneem en ‘n hele ent die bos ingehôl. Dit het mooipraat gekos om haar te oortuig die bedreiging is verby!

Oppad terug Kayalami-toe is die storie weer en weer herleef met die tipiese uitbundigheid en humor van mense wat ‘n noue ontkoming oorleef het. Die storie is in detail oorvertel aan die ander studente en het selfs as ‘n facebook status veskyn. Later die aand het ek op die dek van my boskamp gesit en die koel naglug ingedrink. Die eerste Acacia bloeisels se reuk was soet in die naglug en ek het gesit en dink aan hoe naby die lewe en die dood regtig aan mekaar is.

Profile photo of Vloei

by Vloei

Kayalami Kronieke: Die aarde is ‘n sy.

Julie 29, 2013 in Uncategorized

Die aarde is ‘n sy. Vandag het die openbaring my  so hard getref dat ek ‘n Newton-ervaring beleef het. Nadat ek die stof van myself afgeskud  het  waar ek, kan ek maar sê, my gat afgeval het en verleë terug gekyk het na waar sy op die rivier oewer half geskok  toegekyk het, het ek aanhou draf en gemaak asof ek nie die pyn in my lyf voel nie. Net soos met die val van die appel op Sir Isak se kop het my val van vanoggend vir ‘n verheldering gesorg wat my vermoede bevestig het dat gravitasie nie ‘n konstante is nie en dat die aarde definitief vroulik van aard is.

‘n Wetenskaplike teorie begin as ‘n hipotese wat dan as jy genoeg bewyse kan lewer, aanvaar word as die waarheid totdat ‘n ander slimjan jou teorie met ‘n teorie van sy eie wat deur nuwe navorsing joune tot dwaalleer kan bewys. Om ‘n hipotese tot op die vlak van ‘n teorie te verhef gaan gepaard met jare se noukeurige navorsing, waarnemings en logiese afleidings. Daar word ‘n tesis geskryf en jou standpunt verkondig en vededig jy op kongresse en in akademiese publikasies. Om my leser die verveling te spaar gaan ek die bewys van my stelling tot ‘n abstrak beperk.

Om te val is nie ‘n ongewone verskynsel nie. Ons het al almal geval, inteendeel ek glo nie dat ‘n mens kan leer loop of leer fietsry sonder om te val nie. Tog het ek deur jarelange se waarneming en ervaring geleer dat die term “val” heeltemal te wyd is en dat dit nodig is vir onderverdelings nl. ‘n eksterne val en ‘n interne val (díe twee hoofgroepe kan natuurlik weer onderverdeel word op hulle beurt). Eksterne val beteken gewoon ‘n val wat deur iemand of iets buite jouself veroorsaak word en ‘n interne val is jy die oorsaak van jou eie val (soos oor jou eie voete struikel as eenvoudige voorbeeld of die val van Julius Malema as ‘n meer gekompliseerde voorbeeld).

Die tipe val waarvan ek my gevolgtrekkings gemaak het is ekstern van aard en kom in ‘n oorweldigende meerderheid onder mans voor. Dit het begin met Tarzan wat die tak gemis het voor Jane en herhaal ditself in verskillende vorms soos die laaitjie wat van sy bmx afbli….val na hy ‘n wheelie probeer pop het voor ‘n paar giggelende bakvissies of die ou wat die sypaadjie mistrap as daar ‘n atletiese nooi in ‘n eina-drafbroekie verby hardloop.

Ekself wat gewoonlik soos ‘n spikkelkat deur die digste bos kan beweeg of so rats soos ‘n klipspringertjie teen ‘n kliprant kan opdraf, word deur die teenwoordigheid van die skoner geslag gereduseer tot ‘n lompe lummel wat oor elke tweede tak struikel en elke los klip raaktrap. Die oortreffende trap van bg. verskynsel word treffend geillustreer deur Marius Weyers in The Gods Must Be Crazy! Die dag toe ek en Tina, met die wilgerlatlyfie, die vanghokke vir die apies oor die rivier moes skuif en ek die klip misgespring het en plat op my maag in die rivier te lande gekom het was maar een voorbeeld van baie.

Dit het my laat besef dat die aarde regtig ‘n sy is wat jaloers is op die aandag wat enige ander vrou van ‘n man kry en op díe manier die man herhinder van wie hy af kom en na wie hy sal terug gaan!

Uit die vrou se oogpunt kan seker geredeneer word dat die tipe van val intern is maar dit daar gelaat vir ‘n ander keer. Vrede.