Totsiens vriende
Vry 12 Feb 2010, 19:12 9 Kommentaar Rapporteer MisbruikNou ja, ek word duidelik al hoe luier. Of iets. Eintlik het hier drie dinge gebeur. Eerstens, om verskeie redes moet ek deesdae al hoe meer skryf bo en behalwe my selfopgelegde skryftaak, wat is om my jongste roman klaar te kry. Die eerste weergawe is klaar, maar nou’s dit oorskryftyd en dis harde werk. Tweedens bring ons baie tyd deur in die Klein Karoo en die bandwydte daar is beperk en dit neem ure om iets op 'n blog te kry. Maar derdens het ek nou meer ervaring van blogs in die algemeen en meer spesifiek van boekeblogs en ek kan nie byhou by die goeies nie. ‘n Boekeblog wat ordentlik bedryf word, behoort baie meer deelnemend van aard te wees, soos Boekemakranka. Dis nou uitstekend en ek haal my hoed af vir Maankind. Dit was vir my goed om hierdie blog in my lewe te hê, en dankie aan almal wat hier kom lees het en almal wat gereageer het. Ek groet julle met twee laaste aanhalings, die eerste uit Victor Nell se Lost in a Book: The Psychology of Reading for Pleasure (hy’s 'n sielkundige en ek dink die navorsing hierin opgeteken was vir ‘n D-graad in die sielkunde): “These are the paired wonders of reading: the world-creating power of books, and the reader’s effortless absorption that allows the book’s fragile world, all air and thought, to maintain itself for a while, a bamboo and paper house among earthquakes; within it readers acquire peace, become more powerful, feel braver and wiser in the ways of the world.” En ten laaste Langenhoven: “Ek en jy wat bevoorreg was om te leer lees, om van boeke ons helpers en troosters en metgeselle te maak - wat sou ons nie desnoods opoffer om hulle te behou nie? Ons sou sê, as dit nie anders kan nie, gee ons die skraalste kos en die grofste klere - gee ons strooi om op te slaap, en korsies om te eet en rou velle om ons naaktheid te bedek, maar laat ons ons boeke.” Totsiens. Marié
Lewer kommentaar op hierdie pos...
Onderwerpe: roman boekeblogs boeke
Totsiens vriende
Vry 12 Feb 2010, 19:12 1 Kommentaar Rapporteer MisbruikNou ja, ek word duidelik al hoe luier. Of iets. Eintlik het hier drie dinge gebeur. Eerstens, om verskeie redes moet ek deesdae al hoe meer skryf bo en behalwe my selfopgelegde skryftaak, wat is om my jongste roman klaar te kry. Die eerste weergawe is klaar, maar nou’s dit oorskryftyd en dis harde werk. Tweedens bring ons baie tyd deur in die Klein Karoo en die bandwydte daar is beperk en dit neem ure om iets op 'n blog te kry. Maar derdens het ek nou meer ervaring van blogs in die algemeen en meer spesifiek van boekeblogs en ek kan nie byhou by die goeies nie. ‘n Boekeblog wat ordentlik bedryf word, behoort baie meer deelnemend van aard te wees, soos Boekemakranka. Dis nou uitstekend en ek haal my hoed af vir Maankind. Dit was vir my goed om hierdie blog in my lewe te hê, en dankie aan almal wat hier kom lees het en almal wat gereageer het. Ek groet julle met twee laaste aanhalings, die eerste uit Victor Nell se Lost in a Book: The Psychology of Reading for Pleasure (hy’s in sielkundige en ek dink die navorsing hierin opgeteken was vir ‘n D-graad in die sielkunde): “These are the paired wonders of reading: the world-creating power of books, and the reader’s effortless absorption that allows the book’s fragile world, all air and thought, to maintain itself for a while, a bamboo and paper house among earthquakes; within it readers acquire peace, become more powerful, feel braver and wiser in the ways of the world.” En ten laaste Langenhoven: “Ek en jy wat bevoorrreg was om te leer lees, om van boeke ons helpers en troosters en metgeselle te maak - wat sou ons nie desnoods opoffer om hulle te behou nie? Ons sou sê, as dit nie anders kan nie, gee ons die skraalste kos en die grofste klere - gee ons strooi om op te slaap, en korsies om te eet en rou velle om ons naaktheid te bedek, maar laat ons ons boeke.” Totsiens. Marié
Lewer kommentaar op hierdie pos...
Onderwerpe: roman boekeblogs boeke
JD Salinger
Son 31 Jan 2010, 18:36 3 Kommentaar Rapporteer MisbruikNog ‘n skrywer wie se werk ek geniet het, is onlangs oorlede en dis JD Salinger. Ek was op skool toe ek sy meesterlike kort roman The Catcher in the Rye gelees het. Vrek snaaks en onderhoudend en ook ontroerend. Ek het al in hierdie blog verwys na die eerste sin in dié roman: “If you really want to hear about it, the first thing you'll probably want to know is where I was born, and what my lousy childhood was like, and how my parents were occupied and all before they had me, and all that David Copperfield kind of crap, but I don't feel like going into it, if you want to know the truth.” Ek sien dit word aangehaal in vandag se koerant. Ek weet nie hoe enige leser so ‘n aanvang kan weerstaan nie. Dit sleep jou in die storie in en saam moet jy gaan, al lees jy onder die komberse met ‘n flits. Nou onthou ek my ma het vertel dat ek die boek beetgekry het op ‘n ouderdom wat miskien ietwat te jonk was vir die inhoud, maar getrou aan my ouers se opvatting dat ‘n kind moet kan lees net wat hy/sy wil, het hulle my nie gekeer nie. Hulle hou my daarna dop om te sien of ek skade gely het. Merk niks verkeerd nie. Dit het hulle laat wonder, het ek dit regtig gelees? Toe wel, blyk dit op ‘n dag toe ek aan tafel sê: “Pass the goddamn jam.”
Van dié boek het 65 miljoen eksemplare verkoop, en elke jaar verkoop nog ‘n kwartmiljoen. Dit bly onweerstaanbaar, eerder ‘n gesprek as ‘n storie. Dit bly eietyds. En die implisiete kritiek op die samelewing wat dit lewer, bly geldig. Dis eintlik ‘n gelykenis. En dit, dink ek, is wat ‘n tydlose roman bowenal kenmerk: ‘n morele kern. Anders, soos Faulkner onvergeetlik gesê het, skryf ons maar net oor kliere.
Lewer kommentaar op hierdie pos...
Onderwerpe: jd salinger the catcher in the rye roman eerste sin gelykenis
Hulde aan Robert B Parker
Son 24 Jan 2010, 16:06 0 Kommentaar Rapporteer MisbruikSo pas is Robert B. Parker oorlede. Hy is een van my gunsteling skrywers. Sy genre is dié van die privaatspeurder wat moorde en verwante probleme oplos. ‘n Mede-skrywer van speurfiksie het van hom gesê dat 90% van skrywers van speurverhale erken hy’t hulle beïnvloed en die ander 10% lieg. Hy was 77 en is dood aan ‘n hartaanval wat hom getref het terwyl hy by sy skryftafel gesit het, aan’t skrywe. Way to go. Hy het 69 boeke gepubliseer, sowel nie-fiksie as fiksie, en daar’s glo nog ‘n paar wat al voltooi was op pad. Hy het geskryf in die tradisie van Hammett, Chandler en MacDonald, maar daar word algemeen geoordeel hy het op hulle verbeter en die genre gemoderniseer. Sy karakters, veral die verbasend geletterde Spenser, was baie oortuigend, en hy het sterk vroulike, swart en gay persone ingesluit.
Ek onthou ‘n pragtige stukkie dialoog tussen Spenser en sy gewelddadige spanmaat Hawk (‘n “African-American”). Hy vra vir Hawk wat hy sou doen as iemand met sy meisie lol. Seg Hawk: “He be dead.” Amper so karakteropenbarend soos “Barkis is willing.”
Blykbaar het hy tien bladsye per dag geskryf en hulle oorgewerk tot hy tevrede was, maar hy’t nie ‘n ms as geheel oorgeskryf nie. Gevolglik kon hy so drie boeke per jaar publiseer. Nou ja, teen 10 bladsye per dag (kom ons skat hy’t so 6 ure gewerk, heel moontlik was dit meer) dan het hy binne 5 jaar die 10 000 uur se oefen ingepas wat volgens Outliers (kyk vorige blog) nodig is om ‘n meesterlike vlak in enige bedryf te bereik. En hy’t aanhou skryf tot hy 77 was. G’n wonder hy was ‘n uitskieter nie. En g’n wonder daar’s net 10% wat lieg nie.
Lewer kommentaar op hierdie pos...
Onderwerpe: robert b parker speurfiksie boeke hammett chandler macdonald hartaanval ouliers oefen
Outliers
Sat 16 Jan 2010, 18:43 3 Kommentaar Rapporteer Misbruik‘n Vriend leen vir ons ‘n boek deur Malcolm Caldwell: Outliers: The story of success. Daarin vertel hy van ‘n verskeidenheid mense wat besonders gepresteer het, insluitend befaamde sportuitblinkers, top-prokureurs, briljante wetenskaplikes, rekenaarfundi’s, sakereuse, skeppende kunstenaars, uitvoerende kunstenaars enovoorts ensomeer. Hy maak bepaalde stellings oor suksesverhale wat hy dan illustreer met allerhande voorbeelde.
Nou wil ek nie die boek hier opsom nie, maar daar’s een van sy stellings wat my eers verstom het; tog, noudat ek daaroor gedink het, is ek oortuig hy’s reg: hy beweer dat mense wat dramaties uitstyg, naas aangebore talent, geleenthede, ondersteuning, en gelukkige toeval, onderskei word deur een algemene kenmerk. Hulle oefen of werk langer en harder as ander mense. En hy noem ‘n spesifieke tydsduur. Om ‘n ware “outlier” te word, moet jy tien duisend uur oefen of werk. Ek skryf dit in woorde sodat julle nie dink ek of die kat het per ongeluk ‘n paar nulle bygetik nie. Tien duisend uur. Dis nagenoeg drie uur per dag vir tien jaar.
Hy vertel van ‘n studie wat uitgewys het wat die verskil tussen ‘n amateur-musikus en ‘n professionele musikus is. Dis hoe lank hulle oefen. Drie ure per week as kind teenoor algaande meer totdat dit ver oor die dertig ure per week word. Dan kyk hy na ‘n groot klomp ander voorbeelde op verskillende gebiede, en hy vind dit hou steek.
Soos ek sê, noudat ek daaroor gedink het, glo ek hom. Iemand kan gerus nagaan hoe lank skrywers sit en skryf.
Lewer kommentaar op hierdie pos...
Onderwerpe: uitblinkers aangebore talent oefen malcolm caldwell outliers
Wat is 'n tammy?
Son 10 Jan 2010, 16:26 2 Kommentaar Rapporteer MisbruikWaar snel die jaar alweer met my heen! So pas my manuskrip met die eiesinnige hoofkarakter klaargemaak – alhoewel klaar is nog nie klaar nie, daar sal weer heelwat aan geskaaf moet word. Voel asof ek ‘n berg geklim het.
Om terug te keer tot die tammy – en nee, dis nie ‘n tummy nie, die resep eindig nie daar nie, maar ek het halfpad moed opgegee, want eerstens weet ek nie wat ‘n tammy is nie en tweedens was ek half naar van al die eiers. Maar toe gaan kyk ek in my Shorter Oxford English Dictionary, en dis twee volumes van so ‘n handbreedte (elk) dik, die lang weergawe beslaan ‘n hele rak, ek ek kan nou die volgende meedeel: ‘n tammy is “of uncertain origin; a fine worsted cloth of good quality, often with a glazed finish [seker nie die regte betekenis nie, die mengsel sou nie deursyg nie]; a corruption of Tam o’ Shanter: a soft woollen bonnet with flat circular crown, the circumference of which is about twice that of the head, formerly worn by Scottish ploughmen [dieselle probleem as die vorige]; of, derde verklaring, “a strainer.” [Ek wonder wat dra Scottish ploughmen nou se dae? Bofbalpette? Of ploeg die Skotte nie meer nie?]
Ja, wel kon geraai het, maar die naslaan is interessant. Ek weet nou sommer ook dat Tammany die naam was (in 1683) van “the central organisation of the Democratic Party in New York, located in Tammany Hall, 14th St, NY; in English associated with political and municipal corruption.” Sien, dis oor ek woordeboeke lees dat ek byna altyd wen as ons Balderdash speel. Wonderlike woordspeletjie wat jou eie woordeskat toets, maar ook jou vermoë om onsinnige verklarings vir onbekende, bestaande woorde uit te dink. Dis veral met lg dat ek uitblink, mense dink my verklarings klink reg. Dis wat die skryfgeen beteken, jy kan dinge uit jou duim uitsuig.
Lewer kommentaar op hierdie pos...
Onderwerpe: woordeboeke naslaan verklarings
Nesselrode pudding
Dins 5 Jan 2010, 15:47 5 Kommentaar Rapporteer MisbruikWel, kinders en kleinkinders is gister vort en ‘n stilte het neergedaal. Ek het gedink baba kat (wat 4X groter is as toe ons haar gekry het) sou ly aan post-traumatiese stressindroom nadat twee seuntjies van 7 en 4 haar beetgehad het, maar sy het haarself laat ronddra soos ‘n slap, saggeliefde teddiebeer en het wonder bo wonder niemand gekrap nie en ook nie weggeloop nie en nou lê sy en slaap.
Nou’s daar weer tyd vir boeke en ek is nog steeds besig met Mrs Beeton se merkwaardige kookboek. (Ek lees mos kookboeke en woordeboeke vir vermaak.) Dit bevat verbysterende resepte. Hier’s een vir Nesselrode Pudding: Ingredients: 40 chestnuts (ek’s klaar in die moeilikheid), 1 lb of sugar, flavouring of vanilla, 1 pint of cream, the yolks of 12 eggs (en wat maak ek met die 12 witte? Sal moet ‘n onheilige spul meringues ook nog maak), 1 glass of Maraschino, 1 oz of candied citron, 2 oz of currants, 2 oz of stoned raisins, ½ pint of whipped cream, 3 eggs. (Bliksem. Hulle het klaarblyklik nie aan cholesterolprobleme gely nie. Of dalk juis, sonder om dit te weet.)
Mode: (Nee, nie method nie.) Blanch the chestnuts in boiling water, remove the husks and pound them in a mortar until perfectly smooth, adding a few spoonfuls of syrup. (Wat jy waar kry? In ‘n blik?) Then rub them through a fine seive, and mix them in a basin with a syrup made from l lb of sugar, clarified, and flavoured with vanilla, 1 pint of cream and the yolks of 12 eggs. Set this mixture over a slow fire, stirring it without ceasing, and just as it begins to boil, take it off and pass it through a tammy.
Nee, kyk, teen hierdie tyd is ek verslae. Waffere ding is ‘n tammy? Ek is seker ek het nie een nie. My ma het definitief nie een besit nie. Dink selfs oorle Skoonma het nie sowat gehad nie. Ek het ook nie ‘n butler, footman, cook, upper housemaid, lower housemaid, nursemaid, laundrymaid, dairymaid en Boots nie. Dit tref my: ‘n resep bestaan nie in ‘n vakuum nie, dit bestaan in ‘n kultuur. In ‘n hele sosiale bestel. Ek twyfel of baie vrouens bg resep ooit weer gemaak het na die eerste Wêreldoorlog. Wys my jou resep, en ek sal heelparty afleidings kan maak oor wie jy is, en hoe jy lewe. Afgesien van hoe ryk of arm jy is.
Lewer kommentaar op hierdie pos...
Onderwerpe: kookboeke woordeboeke resepte kultuur
Nuwejaarspiekniek
Sat 2 Jan 2010, 09:21 1 Kommentaar Rapporteer MisbruikSoos die meeste bevoorregtes maar helaas anders as miljoene op hierdie kontinent en elders, was dit die afgelope ruk ‘n feesgety met baie kos. Lyk my die volgende generasie (meesal die mans) het nou die kooktaak oorgeneem en wonderbaarlike geregte verskyn uit webers.
Sit toe en gesels oor kookboeke en kry gedagte aan een van vorige generasies. Ek besit ‘n eerste-uitgawe faksimilee van Mrs Beeton’s Household Management, “A classic of domestic literature” uit die Viktoriaanse era. Dit bevat resepte en aanwysings vir huishoudelike bestuur. My gunsteling resep daaruit is die een vir “crystalized violets”. Dit begin soos volg” Gather violets. (Wild ones will do.)
Bill of fare for a picnic of 40 persons:
A joint of cold roast beef, a joint of cold boiled beef, 2 ribs of lamb, 2 shoulders of lamb, 4 roast fowls, 2 roast ducks, 1 ham, 1 tongue, 2 veal and ham pies, 2 pigoen pies, 6 medium-sized lobsters, 1 piece of collared calf’s head, 18 lettuces, 6 baskets of salad, 6 cucumbers.
Stewed fruit well sweetened, and put into glass bottles well corked; 3 or 4 dozen plain pasrty biscuits to eat with the stewed fruit; 2 dozen fruit turnovers, 4 doz cheesecakes, 2 cold cabinet puddings in moulds, 2 blanc-manges in moulds, a few jam puffs, 1 large cold plum-pudding (this must be good), a few baskets of fresh fruit, 3 dozen plain biscuits, a piece of cheese, 6 pounds of butter (this, of course, includes the butter for tea), 4 quartern loaves of household bread, 3 doz rolls, 6 loaves of tin bread (for tea), 2 plain plum cakes, 2 pound cakes, 2 sponge cakes, a tin of mixed biscuits, ½ pound of tea. Coffee is not suitable for a picnic, being difficult to make.[En niks anders nie?]
Things not to be forgotten at a picnic
A stick of horseradish, a bottle of mint sauce well corked, a bottle of salad dressing, a bottle of vinegar, made mustard, pepper, salt, good oil, and pounded sugar. If it can be managed, take a little ice. It is scarcely necesaary to say that plates, tumblers, wine-glasses, knives, forks and spoons, must not be forgotten; as also teacups and saucers, 3 or 4 teapots, some lump sugar, and milk, if this last-named article cannot be obtained in the neighbourhood. [Iemand moes seker ‘n koei gaan melk.]
Take 3 corkscrews.
Beverages: 3 dozen quart bottles of ale, packed in hampers, ginger-beer, sodawater, and lemonade, of each two doz bottles,; six bottles of sherry, 6 bottles of claret, champagne à discrétion, and any other light wine that may be preferred, and two bottles of brandy. Water can usually be obtained so it is useless to take it.
En ‘n skeppende, uitdagende nuwe jaar word aan julle toegewens.
Lewer kommentaar op hierdie pos...
Onderwerpe: resepteboeke mrs beeton piekniek
Nuwejaarspiekniek
Sat 2 Jan 2010, 09:19 0 Kommentaar Rapporteer MisbruikSoos die meeste bevoorregtes maar helaas anders as miljoene op hierdie kontinent en elders, was dit die afgelope ruk ‘n feesgety met baie kos. Lyk my die volgende generasie (meesal die mans) het nou die kooktaak oorgeneem en wonderbaarlike geregte verskyn uit webers.
Sit toe en gesels oor kookboeke en kry gedagte aan een van vorige generasies. Ek besit ‘n eerste-uitgawe faksimilee van Mrs Beeton’s Household Management, “A classic of domestic literature” uit die Viktoriaanse era. Dit bevat resepte en aanwysings vir huishoudelike bestuur. My gunsteling resep daaruit is die een vir “crystalized violets”. Dit begin soos volg” Gather violets. (Wild ones will do.)
Bill of fare for a picnic of 40 persons:
A joint of cold roast beef, a joint of cold boiled beef, 2 ribs of lamb, 2 shoulders of lamb, 4 roast fowls, 2 roast ducks, 1 ham, 1 tongue, 2 veal and ham pies, 2 pigoen pies, 6 medium-sized lobsters, 1 piece of collared calf’s head, 18 lettuces, 6 baskets of salad, 6 cucumbers.
Stewed fruit well sweetened, and put into glass bottles well corked; 3 or 4 dozen plain pasrty biscuits to eat with the stewed fruit; 2 dozen fruit turnovers, 4 doz cheesecakes, 2 cold cabinet puddings in moulds, 2 blanc-manges in moulds, a few jam puffs, 1 large cold plum-pudding (this must be good), a few baskets of fresh fruit, 3 dozen plain biscuits, a piece of cheese, 6 pounds of butter (this, of course, includes the butter for tea), 4 quartern loaves of household bread, 3 doz rolls, 6 loaves of tin bread (for tea), 2 plain plum cakes, 2 pound cakes, 2 sponge cakes, a tin of mixed biscuits, ½ pound of tea. Coffee is not suitable for a picnic, being difficult to make.[En niks anders nie?]
Things not to be forgotten at a picnic
A stick of horseradish, a bottle of mint sauce well corked, a bottle of salad dressing, a bottle of vinegar, made mustard, pepper, salt, good oil, and pounded sugar. If it can be managed, take a little ice. It is scarcely necesaary to say that plates, tumblers, wine-glasses, knives, forks and spoons, must not be forgotten; as also teacups and saucers, 3 or 4 teapots, some lump sugar, and milk, if this last-named article cannot be obtained in the neighbourhood. [Iemand moes seker ‘n koei gaan melk.]
Take 3 corkscrews.
Beverages: 3 dozen quart bottles of ale, packed in hampers, ginger-beer, sodawater, and lemonade, of each two doz bottles,; six bottles of sherry, 6 bottles of claret, champagne à discrétion, and any other light wine that may be preferred, and two bottles of brandy. Water can usually be obtained so it is useless to take it.
En ‘n skeppende, uitdagende nuwe jaar word aan julle toegewens.
Lewer kommentaar op hierdie pos...
Onderwerpe: resepteboeke mrs beeton piekniek
Kersgroete
Vry 25 Des 2009, 16:45 4 Kommentaar Rapporteer MisbruikGisteraand het ons toe ‘n Kersboombyeenkoms gehou met uitgebreide familie plus aangetroudes en bykomendes en afstammelinge en so meer. Deesdae is dit my taak (as die min of meer langslewende, my man doen die gebed) om die Kersverhaal voor te lees. Wat ek doen uit Lukas 2, maar nou’s daar ‘n groot klomp kleintjies en ek dink nie hulle gaan die verhaal mooi kop nie, dus doen ons dit met vraag en antwoord. In daardie tyd het die keiser Augustus ‘n bevel gegee dat daar ‘n volkstelling moet wees. Wanneer was daardie tyd? Seker, um, die jaar een. Ja, maar hoe lank gelede? Seker, um, twee duisend en nege? Slim kind, hy kry ‘n tjoklit. Wat vir ‘n ding is ‘n keiser? Soos ‘n president. Ja, reg, net nog magtiger, en jy kan hom nie uitstem nie. En ‘n volkstelling beteken hulle tel al die mense in die land. Deesdae noem hulle dit ‘n sensus, en hulle stuur mense uit na al die huise toe om die mense te tel. Hoekom doen hulle dit? Oom Chris meen dis sodat hulle kan weet hoeveel belasting hulle kan hef. Ja, en dan weet hulle hoeveel skole daar moet wees, en hoeveel hospitale en so. Nou ja, maar in daardie tyd het hulle nie tellers uitgestuur nie, mense moes reis na die dorp waar hulle familie vandaan gekom het om ingeskryf te word. In die keiser se groot boek. Ja, boet, julle sou moes Bloemfontein toe gegaan het. En Josef en Maria moes toe reis na Bethlehem, die stad van Dawid, want hulle was van Dawid se familie. Maar toe was daar nie plek in die herberg nie. Watse ding is ‘n herberg? Ja, reg, soort van soos ‘n motel. Of ‘n B en B, ja. Maar dit was alles vol. En toe kry die herbergier hulle jammer, want hy sien dis koud en hulle is moeg en Maria is swanger, en hy laat hulle toe om in sy stal te skuil. En daar is die baba Jesus gebore. Nou verstaan julle, Kersfees is Liewe Jesus se verjaardag. Koppies knik. Ja, hulle verstaan dit mooi. Die jongste blondie van die familie, ‘n driejarige kabouter in ‘n kersierooi rok, trek los met die mees gepaste lied waaraan sy kan dink: “Happy birthday toooo yoooou!” En ons sing almal saam.
En ‘n lieflike, liefdevolle en geseënde Kersfees aan julle almal.
Lewer kommentaar op hierdie pos...
Onderwerpe: kersverhaal
Die Alexiad
Dins 22 Des 2009, 11:12 3 Kommentaar Rapporteer MisbruikMense, maar waar loop ek toe ‘n interessante boek raak in my omswerwinge op die Internet: Die Alexiad, oorspronklik in die twaalfde eeu geskryf in Grieks, maar vertaal in Engels deur ERA Sewter. Die skrywer is Anna Comnena (in Latyn Komnene), dogter van die Bisantynse keiser Alexios I Komnenos en Irene Doukaina.. Die boek is ‘n geskiedenis van haar pa se heerskappy en sy is een van die heel eerste vroulike geskiedskrywers in die Westerse wêreld. (Dit is moontlik die vroegste bestaande egodokument deur 'n vrou.) Sy was die oudste van Alexios se nege kinders, en sy was ‘n porphyrogenita, wat beteken sy is gebore in die koninklike paleis in Istanbul se geboortekamer van pers marmer (porphyria), pers synde die keiser se kleur wat niemand behalwe ‘n koninklike mag gedra het nie.
Ewe neerbuigend merk een van die kritici wat oor haar werk kommentaar lewer op: “Her interest in military tactics and positive sciences and the level of self-confidence in her writing abilities are amazing for a woman of that period (or even later).” Nè? Klink soos Samuel Johnson se siening van ‘n vrou wat preek: “To hear a woman preach is like seeing a dog walk on its hind legs; ‘tis not done well, but the wonder is that it is done at all.” Sy gat wat.
Hierdie Anna het saam met haar man pogings aangewend om die troon van Bisantium te bestyg (ipv haar jonger broer John) en word uiteindelik na ‘n klooster verban, waar sy toe dié geskiedenis geskryf het. Sy was besonder goed opgevoed: deeglik onderlê in geskiedenis, wiskunde, wetenskap en Griekse filosofie. Haar ouers het haar belet om die antieke digkuns te bestudeer, want hulle het gedink die ophemeling van vrylustige gode en onkuise vrouens in die gedigte van bv Homeros sou ontoepaslik en selfs gevaarlik wees vir ‘n jong meisie van haar stand om van te lees. Tog het sy agter hulle rug wel hierdie digkuns bestudeer onder die leiding van een van die koninklike hof se eunugs. (Ag ja, en hoe meer dinge verander hoe meer bly hulle dieselfde, kyk maar wat gebeur as jy vandag se kinders probeer weghou van iets.)
Elk geval, wat my die meeste tref van hierdie boek is dat die retoriek sowaar as wragtie klink nes die taal wat ek gebruik in my Egiptiese roman. Selfs dit wat sy sê oor hoekom sy die verhaal wil skryf, klink net so. Kry skoon hoendervleis. Want ek het hard probeer om my twee vertellers 'n taal te laat skryf wat outyds klink, maar nie stokkerig nie.
Lewer kommentaar op hierdie pos...
Onderwerpe: die alexiad anna comnene geskiedenis van alexios i samuel johnson bisantium homeros
Engelse boek van die jaar
Woen 16 Des 2009, 10:35 11 Kommentaar Rapporteer MisbruikEk wou vandag se blog skryf oor André P se prys, nee, ek bedoel aanmoedigingsbeurs. Jinne, mense, julle moenie hierie man nog aanmoedig nie. Hy’s al klaar so bevurk. Ek sien hy reken hy’s nou in die laaste kwart van sy lewe, wat volgens my rowwe berekening van sy gemiddelde prestasie beteken hy’t nog kans vir twee en ‘n half vroue. Amptelikes, bedoel ek nou. Die man laat my altyd dink aan Chaucer se vertelling van The Wyfe of Bath: Husbands at church door had she five,/Withouten other company in youth. Maar toe merk ek op dis my 100ste pos op hierie blog en dit moet liewer nie so ‘n ligsinnige katterige een wees nie en die kat is nie eers by vandag nie. En ek het, soos ek gesê het, groot respek vir sy belesenheid. André P s’n, nie die kat nie.
Elk geval, toe dink ek nee, laat ek liewer dink oor wat my Engelse boek van die jaar sou wees. Sonder twyfel die pryswennende The rowing lesson van Anne Landsman. Die belewenis van die volwasse dogter van ‘n sterwende algemene praktisyn wat langs sy sterfbed staan en haar in sy lewe inverbeel. Kragtoer van ongestruktureerde struktuur, vervlegte monologue interieur. (Daar’s ‘n verskil tussen bewussynstroom en lg, wat veronderstel is om nader aan die oppervlak van die bewussyn te wees en dus nader aan normale spraak.) Komplekse karakters oor wie ‘n mens omgee. (Dit is een van my onverhandelbare kriteria vir ‘n regtige goeie roman.) Meesterlike prosa wat wissel van liries na dramaties en komies en dis meesleurend en hartverskeurend. Iets anders, Gott sei dank, as die huidige mode, nl neokolonialisme met swart en wit karakters, omgekeerd van velkleur, simplistiese moralistiese oordele en voorspelbare ontknopings.
