FLIP SE BOETIE

Dins 3 Nov 2009, 21:26        (3) 0  Kommentaar     Stuur Artikel
Rapporteer Misbruik

 

 

 

Ou Flip is ‘n paar maande gelede oorlede. Die boodskap wat by my uitgekom het het, was dat “sy longe ingegee het”.

 

Ons twee kom ‘n lang pad saam. Toe ek ‘n verwarde eerstejaar Zombie was, was Flip ‘n derdejaar wat geen geheim daarvan gemaak het dat hy met wiskunde worstel nie. Om die waarheid te sê, lank nadat ek gegradueer het, het Flip steeds met Tagies en Wiskunde III gestoei en ek twyfel of hy ooit in Stellenbosch voor die kansellier gekniel het.

 

Flip was in baie opsigte anders.

 

Hy het aanvanklik ‘n kolossale groot seegroen Chevrolet gery wat hy die “passion wagon” genoem het. Hy het rugby met oorgawe gespeel en hy was ‘n formidabele middelafstandatleet. Hy het gesprek aangeknoop met enige iemand wat gelyk het asof hulle ‘n behoefte aan geselskap gehad het. Sy sin vir humor het nie gelyke gehad nie. En agter sy lewendige blink bruin oë het ‘n vlymskerp brein oorgehaal gesit.

 

Ek en Flip het saam op Potch gewerk. Soggens donkervroeg uitgery veldtoe om te help met die opleiding van burgermag regimente waar ons saans met oorgawe vir hulle “Een, twee, drie.........” * geleer het. Ons het saam ter ere van Oom Paul in ons “undress blues” op Heldedag in die Vaalrivier gaan visvang toe hy net KWV en VRW (Vaalrivierwater) gedrink het.

 

Ek was saam met hom as hy in sy Volla by Gertie gaan vlerksleep het en ook toe hy besluit het die paar biere wat hy klokslag smiddae na werk gedrink het voordat hy vir haar by die PUK gaan kuier het, moes end kry, want hy was ernstig oor die vrou. En toe weer begin drink het nadat sy in ‘n loodswaar atmosfeer vir hom gevra het hoekom hy so stug was?

 

Flip het tydens Operasie SAVANNAH by my op Oshakati aan huis kom rus toe hy moeg en uitgeput uit Angola teruggekom het.

 

Daarna het Flip ‘n onderwyser geword en het ek nie weer van hom gehoor nie.

 

Maar wat ek eintlik van ou Flip onthou was sy storie oor sy jonger boetie. Hul pa was die sendeling op Steynsrus en met die karige sendinginkomste, was die twee seuns daarop aangewese om op hul klein dorpie met oorspronklikheid te werk te gaan om hul sakgeldjies aan te vul. Flip het altyd met ‘n vonkel in die oog vertel toe hy sy boetie se kreet een dag heel aan die ander kant van die dorp gehoor het. Denkende dat daar nood van soorte was, het ouboet op die gille afgepeil.

 

                              

 

En daar, in die agterplaas van ‘n ou murasie, het hy sy boetie by ‘n hele hoop leë koeldrankbottels wat vir kontant by die kafee ingeruil kon word, ontdek. Maar die oorsaak van die krete was nie die vreugde wat die ontdekking tot gevolg gehad het nie. Nee, veel eerder was dit uit frustrasie gebore omdat boetie net sovèèl leë bottles onder sy arms kon inpak. Vir elke bottel wat na die kritiese getal ingepak was, het ‘n ander bottel uitgeval.

 

In trane en al protesterende het die mannetjie daar tussen ‘n paar stukkende bottels gestaan en lawaai gemaak oor wat nie moes wees nie.

 

Ek dink nie iets het sedertdien in die lewe verander nie.

 

 

 

*Een, twee drie

dis ‘n kak plek die.

Vier, vyf, ses

ons doen ons bes.

Sewe, agt, nege

dis die einde van die sege.

Tien, elf, twaalf

ons raak geswael.

Dertien, veertien, vyftien

maar ons land moet ons dien.

Sestien, sewentien, agtien

ons het ons gat gesien.

Negentien, twintig, een-en-twintig -

ons is terug by drie

dis ‘n lekker plek die.

(Herkoms onbekend)

Onderwerpe: 

Pos 
| Vorige Pos

Herlaai Kommentaar
Lewer kommentaar
Kliek hier om in te teken en kommentaar te lewer.
[Sluit venster]

Pos 'n antwoord

Gereedskap

Help!

Gebruikersprofiel

Flenters

sukkel om by 120 kpu aan te pas

Geslag: Male Send Message Stuur Boodskap
Stad: Pretoria Add to Friends Voeg vriend by
Nasionaliteit: South Africa Block Blok gebruiker

Statistiek

Afrigator Rang

Bladlese: 54648
Kommentaar: 18417
Beoordeling:
Kry statistiek oor jou blog en sien jou rang op 24.com en in die hele SA. Kliek hier om te aktiveer.

Skryf in vir die blog

Skryf in vir e-pos kennisgewings vanaf die blog

Skryf in vir RSS vanaf die blog

Nooi uit

Jy het 27 intekenaar(s)

Kentekens

Onlangs Opgedateer

Ouboet se stoep ouboet Dagse latino Pronk Palomino
Veselglas &... Voz Sola rosiemetdorings roosdoring Safe_Travel... Charlene

Argief

janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec
janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec
janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec