Hier’s ek weer.

Junie 17, 2013 in Uncategorized

Ek weet nie eers meer hoe die besigheid werk nie.  Sal maar sien of ek dit gepos kan kry.

 

Hello al julle oulike bekende en onbekende bloggers!

 

Ek loer gereeld op Blik Voorblad  en sien dan  als wat julle skrywe.  Sorry dat ek so lank weg was, maar genade tog!  die werkery het

my gatoorkop gehad.

 

Ok, here goes.

My laaste week by die plaasskooltjie het aangebreek.  Dis met gemengde gevoelens (weemoed en vreugde) dat ek afskeid neem.

Die pad is snotglad as dit reen en 44 km per dag het my nuwe (vir die wat die sage onthou) motortjie lekker laat lesopsê.  Behalwe die pad is daar nog die heel vreemdste tipe kindertjies.  In my 40+ jare in die onderwys het ek nog nooit so iets beleef nie, hoor my lied!   Mens kan nie van ‘n koning of paleis of selfs ‘n spietkop praat nie….hulle staar jou net so onbegrypend aan.  Bittere lae omgewings IK.  Al wat hulle ken is die rivier en  die stoeibesigheid op die tv.

Wel, in die ses maande het ek ‘n paar ekstra, onverwagte lewenslessies geleer.

My aftrede is toe getippex!   Dog ek gaan op ‘n idilliese eiland onder ‘n palmboom lê en net my vingers klap vir ‘n langsteelglasie met ‘n sambreeltjie in.

No ways!   Nog deure is oopgemaak en ek kan die nie weerstaan om NIE deur te loop nie. My ou skool het my weer ‘n pos aangebied, wat myne is tot ek nie meer wil nie, of tot ek net daar omkap.  SUGTOG!

My liefste, dierbaarste, enigste kleinkind, Ezra gaan nog voor Krismis ‘n boetie of ‘n sussie kry. Hy sê dis ‘n sussie en sy mag nie groot word nie, en ek mag nie op die stoel sit of op daai plek staan nie, want sy sussie moet daar sit….of staan of watookal.  Hy is te cute vir woorde.  Word in November 4.  Onthou julle nog toe ek die “hello Ouma” stuk gepos het?  Jeeeez, dit voel soos gister!  En…hy’s mooier as ooit!   😀   (Onthou ons ouma’s is maar so).

Ok, baai vir eers

 

(Moet ons worry oor Tina?)

 

 

 

Misdaad

Februarie 3, 2013 in Uncategorized

So tref misdaad die Loua’s toe mos so twee weke gelede.

Dis strorie het ‘n aanloop:

 

Dogter is een aand by die keffie vir brood en melk, en daar vra ‘n dronk boemelaar:

Giera geld vir brood. (Hulle noem my ook Giera)

Haar bui is af, moedeloos na ‘n dag se harde werk, sien.  Sy sê: Verwag jy ek moet van my geld, waarvoor ek hard gewerk het vir jou  gee wat heeldag fkl doen?

Net daar dreig hy haar.  Sê hy weet waar sy woon en van haar mooi krulkopseuntjie en sy moenie dink hy is bang vir die hond nie, ens.  Dieplik gerattle kom vertel sy die storie.

Die volgende nag, breek “hulle” by haar en haar man se karre in.  Die een kar se deur is met iets oopgebeur sodat die venster ingeval het, en die ander kar se ruit is sommer uitgeslaan.  R12 000,00 skade. Die dreigement het veroorsaak dat die hond in die huis geslaap het, en die lugverkoeler was aan, dié dat hulle niks van buite kon hoor nie.  Haar werk se laptop en sy tablet is gesteel.

‘n Deel van haar werk is opheffing van die agtergeblewenes.  Sy gee vakansies kos vir sowat 300 kinders per dag, en sy het ‘n groentetuin aan die gang by die plakkerskamp.  Die voorman daar is ‘n rasta.  Sy gaan sien hom oor die gesteelde laptop.  Hy stuur sy manne uit om ondersoek in te stel, en wraggies ‘n dag of wat later, lewer die boef die laptop by die polisie in, EN kry ‘n beloning van R1500.00!  Hy sê hy het dit opgetel.

So, jy steel iets, neem dit polisiestasie, kry ‘n beloning….hard gewerk né!

En die beloning kom uit die belastingbetalers se sakke.

So ons betaal hulle om ons goed te steel..

 

(?)

 

 

 

My nuwe werkplek

Januarie 16, 2013 in Uncategorized

Uitsig van die stoepie van een van die twee klaskamers.

Na twee dae se skrop en Jik en Handy Andy was die klassie vandag silwerskoon en kindervriendelik.  Twintig kindertjies van Gr 1 tot 3.

Baie admin en uitdeel en organiseer en reels neerlê!

Sowat 20 km van die huis.  Die eerste 14 is teerpad en die res net stof en klippe, maar genade! die uitsig is HEMELS.  Ek gaan seker maak dat elke sielletjie hulle omgewing sal waardeer voor die einde van die kwartaal.  Die wingerde hang dragtig reg rondom die skooltjie.  Daar is geen werkers of hulpe nie.  Net die hoof en ek.  So die spreiers moet versit word, die toilette, die vuilgoed dromme en ALLES word self gedoen.

Hierdie skildery is nou sowat halfpad,  Dis die boonste regterkanse hoek.Een en half meter by een meter.  Nou, ja, hy sal moet wag tot na die kwartaal….al jeuk my vingers en die kwassies hang tonguit van lus.

Julle weet seker van ons weer.  Was 44 hier.  Sugtog!  Geen nat handdoek help nie.  Die lugverkoelers staak saam met die plaasarbeiders in die Boland.  Dit laat my  wonder of daar net plaaswerkers in die Boland is  (?)  Die res van die land se arbeiders verdien seker dan die R150 waaroor almal so op hol is, of hoe werk dit nou eintlik?

Ok, sien gou weer

 

Hoe dit gaan met die Loua’s

Januarie 9, 2013 in Uncategorized

Dit gaan ok dankie.

Die vakansie was die eerste een in baie baie jare wat ek nie voor die rekenaar hoef te gesit en beplan het nie, want ek is mos afgetree.

Vandag gehoor ek het ‘n kontrakpos by ‘n plaasskooltjie in die omgewing gekry.

Nou worry ek mos, maar toemaar, hierdie ouma se hande staan vir niks verkeerd nie.

Intussen het ek en klein Ezra dieper gebond.  Hy is nou versot op stories. Ouma moet vertel en vertel en oorvertel.  Sy gunsteling is Jan en die boontjierank.  Opgevertel, soek ek op You Tube en wraggies, daar is videos van al wat ‘n sprokie is.  Hy kan nou al self die muis bewimpel om die volgende een te kies.  Met die oorfone op, hinder die klank nie en ons kan met die dagtaak voortgaan.

O ja, skielik dink almal my keffie is 24/7 oop.  Ek het hard en duidelik my stem laat hoor, hoor my lied!.  My keffie maak sekere tye toe…HA!  Ek kan nie heeldag bedien en opruim om dan net weer te bedien nie.

Aan liewe, kosbare  Tina, my hart en gebede gaan uit na jou en ek hoop die besigheid gaan gou verby, sodat jy weer kan roomkoek na smaak.  xxx

Nou met die vooruitsigte van ‘n ekstra inkomstetjie, word daar deeglik beplan aan ‘n vakansie….vroegerig in April.  Ek gaan vir oulaas in Mosselbaai se see swem en, soos, Modderkoekie, gaan ek elke minuut en tree vooraf beplan.

Mag 2013 vir julle goed wees.

xx

Ek gaan my

Desember 28, 2012 in Uncategorized

Ek gaan (het) my

(verbete vasgeklemde)

halm los

en vry val

en waar ek land

gaan ek stil lê

en wonder

 

 

Pst:  Dink daar moet berading voor aftrede geskied.

Blog-uitdaging. My gunsteling tydverdryf (vir nou)

November 17, 2012 in Uncategorized

Ek werk nou al amper drie maande aan die een.

Een en half meter by een meter.

Dis nog lank nie klaar nie.  Mens moet eers als wat voorgrond is, wit verf en dan

die kleur insit.  Dié dat al die kinders nog wit lyk…: ) 

(Dit het niks met rassisme of woede-gevoelens oor wat in die Boland aangaan te doen nie, ok?)

Dis my afskeidsgeskenk aan die skool. 

Ek meen 20 jaar is mos ‘n leeftyd.

Pst: Wat is dit dan nou dat mens jou hele geskiedenis plus bloedgroep moet invoer voordat mens kommentaar kan lewer.  Asof die cat#!!$  code nie erg genoeg is nie!

 

Ok, derde keer is seker skeepsreg

November 13, 2012 in Uncategorized

Ek het oor die afgelope paar dae skrywes hier gepos – ok, probeer pos.  As ek Publiseer, dan verskyn my blog nerens nie…Poef!  weg, soos in gonners.

Anyway, ek vat hierdie laaste dae in my beroep jubelend en met ope arms aan.  Bied sommer my dienste aan, oorlat ek kan en oorlat ek dit (dalk) nooit weer sal kan doen nie..en ek smile. 

Glo nou dat ek op die regte pad in my lewe is en ek hou baie daarvan…:)

Ezratjie, klein willewragtag, het redelik afgekoel – hy’s mos nou al 3.  Hy eet sy leeupap sodat hy sterk kan word, want hy wil eendag vir Katy kan optel.  Katy is sy maatjie by die skool.  Ezkepez is ‘n blou smartie in sy skooltjie se konsert.  Hy oefen daagliks aan sy Maccarina-dans.Ek moedig hom aan deur aspris verkeerd te dans.  Gister se hy ewe ernstig, ouma moenie hande op kop en dan spring-draai nie – dis hande op die gat, dan kom die draai!

Skeur net daar my milt soos ek lag.  Dink julle ook hy hoor dit by die skool? of iewers in die dorp?  Beslis nie in MY huis nie..    😀

Mens moenie lag as kleintjies vloek nie, ek weet – ek probeer hard

November 3, 2012 in Uncategorized

Aha!  My eerste fodie hier.  Sug behaaglik diep.

Ezra het Vrydag oggend so teen half 6 drie jaar oud geword. Ouma Loua en Oupa Hartman is voor 7 by hom met die koek. Spiderman is NOU sy hero  (hy gaan nog vir Ouma L agterkom, en dan sal Spiderman vergete wees)  😀  (hoop Ouma)

Sien die 3 kersies wat brandend wag om uitgewis te word.

So gaan die tyd verby

Wat die toekoms inhou weet ons mos nie,

Maar wat hierdie ouma verseker weet, is dat ek die regte ding gedoen het om af te tree.

Gaan Dinsdag vir Oupa in die nuwe Polo Vivo (nog nie eers 1000km op sy klok nie) inlaai en dan die pad vat Kaapstad se middestad toe, want ek is opgekommandeer om my pensioen daar te gaan opklaar, uitklaar en afhandel.

Lekker naweek verder, voor ons sien is dit overskedovers, so geniet die S T A D I G.