Is daar ‘n verband tussen die eerste en die tweede paragrawe hierbo? Nee, ek weet nie, wat dink julle?
Lewer kommentaar op hierdie pos...
Onderwerpe: the rowing lesson anne landsman struktuur monologue interieur bewussynstroom komplekse karakters neokolonialisme
Van agteraf vorentoe
Sat 12 Des 2009, 22:06 3 Kommentaar Rapporteer MisbruikWel, uiteindelik het ek die eiewys karakter in my nuwe probeerslag by die huis gekry, en alles wat sy op pad ervaar het, sien ek nou was belangrik. En ek het al ‘n slot, maar daar kom nog so ‘n hoofstuk of twee kort net voor die einde.
Hierdie manier van my om te begin en dan te eindig voor die middel klaar is, maak my man rasend. Hy’s ‘n liniêre denker en as hy iets skryf, begin hy by die begin en dit kom gestruktureer uit en dan maak hy klaar. Ons het albei verhandelings geskryf en syne het hy so van links af geskryf, en later ‘n bietjie aan hoofstuk 1 verander, want ‘n mens doen dit altyd, maar dit was dit. Terwyl ek aan myne gewerk het, wou hy dikwels weet hoe ver is ek. Mmmm. Hoofstuk 1 is voorlopig klaar en hoofstukke 3 tot 5 is halfpad en hoofstuk 2 makeer nog. Nee, my bliksem vrou, jy kan mos nie so werk nie. Ja, ek kan, want hoofstuk 2 is die filosofiese agtergrond en ek weet al wat ek gedoen het dus kan ek dit rapporteer, behalwe vir die grafieke, maar ek moet nog seker maak hoekom dit so moes wees. (Dit het hom nie gerusgestel nie.) Maar ons het albei klaargeskryf en gepass.
Ek het die slot van Die uurwerk kantel laaank voor die middel klaar was, al geskryf. Dit maak vir my sin, want dan weet ek waarnatoe ek mik. En buitendien dan weet ek as ek klaar is. Party romanskrywers (en fliek draaiboekskrywers veral) het nie ‘n goeie begrip van wanneer ‘n storie klaar is nie. Nou die dag het ons ‘n fliek gekyk wat driekeer klaar was voor dit klaar was. Bederf die trefkrag geheel en al.
Nou ja, en my nuwe roman is amper klaar. Makeer nog net ‘n stukkie in die middel.
En dan begin die oorskryf natuurlik. Miskien kan dit wag tot die nuwe jaar.
Lewer kommentaar op hierdie pos...
Onderwerpe: karakter liniêre denker romanskrywers slot
Boek van die jaar
Maan 7 Des 2009, 18:03 2 Kommentaar Rapporteer MisbruikOnlangs word ek gevra watter boek wat ek vanjaar gelees het, het my die meeste beïndruk. Dink toe aan die volgende moontlikhede: Die derde band van die nuwe Groot Verseboek soos saamgestel deur André P. Brink; Titaan van Karel Schoeman; God en die gode van Egipte van Willie Esterhuyse; 30 Nagte in Amsterdam van Etienne van Heerden. (Die vraag het gekom van Die Burger, toe reken ek dit moet ‘n Afrikaanse boek wees.)
Oor Titaan het ek reeds op hierdie blog geskryf. Ek het dit met volgehoue aandag (en heelwat inspanning) kant en wal gelees, en ek bly by my oordeel dat dit ‘n hibried is, nie ‘n roman nie en nie ‘n biografie nie en dus frustrerend, alhoewel vol interessante stof en wel meesleurend wanneer hy skryf oor hoe Micehlangelo sy kuns beoefen het. Maar dis nie my boek van die jaar nie.
Ek verwys na die derde band van die GV omdat dit die een is wat ek dwarsdeur gelees het. Elke inkelte gedig. Maar ai, dis ook in bepaalde opsigte teleurstellend. Ek het groot respek vir APB se intellek en kennis van die letterkunde en belesenheid, en ek is seker sy keuses was nie lukraak nie. Maar ek dink inklusiwiteit het die oorhand gekry bo gehalte. Jammer. Naar maar waar. Sal nie spesifieke voorbeelde noem nie, want dit sou ‘n behoorlike analise verg en dis nie die plek hierie nie. Maar dis nie my boek van die jaar nie.
God en die gode van Egipte het my baie geboei, want dis ‘n onderwerp wat my lankal fassineer, en ek dink WE gee ‘n baie goeie oorsig en bespreking van dié antieke beskawing se godsdiens. My Egiptiese roman was al by die drukker toe ek hierdie boek in die hande kry, en ek was bly om te lees dat WE se interpretasie en myne soveel raakpunte het. Maar sy eie godsdienservaring is ietwat naïef, en toe hy by die konings van Israel kom toe verloor hy my. Dis ook nie my boek van die jaar nie.
Dus: 30 Nagte in Amsterdam is beslis my boek van die jaar. Daarmee het Etienne van Heerden homself oortref, en homself is nie maklik om te oortref nie. Maar bo alles is hierdie skrywer ‘n woordkunstenaar. ‘n Taaltowenaar. ‘n Prosaïs. Nie alle romanskrywers kan prosa skryf nie (soos nie alle digters gedigte kan skryf nie). Veral tante Zan se innerlike monoloog. “Ek is soos Boerbroer se stoetvee met hul afgesnyde sterte, hul hap-uit-ore: vermink uit liefde, uit die benoud-van-behoort.” Onverbeterlik, sê ek.
Lewer kommentaar op hierdie pos...
Onderwerpe: groot verseboek titaan god en die gode van egipte 30 nagte in amsterdam
Ingewing oor olifante
Vry 27 Nov 2009, 12:14 3 Kommentaar Rapporteer MisbruikEn daar kry ek toe skielik weer 'n ingewing! Sommerso in die middel van nêrens. Nee, eintlik was dit tussen Worcester en Ashton. Op pad terug van Kaapstad af Stilbaai toe. So het dit gebeur: langs die pad sien ek 'n paar keer na mekaar 'n advertensie vir wildtoere. En bo-op die advertensie staan daar drie olifante, 'n grote, 'n middelslag een en 'n kleintjie. Nou spook die drie olifante by my. En ek kry gedagte aan die eerste boek wat ek ooit self dwarsdeur gelees het, en dit was die storie van die olifantjie Barbar. Het al daaroor geskryf op hierdie blog, dink ek. Later van tyd toe lees ek allerhande (na my mening onsinnige) kommentaar oor hierdie boek - skielik is dit kolonialisties en rassisties en sus en so, en die olifante moes nie klere gedra het nie en hulle kry nie drielinge nie. Ja, ja, maar, dit was 'n lekker storie en op ouderdom 5 het ek nie kolonialisme verstaan nie, laat staan nog rassisme of antropomorfisme.
Elk geval, toe dink ek hoekom skryf ek nie 'n kinderstorie in Afrikaans van drie olifante nie? (Was so pas by die kleinkinders dus dink ek nou aan kinderstories.) Oor 'n ouma en 'n ma en 'n kleintjie? Maar ek sal gaan naslaan oor olifante, dink ek, en dan skryf ek oor hoe hulle regtig is, nie met klere aan en so nie. Oukei, hulle kan nie regtig praat nie, maar moenie so letterlik wees nie. Wel, hoe olifante regtig is, is baie meer verstommend as wanneer jy hulle soos mense aantrek en laat drielinge kry. Ek het nooit geweet 'n olifant kan 'n grassprietjie of 'n madeliefie pluk nie. En ek het nooit daaraan gedink dat olifante die enigste diere is wat nie kan spring nie.
Nou ja, toe onthou ek 'n lang verhalende vers in Engels waarvan ek op 'n stadium gedeeltes kon opsê (en ek dink kinders behoort aangemoedig te word om gedigte te leer opsê, so ook psalms, maar NIE vir straf nie), en dié vers was Horatio at the Bridge, deur Macaulay. Sit ek vir myself en opsê:
"Oh, Tiber! Father Tiber!
To whom the Romans pray,
A Roman's life, a Roman's arms,
Take thou in charge this day!"
So he spake, and speaking sheathed
The good sword by his side,
And, with his harness on his back,
Plunged headlong in the tide.
(Sien, verse leer kom handig te pas as jy eendag tussen Worcester en Ashton ry en die radio vang nie op nie.)
En ek voel 'n verhalende vers oor my kom. Met dieselfde ritme. In Afrikaans.
Vra my man wat tik ek toe ek by die huis kom. 'n Vers oor olifante, sê ek. O, hy dog dis 'n roman waarvan die hoofkarakter nie wil huis toe gaan nie. Ja, maar sy moet nou eers wag. Die olifante wil nou eers oor geskryf wees. Hy't al lankal geleer om nie met my te stry oor waaroor ek skryf nie.
Lewer kommentaar op hierdie pos...
Onderwerpe: olifante kinderstories horatio at the bridge ritme
Gebruikersprofiel
Marie Heese
| Geslag: | Female |
|
Stuur Boodskap |
| Stad: | George | ![]() |
Voeg vriend by |
| Nasionaliteit: | South Africa | ![]() |
Blok gebruiker |
Statistiek
Afrigator Rang
| Bladlese: | 5927 |
| Kommentaar: | 428 |
| Beoordeling: |
| Kry statistiek oor jou blog en sien jou rang op 24.com en in die hele SA. Kliek hier om te aktiveer. |
Skryf in vir die blog
Skryf in vir e-pos kennisgewings vanaf die blog
|
|
Skryf in vir RSS vanaf die blog |
Nooi uit
Jy het 10 intekenaar(s)
Kentekens
- Totsiens vriende2010/02/12 07:12:21 nm
- Totsiens vriende2010/02/12 07:12:19 nm
- JD Salinger2010/01/31 06:36:18 nm
- Hulde aan Robert B...2010/01/24 04:06:10 nm
- Outliers2010/01/16 06:43:51 nm


